Uitlek van dokumente wys VSA se sterk- en swakpunte in globale intelligensie

(Foto: Scott & Michael Seviour-Owens/Pixabay)

Honderde bladsye van hoogs geheime dokumente van die Amerikaanse regering, en spesifiek die Pentagon, is oor ʼn periode van drie maande op ʼn obskure aanlyn geselsgroep van rekenaarspeletjie-entoesiaste bekendgestel. Die Amerikaanse owerhede vind uiteindelik in die media daarvan uit, en daar is rooi gesigte by bondgenote regoor die wêreld.

Krisisvergaderings word gehou en daar word dreigende globale gevolge in die gesig gestaar. Die Federale Buro van Ondersoek (FBI) het met gepantserde voertuie en ʼn weermaghelikopter in die lug op ʼn huis in ʼn klein dorpie op die mees onwaarskynlike verdagte, ʼn rekenaarnetwerktegnikus wat by die nasionale wag in Massachusetts werk, toegesak. Dit klink soos beeldmateriaal vir ʼn Hollywood-film, maar dit is presies wat die afgelope tyd met die Jack Teixeira-sage in die VSA afgespeel het.

Teixeira, ʼn 21-jarige lid van die Massachusetts-lugmag, en spesifiek ʼn IT-spesialis in dié afdeling, is verlede week by sy ouerhuis in ʼn pragtige beboste, landelike gebied suid van Boston in hegtenis geneem op aanklagte van die ongemagtigde bewaring en oordrag van nasionale verdedigingsinligting en die ongemagtigde verwydering en bewaring van geklassifiseerde dokumente.

Sedert Februarie vanjaar het Teixeira van die mees geheime dokumente, wat onder senior leiers van die Amerikaanse weermag en die Departement van Verdediging gesirkuleer is, aan vriende in ʼn klein kletsgroep op die internet versprei in ʼn klaarblyklike poging om hulle van die ware gevolge van oorlog bewus te maak.

In 2021 het Teixeira ʼn sekuriteitsklaring van die Amerikaanse regering gekry om hoogs geheime dokumente te hanteer weens sy aanstelling as rekenaarnetwerktegnikus in die intelligensie-afdeling van die nasionale wag in Massachusetts. Die gevolg hiervan was dat Teixeira die afgelope twee jaar toegang tot hoogs geheime intelligensiedokumente, insluitende inligting deur Amerikaanse spioene wat die Russiese weermag geïnfiltreer het, kon kry.

Dit is egter reeds duidelik dat Teixeira nie ʼn Russiese, Chinese of ander agent is of was wat teen die Amerikaanse regering gewerk het nie. Hy was ook nie soos Edward Snowden in 2013 op ʼn missie om Amerika se metode van intelligensie-insameling te ontbloot nie. Snowden het in 2013, toe hy ʼn kontrakteur van Amerika se nasionale veiligheidsagentskap (NVA) was, duisende geklassifiseerde dokumente aan joernaliste verskaf met die uitsluitlike doel om die NVA se werkswyse te ontbloot.

Oor die volgende weke sal die saak teen Teixeira beter ontvou, maar vir nou lyk dit of hy eerder meegevoer geraak het met oorlog. In sy werk het hy gesien watter vernietigende gevolge die oorlog in Oekraïne inhou en hoe wêreldleiers die oorlog bly voed.

Teixeira is ʼn ywerige aanlynspeletjie-entoesias en het die afgelope paar jaar ʼn kletsgroep op die boodskapplatform, Discord, bedryf. Tientalle hoofsaaklik manlike tieners was deel van die Thug Shaker Central-kletsgroep waar veral oorlog bespreek is. Teixeira het sedert Januarie vanjaar hoogs geklassifiseerde dokumente op die kletsgroep geplaas. Dit het eers bekend geword nadat een van die groep se lede die dokumente op ʼn ander sosialemediaplatform gedeel het.

Watter inligting is uitgelek?

Die dokumente wat Teixeira onwettig gekopieer en met sy vriende gedeel het, fokus veral op die oorlog in Oekraïne, maar betrek beide bondgenote en vyande van die VSA. Die dokumente bevestig die VSA se omvangryke vermoë om deur ʼn globale spioenasienetwerk die kommunikasie van bondgenote en vyande te onderskep en selfs vyandige magte te infiltreer.

Een van die ernstigste sake wat deur die bekendmaking van die dokumente aan die lig gekom het, is die feit dat ʼn hele aantal lande militêre spesiale magte in oorlogsones in Oekraïne het. Die Verenigde Koninkryk het 50 lede van hulle spesmagte in Oekraïne, gevolg deur Letland (17), Frankryk (15), die VSA (14) en Nederland (1). Hierdie lande is almal lidlande van die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (Navo).

Die rede waarom hierdie kwessie ernstig is, is omdat dit Russiese bewerings oor die betrokkenheid van Navo-lidlande in die oorlog verder bevestig en die argument versterk dat die oorlog lankal nie meer net een tussen Rusland en Oekraïne is nie.

