Uitvoerende leierskap en (misplaaste) heldeverering

Amerikaanse president Donald Trump en Rusland se president Wladimir Poetin.

Analiste staal hulle nou al vir ’n stroom (dikwels) smerige kritiek, wanneer pres. Donald Trump of pres. Wladimir Poetin, op die een of ander wyse in ’n rubriek ter sprake kom.

Is daar ’n verband tussen die byna histeriese heldeverering wat sommige Afrikaners vir pres. Donald Trump van die VSA en pres. Wladimir Poetin van Rusland koester, en die feit dat die Afrikaner lanklaas ’n leier met uitvoerende magte oor die Afrikaner gehad het?

Hierdie blinde heldeverering blyk, onder meer, uit die rits leserskommentare onderaan berigte en artikels wat na Trump en/of Poetin verwys, selfs net terloops. Dit dra dikwels die volgende eienskappe:

  • Die trant is dikwels erg beledigend teenoor die analis, selfs al is die artikel heeltemal feitelik en onverbonde geskryf, en selfs al is daar geen negatiewe verwysing na die “eietydse helde” nie. Die reaksie toon so ’n subjektiwiteit dat die artikel as aanvallend en negatief gesien word, soos blyk daaruit dat daar dikwels na negatiewe aspekte in die artikel verwys word wat nie daar staan nie, en ook nie daar geïmpliseer word nie. Soms word die “gesindheid” van die analis afgelei uit die foto wat by die artikel geplaas is, waarin die skrywer geen aandeel het nie.
  • Deugde word tot die uiterste toe verheerlik, ook “deugde” wat nie bestaan nie. Ondeugde soos owerspel en rassisme word ten sterkste ontken, selfs al word die ware feite met bewyse weergegee.
  • Daar is ’n sterk element van beterweterigheid teenoor die feite, wat baie sterk herinner aan die aggressiewe beterweterigheid van ontkenners en aanhangers van samesweringsteorieë. Van die stellings is herhalings, ten spyte daarvan dat kenners dit al tot vervelens toe met bewyse weerlê het.
  • Die kritiek neem dikwels die vorm van orkestrasie aan. Kort ná die eerste ontkenner se reaksie ontvang is, is daar dikwels ’n rits reaksies.  ’n Algemene kenmerk is dat die skrywer in elke hoedanigheid presies dieselfde foute maak. ’n Algemene een is dat die Engelse weergawe van die transkripsie van Poetin se van gebruik word, maar die indruk van ’n baie sterk pro-Afrikanerskap gemaak word. Ook word die name van lande dikwels in Engels weergegee. Dit versterk die persepsie, ten regte of onregte, dat van die produkte van die lessenaar van die Russiese propagandadiens in St. Petersburg af kom.

Is dit ʼn subjektiewe behoefte aan rolmodelle/“surrogaat-ouers” weens die afwesigheid van uitvoerende leiers in die Afrikanergemeenskap? Hiermee word bedoel ’n leier met uitvoerende magte wat sy/haar gesag kan gebruik om onregte teen sy/haar mense deur opdragte aan die verantwoordelike statutêre amptenare ongedaan te maak.

Die Afrikaner het ’n lang tradisie van rolmodel-leiers, of leiers wat volgens oordeel goeie rolmodelle blyk te wees. Die name van pres. Paul Kruger, pres. MT Steyn, genl. Christian de Wet, genl. De la Rey, Jopie Fourie en talle ander kom ter sprake. In die meer teenswoordige tyd het dr. HF Verwoerd grootliks daardie rol vertolk, al sal baie hul koppe nou in ongeloof skud, en belig die kontemporêre geskiedenis die feite anders. Die punt is dat nie een van sy opvolgers waarskynlik die volk so kon “verenig” soos Verwoerd nie. Elkeen het maar sy voete van klei gehad.

Die “wankelrige” situasie is op die oog af in beton gegiet toe die Afrikaner as volk die reg verbeur het om werklike uitvoerende volksleiers te kan kies. Die hedendaagse volksleiers, soos die leiers van kultuurbewegings, of belangebewegings soos die Solidariteit Beweging, kan baie steun en respek verwerf (al is dit nie doelbewus nie). Iemand soos Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, geniet byvoorbeeld baie aansien, en dien vir baie as ideale rolmodel. Deur die organisasies wat lid van die beweging is, kan hy ook veel vermag. Maar as die staat teen sy mense diskrimineer, kan hy nie die telefoon optel en ʼn direkteur-generaal opdrag gee dat die praktyk gestaak moet word nie, selfs al verbied die Grondwet daardie diskriminasie. Die saak moet hof toe gaan om reg en geregtigheid te laat geskied.

