Universiteite sal sak moet skud vir inkontraktering

UJ-betoging-universiteit-Johannesburg

Betogings by die Universiteit van Johannesburg (UJ). Foto: Twitter

Org Potgieter

Die jaar 2015 was verreweg die woeligste nog aan ons universiteite.

Eers die standbeelde, toe die eise vir gratis tersiêre onderwys en nou die voortslepende eise vir die inkontraktering van alle universiteitswerkers.

Die betogings het oudergewoonte gepaardgegaan met geweld, brandstigting en selfs die ontneem van die reg van studente om eksamen te skryf. Tussendeur het die Maties darem die stryd om Afrikaanse onderrig gewen, al sit hulle steeds met ’n kaptein wat liewer vir die opposisie wil speel.

Die uitkontraktering van universiteitswerkers kom al van 2000 af, toe Wits besluit het om die meeste arbeidsbehoeftes uit te kontrakteer. Dit sluit goed soos grondwerk, skoonmaakdienste en onderhoudswerk in – aksies wat noodsaaklik maar nie deel van hul kernbedrywighede is nie. Dit het die norm geword, nie net aan universiteite nie.

Instansies wat dienste uitkontrakteer, doen dit om op toerusting en arbeidskoste te bespaar. Dis goedkoper om ’n skoonmaakdiens te huur as om in al die skoonmaaktoerusting te belê en die diens te administreer. Dit geld ook dienste soos spyseniering: Kry die kos afgelewer, liewer as om die enorme koste en bedryf van ’n toegeruste kombuis aan te gaan.

Diensverskaffers wat by Wits uitgekontrakteer is, sluit ook sekerheidswagte, elektrisiëns en kokke in.

Uitkontraktering het reeds rondom die 1990’s mode geword toe, byvoorbeeld, maatskappye hul motorwerkswinkels gesluit en begin het om hul voertuigbehoeftes uit te kontrakteer. Afgesien van die oorhoofse koste is daar ook bespaar op die pensioene, huissubsidies en mediese voordele vir die personeel wat afgedank is. Breek ’n voertuig, word hy binne ’n paar uur en baie goedkoper met ’n werkende een vervang.

In die geval van Wits het die uitkontraktering gepaardgegaan met die aflegging van 617 werkers. Net die helfte van hulle is deur privaat firmas in diens geneem. As voorbeeld het skoonmakers se verdienste van R2 227 per maand tot ongeveer R1 200 gedaal, terwyl hulle ook voordele soos pensioene en mediese dienste verloor het. Hul kinders kon ook nie meer gratis studeer nie.

Sedertdien groei die sweer van werkers se ontevredenheid totdat dit nou deel van die wydlopende kampusonrus geword het en deur studente ondersteun word.

Kleinhandelaars soos kettingwinkels gebruik inkontraktering vir hul skoonmakers, pakkers en kassiere. Hulle glo dis die beste manier om goeie opleiding te verskaf en lojaliteit onder werkers te kweek.

Hoewel daar veel te sê is vir die uitkontraktering in verskeie sektore, is dit ook waar dat daar uitkontrakteerders is wat totaal ontoereikende opleiding aan werkers gee. Op dié manier word daar baie bespaar en die instansie wat hierdie werkers gebruik eintlik te na gekom. So beland daar mense wat nie eens ’n sigaret met veiligheid kan aansteek nie iewers as uitverhuurde elektrisiën.

Die belofte van gratis tersiêre onderwys wat die ANC in 2002 gemaak en nooit nagekom het nie, was die groot dryfveer agter die studentebetogings wat gelei het tot die uitstel van eksamens. Aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) het dit verder gegaan en is die eksamens vir eerste- en tweedejaarstudente tot 2016 uitgestel.

Ikeys soek ekstra R126 miljoen

Die Universiteit van Kaapstad (UK, oftewel Ikeys) het reeds toegegee aan die eise vir die indiensneming van uitgekontrakteerde werkers, hoewel hy nog moet besin oor waar en hoe die ekstra geskatte R58 miljoen hiervoor verhaal moet word sonder om die studentegeld aansienlik te verhoog en die toegang van eerstejaarstudente te benadeel. Daarbenewens moet ’n ekstra R68 miljoen vir die aanskaf van die nodige bates gevind word.

Dit klink na groot en wettige besware teen inkontraktering, behalwe as jy ook weet dat die UK se wins verlede jaar R676 miljoen beloop het. Dit is die grootste naas die Universiteit Stellenbosch (US) s’n, naamlik R991 miljoen, hoofsaaklik te danke aan groot donateurs.

Die universiteit se woordvoerder, Patricia Lucas, ontken dat werkers se salarisse deur uitkontraktering benadeel is en sê die UK se minimum loon is amper 66% hoër as die minister van arbeid se voorskrifte vir hierdie sektor. Die UK het ook sy werkersvoordele van verminderde onderwysgeld vir werkers en hul familie tot uitgekontrakteerde werkers uitgebrei.

