US-taalbeleid: Dis ʼn tragedie, maar ons moet vorentoe kyk

Saam met honderdduisende Afrikaners en ander Afrikaanssprekendes wat hulself nie as Afrikaners beskou nie, is ek hoogs ontsteld oor en woedend kwaad vir die regters van die konstitusionele hof wat artikels 29, 30 en 31 van die Grondwet deur die bril van ’n ANC-narratief vertolk het.

Ek verwys nou na hul uitspraak oor die Gelyke Kanse-saak rakende die taalbeleid van die Universiteit Stellenbosch. As ’n mens dit van alle tierlantyntjies en kantstrokies stroop, kom dit hiérop neer: Die Universiteit Stellenbosch mag maar verengels.

Dis egter belangrik dat ons dit nie emosioneel benader nie, maar koud en rasioneel. Dan moet jy toegee dat ’n deel van die uitspraak wel deeglik meriete bevat. Kom ons kyk daarna.

Die regters se logika berus op die argument dat verreweg die meeste swart studente Engels verstaan, maar nie Afrikaans nie. Daarteenoor verstaan alle Afrikaanssprekende studente Engels.

Daaruit spruit voort dat die gebruik van Afrikaans in lesings die swart studente uitsluit. Die gebruik van Engels sluit nie Afrikaanssprekendes uit nie, en aangesien die praktiese uitsluiting van enige groep op diskriminasie neerkom, druis dit in teen die Grondwet.

Uiteraard mag Afrikaans, of welke taal ook al, nie as rookskerm vir diskriminasie teen swart mense of welke groep ook al gebruik word nie. Daar is Afrikaners wat dit graag sou wou doen, maar tussen hul ore dink ek 99% van ons almal weet daardie tyd is onherroeplik verby.

Op sigself kan ek die regters se logika dus volg. Maar hulle het hier gestop. Hulle het nie besin oor hoe die beswaar deur innoverende denke oorkom kan word nie. Die een manier is simultaan-fluistertolking. Dis sekerlik nie ideaal nie, maar waar dit op Stellenbosch en die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit toegepas is, het dit blykbaar taamlik goed gewerk.

Die Konstitusionele hof van Suid-Afrika (Foto: Stefan Schäfer, Lich – eie werk,via Wikemedia Commons)

Vir die tweede het ek gekyk na hoe internasionale topuniversiteite die taal- en uitsluitingskwessie benader. Op die webwerf van die Universiteit Heidelberg in Duitsland staan uitdruklik: “Die onderrigtaal in alle graadkursusse sowel as die meeste Magisterstudies aan die Universiteit Heidelberg is Duits. Die onvermydelike voorwaarde vir ’n suksesvolle studie is dus baie goeie kennis van Duits.”

Heidelberg bodder nie eens om voornemende studente in staat te stel om die taal te leer nie. By navraag kan só iemand ingelig word waar dit kan gebeur, en wanneer hy of sy die nodige sertifikaat het, kan die inskrywing as student volg.

Die Sorbonne-universiteit in Parys is marginaal toegeefliker: “Voordat mense vir studie na Frankryk kom, is dit belangrik om Frans voldoende te beheers (geskrewe en mondeling).” Voornemende buitelandse studente kan wel ’n Franse taalkursus aan die universiteit volg, en eers as hulle dit geslaag het, kan hulle verder gaan.

Iets soortgelyks geld vir die Staatsuniversiteit van Moskou. Voornemende buitelandse studente word verwys na die universiteit se Instituut van die Russiese Taal om ’n taalkursus te volg. Nadat dit suksesvol afgelê is, kan jy ’n graadkursus aan die universiteit volg.

Die oudste bestaande universiteit in Europa, dié in Bologna in Italië, bied weliswaar spesiale kursusse in Engels vir internasionale studente aan, maar ook hier moet voornemende studente ’n universiteitskursus in die Italiaanse taal slaag.

Selfs die Universiteit van Kaapstad sê kategories op sy webwerf: “English proficiency is a requirement for study at the UCT.” Die universiteit bied wel Engelse taalkursusse aan vir diegene wat nie Engels voldoende magtig is nie.

Toegegee, dié voorbeelde – daar is talle meer – is nie heeltemal dieselfde as die situasie in Suid-Afrika nie. Duits is die inheemse taal in Duitsland en word deur 99% van die mense gepraat; Afrikaans het van oor die see gekom en is verinheems, maar ’n groot deel van die bevolking praat hom nie.

Maar bogenoemde voorbeelde dui wel aan hoe taal as uitsluitingsmeganisme oorkom kan word.