Die Amerikaanse intelligensiedienste, en spesifiek Amerika se sentrale intelligensiediens (CIA), het die afgelope jaar daarin geslaag om die Russiese weermag verder te infiltreer. Uit hoëvlak kommunikasie wat uitgelek is, blyk dit dat daar groot onenigheid binne die Russiese weermag, maar ook tussen die weermag en die Kremlin, oor die oorlog in Oekraïne en die Russiese oorlogstrategie bestaan. Verder het die Amerikaners ook op die president van Oekraïne en verskeie senior leiers van die Oekraïense regering en weermag ingeluister.

Dele van Oekraïne se strategie om binnekort ʼn sogenaamde lente-offensief te loods ten einde verlore grondgebied terug te wen, is ook uitgelek. Verskeie skyfies wat deur senior generaals in die Pentagon in vergaderings bespreek is, is deur Teixeira uitgelek.

Daar is egter ook heelwat inligting oor hoe Amerika inluister op bondgenote soos Suid-Korea, Israel, die Verenigde Koninkryk en ander lande wat militêr en polities nóú met die VSA saamwerk. Kritiek deur leiers in die Pentagon oor die Verenigde Nasies (VN) se hantering van die oorlog het ook uitgelek.

Wat is die gevolge van die lekkasie?

Die eerste kommerwekkende gevolg vir Amerikaanse politici en militêre leiers is die veiligheid van agente en spioene wat deur die dokumente blootgestel kan word. ʼn Leier in die Huis van Verteenwoordigers se intelligensiekomitee het verlede week gesê dat die lekkasie van hierdie dokumente sonder twyfel tot lewensverlies sal lei.

Daarmee saam kan dit ook Oekraïense soldate blootstel omdat heelwat van die dokumente uitgebreide inligting verskaf oor waar swakpunte in Oekraïne se verdediging is. Die Russe sou sonder twyfel die dokumente reeds deeglik bestudeer het.

Nóg ʼn gevolg van die uitlek van die dokumente is dat die verhouding tussen die VSA en bondgenote benadeel kan word, met Amerikaanse bondgenote wat toenemend skepties is oor die Amerikaners se onverskrokke intelligensienetwerk, wat ook gereeld die inluistering van oproepe en die onderskepping van kommunikasie van regeringsleiers, militêre leiers en intelligensie-agentskappe in lande soos Israel, die VK, Suid-Korea en ander bondgenote in Europa en Australasië insluit.

Die grootste vraag wat egter uit die uitlek van honderde hoogs geheime dokumente ontstaan, is hoe so iets kon gebeur sonder dat iemand dit betyds agtergekom het. Ernstige vrae word gevra oor die hantering van hoogs geheime dokumente in die Amerikaanse weermag en regering. Dit volg natuurlik ook nadat hoogs geheime dokumente verlede jaar in die huise van Donald Trump, Mike Pence en Joe Biden ontdek is. ʼn Omvattende hersiening van die hantering van vertroulike dokumente sal waarskynlik een van die gevolge van hierdie lekkasie wees.

Amerika is steeds die globale intelligensieleier

Wat die afgelope twee weke se drama oor die uitlek van hoogs vertroulike dokumente bewys het, is dat die Amerikaners steeds oor die mees indrukwekkende en omvangryke intelligensienetwerk en -vermoë in die wêreld beskik. Terwyl Amerikaanse bondgenote soos Israel, die VK en Suid-Korea ʼn bietjie omgekrap kan voel oor inligting wat uitgelek is, benodig hulle en tientalle Amerikaanse bondgenote steeds daagliks die intelligensie-ondersteuning van die Amerikaners.

Dieselfde geld vir Oekraïne. Wat die dokumente bevestig het, is dat die VSA Oekraïne met deurlopende, hoëvlak intelligensie oor die Russiese weermag se planne, maar ook fisiese bewegings, inlig. Amerika asook ander lande se spesiale magte is werksaam in Oekraïne, maar daar is geen bewys dat hulle werklik in direkte gevegte met Rusland betrokke is nie.

Wat egter ook bevestig is, is dat die VSA wesenlike uitdagings in die gesig staar met swak politieke en militêre leierskap wat die afgelope jare toegelaat het dat vertroulike dokumente uitlek, en dat beter meganismes om vertroulike dokumente te hanteer, nie ontwikkel is nie. Uiteindelik kan hierdie kwessie meer in ʼn politieke saak, wat ook verkiesings kan raak, eerder as ʼn nasionale veiligheidskwessie ontaard.