Maar is so iets vir almal voldoende in die afwesigheid van ’n volksleier met uitvoerende gesag?

Dit blyk, uit die literatuur, van individuele persoonlikhede af te hang. Dié persoonlikhede is weer deur verskillende faktore en aangebore eienskappe bepaal.

Hierdie kwessie word baie goed in Word Today se dagstuk van 29 Maart 2018 behandel. Onder die opskrif, “Die voordele en nadele van rolmodelle” skryf die samesteller onder meer: “Ons almal het goeie rolmodelle nodig. Wanneer jy egter jou lewe daaraan wy om soos iemand anders te wees, loop jy die risiko om iets te word wat God nie wil hê jy moet wees nie. Onthou altyd dat jou ‘helde’ ook met blinde kolle en karakterfoute sukkel.” … “Die gevaar van heldeverering kom wanneer jy jou individualiteit prysgee en die pad verloor wat God vir jou persoonlik beplan het. Sommige van die lesse wat God ons leer mag dalk dieselfde wees, maar ʼn ander persoon se roeping, gawes, reis en tydsraamwerk sal van joune verskil.”… “As jy op veilige grond wil beweeg, maak Jesus jou rolmodel, en jy sal elke keer wen.”

Verskeie faktore speel ’n rol dat sommige mense se rolmodelle die beeld moet uitstraal van ’n baie sterk persoon, wat sy eie kop kan volg en sy man kan staan teen skynbaar enige aanslag. As daar nog ’n persepsie van ideologiese ooreenstemming is, is die koeël so goed soos deur die kerk.

Hierdie heldeverering is, soos hierbo genoem, nie altyd navolgingswaardig nie. ’n Werknemer ontwikkel byvoorbeeld ’n heldeverering vir ʼn ouer kollega. Dié kollega het egter ’n swakheid om te vinnig te ry. In geselskappe elders moet die (onwillige) aanhoorders tydig en ontydig aanhoor oor hoe die kollega kan jaag. Op ’n dag misgis die jaer hom met ’n effense draai in ’n pad, en beland in die veld. Hierna moet die aanhoorders hoor van die gevaarlike draai in die pad, terwyl die statistiek op dié pad geen aanduiding van so ’n gevaar gee nie.

Is dit nie maar waarteen analiste hulle vasloop as hulle oor Poetin en Trump skryf nie? Uit persoonlike kontak met ander analiste blyk dit dat die probleem taamlik algemeen ervaar word. Harde sorgvuldige navorsing, onderstreep deur meningspeilings van agentskappe wat Trump selfs oorwegend goedgesind is, word sonder eie, unieke feite, bloot aangebied. Die analis word sleggesê.

Die krisis oor Trump se geloofwaardigheid word nou goed deur ’n ongenoeglike gebeurtenis gedemonstreer. In ’n artikel in die Vlaamse dagblad, De Standaard, onder die opskrif “Coats versus Trump, feiten versus meningen” word geskryf oor hoe Trump op elk van die vernaamste punte van ’n verslag aan die kongres deur die gesamentlike inligtingsdienste van die VSA, daarvan verskil het. Daniel Coats is die hoof van die VSA se gesamentlike intelligensiedienste wat, onder meer, die CIA en militêre inligtingsdiens insluit. Maar oor elke bevinding en bedreiging wat Coats uitgewys het, het Trump verskil. Dit sluit, onder meer, Iran, Noord-Korea, die Islamitiese Staat, Rusland en klimaatsverandering in.

Trump het verder gegaan en gesê die spioene moet weer terug skool toe gaan.

Intelligensiedienste word juis ten duurste onderhou om presidente en regerings met objektiewe feite te adviseer. Die keuringsproses in lande wat nie piesangrepublieke is nie, is so opgestel dat slegs die knapste en mees eerbare mense gekeur word.

Dit is baie gevra om van ’n analis te verwag om sonder meer die bevindings van ’n gesamentlike span intelligensiedienste in die wind te slaan.

Dit is ook duidelik dat die Wes-Europese intelligensiedienste hul regerings anders adviseer, soos om ’n alternatiewe instansie daar te stel om die handelsbeperkings wat die VSA teen Iran instel, te omseil.

In die proses word daar probeer om die publiek deur intimidasie van feite te weerhou. Deur die analis se reputasie deur wanvoorstellings te knou, word die leserspubliek van die waarheid beroof.

Die analis se weergawe is nie daarop gemik om propaganda na die een of ander kant te maak nie. Dit ontneem ook nie die leser van die reg om sy eie mening te huldig nie, en dit ook te stel nie.