Die antwoord is, altans in teorie, eenvoudig: Bemagtig die studente om Afrikaanse klasse te kan volg. En as hulle die taal dan só verskriklik haat dat hulle weier om meer as twee woorde op Afrikaans te praat, dan is die antwoord baie redelik: Daar is ’n menigte ander universiteite in Suid-Afrika waar hulle na hartelus in hul aanbidding van die taal van die Engelse imperialisme kan swelg. Maar nee, Stellenbosch moet opsluit ook Engels word.

Onthou dat die meeste inwoners van die Wes-Kaap Afrikaans is. Daar is reeds twee Engelstalige universiteite – die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) en die Universiteit van Kaapstad (UK) – in die provinsie. Waarom mag Stellenbosch nie minstens deels Afrikaans wees nie?

Taal is ’n onvermydelike praktiese probleem aan enige onderriginstituut, van laer skole tot universiteite, veral in ’n meertalige land soos Suid-Afrika. Daarby mag taal nie as meganisme aangewend word om mense uit te sluit nie.

afrikaans-sal-bly

Foto: Stellenbosch Lente/Facebook.

Maar in hemelsnaam, geagte regters, hoekom volg julle dan outomaties die ANC-ideologie? In hul uitsprake het die regters weliswaar begrip getoon vir die noodsaak van moedertaalonderwys, maar in hul eindgevolgtrekking vervolgens ’n streep deur hul eie redenasies getrek.

Die punt is dat daar wel deeglik metodes bestaan om die as sulks geldige uitsluitingsargument te oorkom, mits jy gewillig is om innoverend te dink en nie soos ’n skoothondjie agter die ANC aan te drentel nie. Maar in hul uitsprake kon ek nie eens sien dat die regters hoegenaamd bewus was van sulke metodes nie.

Dis ’n tragedie. Die regters van die konstitusionele hof, wat veronderstel is om die Grondwet te bewaak, verkrag dit. Wat sê dit van die regstaat in ons land? Wat sê dit van die regters? Dit word des te erger deurdat die verengelsingsproses aan die meeste gewese Afrikaanse universiteite gedryf is deur Afrikaanssprekende rektors wat bereid was om hul moedertaal se keel willens en wetens af te sny. Hul name sal in die geskiedenis ingebrand word.

Nou ja, gedane sake het geen keer nie. Wat gebeur het, het gebeur, en ons moet vorentoe kyk. ’n Eeu gelede het sake ook donker vir Afrikaans en die Afrikaners gelyk. Toe het ons voorvaders met groot wilskrag en energie skouer aan die wiel gesit en Afrikaans van ’n kombuistaal opgehef tot een wat sy plek kan volstaan op akademiese vlak, as onderrig-, handels- en owerheidstaal. Dit was ’n ongelooflike prestasie, al moet onmiddellik bygesê word dat die destydse uitsluiting van die bruin mense ’n groot fout was.

Mits ons daardie fout nie herhaal nie, kan ons weer die wonder van Afrikaans laat herleef. Byt vas. Solidariteit se Plan B, met inbegrip van Akademia, lyk na die aangewese strategie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Judge Dredd ·

Leopold – Afrikaans het nie van oor die see gekom nie. Sy ontstaan is hier in SA.

Louwrens Opperman ·

Jy neem die woorde uit my mond. Afrikaans het baie beslis NIE van oor die see gekom nie. Dis totale drek!

Dan sê hy ook dat Afrikaans opgehef is van kombuistaal.
Hy raak deurmekaar oor waar sy Taal vandaan kom.

Reinhardt ·

Nou hoekom deel ons dan 95% van ons woordeskat met Nederlands?

Stephan de S ·

Dankie Leopold, ek onderskrywe elke woord v jou. Ek glo dat deur goeie leierskap,wat besig is om orent te kom—te midde v vele nydigheid — ons ook , op n manier waarvoor ons nie skaam hoef te wees nie, om en oor hd stuikelblok sal kom. Ek wil graag Afrikaans sterwe eendag.

Hendrik ·

Enige skenkings van Nederland om ons Afrikaanse instansies te befonds? Geld om lektore te lok om ander studierigtings te begin is ook nodig. Daar is natuurlik Soltech, Akademia en Aaros vir onderwys. Ons maak staat om julle in die buiteland om ons te help. Ons het julle gehelp in die verlede met ordentlike onderwys en daarom kon julle vestig in die buiteland. Bietjie terug ploeg…