Miljoene rande uitstaande

Die regering het onder groot druk gereageer met die aankondiging dat daar geen tersiêre verhogings in 2016 sal wees nie nadat universiteite ’n verhoging van 11,6% beplan het. Universiteite sal R394 miljoen vir die 0%-verhoging opdok en die nasionale tesourie net minder as R2 miljard. Die staat se bydrae tot universiteite se begrotings is gemiddeld 40% teenoor die 70% van 15 jaar gelede.

Die universiteite se geldprobleme is deels weens uitstaande skuld deur studente. Die grootste sondaar is die Tshwane Universiteit vir Tegnologie wat R866 miljoen se opgehoopte skuld het, gevolg deur KZN (R272 miljoen), Wits (R135 miljoen) en Stellenbosch (R73 miljoen). Die NWU, met skuld van R11 miljoen, se studente is die beste betalers.

Hoër onderwys sal volgens sy minister, Blade Nzimande, oor die volgende drie jaar R37 miljard nodig hê as hy gratis universiteitsopleiding aan alle behoeftige studente wil verskaf. Hy het bygevoeg dat die grootste deel hiervan van die private sektor sal moet kom [en nie uit die bekamping van korrupsie, swendelary en wanbesteding nie!].

“Daar is genoeg geld in hierdie land. Die probleem is dat baie daarvan in die private sektor is [waar dit darem veiliger as in die staatskas is!]. Die rykes sal moet betaal,” het hy gesê.

Regdenkende mense sal seker nie stry dat baie belowende en behoeftige studente groot of selfs gratis studiehulp moet ontvang nie, maar vir hierdie skrywer is daar drie voorwaardes:

Solank hulle in rigtings studeer waarvoor daar ’n groot aanvraag is (lees: vakgebiede soos ingenieurswese en medies, nie die sosiale wetenskappe nie) en solank die besef tuisgebring word dat universiteitsopleiding nie die alfa en omega is nie. Daarvoor het die land ’n te groot tekort aan bekwame elektrisiëns, loodgieters, duikkloppers en ander vakmanne wat aan ander instansies opgelei moet word.

Die derde voorwaarde moet wees dat beurse en subsidies terugbetaal word, soos wat alle voorheen bevoordeeldes wel gedoen het.

En hoe gaan 2016 lyk, met studente wat reeds op elke bedenklike wyse getoon het oor watter mag hulle beskik? Die tyd sal leer, maar dis wensdenkery om te dink die tyd van kampusbetogings is verby. Daar het reeds stemme opgegaan dat afgestudeerde studente hul studiegeld moet terugkry. ’n Mens kan nuwe drukgroepe verwag wanneer registrasiegeld ter sprake kom en daar is ook diegene vir wie die 0%-verhoging steeds 100% te veel is.

Die Universiteit van die Vrystaat het pas ook finaal die handdoek ingegooi vir die behoud van Afrikaans. Op Stellenbosch is daar ’n groep wat net tevrede sal wees as die Maties die Kovsies se pad loop …

  • Org Potgieter is ’n vryskutjoernalis.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Org Potgieter

Org Potgieter is ’n vryskutjoernalis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Francois ·

Org, jy is heeltemal reg – die 2016 akademiese jaar gaan in alle waarskynlikheid onder dieselfde protesaksies deur studente en universiteitswerkers gebuk gaan as wat hierdie jaar die geval was. Ek vermoed dat dié protes sommer vroeg in die nuwe jaar sal begin, want baie van die kwessies waaroor vanjaar se betogings gehandel het, is vanweë die jaareinde vakansie en die gevolglike sluit van universiteite nog nie opgelos nie. Boonop lyk dit vir my of die protesterende groepe voortdurend die doelpale verskuif deur nuwe kwessies te opper waaroor daar dan van voor af onderhandel moet word. Dit bring mee dat geen einde aan die ontevredenheid waarop die studente en werkers se protes gebaseer is, ooit in sig is nie. Wat my egter dwars in die krop steek, is dat baie van die studente wat met soveel oorgawe deelneem aan die vandalisme en rampokkery wat met die protesaksies gepaard gaan, nie hul studies met naastenby dieselfde oorgawe aanpak nie. Ek hoor gereeld die klagtes van universiteitsdosente oor lae klasbywoning, studente wat nie vir lesings voorberei nie, studente wat nie tutoriaalopdragte indien nie, ens. Indien die studente wat nou so protesteer, net die voorreg (nie die reg nie) wat hulle het om hoegenaamd te studeer ten volle en na die beste van hul vermoë wil benut, sal Suid-Afrika se intellektuele kapasiteit met rasse skrede verbeter. En hoe nodig het ons dit nie in ‘n land wat onder die ANC regime se verlaging van standaarde gebuk gaan nie!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.