Maar is dit nodig om die analis wat sy werk onbevooroordeeld probeer doen, gerugsteun deur die beste beskikbare feite, se karakter in die proses te vermoor? Baie analiste reageer ook nie sommer op die kritiek nie. ’n Leeu sal hom nie sommer aan ’n raserige jakkals steur nie, en ’n arend vang nie vlieë nie. Dit is egter nie praktyk dat analiste deur die publikasies toegelaat word om te reageer nie, of word minstens ontmoedig om met lesers in kantlyndebatte betrokke te raak.

Maar analiste is ook mense met gevoelens.

Slegs ’n baie klein persentasie lesers reageer ooit op artikels. Kritiek is dus nie noodwendig verteenwoordigend van ’n beduidende leserskorps nie, en om te ignoreer is dikwels die beste tipe verweer.

En ja, daar is analiste wat gewildheid verwerf deur gedurig omstrede stellings te maak. Die hoeveelheid lesers tel eenvoudig meer as die stroom kritiek wat dit ontlok, maar doen die lesers op soek na die waarheid geen guns nie.

  • Hierdie meningstuk is gewysig sedert dit oorspronklik gepubliseer is. – Red.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

49 Kommentare

Jerry ·

Die skrywer ontleed dit so goed. Die Afrikaner se histeriese heldeverering vir trump en putin in die afwesigheid van n Afrikanerleier. Kan jy glo, die een is n kapitalis en die ander n kommunis. Nee wat, wragtig mense dan kan julle maar net sowel vir CR stem, want hy is n kapitalistiese, sosialistiese kommunis. Bou nou n nasie met so n volk!

Anoniem ·

Jerry, ek weet nie of jy net rofweg geskryf het nie, maar Putin is nie n kommunis nie en Rusland self is lank nie meer kommunisties nie. Miskien is ek verkeerd, maar van wat ek sien is Putin nie n kommunis nie.

Piet ·

Ai Herman, jy bly maar n anti-Trump joernalis. Plaas jy dit net prontuit se en nie so tussen die lyne lees laat blyk nie.

Ek begin jou meer sien as n Afrikaanse skrywer met n Franse opstandigheid in hom. Lyk my dit is maar n tendens met al die Franse afstammelinge wat joernaliste is. Die Du Preez, Du Plessis, Du Toits en nou ook n Toerien.

Opstandige lot die Franse.

Gjorgi ·

Hahaha Piet, ironies dat deur wat jy nou net geskryf het vir Herman 100% reg bewys.

nico k ·

Ek stem saam Herman. Die beste is om kritiek te ignoreer en nie in ‘n debat betrokke te raak nie. En ek is ook van mening dat dit net ‘n klein handjievol mense is wat reageer en nie die mening van die meerderheid is nie. ‘n Mens dink aan al die kritiek wat die DA op Maroela kry en ons almal weet dat die meerderheid Afrikaners vir die DA stem. Ek self verstaan nie die verering wat Poetin onder party Afrikaners het nie.

John ·

Hoe kan Herman dan nou verkeerd wees? Die hele wereld steun die vendetta teen Trump en Poetin. Dit is ook so dat net die vorige garde Afrikaanse joernaliste sout in ander se wonde mag vryf siende dat hulle self so baie sout opgevreet het onder die apartheidsregime voor die ware leiers opgedaag het. Nacy se kinderagtige gedrag tydens die staatsrede was ‘n voorskouing van haar optrede as president… waarvoor sy goed oefen. Indien die VSA nie ‘n heining op sy grens het nie, hoe gaan die massas gestuit word of gaan sy ewe liefies vra dat hulle moet omdraai. Hoe sien Herman die oplossing?

Judge Dredd ·

Probleem is die liberale media/analiste lieg nie noodwendig – maar gerieflikheid-halwe lgnoreer of gee minder aandag aan sekere feite om met hul eie siening/agenda te strook – sodanig dat mense hul eenvoudig nie meer vertrou/glo nie.

Gatvol ·

Judge jou opsomming is heeltemal in die kol. Joenalistiek het n politieke klugspel geword. die KGB kan by hulle leer oor subtiele breinsspoeling.

Farmer Brown ·

Ek beam die subtiele breinspoeling.
Die media was nog altyd die Eliminati se spreukbuis

Thinus Erasmus ·

Ek stel dit weer: ek is nie ‘n Trump aanhanger of liefhebber nie, maar ek kyk na die resultate – dit spreek vanself dat Trump meer regkry as voorgangers/opposisie.
So Herman ons mag maar verskil oor die kwessie maar ek sal jou nie verguis omdat jy ook nie van hom hou of wat hy “twiet” nie.
Ek weerhou my ook snedige kritiek of beledigings, maar siende mense wat hul blind hou gaan een of ander tyd uitgevang word.

