US se bestuur lewer akademie en Afrikaans uit aan die wolwe

Stellenbosch-University

Universiteit Stellenbosch Foto: Cair.za.net

Dr. Heinrich Matthee

Die bestuurspan van die Universiteit van Stellenbosch (US) se jongste verklaring op 12 November sou as beleid Engels voortrek en Afrikaans, Xhosa en ander tot randtale verdoem. Dit word aangebied as bloot ’n besprekingsdokument, maar dra reeds die tekens van die bestuur se toekomstige beleid.

  1. Universiteitsoutonomie prysgegee voor politieke druk: Hierdie verklaring is ’n strompelende terugval voor die politieke druk van die dag. Met beter opvoeding, navorsing en diens aan die omliggende gemeenskappe het dit min te doen.

Suid-Afrika is deesdae ’n hibriede politieke orde, nog net deels demokraties ná 21 jaar se een-party-oorheerste politiek. Die politieke druk wissel: Soms is dit stellings deur pres. Jacob Zuma dat universiteite broeikaste moet word vir “patriotiese burgers”, soos in die China-model. Soms is dit stellings deur  die minister van hoër opvoeding en Kommunistepartyleier Blade Nzimande, naamlik dat opvoeders geskool moet word in die rewolusionêre teorie van stryd en onderwysleerplanne aangepas moet word.

Verskuilde en openlike intimidasie speel ook ’n rol. Onlangse straatprotes- en mediaveldtogte eis ’n demografiese en ideologiese gelykskakeling. Agter die skerms is daar begrotingsdruk. Daar was al dreigemente deur ANC-besluitnemers teen Afrikaanse privaat opvoedingsinstellings soos Akademia. Die kabinet het ook pas ’n nuwe Wetsontwerp op Hoër Opvoeding goedgekeur wat ministeriële magte oor universiteite verder vergroot.

Universiteitsbesture sukkel om onder hierdie druk universiteitsoutonomie te behou. Maar hul buiging voor politieke druk sal nie akademiese vryheid, uitnemendheid of diens aan hul kerngemeenskappe bevorder nie – inteendeel, juis die teenoorgestelde. Dit is tekenend dat onder meer die Universiteit van Pretoria (UP) se posisie op internasionale rangordes juis nie verbeter het sedert dit verengels het nie.

  1. Politieke diskriminasie: Volgens die sensus van 2011 is die moedertaal van 49,6% van die Wes-Kaap se inwoners Afrikaans, teenoor 24,7% isiXhosa-moedertaalsprekers en slegs 20,2% Engelse moedertaalsprekers. Studente wat in Engels wil studeer, het drie eentalige Engelse kampusse om van te kies in die nabye omgewing.

Dit is opmerklik dat die US se komende taalbeleid juis gemik is teen Afrikaanstalige gemeenskappe en burgers, van wie die meeste oorwegend teen die ANC stem. Hul belasting dra wel by tot die staatskas, en help finansier nou die kulturele en politieke diskriminasie teen hulle.

Die oor eeue heen gewortelde Afrikaanssprekende Afrikaner- en bruin gemeenskappe van die Wes-Kaap het ’n eie inheemse taal en akademiese hoër funksies daarin ontwikkel. Met hierdie afrangering van Afrikaans by die US word hulle in die hoek geskuif.

  1. Vernietig kulturele ekostelsel: So ’n taalbeleid vernietig eintlik ’n hele kulturele ekosisteem wat oor dekades en eeue in die Wes-Kaap gegroei het. Prof. Hermann Giliomee noem tereg dat die grond net buite Kaapstad tot by Swellendam die kulturele bakermat van Afrikaners was. Dit geld ook vir die heterogene bruin mense en hul gemeenskappe.

Die Wes-Kaap is die bakermat van Afrikaans. Met hierdie verengelsingsbeleid sal ’n kerninstelling vir Afrikaans in sy geboortestreek verdwyn.

  1. Afrikaanssprekende kinders benadeel: So ’n beleid maak die pad dan toe vir Afrikaanssprekende leerders in die Kaapse gemeenskappe, onder meer ook die toevoerroete vanaf die beste Afrikaanse parallelmediumskole soos Paul Roos Gimnasium, waar Wim de Villiers self skoolgegaan het en prefek was, Paarl Gimnasium en Hoër Jongenskool Paarl (HJS, oftewel Boishaai), Jan van Riebeeck en andere in Kaapstad.De Villiers se ambisie is selfhelp-breinchirurgie in Engels – vir Afrikanerkinders en ander Afrikaanssprekende kinders in die Kaap.5. Kragbron vernietig: Dit is ironies dat De Villiers hiermee die lang en sorgsaam opgeboude akademiese erfenis in Afrikaans by Maties onthoof. Dit is ’n unieke kragbron wat tienduisende Afrikaanssprekendes, ook homself, in staat gestel het om nasionaal en internasionaal uitsonderlik te presteer.6. Vadermoord: De Villiers se pa, die hoogaangeskrewe regsdekaan prof. AB de Villiers, het oor dekades sy beste werk in Afrikaans gelewer. Taal en die regswetenskap is dalk nog meer intiem verbonde as sommige ander wetenskappe.

