Een van die mees effektiewe maniere om vandag jou boodskap, jou versoek, jou oproep vinnig by ’n gehoor te kry, is deur die wêreld van sosiale media. Met moderne kommunikasiemiddele is dit moontlik om ver oor grense, fisies sowel as intellektueel, te sê wat op jou hart is en wat jy wil bereik. Nou hier, binne ’n sekonde daar.
Om jou kommunikasie meer effektief te maak, moet jou boodskap nie net aanmoedig nie, maar ook hoop skep en inspireer. Moed en inspirasie het deur die geskiedenis van die mens al die onmoontlike werklikheid gemaak.
Daar is een kommunikasiemiddel wat selfs kragtiger as sosiale media is. Dit is musiek. Deur die eeue en oor geslagte heen het musiek mense inspireer om uitdrukking te gee aan hulle diepste verlange, strewes en hoop. Deur musiek het mense teen onreg geprotesteer en oor verliese getreur. Anders as sosiale media is die boodskap van musiek tydloos. Dit oorspan eeue en kommunikeer nuut met elke nuwe generasie. Soos “Va, pensiero,” die klaaglied vir vryheid van die Joodse slawe in die Italiaanse opera Nabucco.
Ná die val van die Romeinse Ryk het Italië gedurende die Middeleeue verbrokkel in ’n klomp stadstate wat deur adellike families regeer en in die agtergrond deur die pous gedomineer is. Gedurende die Renaissance het die stadstate ’n enorme rol gespeel in die ontwikkeling van Europese kuns en kultuur. Dink maar aan Leonardo da Vinci en Michelangelo. Ten spyte van die Italiaanse stadstate is groot dele van Italië om die beurt deur Frankryk, Spanje en Oostenryk beset en onderdruk. In die negentiende eeu het Italiaanse nasionaliste stadig maar seker begin om hulle te beywer vir ’n onafhanklike en vrye Italië. Na die val van Napoleon in 1815 het die onafhanklikheidstrewe momentum gekry toe anti-imperialistiese en nasionaliste winde dwarsdeur Europa begin waai.
Alhoewel generaals, politici en burgers ’n enorme rol gespeel het om die Italiaanse unifikasie teen 1870 te verwerklik, was dit Verdi se musiek wat note gegee aan die sug na vryheid en die smagting na onafhanklikheid.
Verdi is in 1813 in die klein Hertogdom van Parma gebore toe Italië nog stewig in Napoleon se greep was. Alhoewel die jong Verdi kennelik musikaal begaafd was, is die eerste hoofstukke van sy lewe gekenmerk deur persoonlike verlies en tragedie. Sy twee kinders Virginia en Icilio sterf onderskeidelik in 1838 en 1839. In 1840 sterf sy vrou Margherita. Die persoonlike tragedie het daartoe bygedra dat sy tweede opera, Un giorno di regno, in 1840 ’n klaaglike mislukking was.
In die pyn van verlies en die donkerte van depressie het Verdi in die winter van 1841 hom tot die werke van die anti-Oostenrykse aktivis Temistocle Solera vir inspirasie gewend. Solera het geskryf oor die lyding van die Joodse bannelinge tydens die Babiloniese ballingskap ná die val van Jerusalem en die vernietiging van Salomo se tempel in 586 v.C. Die lyding, gevangeneskap en onderdrukking van die Joodse slawe onder Nebukadneser (Nabucco in Italiaans), die tiran van Babel, het ’n metafoor geword vir Italië se onderdrukking deur vreemde heersers. Onder die juk van vreemde heersers het hulle versugting na vryheid.
Die een aspek van die mens waaroor daar deur die geskiedenis die meeste berig, bedink, gestry en geskryf word, is die totale omvang en begrip van vryheid. Met die strewe na vryheid het die geringste al die grootste oorwin. Moed en inspirasie speel ’n deurslaggewende rol in die mens se strewe na en behoud van vryheid. Verdi kon hom nie net op ’n diep persoonlike vlak met die verlies en verlange van die Joodse bannelinge vereenselwig nie, maar as ’n Italiaanse patriot het die smagting na vryheid hom aangespreek.
