VAE en Israel sluit vrede

(Foto: AP Photo/Ariel Schalit)

’n Diplomatieke deurbraak is op Donderdag 13 Augustus bekend gemaak: die beoogde aanknoop van diplomatieke betrekkinge tussen Israel en die Verenigde Arabiese Emirate (VAE). Dit het heel onverwags gebeur ná onderhandelinge agter die skerms. Die VAE is maar eers die derde Arabiese staat (ná Egipte en Jordanië) en die eerste een in dekades wat Israel amptelik erken. Die konsensus tussen Arabiese en meeste Moslem-lande was en is dat Israel ’n onwettige staat is wat op onderdrukking van die Palestyne (Arabiere) gebou is en daarom nie bestaansreg het nie.

Vir dekades was dit ’n geval van Israel alleen teen die hele Midde-Ooste (insluitende Noord-Afrika). Daardie verdelingslyn skuif egter al geruime tyd en is deel van ’n groter nuwe wêreldwye Oos-Wes-konflik: Israel, Saoedi-Arabië en ander Golfstate asook Egipte aan die een kant, met die VSA en in ’n mate Europa as hul bondgenote. Iran, Sirië, die Palestyne, Katar en Turkye aan die ander kant, ondersteun deur Rusland en China.

Vir president Donald Trump, wat as bemiddelaar opgetree het en die twee kante tot ’n ooreenkoms kon lei, is dit ’n belangrike buitelandse sukses. Blykbaar het hy die ooreenkoms al geruime tyd voorberei as deel van sy oorhoofse vredesplan vir die Midde-Ooste. Anders as in die geval van sy voorganger, Barack Obama, wat behalwe vir voornemens en mooi woorde niks gehad het om te wys nie, is dit ’n egte sukses en ’n mylpaal op die lang pad na vrede tussen Israel, die Palestyne en die state van die streek.

Benjamin Netanyahu. (Foto: Abir Sultan/Pool Photo via AP)

Vir Israel en sy eerste minister Benjamin Netanyahu beteken die erkenning deur die VAE, ’n belangrike Golfstaat met groot ekonomiese mag, ’n diplomatieke deurbraak. Die VAE as opkomende mag in die streek, wat ook deel van ’n anti-Iran-koalisie saam met Saoedi-Arabië en ander state is, kan baat by Israel se tegnologiese kundigheid asook by verhoogde toerisme uit die welvarende Israel. Albei state sal ook op die gebied van militêre intelligensie saamwerk om terreur te beveg. In die volgende weke sal die ooreenkoms onderteken word en op elke aspek van samewerking toegepas word. Israel het as toegewing aan die VAE (en die Arabiese state), op aandrang van president Trump, sy plan om dele van die Palestynse gebied te annekseer, eers laat vaar.

Die meeste state wêreldwyd het die aankondiging verwelkom, selfs state in die streek soos Egipte, Oman en Bahrein. Die ander Golfstate kyk nog hoe die wind waai, maar sal waarskynlik vorentoe dit wat reeds in praktyk agter die skerms gebeur – naamlik samewerking met Israel – ook amptelik maak. Die stap van die VAE kan ’n domino-effek hê en tot nóg diplomatieke betrekkinge tussen Israel en ander Arabiese state lei.

Daar was egter ook hewige kritiek uit die verwagte oorde: Iran, Turkye en die Palestynse owerheid het die stap as verraad aan die Palestynse saak beskryf en met diplomatieke gevolge gedreig. Met die dreigemente isoleer die Palestyne hulle egter net verder en verspeel nog meer krediet. Hulle besit reeds nie meer die onverdunde simpatie en steun van die streek nie, want hulle het soveel kanse op vrede en verbetering van hul lot deur hardkoppigheid laat verbygaan. Die onderhandelinge het juis ’n toegewing aan die Palestyne bevat, naamlik dat Israel van die anneksasie van Palestynse gebiede met Joodse nedersettings afsien.

(Foto: AP Photo/Oded Balilty, File)

Tot dusver erken net twee Arabiese state – albei buurlande van Israel – die Joodse staat, naamlik Egipte en Jordanië. In beide gevalle was daar nog groter grondwerk om te doen. Egipte was in 1976 bereid om Israel te erken en vrede te sluit in ruil vir die teruggawe van die besette Sinai-skiereiland, wat Israel tydens die Sesdaagse Oorlog in 1967 verower het. Die Egiptiese president Sadat is destyds as verraaier van die Arabiese saak uitgekryt en moes dié dapper stap met sy lewe betaal toe hy deur Islamitiese sluipmoordenaars om die lewe gebring is. Jordanië het in 1994 vrede met Israel gemaak en veral voordele gekry deur toerisme, veiligheid en water. Die ooreenkoms het gevolg op die Oslo-ooreenkoms tussen Israel en die Palestynse Bevrydingsbeweging in 1993. In beide gevalle het die VSA ’n bemiddelende rol gespeel en is van die rolspelers met die Nobelprys vir Vrede beloon.

In die jaar 2020 was daar min internasionale deurbrake en hierdie stap behoort eintlik vir die Nobelprys in aanmerking te kom. Dit sou egter beteken dat eerste minister Netanyahu en ook president Trump vir hul rol geëer moet word. Dit is met die eerder linkse Nobelkomitee, wat aan president Obama die Nobelprys vir Vrede toegeken het slegs vir sy aankondiging (en onsuksesvolle poging) om vrede in die Midde-Ooste te bereik, redelik buite die kwessie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Human ·

Don Tantrum Trump kan nie sy eie land se probleme uitsorteer, wat amper meer verdeëld is, as die Midde Ooste, dus als oëverblindery om sy stempersentasie te probeur verhoog, vir die verkiesing wat voorlê. Hy treë op soos ‘n sekere party in Suid-Afrika wat hoop, dat die kiesers alles glo, wat aan hulle opgedis word en dat hulle gaan regeer tot Jesus kom, maar weë die dag wanneer hulle ondersteuners tot hul sinne kom.

Simon ·

Ek dink jy verwar die Amerikaanse pers met die Amerikaanse politiek.

Human ·

Simon het jy al van die internet gehoor of is jy ook een van die wat glo aan sameswerings teorië.

JBN ·

Donald Trump is die beste president op hierdie planeet. Ek hoop hy word weer verkies as president in November. Dat daar nog steeds mense is wat glo dat die BLM demokrate met ‘sleepy’ Joe Biden as president n beter opsie is gaan my verstand te bowe. Die oningeligte mense glo alles wat die hoofstroom media hulle voer. Die demokrate daar wil maar net soos die Anc hier n kommunistiese stelsel op die mense afdwing.

Therese ·

Groot waardering van ‘n pro-Trump leser vir hierdie welkome artikel oor ‘n belangrike diplomatieke deurbraak wat internasionaal ten hemele geloof sou word as dit ‘n Obama was.
Laakbare joernalistiek word wêreldwyd gepleeg, maar sommige voer dit tot nuwe hoogtes (laagtes) in die Trump-era.
Die oningeligte wanpersepsies oor VSA-politiek onder kennisse in SA laat ‘n mens sprakeloos.
Waar is die objektiewe politieke meningsvormers vir Afrikaanssprekendes?
Dankie, Maroela!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.