Uitdagings hoop op vir pragmatiese Merkel  

angela merkel 3

Angela Merkel, kanselier van Duitsland. Argieffoto.

Angela Merkel, die Duitse bondskanselier, is tans min of meer op die hoogtepunt van haar mag.

Op haar Christen-Demokratiese Unie (CDU) se jaarkongres verlede week in Essen is 89,5% van die stemme op haar as enigste kandidaat vir die partyleierskap uitgebring. Maar dit beteken nie dat geen probleme vorentoe wag nie.

Op die vorige kongres in 2012 het sy 97,9% van die stemme gekry, wat wys dat daar wel deeglik weerstand in die CDU teen haar leierskap is. Tog, daar is tans eenvoudig geen enkele alternatief vir haar in sig nie.

Om die waarheid te sê, in Duitsland is iets te sien wat op ’n omgekeerde Trump-effek lyk. Verreweg die meeste Duitsers wantrou ’n populis soos Donald Trump diep. Hul eie geskiedenis met ’n populistiese leier – Adolf Hitler – is steeds ’n oop wond in die Duitse psige.

En dus styg die CDU se steun weer in die peilings. Dis asof die kiesers – al is dit effens onwillig – hul toevlug soek by vertroude kontinuïteit – Mutti Merkel.

Wat presies beweeg Merkel? In leserskommentare op die internet lees jy baie Suid-Afrikaners meen sy is links, liberaal, teen grense en selfs ten gunste van ’n wêreldregering. Merkel sal haarself nie hierin herken nie. Trouens, sy is eintlik taamlik konserwatief in die beste sin van die woord.

Die beste bron vir Merkel se denke en beweegredes is in haar toesprake deur die jare op die webwerf van die bondskanselierskantoor te vinde. Daaruit kan ’n mens drie oorkoepelende, onderling verbandhoudende dryfvere distilleer.

Om mee te begin is Merkel ’n gelowige Christen wat in ’n Lutherse pastorie grootgeword het. Sy neem die Bybelse partydigheid vir die spreekwoordelike weduwees en wese ernstig op.

Op die kongres in Essen het sy byvoorbeeld gesê mense wat beskerming verdien – daarmee het sy vlugtelinge uit Sirië bedoel – moet dit ook kry. Elkeen moet as méns behandel word.

Waarmee sy volkome pas in die erfenis van Martin Luther, wat ook klem gelê het op die waarde van die individu in die oë van God.

Boonop word Merkel deur die Duitse verlede gedryf. Ten eerste natuurlik die geskiedenis van die Nazi’s, waarvan die skandvlek steeds swaar op die Duitse psige rus, maar ook haar eie ervaring as inwoner van die kommunistiese Oos-Duitsland waar sy grootgeword het.

Soos baie Duitsers glo sy teen dié agtergrond dat daar ’n spesiale plig op Duitsland rus om polities moreel op te tree. En dit sluit in dat mense wat uit ’n wanhopige oorlogsituasie soos dié in Sirië vlug, nie in die steek gelaat mag word nie.

’n Derde beweegrede, wat met die eerste twee verband hou, is Merkel se geloof in die liberale veelparty-demokrasie. Sy het twéé diktature – dié van die Nazi’s en die kommuniste – as voorbeeld van wat vermy moet word.

Dus is sy ernstig gekant teen wat sy sien populistiese verleiers, rottevangers van Hameln wat die Duitsers weer in die afgrond gaan lei.

Maar om moreel hoogstaande beginsels te hê, is een ding. Om met daardie beginsels vol te hou in ’n gebroke situasie waar jou beweegruimte baie na aan nul is, waar jy geen skoon hande kan hou nie, is iets anders.

Duitse politieke analiste wat Merkel goed ken sê sy weet dit baie goed. Hulle wys daarop dat sy as fisikus opgelei is – sy het ’n doktorsgraad in fisika – en dat sy probleme dus met ’n kombinasie van beginselvastheid en pragmatisme benader. Hoe kan die probleem opgelos word sonder om heeltemal afstand te doen van jou beginsels?