Gert ·

Mense dink dikwels intelligensiedienste is intelligent, dis ongelukkig meestal nie waar nie. Dis staatsamptenare wat nie ‘n beter werk kon kry nie. Boonop is hulle erg geïnfiltreer deur Demokrate, en ons weet almal hoe breindood daai spul is, hulle ondersteun selfs sosialisme. Dit bly vir my verbasend hoe blindelings alle kommentators mekaar navolg in veroordeling van Trump, ten spyte van sy ongelooflike sukses as president.

Ekke ·

Trump is ‘n yster.
Kyk na die ekonomiese statistieke. 6 miljoen nuwe werke geskep, laagste werkloosheid in 60 jaar.

Die probleem met te veel dom mense is dat hulle weet nie hulle is dom nie.

Afrikaner ·

Herman, betreffende helde verering in ons huidige opset, noem dit eerder baie respek vir Solidariteit en Afriforum se mense. Waar sou ons sonder hulle gewees het? Wat ek wel wil sê is Cyril Ramaphosa verstaan nie die Afrikaner nie, en as hy hom verstaan, gee hy nie om vir hom nie, dus verlaat daardie mense die land wat enigsins kan.

Afrika presidente lyk dit vir my kan nie ‘n multikulturele bevolking regeer nie. Cyril het die ANC waarvoor hy in die eerste instansie moet sorg dat hulle aan bewind bly en om hul ideologie te dryf. Intussen dryf hy ‘n wig tussen wit en swart in, wat mens nie kan ignoreer nie. Ons is nie almal swart nie en ons is nie almal wit nie en ons het verskillende kulture en tale, en Engels is die koloniale taal waarin hulle verkies om te kommunikeer.

emiel ·

Trump en Poetin se onguns onder die globale pers en akedemiese elite kan meestal toegeskryf word aan die stryd tussen globalisering en nasionalisme,

Paul ·

Herman, baie dankie vir jou artikel, ek gaan my nie oor die res uitlaat nie, buiten dat mens moet dankbaar wees dat Maroela gesprek/kommentaar toelaat, dit nou van die publiek se kant, en dit moet die leser nooit misbruik nie, dan is daar respek wat in spel kom wat bepaal hoe mens sy kommentaar verwoord.

Wat ek wel wil aanraak is jou melding van die IP adres van die kommentator se rekenaar al stuur daardie mense kommentare onder ‘n ander naam. Daarvan is ek bewus, ek dink dalk baie van ons. Ek is wie ek is en is nie skaam daaroor nie, ek het wel ‘n goeie rede waarom ek nie my eie naam gebruik nie. Dit daargelaat.

Ek is een van die persone wat wel van verskeie name gebruik maak, dit net om een rede en dit is as ‘n verdere gedagte by my opkom, of dalk ‘n tweede, wat ek belangrik ag om te deel, die leser/publiek sien dan nie dis dieselfde persoon wat ‘herhalend’ is nie, ook nie elke keer dieselfde persoon wat hy onderaan ‘n ander artikel wat hy oopmaak raakloop nie, tensy daardie leser dalk my skryfstyl raaklees en twee en twee bymekaarsit. (Dit gaan dus nie oor my IP adres by Maroela nie, maar die leser.)

Een sodanige persoon het wel nou die dag onderaan een van my kommentare te kenne gegee hy tel my skryfwyse onderaan die artikels op.

Piet ·

Dit is uiters oneties wat my aanbetref. Ek maak gebruik van 2 rekenaars en 2 selfone. Dit hang af waar ek is en om batterye te herlaai. My naam en epos bly altyd dieselfde. MM het my van en selfoon no ook indien nodig.

En jammer, ek sal my mening lig indien ek nie saam met die “analis” saamstem nie, en daarom word baie van my kommentaar nie geplaas nie. Ek het dit al voorheen gese en se dit weer. MM is nie so demokraties as wat hulle wil voorgee nie.

Ekverpeslefties ·

Mnr Toerien se lysie van “blinde heldeverering” eienskappe is interessant genoeg presies dieselfde lysie eienskappe van liberale linkses en hul oneindige liefde vir als en almal wat anti-Afrikaner is, nou toe nou ?