Die marginalisering van Afrikaans by Maties deur Wim de Villiers is in sy uitwerking byna ’n vertraagde vadermoord. Dit is ook ’n aanslag op die lewenswerk van talle ander Afrikaanse akademici wat die US oor jare opgebou het.

  1. Uitnodiging vir verdere druk: As beleid sou hierdie voorstelle gesien word vir wat dit is: oorgawe onder druk. Die US bly ’n belangrike teiken vir die ANC se denkpatrollies. Die universiteit is immers in die Wes-Kaap gevestig, die enigste provinsie waar ’n opposisieparty regeer.

Wanneer gaan Open Stellenbosch of ander drukgroepe daarop aandring om ook alle Afrikaanse name en standbeelde op die kampus te verwyder? Belangriker: wat verhoed ’n universiteitsbestuur wat oor iets so belangrik soos moedertaalopvoeding oorgee om ook sy kursusinhoud te skik na die politieke mag van die dag?

8. Eie wanbeeld in die geskiedenis: Wim de Villiers-hulle hoop om hul beroepsvelle te red deur Afrikaans vir die wolwe te gooi. Hulle kan egter self solank plek maak op die galery vir die ANC-wolwe wat hulle eendag moet opvolg. En regmaak vir hul gehawende rekord in die Afrikaanse geskiedenis.

9. Sosiale isolasie: As jy in die Wes-Kaap ou eikebome probeer ontwortel en die kulturele ekosisteem verniel, moet jy nie skeef opkyk as jy jou gaandeweg sosiale isolasie onder Stellenbossers en Wes-Kapenaars op die hals haal nie.

10. Akademia: Die Afrikaanse publiek se invloed in die alledaagse lewe van Stellenbosch, Paarl en die wyer Wes-Kaap is nog steeds nie te onderskat nie. Hopelik laat hierdie gebeure ook hul steun aan instellings soos Akademia toeneem.

  • Dr. Heinrich Matthee is ‘n politieke ontleder en akademikus.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

9 Kommentare

Janie Nel ·

Mooi so Dr Heinrich Matthee. Uiteindelik is iemand nie te gedienstig om ‘n slag die waarheid oor de Villiers te praat nie. Baie dankie. De Villiers – hanskakie van ‘n verraaier – sal op die einde ook roemloos en in skande sy staan in die Universiteit se geskiedenis kry.

Irene Cornelissen ·

Dit is die lafhartige besluit van mense soos De Villiers wat te bang is om vir hul eie taal op te staan en te baklei. Hy is in die ideale posisie, maar wil te veel meesters dien. Ek skaam my om te dink dat Stellenbosch, die bakermat van Afrikaanse universiteite, nou so ‘n tweegesig-instelling moet word.

Joe Kruger ·

Dis nou presies net hier, soos by Potchefstroom ook behoort te gebeur tov. Die taalbeleid waar die Raad van die Universiteit die bestuurspan tot orde moet roep.. Die bestuurspan kan mos nie net sulke groot beleidsvoorstelle die lug inslinger sonder dat die Raad dit goedkeur nie. Gestel die Raad kom nou en bevind op goeie redelike gronde dat so n verengelsing nie die Weskaap en sy mense dien nie en dat hier bloot onder politieke druk geswig word….. Dan het die bestuurspan mos nou redelik die karvvoor die perde gestel en moet hulle tot verantwoording geroep word! Ek hoop die Raad het ruggraat! Jammer Jannie Mouton dien nie meer op die Raad nie!

Rudi ·

Ek stem nie met jou saam nie. Ek het gewot op PU vir CHO 1991. En in daardie jare het ons stiffies(1.4megs) gebruik om net later uit te vind dat in Australia beterken dit ereksie:). Net opdat ‘n paar terme soos CD, charge en simcard in my taal is, maak my nie Engels. My dogtertjie is 7 jaar oud en sy is blerrie slim maar sy kan nie engels praat. Haar brein is klaar gevorm in afrikaans en sy sal wou studeer in afrikaans want dis waar haar hart le

Dee ·

Rudi, jou erkesieprobleem is omdat jy, nie anglisismes maar werklike Engelse termes in Afrikaans gebruik. Indien jy nou nog nie weet dat direkte vertalings uit is soos môre heeldag, sal jou dogtertjie dit eendag vir jou leer wanneer sy studeer. Terloops, jou taalgebruik klink nie soos die van iemand wat op PU ge(s)wot het nie en Afrikaans word met ‘n hoofletter geskryf.