Feite ·

Solidariteit se plan met akademia was die strategie voor die afriforum vs UV hofsaak tragedie, want tydens die saak was dit duidelik dat dit die aangewese strategie gaan wees met afriforum wat alles in hulle vermoe gedoen het om n ongunstige uitslag vir afrikaans te bekom. Die uitspraak van UV hofsaak het reeds toe die begin van die einde van afrikaans en afriforum/solidariteit aangewese strategie wat gevolg word, aangedui. Dit was toe reeds duidelik dat diegene wie veg vir die behoud van afrikaans by universiteite (by verre een van die Afrikaner se grootste erfenis nalatings), eintlik besig was om te veg vir die uitfasering van afrikaans. Dit was dus moontlik om die Afrikaner om die bos te lei deur universiteitsowerhede en die ANC/eff te blameer wie in elk geval geen geheim daarvan gemaak het dat afrikaans die taal van die onderdrukker is. Die feite is dus dat diegene wie geveg het vir die behoud van afrikaans, harder geveg het om afrikaans te laat sneuwel. Hoekom het afriforum/solidariteit dit gedoen? Die motief was van die begin af om n sakeryk te bou uit afrikaans deur afrikaans te laat uitsluit by universiteite en te isoleer by akademia privaatonderrig instellings. Die bymotief, wie weet dalk is dit die hoofmotief, was om Afrikanernasionalisme te laat herleef! Die Afrikaner se sogenaamde Dr. Kestell en kie is dus alles behalwe, wat jy sien is wat jy kry. As hulle, net soos die ANC/eff se daar is kastele in die lug, gaan kyk eers!

Feite? ·

Waar kan ek gaan kyk na jou stawende bronne oor dit wat jy hier kwytraak?

(Bv’alles in hule vermoe gedoen…’ – kan jy asb uitbrei hierop – ek wil graag agter die kap van die byl kom)

Dankie

Die uwe, Realiteit ·

Geagte mnr. Feite,
Ek is nederiglik daarvan oortuig dat U tinfoeliehoed tans so ‘n bietjie te styf sit.
Voel gemaklik om ‘n groter nommer te probeer of besoek U vriendelike “shrink” op die hoek.

Groete aan U daar in Wakanda!
;-)

JohanR ·

Just call it now in the queens HIGH ENGLISH……The University Of Stellenbosch or PICKERS for short. Here we talk no other langauge except the queens HIGH ENGLISH. Afrikaans? Nein Nein…..it is here strictly verboten!!

Peet ·

Goed ontleed Leopold.
As ons maar die lesse uit die verlede onthou. Nie weer boedel oorgee nie en nie Trojanse Perde inlaat nie.
Wees trots op Afrikaans en wees ook trots om goeie engels te kan lees, praat en skryf. Dis veral goed dat jy jouself kan handhaaf in oorseese wetenskaplike omgewing. Dis in teenstelling met die kermgeluide uit Stellenbosch .

Frans C ·

Nou weet ek nie of ‘n mens moet lag of huil nie.As ‘n mens emigreer dan emigreer jy na
‘n land en as dit meertalig is, jy tenminste een van die tale magtig is.Dieselfde geld vir studies in enige eerste wêreldland.

Dus sou ‘n mens verwag dat studente wat nie Afrikaans magtig is nie,nie so probeer om
‘n Afrikaans medium skool/of universiteit te nader nie vir studiedoeleindes.Ongelukkig werk dit nie so in Suid Afrika nie en gee getalle die deurslag en word voorheen Afrikaans medium inrigtings eenvoudig oorstroom en oorgeneem.

Ons kan nie die geskiedenis omdraai nie maar dit is ‘n tragedie dat die onderhandellaars
eenvoudig alle besware gegrond op geskiedenis van die res van Afrika afgelag en bespotlik gemaak het en diegene as verkramp en effens agterlik afgemaak het.

Daarom moet alle pogings om Afrikaans as onderrigtaal te red ondersteun word.

Hans ·

Gelyke kanse by Victoria kollege/US, solank dit in ENGELS is.
Ek dink Jan Marais draai in sy graf, vir elke beurs wat vir studies in Engels by US toegeken word. Seker waar dat niemand uit die graf mag regeer met erflatings, maar vir meer as eeu was letter van hierdie testament gevolg. Het Jan Marais Nasionale Fonds weier om fondse aan bv Akademia te skenk.

Marthinus Willemse ·

Toe my suster by wie ek bly nog DStv gehad het, was die Nederlandse kanaal BVN een van my gunstelinge. Dit het my telkens verbaas om Suid-Afrikaanse swartmense en bruinmense op programme soos bv DWDD te sien, en hoor hoe suiwer Nederlands hulle praat. Maar in SA weier hulle om Afrikaans te praat.

Naspers se internetnuus in Engels is gratis, maar ons Afrikaanssprekendes moet betaal. Maatskappye adverteer in Afrikaans op RSG, maar eindig dan hul reklameflits met `n Engelse motto. Dit wys op disresepk vir die Afrikaanssprekende: ons soek jou geld, maar nie jou moedertaal nie. Microsoft SA het jare gelede vyf inskrywings in Johannesburg se telefoongids gehad: een in Afrikaans, Engels, Zoeloe, Sotho, en Xhosa. Toe het `n plaaslike “konsultant” hulle geadviseer om net Engels te plaas, sodat hulle geld kan spaar. Ek was die Telkom-beampte wat dit moes uithaal. Ek het met Miscrosoft gepraat; hulle wou dit nie verwyder nie, maar die Engelssprekende “konsultante” het soveel druk op hulle geplaas, deur tale polities te maak, dat MS onder druk gevou het.