Thinus Erasmus ·

Piet ek voel ook so dat sommige kommentare sommer aspris nie geplaas word nie. Ek praat van ordentlike redenasies.
Ekverpeslefties – dis juis hoekom ek my weerhou om ordentlike mense te beledig of etiketteer (lelike woord die goeie Afr. ontgaan my). So j, ek hou baie van Herman se artikels, se menings en sy gevolgtrekkings, maar links of liberale (verligte) mense hou nie van konserwatisme en beskou dit bloot as agterlik of common. En hul hou daarvan om ons neuse daarin te vryf.
En ek suggereer nie dat Herman in hierdie katogorie val nie!
En laastens: die beste analis bly steeds ‘n mens en het maar sy opinie.
Alle dank aan MM om tog my vorige mening te plaas.

Kobus (Pretoria) ·

My opinie is dat die Afrikaner waardering het dat die twee magtigste nasies ter wêreld se leiers opstaan teen die zioniste se Nuwe Wêreld Orde (NWO). Die internasionale bankiers het vir die Afrikaner oor eeue moeilikheid gegee. Hul was verantwoordelik vir die ABO, beide wêreld oorloë en ook die uiteindelike oorname van die Afrikaner se land deur swart magte. Alles ten doel om die minerale rykdomme van Suid-Afrika in te palm.

Putin en Trump staan op teen hierdie magte. Trump besef uiteraard dat die Amerikaanse CIA, Britse MI5 en MI6 en Mossad deur die zioniste beheer word. Natuurlik staan hy hul aanbevelings teen want hy weet wie hul wil bevoordeel.

Dus is dit eerder ‘n geval van ‘n gemeenskaplike vyand, die internasionale zionis of Khazar jood, wat Putin, Trump en die Afrikaner in dieselfde kraal jaag.

gatiep ·

Net soos jy dit se Kobus.
Ek sal so bly wees as ons so leier hier kan kry in SA.Daar is nog n paar van hulle in wereld.Pasop vir die kinderlose leiers.

Annie Webb ·

‘n Analis is iemand wat ‘n diepgaande kennis het oor ‘n spesifieke onderwerp, in hierdie geval die VSA se politiek. Ek sou Newt Gingrich so iemand noem: historikus wat self politikus was, verskeie jare as Speaker in die Amerikaanse Kongres. Wat self verkiesbaar was as die Republikeinse presidentskandidaat in 2016 en toe sy gewig ingegooi het agter Trump en as adviseur vir hom opgetree het. Ons Afrikaanse joernaliste, soos ander wêreldwyd, praat bloot die linkse VSA-hoofstroommedia klakkeloos na. Ek was self al in ‘n redenasie gewikkel met ‘n joernalis oor “climate change”. Die enigste wetenskaplik bewese feit daar, is die afgelope dekades se styging van 1°C in die temperatuur van die aardkors. Daar is geen wetenskaplike bewys vir die mens se rol daarin nie. Die histerie daaromheen word spesifiek deur linkse politici vir hul eie doeleindes gebruik. Om vol te hou dat dié linkse politici in alle opsigte “reg” is, beteken dadelik dat só ‘n joernalis nié onpartydig is nie. As dié joernalis dan volhou dat hy onpartydig en “reg” is, ondermyn hy sy eie geloofwaardigheid. Trump verteenwoordig ‘n spesifieke beleid, mens kan daarmee saamstem of nie. Maar om hom persoonlik aan te val en skelname te noem, of bekende linkse propaganda as die aller waarheid voor te hou en Trump af te maak as dom omdat hy anders dink, ondermyn onmiddellik enige joernalis se geloofwaardigheid. Daar is genoeg kundiges wat anders dink en ons kan almal lees.

DewaldS ·

Ek stem 100% met jou saam.

‘n ‘Meningsvormer’ kan objektiewe rubrieke skryf en oor die lang duur sal sy opsomming en mening oor ‘n persoon of land (of wat ookal) soms meer akkuraat en soms minder akkuraat wees. Onakkuraathede sal ons gou vergewe – ons kyk almal tot ‘n mate maar in ‘n kristalbal.

Maar as ‘n ‘meningsvormer’ se rubrieke sodanig geskryf word, dat hoe langer en meer ons van sy rubrieke lees hoe meer begin ons dink dat die rubriek geskryf word om ‘n politieke uitkoms te bewerkstellig of om ‘n sekere persepsie ten alle koste te behou. En as die narratiewe glad nie meer met die feite op die grond ooreenkom nie, hoe minder ernstig sal ons die skrywer opneem. En ons sal weet hy praat van ‘n ‘analis’ waar die woorde ‘paid shill” meer toepaslik sou wees.

