Uitgediende sosialistiese denke lei tot werkloosheid

Wladimir Lenin, Friedrich Engels en Karl Marx (v.l.n.r.) was belangrike ontwikkelaars van die sosialistiese idee.

Die vakbondbaas Zwelinzima Vavi het op Werkersdag 1 Mei voorgestel dat die staatsdiens verder vergroot word, met hoër salarisse, as die oplossing vir ons werkloosheidsprobleem. Werklikheidsvreemde sosialistiese drome en gekhede.

Tydens die ANC se nasionale konferensie verlede jaar, dra die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP)-spreker sy groeteboodskap aan die kongresgangers oor: “Amandla, Long live the alliance, long live; Forward with socialism, forward; Down with capitalism, down.” Die spreker kry ʼn entoesiastiese applous van die groot ANC-gehoor.

Ek is moeg en het genoeg gehad van oneerlike toesprake van ANC-, SAKP- en Cosatu-leiers wat mekaar kameraad noem en sosialisme en kommunisme verkondig maar kapitalisties leef.

Gaan kyk na Venezuela, waar mense hierdie sosialistiese ekonomiese teorieë daagliks moet leef. Skielike armoede as gevolg van hierdie teorieë maak dat duisende inwoners van Venezuela die laaste paar jaar na die kapitalistiese Amerika stroom.

Gaan kyk op die internet na ʼn nagfoto uit die ruimte van Noord- en Suid-Korea. Noord-Korea is pikswart donker, terwyl Suid-Korea helder skitter van al die ligte. Die inwoners van die twee lande was ekonomies presies gelyk na die Tweede Wêreldoorlog. Daarna het Noord-Korea ʼn kommunistiese en sosialisties denkrigting gevolg en Suid-Korea die kapitalistiese. Die lewenspeil van Suid-Korea se inwoners is tientalle keer hoër as dié van Noord-Korea.

ʼn Nog beter voorbeeld is Oos- en Wes-Duitsland. Duisende Oos-Duitsers het met hulle voete gestem teen die sosialistiese ekonomiese stelsel van Oos-Duitsland, deur na die Vryemark kapitalistiese Wes-Duitsland te stroom na die Tweede Wêreldoorlog. Die stroom kon net gestop word met doringdraad, skietende wagte en ʼn Berlynse muur in 1961. Ironies dat ʼn mens in die “kommunistiese paradys” gehou moes word met mure en wagte! Onthou iemand van ʼn Wes-Berlyner wat oor die Berlynse muur probeer klim het na Oos-Berlyn? Nee, niemand. Maar daar is talle wrede stories van Oos-Berlyners wat elke moontlike metode aangewend het om na Wes-Berlyn te vlug.

Die Duitsers word as die mees produktiewe mense op aarde beskou. Die humor opmerking is dat as hulle nie kommunisme kan laat werk nie, dan kan niemand nie!

Die finale bevestiging van die mislukking van die kommunistiese ekonomiese stelsel was die nag van 9 November 1989 toe die Berlynse muur val. Duisende Oos-Berlyners kon nie wag om na Wes-Berlyn te stroom nie, terwyl niemand die omgekeerde wou doen nie.

Het jy meer argumente nodig as hierdie voorbeelde?

Ons sit in Suid-Afrika met ANC-, SAKP- en vakbond-leiers wat sosialisme en kommunisme verkondig, maar kapitalisties leef. Hoe oneerlik. Kommunisme en sosialistiese teorieë kry jy volop in Luthuli-huis en in die lesingskamers van sommige universiteit. Dit is plekke waar dit gepraat, maar nie geleef hoef te word nie. Daarteenoor is hierdie teorieë baie skaars in banke en in winkelsentrums waar ekonomiese werklikhede saak maak en geleef moet word.

Ek verkyk my altyd aan die duur klere en motors van die ANC, SAKP en vakbond Gucci-kommuniste by hulle kongresse. Moenie die EFF-leier, Malema weggooi nie. By sy vergaderings prys hy sosialistiese Venezuela en Kuba, terwyl hy onteiening van grond en nasionalisering van nywerhede in Suid-Afrika voorstaan. Na so ʼn vurige toespraak word die rooi oorpak uitgetrek en die duurste klere aangetrek. Dan vertrek hy en sy “comrades” in van die duurste motors om met die duurste moontlike whiskey en sjampanje die suksesvolle toespraak te vier. Sommige verwys tereg na hulle as die sjampanje-sosialiste.

Jy kan die SAKP-spreker by die ANC-kongres asook Malema se woorde afmaak as hol woorde en net warm lug. Jy kan egter nie die misleiding van duisende gewone werkers en die vernietiging van suksesvolle ondernemings as gevolg van hierdie uitgediende denke so maklik afmaak nie.

Volgens sosialistiese denke sal die staat geldelik vir werkers sorg of jou onderneming wins maak of nie.

Die mynwerkersvakbond AMCU het in 2014 vir vyf maande gestaak terwyl hulle R12 500 per maand van die Lonmin-mynmaatskappy geëis het. Dit het uitgeloop op die Marikana-gebeure waarna 12 000 direkte werkgeleenthede verlore gegaan het. Lonmin het nooit hiervan herstel nie en is op die randjie van likwidasie deur Sibanye-Stillwater oorgeneem in 2019. Met die oorname het nog mynwerkers hulle werk verloor. Die gevolg van die hele staking was dat tot 15 000 mense hulle werk verloor het.