Op 9 Maart 1842 is Nabucco die eerste keer in die La Scala-teater in Milaan opgevoer. Die opera was ’n reuse sukses en aan die einde van 1842 reeds 64 keer opgevoer. “Va, pensiero”, die slawekoor se klaaglied aan die begin van die derde bedryf, het ook Italië se versugting na vryheid verwoord. Teen 1860 het die gewilde koorstuk die nie-amptelike volkslied van die Italiaanse patriotte en ’n oproep teen onderdrukking geword.
Na die sukses van Nabucco het Verdi hom met hart en siel, opera na opera in die Italiaanse vryheidstryd gewerp. Met I Lombardi (1843), Attila (1846), Macbeth (1847) en La Traviata (1853) het hy musikale momentum aan die vryheidstrewe gegee. Met Don Carlos (1867) het hy die Katolieke Kerk en Spaanse Koningshuis in sy visier gehad wat Rome verhoed het om deel te word van ’n verenigde Italië. Drie jaar na Don Carlos, op 20 September 1870, het Italiaanse troepe Rome binnemarsjeer en was die Italiaanse unifikasie voltooi.
Die nuwe Italiaanse staat het Verdi as lewenslange senator benoem uit erkenning vir sy bydrae tot Italië se vryheidstryd. Na sy afsterwe op 27 Januarie 1901 het 300 000 mense, bykans die helfte van Milaan se bevolking, in die strate van die stad byeengekom om spontaan “Va pensiero”, die lied van ’n slawekoor, te sing.
Wat is vandag die tema van ons slawekoor? Watter lied sal note aan ons ideale en eie versugting na vryheid gee? Watter lied sal ons met moed inspireer om sulke hoogtes te bereik? Watter lied laat ons mense regop staan? Watter lied kan ons met soveel oortuiging sing dat energie in ons harte vlamvat?
Die note van ons slawekoor moet nog gekomponeer en die woorde gedig word. Ek is nie ’n komponis nie, maar die tema van vryheid is so duidelik en belangrik as wat die middel-C vir die klavier is. Selfstaan. Selfbestuur. Selfsorg. Dit is die ideale en ambisie wat ons deur die eeue vorentoe laat trek het.
Puik skrywe. Baie interessant. Dankie.
Wow
… en die Jode is nou terug in hul eie land en het steeds g’n rus en vrede nie, inteendeel, hul word daarvan beskuldig dat apartheid, wat glo deur Afrikaners ontwerp is, daar toegepas word. Die Israeliete het geweet waar hul land is en weggevoer was na die vreemde. Hoe wil ons hierdie tema op ons van toepassing maak; weggejaag word soos sommiges smeek, die Kaap herverower of op ‘n lappie gifgrond in ‘n konsentrasiekamp wag op ‘n komponis van ‘n grootse tra-la na nèrens?
Sterkte met die wisselende emosies waardeur soveel van ons gaan.
Ontnugtering, woede, sinisme, verlies, bitterheid, verlange, heimwee …
‘Verlange’ en ‘heimwee’ baie beslis twee verskillende goed.
Dankie Danie,
Vreemd dat die FAK kla. Die FAK was in die ou dae die openbare vleuel van die Broederbond. Die Broederbond was die geheime “think tank” agter die regerende Nasionale Party. Idees oor “hervormings” en toegee aan die ANC het dus maar eintlik vanaf die Broederbond gekom. So die FAK se huidige gekla is regtig vreemd. Dié “nuwe SA” is dan wat hulle wou gehad het.
Maar ek onthou goed: toe ek hulle en hulle meelopers in die 1980’s al gewaarsku het dat hulle “hervormings” gaan lei tot korrupsie, regstellende aksie, plaasmoorde, onderdrukking van wit mense ens, was hulle reaksie dat ek onchristelik en verkramp is.