JAN ·

Binnekort word haatspraak onwettig. Alle kritiek weer geklassifiseer. Gesensureer soos in die ou tyd. Politieke wetenskap word prooaganda en disinformasie (fake news / info). Trump het dit reggekry. Die einde van false psy-ops het Trump reggekry.
Poetin ook na 70 jaar.
Geen wonder Naspers het volle beheer oor Russiese media propaganda gekry nie!
Werkskepping vir al die politieke wetenskaplikes in Afrikaans.

JAN ·

Nog iets wat ons moet besef.
Offensiewe operasionele psy-ops beteken sadistiese wrede dialektiese en dislektiese misbruik van taal. ( maak van klippe brood of spring van die krans af) .
En dis die oorsaak van due Nasionale selfmoord van die Afrikaners. Goegeloer ” satanisme
( ekt ook die kursus gedoen)”

Josef du Toit ·

Mooi onpartydige stuk en insiggewend met heelwat stof tot nadenke. Dankie Herman!

Zachrys ·

Dag Herman, as mens na die komentaar hierbo kyk beaam dit my vermoede van die “zeitgeist” wat verander…
Openbare media wat nie meer vertrou word nie.
Respek vir meer konserwatiewe leiers, wat meer doen as praat en na hul eie mense kyk… Ek dink dis hoekom Afrikaners, veral, hierdie mense ophemel. Ons soek so iemand/beweging… Afriforum/Solidariteit is redelik suksesvol hier… maar ai mens soek iets wat nog harder slaan vinniger pad na selfregering of ten minste ‘n plan…
Ek dink dies die ‘ nuts and bolts’ van die probleemstelling wat jy gemaak het…
En o ja tweerigting gesprek in die media… Mense kan nou komentaar lewer on gesensor…

Therese van Schalkwyk ·

Maroela se streng kommentaarbeleid voorkom gelukkig “smerige kritiek”.

Die woord ‘aansien’ is meer gepas as die kras “histeriese heldeverering”; tensy dit ondenkbaar is dat Donald J. Trump aansien kan geniet.

Dus, die aansien wat Donald Trump onder heelwat Afrikaners en miljoene regdenkende mense wêreldwyd het, is meer simplisties as die ingewikkeld en ietwat vergesogte verklaring hier. Konstante vyandige beriggewing wat alle perke oorskry, is slegs één bydraende faktor.

Edwin J. Feulner, die stigter en vorige president van die Heritage Foundation in die VSA se artikel, ” Preventing the Tyranny of the Majority”, verduidelik bv. presies hóé verkeerd verskeie analiste die “popular vote” aan lesers verduidelik het en herhááldelik ophaal om die huidige president as ‘n ongelukkie af te maak.
Enige ongemak in joernalistieke kringe is dus hoofsaaklik selfgemaak.

Afrikaner ·

Ons het nou drie persone waarvan artikels met mindere of meerdere reëlmaat oor Trump op Maroela verskyn, Herman Toerien, Dr Leopold Scholtz en Rhoda Kadali wat uit haar oogpunt skryf waar sy nou in Amerika woon en is haar eerste artikel verlede week geplaas. Dus het ons nou drie persone wat hul denke oor Trump met ons deel en sal dit nou interessant wees om ook dié week se artikel van Rhoda te kan lees.

nico k ·

Herman, ek wil net vir jou sê jy is die enigste rede hoekom ek nog Maroela lees. Die meeste mense se kommentaar irriteer my verskriklik en ek as dit nie vir jou kommentaar was nie het ek lankal ophou Maroela lees.

Erasmus Thinus ·

Nico die inhoud van die artikel word nie gemaak of gebreek deur die kommentaar nie, so kies dan om nie die kommentaar te lees nie.
En jy is besig om die meerderheid van die kommentators te beledig.

Puik ·

Dankie, Herman. Uitstekend geskryf!!
Puik vir nico k en Jerry!!

Leopold Scholtz ·

Maklik 80% van die mense wat hierbo reageer, bewys met feitlik elke woord hoe reg Herman is. Wat my betref, is dit een van die beste stukke wat Maroelamedia nog geplaas het. Maar ‘n klomp mense verwerp eenvoudig alles wat van hul eie vooroordele afwyk. Dis jammer dat ek dit moet s^e, maar dis die harde waarheid.

Therese van Schalkwyk ·

Dr. Scholtz

U meningstukke oor Donald J. Trump voor, tydens en sedert die verkiesing wemel nie van komplimente nie. ‘n Tikkie erkenning dat die “ploert” nog nie ‘n Derde Wêreldoorlog begin het, óf die wêreld-ekonomie in duie laat stort het óf ‘n vrou in die ‘Oval office” vasgekeer het nie sal waardeer word.