Die vlugtelingprobleem is die een dilemma wat haar voor ’n haas onoplosbare teenstrydigheid plaas. Die objektiewe waarheid is dat byna ’n miljoen Moslem-vreemdelinge Duitsland in 2015 binnegestroom het – ’n getal wat in 2016 tot iets meer as 300 000 verminder is.

Baie van dié mense is kragtens internasionale verdrae oor politieke asiel en Duitse wetgewing geregtig op asiel. Maar daar is ook honderdduisende kansvatters by, mense van elders in die Midde-Ooste, Asië en Afrika wat onder geen omstandighede op asiel aanspraak kan maak nie.

Dis bowendien mense wat op die allergunstigste buitengewoon moeilik in die Europese samelewing geïntegreer kan word; dalk selfs heeltemal onintegreerbaar. Om begryplike redes koek dié mense in sekere stadsbuurte saam waar hulle soms al ’n meerderheid vorm.

Dit veroorsaak aansienlike kommer by talle kiesers. En dit verklaar waarom ’n regs-populistiese groep soos die Alternative für Deutschland (AfD) in die peilings deesdae deur meer as ’n tiende van die kiesers gesteun word.

Vir Duitsland, met sy spesifieke diktatoriale verlede, is dit baie.

Teen dié agtergrond het Merkel moreel korrek opgetree toe sy begin 2015 geweier het om die Duitse grense vir die stroom vlugtelinge te sluit. Maar dit was, agterna gesien, ’n politieke fout.

Merkel het destyds verklaar dat Siriese vlugtelinge welkom in die land was – ’n standpunt wat op sigself in ooreenstemming met sowel die volkereg as die Duitse wetgewing was. Maar wat al die kansvatters gehóór het, was: Kom maar, ons maak plek vir almal!

En dus het honderdduisende onintegreerbare mense die land binnegestroom.

Maar Merkel se politieke pragmatisme het haar intussen haar eie fout laat insien. En sonder om dit uitdruklik te erken, het sy haar beleid gewysig. (Deel van haar geheim is immers dat sy geen oordaad aan testosteroon het nie.)

Die Europese Unie se ooreenkoms met Turkye om die stroom vlugtelinge oor die Egeïese See te stuit was grotendeels haar inisiatief. Teen die heining wat regoor die Balkan opgerig is om die mense teen te hou, het jy Merkel nie hoor beswaar maak nie.

In haar toespraak verlede week het sy trouens uitdruklik verklaar: “’n Toestand soos dié in die laatsomer van 2015 kan, mag en sal hom nie weer herhaal nie.”

Sy het ook aangekondig dat sy na wetlike maatreëls gaan soek om Moslemvroue se boerka of nikaab (wat die hele gesig bedek) te verbied.

Duitsland gaan in die noordelike herfs van aanstaande jaar weer stembus toe. Die verset teen haar beleid is beslis groter as wat dit ’n jaar of twee gelede was, maar daar is op die oomblik eenvoudig geen alternatief vir haar nie – nie onder die Christen-Demokrate nie, en nog minder in die breë politiek.

Vóór die kongres in Essen het sy aangekondig dat sy haar weer vir die kanselierskap beskikbaar stel. Soos sake nóú staan – let op die voorbehoud – sal sy Duitsland aanstaande jaar weer met haar interessante mengsel van beginselvastheid en pragmatisme lei.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Theresa ·

Dit vat mannemoed om so ‘n sterk nasie te lei. Hoop sy hou haar ken hoog en herhaal nie instromingsfoute nie. Wonder wat sou haar mening wees oor ons grenssituasie en die heerlike manier van oorstap na waar jy wil wees en nie waar jy noodwendig mag of moet of hoef te wees nie…

fritz breitenbach ·

die volgende verkiesing kan ook dalk soos in die usa. n skok wees

Dewalds ·

Nee wat. Haar politieke loopbaan is oor. Sy maak nou ‘n paar konserwatiewe en Duitsland-eerste geluidjies om haar loopbaan te probeer red. Maar sy word gesien as deel van die liberale kliek en as ‘n marionet van die VSA en van diegene wat ‘n soort nuwe wêreld-orde op almal wou afdwing. En alhoewel Duitsers swaar dra aan die skuldgevoel waarmee hulle meedoënloos ge-indoktrineer is, is hulle tog intelligente mense. Hulle sien hoe Merkel die onsinnige demonisering van en sanksies teen Rusland ondersteun. En ek is seker nie een van hulle sien kans vir ‘n oorlog met Rusland nie.