Heinrich, behalwe daarvoor dat jy my taal praat met wat jy sê, skryf jy (‘n) Afrikaans wat lekker is om te lees.

Pieter ·

Raakgevat, dr Heinrich Mathee! Renier, ek is nie verbaas dat jy nie verstaan waaroor dit gaan nie – ook nie wat ware demokrasie werklik behels nie. Jy leef in ‘n droomwêreld as jy dink ons het volle demokrasie in ons land – nog ver daarvandaan! Jy is duidelik iemand wat maar net saam met die stroom wil vloei en beland waarheen dit jou ookal mag neem – selfs oor die afgrond! As die “bastertaal” dan geen waarde (behalwe as “kommunikasiemedium”) het nie, waarom gebruik jy dit dan nog? Dan het jy nog die vermetelheid om neerhalend na iemand anders se beroep te verwys – wat beskou jy as ‘n sogenaamde “regte werk”?! Ondersoek eerder jou ooglopende gebrek aan trots, insig en respek teenoor ander menings. Indien jy nie verstaan waaroor dit gaan nie en nie ‘n positiewe bydrae kan lewer nie, hou dan eerder jou onkunde vir jouself. Ons het reeds teveel negatiewe mense wat nie bereid is om self positief te werk vir wat saak maak nie – in hierdie geval behoud en bevordering van Afrikaans as moedertaal en moedertaalonderrig – ‘n reg vervat in ons Konstitusie. En ander nuus vir jou: Daar is GEEN begrip wat nie in Afrikaans bewoord kan word nie – as jy dit anders beleef, is dit omdat jy Afrikaans nie in sy volle omvang ken en/of verstaan en gebruik nie… indien wel, sou jy die bohaai verstaan het! Daarom: Ek en my mede-Afrikaanssprekendes is TROTS op ons taal! Lekker daggie vir jou…

Pieter ·

Raakgevat, dr Heinrich Matthee! Renier, ek begryp waarom jy nie verstaan waaroor dit gaan nie – ook wat ware demokrasie behels nie. Dink jy ons het volle demokrasie in die ware sin van die woord in ons land? Allermins! Skynbaar vloei jy maar net saam met die stroom waarheen dit ookal gaan – selfs oor die afgrond. As die “bastertaal” in elk geval gaan uitsterf en nie “begrippe” kan verwoord nie, waarom gebruik jy dit dan nog? Ek het nuus vir jou: Daar is GEEN begrip wat nie in Afrikaans verwoord kan word nie! Indien jy dit anders ervaar, is dit weens jou gebrek aan kennis van die omvang van Afrikaans en belangstelling daarin, asook jou minagting daarvan as ‘n “bastertaal”. Dan vertoon jy ook jou gebrek aan respek vir ‘n ander se beroep – wat is volgens jou “‘n regte werk”?! Ondersoek eerder jou eie beperkte insig en begrip vir wat wel belangrik is – in hierdie geval die behoud en bevordering van Afrikaans en moedertaalonderrig – ‘n reg vervat in ons Grondwet. Sodra jy dit verstaan, sal jy ook positief aan die “bohaai” deelneem! Indien jy egter billike kommentaar daaroor nie verstaan nie, hou eerder jou onkunde vir jouself. Ek en ons ander Afrikaanssprekendes oor kultuurgrense heen, is TROTS op ons taal en sal nie afkraking daarvan duld nie. ‘n Lekker daggie vir jou…

Wilhelm Snyman ·

Die Italianers het ‘n uitfrukking “l’amico di tutti è l’amico di nessuno” – almal se vriend is niemand se vriend. Deur om hierdie besluit te neem oor Afrikaans net om’n klomp hansworse (never mind hanskakies) boewe, snuiters en diewe tevrede te stel is regtig kortsigtig. Meng met die semels en die varke eet jou op Prof De villiers. Deur in te gee, verspeel mens jou toekoms. Kyk wat gebeur in Europa… hulle gee in gee in, en voor hulle weet waar hulle is, is juis diegene vir wie hulle alles gegee het, juis die mense wat hulle in teaters opskiet. Kom tot ‘n ooreenkoms met Vlaamse en Nederlandse universiteite om ‘n satelliet kampus te word van Leiden of Utrecht of een van daardie universiteite, eerder as om Blade Nzimande se skoene te lek.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.