Die harde waarheid is dat vooroordele beide kante toe werk. As slegs ja-broers hul menings mag lug, kan joernaliste gerus so aandui.

Erasmus Thinus ·

Leopol, een van die 80% wil graag weet of die suksesse wat VSA behaal danksy pres. Trump se ingrypings, dan net as ons vooroordele tel?
Ek lees graag jou en Herman se artikels maar nogsteeds kan ek nie die harde waarheid ignoreer nie.

Ronnie ·

Die trant is dikwels ook beledigend teenoor ander deelnemers. So bv word gesê ek “haat” Trump en ek is al Ronnie Pelosi genoem. Dis onvolwasse na my mening. Sommige van die kantlyn debatvoerders het woorde. Groot woorde. Meer woorde en beter woorde as Trump self. Ek is egter onbeïndruk daarmee. Dit word in elk geval nie altyd op ‘n sinvolle, verstaanbare wyse ingespan nie. Bespeur ek bitterheid ook? Dit voel so en ek verstaan dit glad nie. Dit is bloot menings wat gelig word soos in debatvoering?
Trump / Putin ondersteuners in die VSA en plaaslik kom vir my halstarrig blind voor vir die waarheid so asof om te sê: “Ek glo wat ek glo, moet my nie met feite verwar nie.”
Rhoda Kadali is klaarblyklik genooi om maandeliks ‘n rubriek te skryf oor “Politiek in die Verenigde State van Donald Trump.” Ek wil voorstel sy doen dit weekliks of twee-weekliks want die Verenigde State van Donald Trump gaan terug verander na die Verenigde State van Amerika. Baie gouer as wat mense dalk besef. Daarna gaan dit moeilik wees om enige-iets te regverdig wat in Donald Trump se Amerika gebeur het, selfs vir Breitbart, voor en tydens sy presidensie.

Afrikaner ·

Betreffende Rhoda Kadali se rubriek, skuus ek sien dit sal wel maandeliks verskyn en nie weekliks soos ek hierbo genoem het nie.

JdV ·

MM, dit sal sommer bakgat wees as lesers artikels en kommentare kan ‘like’ of ‘dislike’. Sodoende kan bydraers sien wat die lesers geniet of nie. Nie almal wil kommentaar lewer nie, maar sou graag wil aandui of ‘n artikel/bydrae aanklank vind of nie.

Sune van Heerden ·

Dagsê JdV

Dankie vir jou boodskap.
Die goeie nuus is dat ons reeds planne in die mou voer – maar ons kan nog nie nou al iets hieroor verklap nie! Bly gerus ingeskakel.

Groetnis
Suné
nms Maroela Meda

Vaalseun ·

Welgedaan, Herman. Die een fundamentele hoeksteen wat beskawing van barbarisme onderskei, demokrasie van outokrasie, is die erkenning, beskerming, verdraagsaamheid en aanmoediging van die reg tot kritiek.
Gemeenskappe met leiers waar kritiek doodgesmoor is, waar slegs die mening, geloof en besluite van die leier en sy vertrouelinge kon geld, is die gemeenskappe wat agtergebly het, of met aggressie in konflikte beland en verloor het.
Die Afrikaner se Hugenote en Protestantse wortels het meningsverskil as ‘n karaktertrek gevestig. Dikwels is gesê, ‘Die Afrikaner kan nie saamstaan nie.’ Dis een van die Afrikaner se sterk punte, lewensbelangrik vir oorlewing, want bevraagtekening van mekaar se uitgangspunte, opinies, strategie, taktiek en metodes, is die enigste manier om by die regte besluite uit te kom.
Geen leier is met die regte besluite oor die pad vorentoe geseën nie. Sonder om die beste objektiewe navorsing, ervaring en die beste kundigheid tot sy geskikking elke dag te benut, kan geen leier in ‘n komplekse wêreld sy land na voorspoed en oorlewing lei nie.
‘n Leier se sukses word eers gemeet wanneer historici die gevolge van sy besluite oor die lang termyn binne konteks ontleed en beoordeel het. En sy mislukkings en lyke getel is.

JAN ·

Liewe moederatannies en ooms.
ons lees met vreugde dat julle besig is om MM te omskep van meningsvorming / propaganda Media Kultus tot ware deelnemende nuus kommentaar en menings. / opinies
Met op- en af -duimpies en minimum sensuur .
Soos wat Disqus skitterend gehelp het om die FaKe News van die Hoofstroom media se propaganda te oorwin.
Ons Afrikanaers ken die verskil tussen nuus / inligting en sogenaamde meningsvorming / psy-ops. Die makulu sangomas van Politieke wetenskaplike teokrasie.