Kyk maar uit vir ‘n nuwe Duitse leier..

chrisp ·

Stem Dewalds.
Die wereld is moeg vir hierdie liberale vernietige golf wat met woorde soos verlig,menseregte,humanisme,moraal ens eintlik net die teenoorgestelde doen. As voorbeeld kan ek net noem dat dit in my oe moreel korrup is om jou eie mense uit te verkoop ten koste van “vlugtelinge” wat amper lynreg met jou verskil in geloof,waardes en normes.

Sy probeer ook maar meer “regs” beweeg soos die meeste van die Europese leiers nou doen omdat die bevolking nou genoeg gehad het van die gemors wat die ‘liberale regerings vir dekades al opdis.

Wonderlik om te sien.

Leopold Scholtz ·

Beste neef Dewald, ek is bly jy kan so presies profeteer. Wat myself betref, ek soek maar in die pikdonker rond met ‘n flou kersvlammetjie!

Oom Kalahari ·

Met die vertrek van Pres Obama binnekort is die Kanselier se vlerkies bietjie geknip, want haar grens oopstelling was ‘n groot fout en baie Duitsers het wakker geskrik en deur haar agenda gesien. Sy mag dalk nou nog herkies word, maar haar uurglas is besig om leeg te loop en hoop dit gebeur gou en vining, dalk ‘n mooi opvolg soos in Amerika.

John ·

Duitsers bly Duitsers en dink soos Duitsers. Hulle is en bly boelies en het nou maar net weer ‘n moderne weergawe van Hitler as leier wat met ‘n sagte ysterhandjie Europa op sy kniee hou. Die kamtige goeie bedoelings met die instromende Moslems word onderle deur ‘n erge behoefte aan slawe.. en net die beste… Die res word stilletjies weggepos na die weerlose bakhandlande. Erge vergrype gaan weer plaasvind, wag maar. Jode en Moslems verskil hemelsbreed. Duitsland gaan dit met ‘n groot skok agterkom.

Leopold Scholtz ·

John, die wereld se grootste kenner van die Duitse psige! Die vader behoed ons van hierdie intens slegte volk!

Jan ·

Dit laat my dink aan Jaco Kleynhans se artikel hier op die webblad oor die sterfte syfers in Amerika, Duitsland gaan dit ook in die toekoms ervaar. Dan dink ek aan hoe dit hier in die land gaan.

Thuunda ·

Mag sy asseblief gaan en moenie laat die agterdeur haar agterend kap nie.

Obama….weg!
Merkel….weg!

Volgende asseblief…kry hierdie liberale asseblief uir bewind…genoeg skade gedoen aan die westerse wereld!

Ada ·

Ek kan nie wag dat sy gaan nie – sy het al soveel probleme in Duitsland veroorsaak en die Duitsers is moeg vir haar en haar beste maatjie Obama. Sy kan neres meer in die publiekoptree nie want sy word elke keer outgejou – en is so bly daaroor.
Sy kan maar sommer nou al gaan .

Skatymir ·

Kyk ‘n bietjie hoekom Merkel die Kalergie prys gewen het en wat Kalergie se plan was met Europa. Moet asseblief tog nie ou Leopold se stories hieroor glo nie. Gaan google eerder die video “With open gates” -it will open your eyes….