Feite ·

@Marthinus Willemse. Jy kan nie Nederland en SA vergelyk nie, inteendeel kan jy SA nie met enige ander land vergelyk wanneer taal ter sprake is nie, omrede in SA weier swartmense en bruinmense om afrikaans te praat want afrikaans was die taal van die onderdrukker gedurende apartheid. Nederland het nie mense met n stelsel soos apartheid onderdruk nie en nederlands is dus nie die taal van die onderdrukkers nie, maar veel eerder van die bevryders! Bo en behalwe vir die politieke aanslag en aktiviste teen afrikaans is dit is n natuurlike reaksie vir die nageslagte van swart en bruinmense wie se ouers en grootouers deur apartheid in afrikaans onderdruk was om geen respek teenoor afrikaans te toon nie. Die disrespek teenoor afrikaans as n bevoorregte taal gaan nie oornag verdwyn nie, indien dit ooit sal verdwyn. Daar is teveel afrikaanse bevoordelingsfaktore wat sal bly voortbestaan wat dit onmoontlik sal maak vir geslagte en geslagte om vrede te maak met afrikaans. Soos Steve se, dis hoe dit is so hou op om jouself jammer te kry en begin om swartmense en bruinmense se probleem met afrikaans te verstaan, dan sal jy ophou om te kla oor afrikaans en net dalk sal hulle ophou om disrespekvol te wees teenoor afrikaans! Jy het duidelik ook saam met die verkeerde ruiters gaan staan en perd opsaal!

chrisp ·

Engels was seker die taal wat die meeste deur onderdrukkers(Britanje) gebruik is tog is 98% plus van daardie onderdrukende lande die amtelike taal engels ,so ook Fraans,Spaans en Portugees by hul ou kolonies. Letterlik tientalle lande kan hier as voorbeeld gebruik word. Jou argument is uiters swak so ook jou laaste sin.
Ons Arikaners is ook deur die Britte onderdruk en tog het ons ,ons eie instellings gestig en die engelse sin uitgelos en dit gaan weer gebeur.

Feite ·

@chrisp. Jammer dat ek jou toon raak getrap het, maar die feite is dat die engelse en engels as taal van die meeste onderdrukkers nie in Marthinus Willemse en my kommentaar van toepassing is nie. Lees weer Willemse en my kommentaar dan sal jy sien dat dit gaan oor swart en bruinmense wat nie n probleem in Nederland het nie om nederlands te praat, maar dat swart en bruinmense wel n probleem het om in SA afrikaans te praat omrede die stelsel van apartheid wat swart en bruinmense onderdruk het se taal was afrikaans, nie nederlands nie. Engels as taal van die ergste en meeste onderdrukking is dus glad nie hier ter sprake nie, punt nommer twee was engels nie die taal gedurende apartheid wat die onderdrukker geuiter het teenoor swart en bruinmense nie, afrikaans was. Jou laaste sin waar jy se dat ons ons eie instellings weer gaan stig is natuurlik toe te skryf aan afriforum wie vir die behoud van afrikaans geveg het, maar helaas toe nou daarin gefaal het om afrikaanssprekendes se erfenis te bewaar en saam met die universiteitsowerhede daaraan aandadig is en die blaam gaan dra vir ons universiteite wat verengels. Weereens moet afrikaans hulle eie instellings stig met weereens die afrikaanssprekendes se geld en hierdie keer danksy die afriforumruiters saam met wie jy ook besig is om die verkeerde perd op te saal!

chrisp ·

Ag nee wat jy trap nie op my toon nie jy trap net rond.

Verstaan jy regtig nie my punt oor ander lande en tale waar daar geweldige onderdrukking was nie? Indien nie is ek verbysterd maar gerus in die wete die grootste getal Maroela lesers wel die logiese punt en gevolgtrekking volg.

Spaans , Engels,Portugees en Frans ?Weier ‘n Mosambieker om Portugees te praat,’n Kongolees om Frans te praat ens?Is hulle nie onderdruk nie? My punt is hierdie onderdrukkings sindroom is ongegrond juis oor die redes

Jou laaste sin :)

Peet ·

Goed ontleed Leopold.
As ons maar die lesse uit die verlede onthou. Nie weer boedel oorgee nie en nie Trojanse Perde inlaat nie.
Wees trots op Afrikaans en wees ook trots om goeie engels te kan lees, praat en skryf. Dis veral goed dat jy jouself kan handhaaf in oorseese wetenskaplike omgewing. Dis in teenstelling met die kermgeluide uit Stellenbosch .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.