Stephan de S ·

Herman dankie vir jou artikel. As iemand se skryfwerk gebruik word as kommentaar, beteken nie dat die persoon nou in n onaantasbare posisie geplaas word nie. Spiekeries was n hoogs beminde Afrikaanse sportkommentator, maar alle volwasse mense sou nie objektiwiteit aan hom toedig nie. Soos die Engels sê : I rest my case.

Cornelia ·

@Vaalseun. En daarom val die doelwit in duie. Want elkeen wil die leier lei in sy eie bydraende kakofonie. (baie nie-ooreenstemmende tone saam) As ‘n leier se grondbeginsels in ooreenstemming is met die strategie om ‘n Land se behoefte raamwerk rondom elke sektor wat altyd die mense van die spesifieke Land, se belange behoort te dien en te bevorder, duidelik is en wetlik gerugsteun word, waarom sal die burgers van so ‘n Land nog steeds aanstoot neem? Dit is ook goed om altyd wagters op die mure te hê. Om ‘n leier op sy tone te hou is in belang van ‘n goeie en verantwoordbare regeringsgewete. As die mens sy gebreke as ‘n onomstootlike bestanddeel van sy menswees kan aanvaar sal sy strewe na die perfekte, met minder gons en oproer gepaard gaan. @ Anoniem, Putin is ‘n stoere kommunis! Vat sy spoor.

Judge Dredd ·

Om ‘n voorbeeld te noem van hoe media dinge verdraai :

Ek het gisteraand na die lewendige uitsending van Sona op Etv se Openview gekyk. Na Sona was meeste joernaliste/analiste en whattsapp kommentare, dat Cyril se toespraak maar ‘n redelik teleurstellende affere was. Dit was natuurlik ‘n lewendige sending en dis moeilik om dan stories te manipuleer.

Vanoggend kyk ek nat Etv se morning Live program en lees onderaan hoe Cyril se Sona toespraak mense geiinspireer/ge-mezmerize het.

Afrikaner ·

Ek sien nou EWN berig vanoggend dat Cyril het gisteraand die olyftak aan die opposisie uitgehou deur hulle te nooi om die land te help herbou. Kan jy dit glo, is dit nou hoe mens die olyftak uithou, plaas dat hy dit in dade en per wetgewing demonstreet, so het hy nou vir EWN ook op sleeptou geneem.

Frans C ·

Ouer lesers sal die ‘ Bay of Pigs invasion, (April 17, 1961)’ onthou.Die 1500 uitgewekenes se doel was om Castro omver te werp.Dit is deur Amerika geldelik ondersteun.
Dit was ‘n CIA operasie en wat was hul uitgangspunt oor die sukses daarvan en advies aan die President , John F. Kennedy ” as ons nie weet nie-weet niemand’.

Dat die hele operasie ‘n groot mislukking was en Kuba in die hande van die kommuniste gedryf het met daarop volgende missielkrisis en koue oorlog,wys daarop dat Presidente
ook maar versigtig moet wees oor die raad van sy intelligensiedienste en dit nie slaafs moet volg nie.

Objektiwiteit lê dikwels in die vertolking van feite deur ontleders en dat hul die pot lelik kan missit en ‘n verleentheid vir die President skep is duidelik uit die mislukte inval in Kuba.

Vaalseun ·

Frans C,
Kennedy se militêre raadgewers het hom wel geadviseer dat die beoogde Bay of Pigs operasie feitlik geen kans op sukses het nie.

Susan ·

Die meningstuk is teleurstellend. Woorde soos “histeriese heldeverering” dui daarop dat die skrywer nie slegs die lesers se intilligensie onderskat nie maar ‘n absolute minagting het vir hul menings.

Dit is ongelukkig tipies van die ondersteuners van die “social justice” movement, wat alle konserwatiewe waardes bevraagteken.
Meeste mense wat Trump ondersteun het geen erg aan sy “gyte” nie en beskou sy maniere as onwaardig; maar erken sy finansiele resultate vir die VSA en die feit dat hy ‘n totale aanslag van die linkse media moet trotseer, befonds deur die gierige, agnostiese Soros en sy trawante.
Putin is ‘n ander saak. Hy dra ‘n 70% goedkeuring van die Russiese kieserskorps; hy is ongelooflik intelligent – hou bietjie verby CNN en gaan luister wat hy sê op sy toesprake. Hierdie twee is suksesvolle leiers. Dit is te verstaan dat hulle bewonder word!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.