Fanie ·

Leopold, net ‘n hartelose rassis sou nie ‘n 100 000 arme mense wat vir hul lewens vlug tydelik huisves tot die nood verby is nie. Maar net ‘n dwase staatsleier sou ‘n miljoen oninlyfbare migrante in een jaar permanent binnelaat. ‘n Ware Christenleier sal eerder die 15 miljoen Siriërs in en om Sirië in nood (en die miljoene ander nasioniteite) help, as net die miljoen wat instroom. Nee wat, haar beweegrede om tradisionele Moslems te verwelkom is ooglopend nie Christenskap nie, maar haar liberale ideologie wat nie godsdiens en kultuur wil raaksien nie. Myron Weiner se wet sê mos dat nog miljoene nou nader begin beweeg.

Herman ·

Leopold, met al die hulpbronne van Duitsland moes sy beter geweet het- sy soek werkers maar kry mense- met hul eie onliberale waardestelsels. Huntington het mos lankal gewaarsku wat nou gaan gebeur: die naïwe Duitsers gaan nou agterkom hoeveel die inkomelinge van hulle verskil, en hoe baie hul met hul mede-Duitsers in gemeen het. Terselfdertyd gaan die liberale aandrang op inlywing die migrante vervreem en radikaliseer. Merkel het al self gesê dat multikulturalisme nie werk nie. Die ‘Clash of Civilizations’ van Huntington gaan hom nou binne ipv tussen lande afspeel- soos Ferguson in ‘Civilization’ waarsku. Merkel het nou kultuur vir politiek verruil. Die Duitsers én Moslems gaan nou die gevolge dra.

Hendrik ·

Die nuwe skeldwoord van die onverdraagsame “demokrate” van die wêreld en natuurlik die liberale hoofstroom media vir die teenstanders van hul verwronge sieninge, is “populis” of “populistiese”. En Leopold Scholtz se liberale onderrok steek lelik uit want ook hy spring ook op die wa van die onverdraagsame “demokratiese” gebruikers daarvan. Daar is niks so diktatoriaal as ‘n “demokraat” nie. Solank ‘n mens hulle verwronge sieninge slaafs navolg is jy aanvaarbaar, maar wee jou as jy verskil van hulle. Dan sien jy hoe “demokraties” hulle nou eintlik is…

Pietman ·

“Pragmaties” nou wonder ek wat maak Merkel Pragmaties? Deur jou land te laat inval deur hordes mense wie se vaardighede/kwalifikasies en ideologië van geen waarde is nie. Misdaad, ( soos die massaverkragtings nuwejaar), en sosiale toelae gaan toeneem. Om nie te praat van die politieke mag wat die duitsers gaan afstaan aan radikale moslems oor 20 jaar nie. Baie pragmaties.

william ·

Sy is n’ puppet vir die Nuwe wereld orde en UN.
Hand alleen is sy besig om heirdie trotse konserwatiewe nasie met indringers te vernietig.
Ek kan nie glo mense kan so gebreinspoel wees nie.
Selfde as SA, Die kastige NUWE SA het niks met reg en geregtigheid te doen gehad nie.

John ·

Leopold kry gerus ‘n leeu as troeteldier en as hy uitgegroei is, hou op om hom kos te gee. Die Duitse volk het geweet wat in die konsentrasiekampe aangaan maar Hitler blindweg soos slawe (onder verdowing?) gevolg. Dwaas verby. ( Die huidige volk is geneties afstammelinge van daardie dwase. Reg?) En feitlik die hele Europa was doodbang vir hom. Ek is van Joodse afkoms. Kies jy maar die Duitsers se kant.

DewaldS ·

John – dis nogal moeilik om te probeer verstaan hoe jy daarby uitkom dat Leopold die Duitsers se kant kies. Bo wie? En behalwe vir dit – ek dink jou anti-geneties-Duitse houding is net so onwelkom as ‘n anti-semitiese houding of ‘n anti-blanke of anti-swart of anti- enige groep. As jy deur die swaard wil leef – moenie dan later sanik nie…

duitser ·

Die Duitsers is nie dom nie en het al lankal wakker geskrik. Hulle is mosg vir Merkel en die onwelkome vlugtelinge. Wag maar hulle gaan nog ons reddkng word in die toekoms. Lag maar as julle wil .Kyk wat oor n paar jaar gaan gebeur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.