Die poskantoor is nog ʼn goeie voorbeeld waar gewone werkers hierdie sosialistiese drome van die politieke- en vakbondleiers in die praktyk probeer omsit het. Die poskantoorvakbonde het die afgelope dekade geen begrip getoon vir die basiese ekonomiese beginsels wat ʼn gesonde onderneming soos die poskantoor vir dekades suksesvol gemaak het nie. Die gevolg is dat tot 6 000 werkers nou afgedank moet word in ʼn poging om te oorleef.

In 2013 het die poskantoorwerkers vir amper vier maande onwettig gestaak. Die stakers het geen begrip getoon vir die gevolge daarvan as duisende posstukke vir maande nie afgelewer word nie. Maatskappye kon nie rekeninge uitstuur of betalings ontvang nie. Kleiner besighede het bankrot gegaan. Die Universiteit van Suid-Afrika (UNISA) het 350 000 korrespondensie-studente. Dit het die universiteit een van die grootste kliënte van die poskantoor gemaak. UNISA was verplig om tydens die staking sy korrespondensie en duisende studiestukke deur privaat koerierdienste te stuur.

Dieselfde het gebeur met groot maatskappye wat boeke, tydskrifte en koerante deur die poskantoor versprei het. Die onverstaanbare is dat die werkers verbaas en kwaad was dat die meeste van hierdie kliënte nie na die poskantoor teruggekeer het na die stakings nie.

Voor die staking het die poskantoor in 2012 nog ʼn wins van R250 miljoen gemaak. In 2013, ná die staking, was die verlies R206 miljoen. Die afgelope tien jaar het die poskantoor nog nie een jaar naby sy afleweringsteiken van 92% gekom nie. In 2021 het hy net 53% gehaal. Dit beteken 47% van alle posstukke is nie afgelewer nie. Daarom gebruik al hoe minder mense die poskantoor. Dus daal inkomste jaarliks.

Daar is tans net 1 112 takke oor nadat die bestuur verplig is om meer as 900 te sluit. Baie is gesluit deur gebou-eienaars wie se huur nie betaal is nie. Die poskantoor is voorlopig gelikwideer en skuld meer as R338 miljoen aan gebou-eienaars, terwyl 341 hofsake weens wanbetaling teen hom hangende is.

Terwyl vakbondbase veilig in hul kantore sit en sosialistiese toesprake uitdink, het duisende naïewe poskantoorwerkers, wat na hierdie base se uitgediende idees geluister het, hulleself die laaste tien jaar so in die voet geskiet met stakings dat hulle binnekort werkloos gaan wees. Miskien moet hulle ʼn slag met die AMCU-mynwerkers gaan praat wat na hulle “suksesvolle” staking nou almal by die huis sit sonder werk.

Die ANC-regering en die vakbondbase kan my argumente sekerlik ignoreer, maar hoe ignoreer jy Venezuela, Noord-Korea se foto uit die ruimte en Wes- en Oos-Duitsland?

Dalk werk humor. Ronald Reagan, voormalige Amerikaanse President, het die debat oor kommunisme soos volg opgesom: “Kommunisme werk slegs op twee plekke – in die hemel, waar dit nie nodig is nie en in die hel, waar dit reeds is.”

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Pieter Mulder

Dr Pieter Mulder is ’n voormalige VF Plus-leier, voormalige parlementslid en professor.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

annie ·

Dit is nie beleid nie maar ‘n metode om die armer massa te sus met beloftes dat sou hul vir die ANC stem dit dan net so goed met hulle sou begin gaan as met die leiers self. En dat die eiendom van die gehate ‘ander’ eintlik hulle s’n is en hul toekom. Dit is nie kommunisme nie maar Marxisme.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die regime se kommunistiese elite sal goed leef ten koste van die res van die bevolking wat hulle afsloof om te oorleef, en dan boonop hoë belasting betaal. Daai suurstofpyp moet afgesny word. Tyd vir debatte is verby. Astral is in sy maai en waarsku dat ‘n sosiale revolusie op pad is. PnP sê dieselfde. Kenners sê ons gaan ‘n netto voedsel invoerder word met katastrofiese inflasionêre gevolge vir die verbruiker. Wat doen opposisie partye? Hulle hana-hana oor Rusland en China se doen en late. Kom DA en VF Plus, skrik wakker. Of is julle ook deel van die elite?

Wicus ·

My frustrasie is ons ken die feite, maar hoe dra mens dit oor na die massa? Dit help nie vir die paar oortuigdes om onder mekaar te redeneer en saam te stem nie. Iewers moet ons begin aanval, direk, op die man, wys die feite. Maar ongeag, ons is besig om met ‘n dolle vaart te sink en dit lyk my nie daars enige salf aan te smeer nie. Sal ek ooit vergeet hoe ek en ‘n oom destyds oor Zimbabwe gestry het. Sy siening was die w-ereld sal nooit onteiening ens toelaat nie, ongelukkig leef die oom nie meer om die verval te aanskou nie.

Marthinus W ·

Baie Amerikaners voel dat hulle nou n sosialistiese land is. In 2014, dink ek, het Princeton Univ n studie gepubliseer waarin genoem word dat Amerika nou n oligargie is: regering deur die rykes, vir die rykes, slegs tot voordeel van die rykes. n Paar kilometer buite Moskou is n groep Amerikaanse families besig om n gemeenskap te bou, want hulle voel Amerikaanse skole en universiteite is “cesspools of Marxism”, wat gefinansier en ondersteun word deur voormalige Oos-Europeers: George Soros, die Oekrainse Binkens en Nulands, Brzezinskis van Pole.

Anna-marie ·

Interessant. Ek glo hierdie name wat jy noem sit ook agter die oorlog in Ukraiene.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.