Uit die voorste linies

Bonné-de-Bod

Bonné de Bod op ‘n renosterplaas. Foto: Verskaf.

Bonné de Bod

Net voor die laaste volmaan van 2015 was ek een aand vroeg op patrollie saam met drie veldwagters en ’n hond. Ons was in ’n droë rivierbedding in een van die digbevolkste renostergebiede. Swaar gewapen en in doodse stilte het die K9-eenheid aan weerskante van my geloop. Ek het natuurlik veilig gevoel, maar was nogtans senuweeagtig. Dit is een van die grootste wildernisgebiede ter wêreld waar bendes stropers elke uur van die dag bedrywig is, elke dag van die week, elke week van die jaar. Daar is geen ander manier om hierdie “renosterstropingskrisis” te beskryf nie as ʼn oorlog.

In 2015 het ek myself keer op keer in soortgelyke situasies bevind met die manne en vroue wat letterlik die wapen opgeneem het in konflikgebiede regoor Suid-Afrika. Ek het gesien hoe veeartse noodoperasies op tientalle slagoffers uitvoer. Ek het patrollies langs grensdrade gedoen, in die maanlig geloop saam met die private eienaars en … gewag vir die onafwendbare om te gebeur.

As hierdie vermeende stropers eers aangekeer en in die stelsel opgeneem is, het ek gesien hoe ons staatsaanklaers tree vir tree moes byhou by verdedigingspanne met diep sakke in lang uitgerekte borgtogaansoeke en die uitstel van hofverskynings. Duisende kilometer oor die oseaan het ek selfs die gebruikers van renosterhoring in hul sitkamers ontmoet en ondergronds in die agterstrate van Asië se stede verdwyn om die eindproduk te sien wat soveel hartseer en geweld saai. Dit klink en voel vir my beslis soos ’n oorlog.

As ek aan die Irak-oorlog ʼn dekade gelede dink, onthou ek die deurbraak wat gemaak is in die media se dekking daarvan en die term “embedded journalism” wat geskep is. Oorlogverslaggewers is ongekende toegang gegee tot die voorste linies omdat die insameling van inligting verander het. Ons lewe vandag in ʼn wêreld wat gedryf word deur ʼn honger vir nimmereindigende inligting. Die verslae van die Tweede Wêreldoorlog wat etlike weke en selfs net 24 uur later vertoon is, is nie meer relevant in ’n era van regstreekse televisie wat gestook word deur sosiale media en “burger-joernaliste” nie – diegene wat in die voorste sitplekke sit waar die jongste nuus plaasvind, gewapen met slimfone wat aan die internet gekoppel is.

Tydens die vervaardiging van stories vir 50|50 sowel as die verfilming van my komende dokumentêre rolprent Stroop, is ek ingebed in ons renosteroorlog, is ek ʼn getuie nie net van die afskuwelike wandade wat gepleeg word nie, maar ook van die mense wat dit beveg. Elkeen se rol in dié oorlog is belangrik, maar dit is van kardinale belang dat hulle tot by ’n punt bymekaarkom.

Dit verbaas my telkens dat hierdie eenvoudige, logge diere vasgevang is in so ʼn web van kompleksiteit. Die wêreld van renosterstropery het soveel lae, dit is so kompleks en ten spyte van al die tyd wat ek al daarin bestee het, bly dit ʼn stryd as rolprentmaker om dit alles uit te lê vir die Suid-Afrikaanse publiek.

2016 moet die jaar wees waarin al die kompleksiteit opsygeskuif word en ons eenvoudig en meer effektief saamwerk ter wille van die toekoms van ons renosters.
Groot hofsake oor renosterstropery vind hierdie jaar plaas en ek hoop dit sal afgesluit word met die gepaste vonnisse. Dit is ook die jaar waarin verskeie lande regoor die wêreld in September hier in Suid-Afrika vergader om ons renosters te bespreek. Onder die vaandel van die Verenigde Nasies vergader die konvensie oor internasionale handel in bedreigde spesies van wilde flora en fauna (beter bekend as CITES), vir die 17de keer. Dié byeenkoms sal bekend staan as COP17. Tipies van interregerings-etikette word die meeste van ons vasgevang in net ʼn paar woorde …
in hierdie geval “bedreigde spesies”, en vergeet ons van die woord in die middel – “handel”.

