Unilever en die EFF stap in ’n lekkergoedwinkel in

James Kemp. Foto: Verskaf

Almal het dit al aanskou – die moedelose ma wat nie weet hoe om haar kleuter tot bedaring te bring nie. Die vloermoer wat al erger word en dan gee sy in en koop maar daai lekkerny waaroor hy so keel opsit. Skielik is hy rustig en vir ’n oomblik kan daar naïef gedink word dat die ma dié stryd gewen het. Maar helaas, nee. Met volgende week se inkopietog gaan boeta weer keel opsit tot hy kry wat hy wil hê. En ma, wat nou ’n presedent geskep het, gaan weer moet ingee.

Unilever se toegewings aan EFF-eise die afgelope week het weer dié beeld by my laat opduik. Die sogenaamde skikking tussen Unilever, Clicks en die EFF kan ook nie as ’n onderhandeling beskryf word nie, maar eerder as ’n gyselaarsituasie waar ’n losprys betaal is. Ja, die EFF het onderneem om hul troepe te onttrek, maar Unilever moet hulself afvra of die losprys die geld werd was. Eerstens is hul produkte vir tien dae van alle winkelrakke verwyder. Sommige winkels het aangedui dat hulle glad nie weer die produkte gaan aanhou nie. Unilever sal ook 10 000 sanitêre produkte aan meisies in informele nedersettings skenk, wat deur die EFF geïdentifiseer is. Dan het Clicks ook met die EFF ooreengekom om beurse te gee aan vyf swart vroue om volgende jaar farmakologie te gaan studeer.

Alhoewel Unilever en Clicks die guns van die EFF gewen het, is dit duidelik uit die kommentaar op sosiale media dat hulle groot reputasieskade onder Afrikaanse verbruikers gely het. Vicky Botha skryf dat ’n gevaarlike presedent nou geskep is deur toe te gee aan die EFF se eise.

Yolandi Engelbrecht skryf: “Absurd! Dis hoekom dit nooit sal stop nie. Elke keer as die voetjies gestamp word nes ‘n stout kind, dan spring almal en gee hulle hul sin.”

Adolph Bauermeister sê hy is teleurgesteld in Unilever en vra dan “wie de hel” die EFF is en Tertia Kuhler Human voorspel “dat ander twee keer gaan dink voor hulle Clicks weer gaan besoek of TREsemmé gaan gebruik.”

Diegene wat die advertensie saamgestel het, kan hulself gerus afvra of dit van goeie oordeel getuig. Verskeie persone in die haarbedryf, insluitend ’n swart haarstilis, Tshediso Tshabalala het daarop gewys dat enige interpretasie van die advertensie as rassisties verkeerd is. Een so ʼn stilis verduidelik dat die terminologie algemeen in die bedryf gebruik word en dat die gewelddadige reaksie van die EFF misplaas is. Swak oordeel? Dalk. Blatant rassisties? Nee.

Intussen sit Unilever en Clicks nou met twee probleme. Die eerste is dat hulle nou een maal geswig en die lekkergoed gekoop het. Van hier af kan die vloermoere erger en die eise groter word. Die ander is die reputasieskade wat onder Afrikaanse verbruikers gely is. Verskeie opmerkings op sosiale media gebruik die term “boikot”. Ek is nie ’n boikotter nie, maar kan ook nie daarop aanspraak maak dat ek tot op hede TREsemmé of enige ander salonprodukte gebruik het nie. In my stort staan slegs ’n ry bottels Buffelsfonteinstortseep. Ek is dalk te ongekultiveerd om salonprodukte te koop of te boikot. Wat ek wel kan sê, is dat dieselfde afkeurende smaak in my opwel as ek nou aan Unilever of Clicks dink as wat gebeur wanneer ek sportmanne sien wat die knie ter ondersteuning van die Black Lives Matter-beweging sien buig.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

James Kemp

Meer oor die skrywer: James Kemp

James is die hoofredakteur van Klankkoerant, ʼn nuus en aktualiteitsprogram wat ook op Pretoria FM uitgesaai word.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

16 Kommentare

jongste oudste gewildste
Kokerboom

Ja James as die Afrikaner weereens gaan toegee, dit aanvaar en so “joiner” speel is daar geen toekoms, moet hul aanvaar wat hul kry en ophou kla en kerm

Kadotjie

Wel, ek is net 1 kliënt maar Clicks het my verloor as een. Hulle het teen my ook gediskrimineer in hul advertensie want ek het “fine and flat hair” maar het nie gaan toi, toi by hul winkels want ek aanvaar my hare soos dit is maar aangesien Clicks nou saam met die EFF in die kraal is, sal ek hul nou maar vermy en by iemand anders my geld spandeer.

Joe

Ek het lankal ophou koop by Clicks ( 10 jaar) – gebruik nie gewone shampoo’s of seep wat in apteke verkoop word nie. Bly eerder sonder n produk as om my siel te verkoop! Wat my betref kan Click’s en Checkers maar toe maak en die land verlaat !!!

Mariana

Die boikot lysie raak al langer…….

Johan

Waar was die eff en die “human rights” organisasie toe die petroljoggie verneuk is in die “two ten” episode? O ja, dit was ‘n swart klient wat dit met hom gedoen het.