Ons kan dus in aanloop tot volgende jaar se presidentsverkiesing heelwat debatte oor die hantering van vertroulike regeringsdokumente verwag.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Hannes ·

Geen Simpatie vir die VSA nie.
Dit is al lankal n ope geheim dat die VSA nie die die gewete en sogenaamde ouboet wat menseregte wereldwyd beskerm is en was nie” maar in werklikheid n KORRUPTE BOELIE IS, wat nie n oomblik sal huiwer om te enige land, of persoon te vernietig, vir selfveryking en selfvoordeel nie.
Die behandeling van Trump en ander wat die OORLOGSGEDREWE KORRUPTE VSA Regerings Masjien ontbloot en teegaan, is n sprekende voorbeeld..
Ongelukkig ly nie net die mense van die VSA hieronder nie” Maar ook miljoene mense in baie lande wereldwyd.
Die VSA het die wereld op n’ bord aan nog meer Korrupte China weg gegee…

Hannes B”

Groen Ghoen ·

In die kol, Hannes B! Wat baie min mense besef, is dat die globale massamedia nou beide die politieke opinie vorm en ‘n instrument van oorlog is. Die gevolge hiervan is skrikwekkend. Is daar ‘n verskil tussen breinspoeling en dit wat die korrupte media en gewetenlose politici doen?

Anna-marie ·

Die CIA en FBI i Amerika sê vir die joernaliste en koerante wat hulle mag skryf en publiseer.
Net enkele onafhanklike joernaliste soos Seymour Herch kom met die waarheid uit.

Anna-marie ·

Toe iemand Madeleine Albright (sekretaris generaal van Amerika (1997-2001) vra wat van die 500 000 Irakese kinders wat dood is agv van die Amerikaanse inval in Irak, was haar woorde:
It was worth it.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die Russe en Chinese het die VSA intelkigensie

Republikein in die Wes Kaap ·

Die Russe en Chinese het die VSA intelligensie agentskappe lank terug reeds binnegedring.

Treurwilger ·

Jaco Kleynhans se artikel maak melding van die “vernietigende gevolge van die oorlog in Oekraïne en hoe wêreldleiers die oorlog bly voed”.
(Kommentaar gister by die G7- berig waarin ek dieselfde opmerking maak, is nie toegelaat nie.)
Amerika kom weg met spreekwoordelike ‘moord’ want hulle word ‘beskerm’ deur ál die media.
Voormalige verarmde Oosblok-lande word verlei deur die ‘melk en heuning’ van die weste met NAVO-lidmaatskap as ‘beloning’.
NAVO voorkom heel duidelik nie oorlog nie, maar veroorsaak dit eerder.

Anna-marie ·

Amerika se bloedspoor kan oral oor die wêreld gesien word: Irak, Afganistan, Libië, Serbia, Vietnam, Yemen, Sirië, Ukraiene. Dan gebruik hulle leuns soos “Irak het wapens van massa vernietiging”. Of hulle wil “demokrasie” bewerkstellig in ‘n land waarvan die wettig gekose leiers dan deur a coup d’état vervang word. (voorbeeld; Yanukovych pro Russiese leier het Amerika laat vervang met pro Amerikaanse leier) .
So wil hulle ook nou Demokraties verkose leier van Hongarye uit hê. Dit is vir my verstommend hoe die Amerikaners (veral Demokrate wat nou in beheer is) kan lieg. Amerika is ‘n Empire of Lies.

Vexed ·

Basies is die VSA ontsteld omdat die waarheid uitgekom het en Rusland nou reg bewys is. Enige een met gesonde verstand weet dit lankal. Hulle kan maar kalmeer. Ons is almal keelvol vir die bedrieërs en leuenaars, ook bekend as politieke “leiers” wat hulle melk koeie, die belastingbetalers, belieg en in die duister hou oor wat werklik met hulle geld gedoen word. Om nie eers van hulle lande te praat nie.

Autobahn ·

Inderdaad Anna-marie.
In 1948 het die CIA die verkiesing in Italië gemanipuleer. 1950 bombardeer die VSA vir Noord-Korea. 1953 bring die VSA die regering in Iran tot val (Operation AJAX). 1944 bring die VSA die regering in Guatemala tot val. 1961 probeer die VSA die regering in Kuba tot val te bring maar slaag nie („Bay of Pigs invasion“). 1964 word Viëtnam gebombardeer na die Tonkin-leun, 3 Miljoen dood. 1973 word die Allende regering in Chile deur Washington tot val gebring en die diktator Pinochet geïnstalleer.Pinochet vermoor opposisioneles deur hulle uit ´n vliegtuig oor die Stille Oseaan uit ´n vliegtuig te gooi en die families kan nie afskeid neem nie. 1979 word die Moedjahedien in Afghanistan deur die VSA ondersteun. 1979 word Saddam Hussein deur die VSA aan die mag in Irak gehelp. Ensovoorts. Die lys is nog baie lank.

Mike ·

VSA is n siek land onder die demokrate. Hulle kan nie eens vir jou uitstippel wat n vrou is nie. Tyd dat die land sy “alie” sien vir die sieklike en sotlike dinge wat hulle die wereld instuur deur google, facebook, instagram en nog meer. Dankie tog n Suid Afrikaner het Twitter oorgeneem – n waardestelsel wat ingebore is ak het hy die land verlaat op 17 jarige ouderdom. Hoekom berig ons media net wat op daai vieslike cnn verkondig word?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.