Hierdie ooreenkoms is ʼn handelsooreenkoms tussen lande wat bepaal in watter dele van wilde diere en plante in handel gedryf mag word asook in watter dele nie. In 2008 is daar net minder as ʼn miljoen handelsooreenkomste gesluit … dit is dus ʼn groot geldmaker vir regerings regoor die wêreld.
Baie wat renosters besit of as bewaarders van ons renosters beskou word wil wettig handel dryf in renosterhoring omdat hulle voel dat ʼn volhoubare kommoditeit ons renosters sal red. En baie wat renosters besit of as bewaarders van ons renosters beskou word voel dat wettige handel stropery sal laat toeneem, soveel so dat dit sal lei tot die uitsterwing van wilde renosters. Dit is dus ʼn baie omstrede kwessie en dit word aanvaar dat die wettiging van handel in renosterhoring later vanjaar in Johannesburg sterk bespreek gaan word.
Die Suid-Afrikaanse departement van omgewingsake het vir COP17 voorberei deur ʼn span van 22 lede saam te stel om na die moontlikheid van handel te kyk, en hulle het vir ʼn groot deel van 2015 agter geslote deure vergader. Hulle verslag is al maande gelede verwag en gerugte wil dit hê dat daar koppe gestamp word oor die beste pad vorentoe. Verwag dus hewige debatvoering wanneer die verslag uiteindelik uitgereik word. Terwyl die hofsake en die CITES-vergadering klaar bepaal is, is daar verskeie ander kwessies wat net so voorspelbaar is. Renosters sal steeds die slagoffers van stropery wees.

Die vraag na renosterhoring in Asië bly groei, ek het dit self gesien. Rehabilitasiesentrums sal toenemend na renosterwesies omsien. Staatsaanklaers sal voortgaan met hul onvermoeide verteenwoordiging van die wet. Private renostereienaars sal die moeilike besluit moet maak om hul waardevolle renosters op veilings te verkoop of om meer vir sekuriteit te betaal. Wildlewe-organisasies sal voortstry om geld in te samel omdat mense vuisvoos is wanneer dit by renosterstroping kom. Veeartse sal douvoordag steeds oproepe kry om oorlewendes te behandel, en ons veldwagters regoor die land sal weer eens hul skoene vasmaak en die onbekende instap, vandag, môre en elke dag van 2016.

Maar ons moet nie moed verloor nie, ja, die oorlog duur voort, maar nou meer as ooit is dit binne ons bereik om dinge in ʼn ander rigting te stuur. Ons is nie bewus van die buitengewone mag wat binne elkeen van ons se bereik lê om bewegings van stapel te stuur nie.
Sosiale media het ons dit gewys. Elke keer as ʼn Suid-Afrikaner ʼn “tweet” uitstuur, ʼn artikel deel of “like”, skaar hulle hul by die stryd. Ek kan nie genoeg benadruk hoe belangrik die teenwoordigheid van die publiek in hierdie saak is nie. Met konstante deelname op Twitter, Facebook en Instagram voel ek die mag van my verantwoordelikheid in die voorste linies.
2015 was die jaar van #FeesMustFall en #Cecil. Hierdie twee sosialemediasake het wetgewing verander en politici aan die eise van die land se mense gehoor laat gee. Wie weet watter gebeure in 2016 die toekoms van ons renosters kan bepaal?

  • Bonné de Bod is ‘n bekroonde natuurlewe televisie-aanbieder en rolprentmaker met ‘n ongekende passie vir renosters. Sy is op die oomblik saam met bekroonde natuurlewe rolprentmaker Susan Scott besig met die verfilming van Stroop, ʼn dokumentêre rolprent oor die renosterstropingskrisis. Dié baanbreker-rolprent wat later in 2016 uitgereik word, sal na verwagting die kompleksiteit van die renosterkrisis vir gehore in Suid-Afrika en die res van die wêreld uiteensit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Delta Mike ·

Ag kom nou Maroela, wat is verkeerd met my kommentaar, dit kan tog sekerlik nie wees dat ek van korrupte ministers gepraat het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.