Universiteite se taalbeleid en die toekoms van Afrikaans

alana-bailey-afriforum-featured

Alana Bailey, hoof van kultuursake by AfriForum. (Foto: Reint Dykema)

Die toekoms van Afrikaans as tersiêre onderrigtaal bly ’n aktuele onderwerp – so ook die gebruik van ander inheemse tale vir onderrigdoeleindes. Al meer taalgemeenskappe sluit aan by Afrikaanssprekendes en vra waarom net Engels by tersiêre instellings bevorder word.

Die feit dat die land een van die hoogste uitvalsyfers van skoliere en universiteitstudente het – met ander woorde mense wat skole en tersiêre instellings verlaat, voordat ’n kwalifikasie behaal is – is ’n vername rede vir die hoë werkloosheidsyfer. Beide probleme kan, onder meer, aan die gebrek aan moedertaalonderrig toegeskryf word.

Wêreldwyd is bewys dat moedertaalonderrig direk tot beter akademiese prestasies bydra en dat dit gevolglik die betrokke land se ekonomie en indiensnemingsyfers positief beïnvloed. Tog hou owerhede vol om te skuil agter die verskoning dat meertalige onderrig “te duur” is en eentalige Engelse onderrig meer koste-effektief sal wees.

Een van die ander standaard verskonings vir die bevordering van eentalige onderrig, is dat “die studente in Engels wíl studeer”. Dosente is tot hul skande deeglik bewus van die voordele van moedertaalonderrig, maar vind dit nie nodig om ouers van studente en die studente self hieroor in te lig nie. As dosente dra hul opinies gewig by studente, maar tog swyg hulle eerder om die klimaat van die dag, wat sterk ten gunste van eentalige Engelse onderrig is, gedienstig te wees.

Hierby sluit universiteitsbesture en ouers se wanopvatting aan dat Engels die deur oopsluit na internasionale sukses. Ouers hoef net te kyk na die sukses wat mense wat in Afrikaans gestudeer het, oral in die buiteland (én plaaslik!) behaal om te weet Engels is nie die enigste paspoort tot voorspoed nie – werksetiek, kundigheid en vele ander faktore weeg swaarder.

Wat universiteitsbesture betref, glo hulle ’n aanbod van Engelse onderrig gaan internasionale studente lok. Dit was ook ’n vername rede waarom Nederlandse universiteite blitssnel verengels het en nou met die hande in die hare sit omdat jong Nederlanders toenemend in gebreke bly om dienste aan die Nederlandse bevolking te lewer. Verder kla dosente daar oor die studente se onvermoë om hulle in beide Nederlands en Engels professioneel uit te druk. Ongelukkig leer Suid-Afrikaanse universiteite nie by dié voorbeelde nie en storm voort op die vernietigingspad.

Dit bewys weer dat openbare universiteite lankal nie meer instellings is wat hul gemeenskappe dien nie, maar bloot besighede wat dienste te koop aanbied.

Die gedienstigheid aan inkomste is mooi geïllustreer in die Konstitusionele Hof se uitspraak in die saak oor die taalbeleid van die Universiteit van die Vrystaat. Die universiteit het beweer dat onderrig in beide Afrikaans en Engels ernstige polarisasie tussen studente op die kampus tot gevolg het, maar in enkele fakulteite het hierdie bedreiging skynbaar op wonderbaarlike wyse verdwyn omdat daar ruimte gelaat word vir Afrikaanse onderrig (in die woorde van die uitspraak) “… to cater for certain professional programmes like Education and Theology because there is a market demand for them.”

Ewe merkwaardig is die feit dat voormalige Afrikaanse universiteite steeds met groot ywer in Afrikaans adverteer wanneer inskrywings vir die volgende akademiese jaar open, maar nalaat om te noem dat kursusse nie in Afrikaans beskikbaar gaan wees nie. My slotsom is dat Afrikaanse “kliënte” se geld goed genoeg is, mits hulle hul taalverwagtinge laat vaar.

Privaat instellings soos Akademia en Sol-Tech raak eilande van hoop vir die oorlewing van Afrikaans as tersiêre onderrig- en vaktaal. Dit beteken egter nie ons moet die verantwoordelikheid van Afrikaanse onderrig net aan die privaat sektor oorlaat nie. Ons moet steeds voortgaan om wanpraktyke soos die sake wat tans by die Universiteit Stellenbosch (US) aan die kaak gestel is, te ontbloot en teen te staan. Privaat instellings se ontwikkeling en landwye voetspoor groei te stadig om alle potensiële studente nou al te akkommodeer en totdat dit moontlik is, is daar baie studente wat geen ander opsie sal hê as om in Engels te studeer nie, tensy ons ook vir hul regte voorspraak maak.

Waarskynlik gaan verskeie universiteite binnekort hulle taalbeleide hersien. Die Taalbeleidsraamwerk vir Openbare Instellings vir Hoër Onderwys wat in 2020 aanvaar is, vereis gereelde hersiening. Die US het reeds met hierdie proses begin. Ten spyte van AfriForum se ervaring in die verlede dat openbare raadplegingprosesse van instellings dikwels maar oëverblindery is om voorafopgestelde beleide deur te druk, is dit noodsaaklik dat organisasies soos AfriForum en die publiek aan hierdie konsultasies deelneem. Ons moet ons verpligting om ons taalregte op te eis, nakom.

Terselfdertyd moet ons ook belê in instellings wat hulle onomwonde tot Afrikaanse moedertaalonderrig verbind en hulle daadwerklik beskerm teen druk om te verengels.

Maklik was dit nog nooit nie, maar die koste om bloot aan verengelsing toe te gee, is net té hoog vir individue en gemeenskappe om dit nie te doen nie.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Alana Bailey

Meer oor die skrywer: Alana Bailey

Alana Bailey is lid van die Afrikaanse Taalraad en adjunk uitvoerende hoof van AfriForum (verantwoordelik vir internasionale skakeling, taal en kultuur).

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
ABDP

My keuse van universiteit was beslis moedertaal onderrig in Afrikaans. Alhoewel studie materiaal in Engels was, Engelse teorië, navorsingstukke en beleide, was daar uitstekende Afrikaanse navorsing stukke wat goeie steun gebied het in my vakgebied. Ek kon my eksamen antwoorde baie goed uitdruk in Afrikaans. As ek dit in Engels moes doen sou dit verseker myuitslae belemmer het. Ons veg voor vir Afrikaans.

Therese

Stom van verbasing, gedink ons het lank reeds oorgegee.
Nóu skielik word wanpraktyke by voorheen Afrikaanse universiteite opgemerk?
Skaars ‘n krieseltjie Afrikaans oor by enige van dié insteliings na jare en jare se apatie en vyandigheid, selfs uit eie geledere.
Wat het nou geword van die vermanings en preke vanaf die taalrade om Afrikaans nie te “verromantiseer” (in Volksblad) of aktief te beskerm nie?
Dit het nou laat in die dag geraak.

Groen Ghoen

Is daar ‘n skroef los in die Afrikaanssprekendes se gesamentlike psige? Waarom word die aftakeling van die Afrikaner se kultuurgoedere maar net gelate aanvaar? Slegs Afriforum het die moed van hul oortuiging om daadwerklik terug te baklei. Die DA het wel by Stellenbush University begin stof opskop, maar eers nadat hul merkbaar stemme begin verloor het. Dalk is die Afrikaner se grafskrif: “Hier is die Afrikaners begrawe…. Die enigste volk wat onderhandel het vir sy eie ondergang; Gestem het vir sy eie ondergang; en betaal het vir sy eie ondergang.” Sela!