Unisa: kleur of meriete?

Unisa (Foto: Gauteng-toerisme)

Deur Jeannette Gnade

Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) het pas begin met die tweede been van sy ondersoek na rassisme, geslagsdiskriminasie en teistering by die Universiteit van Suid-Afrika. Aanvanklik is net die regsfakulteit ondersoek nadat ’n wit professor gekla het dat haar swart kollegas haar aanstelling as die dekaan van die fakulteit gedwarsboom het.

Unisa se rektor, professor Mandla Makhanya het die MRK se hulp ingeroep nadat humeure skerp opgevlam en die gemoedere oorgeloop het van wantroue en vernedering. Hy het ook benadruk dat hy net een nominasie vir die pos van dekaan ontvang het, en dit was dié van ’n swart hoogleraar. Dit is in weerwil van die feit dat die wit professor reeds die nodige vorms vir haar bevordering ingevul en onderteken het. ’n Ander lid van die regsfakulteit wou by die rektor weet hoekom daar net ’n swart professor genomineer is, waarop hy erken het dat swart regsgeleerdes in die fakulteit aangedui het dat hulle nie meer aan wit leierskap onderworpe wil wees nie. Hy het ook ontken dat talle personeellede gedurende die vergadering uitgestap het om beswaar te maak. Volgens swart akademici is die regsfakulteit ’n wit heerskappy en word hulle oor die hoof gesien as dit kom by bevorderings, oorplasings en senior aanstellings.

Gedurende die MRK se eerste verhoor het die ondersoekpaneel tot die besef gekom dat die ganse universiteit gebuk gaan onder bewerings van rassisme, diskriminasie, geslagsbevoordeling en doelbewuste uitsluiting. Unisa het toegestem dat die paneel se mandaat uitgebrei word na al die fakulteite en afdelings voordat die MRK ’n omvattende verslag met bevindings en aanbevelings vrystel. Gedurende die tweede been van die ondersoek sal alle personeel, die universiteitsbestuur asook belanghebbendes die geleentheid kry om mondelinge getuienis af te lê, maar daar sal nie skriftelike verklarings ingedien word soos tydens die eerste sitting nie. Dit dui daarop dat die MRK reeds ’n raamwerkbevinding gemaak het, maar dit wil verifieer met mondelinge voorleggings wat hopelik die talle emosies agter die beskuldigings sal uitlig.

Die sekretaris-generaal van die Swart Forum en dosent in Regsleer, Kgagudi Morota is een van die fakulteitslede wat voorgestel het dat die Menseregtekommissie die universiteit in sy geheel ondersoek vir rassisme. Hy sê daar is baie hartseer verhale van swart mense wat nie verder vorder as junior posisies nie terwyl wit mense uit die staanspoor as senior dosente aangestel word. Volgens hom is daar selde meer as twee swart medeprofessors en een professor.

Die MRK het belowe dat hy Unisa se gelyke indiensnemingsbeleid en die manier waarop dit geformuleer is, sal bekyk. Dit sal ook vergelyk word met die Grondwet, die Handves van Menseregte en die arbeidswetgewing wat ter sprake is. Die paneel moet ook vasstel of die Universiteit se indiensnemingbeleid voorsiening maak vir aanstellings, oorplasings en bevorderings wat die demografiese verteenwoordiging van alle rasse en geslagte weerspieël. Geen melding word gemaak van meriete, bekwaamheid, akademiese prestasies en senioriteit nie.

Die teenpole van swart en wit is weer eens die belangrikste oorweging …

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Casper Labuschagne ·

Ek het al gewonder of hierdie wipplankryery vir die bevordering van swart akademici ten koste van wit akademici nie daarin ‘n rol gespeel het dat Afrikaans as voertaal by Unisa afgeskaf is nie. Want dit sal die deur oopmaak vir die aflegging van ‘n hoeveelheid wit akademici wat ook in Afrikaans gedoseer het en nou kwansuis oorbodig geraak het.

Verseker ·

Dis nie eers vir my verbasend nie…ek en ‘n kollega wou ook oorskuif vanaf ‘n ‘nabygeleë’ universiteit. Ons was presies wat die posbeskrywings wou gehad het, en meer (sogenaamde skaars vaardighede). Rondgevra na niks gehoor het nie…vermoed die aansoeke is sommer al by admin in die asblik gesmyt.

Reg! ·

En so hoor ons toe dit gebeur as n reël met blanke persone se aansoeke. Gaan die MRK ook ondersoek na hierdie praktyk instel?

John ·

Hierdie speletjies is al dekades oud en help die instansie om in die vergetelheid te verdwyn ~ soos die Vlieende Hollander net ‘n verbeeldingsvlug van studente wat duur betaal vir ‘n rit in die niet na nerens.

Eish ·

“… swart regsgeleerdes aan die falukteit het aangedui dat hul nie meer aan wit leierskap onderworpe wil wees nie…”
Dit som sonder om doekies om te draai die hele situasie op.
Synde die aanspraak skerlik geregverdig word as deel van die ” spoils of war”
is dit terselfdertyd onomstootlike bewys van die absolute futiliteit van integrasie.
Die akademici se tyd van vedrukking het begin en dit is net n kwessie van tyd alvorens dit na ander universiteite uitbrei,
Dieselfde resep, eers getalle oorwig en dan die eise.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.