Vakbondwêreld wys ANC kan inplof

num-national-union-of-mineworkers

Argieffoto.

Die eens magtige en invloedryke vakbond, die National Union of Mineworkers (Num), is in 1982 onder leiding van sy eerste hoofsekretaris, Cyril Ramaphosa, gestig. Die vakbond het bykans oornag die dominante vakbond in die mynbedryf geword en teen 2010 tot 324 000 lede gegroei; só het die Num die grootste vakbond in Suid-Afrika geword.

Naas Ramaphosa het die vakbond toonaangewende politieke leiers soos Gwede Mantashe, Kgalema Motlanthe en Senzeni Zokwana opgelewer. James Motlatsi, Num se eerste president, het ʼn toonaangewende sakeman geword. Met die Num se groot ledetal, trotse geskiedenis en sterk leierskap het dié vakbond die Suid-Afrikaanse vakbondlandskap oorheers en binne Cosatu die kitaar geslaan.

Tot rondom 2012 het mynhuise en die regering oor hul voete geval om die magtige Num tevrede te stel en die vakbond se leierskap het ook op internasionale vakbond- en arbeidsplatforms verskeie voorsitterrolle vervul. Die Num het die meerderheidsbeginsel van vakbonderkenning op werkplekvlak met mening afgedwing. Medevakbonde in die mynbedryf moes dus gereeld om oorlewing veg en vakbonde was oorgelewer aan die Num se goedgesindheid om erkenning te behou. Selfs die Kamer van Mynwese en vele mynhuise het die Num se wenner-neem-alles-benadering gesteun om só in hul goeie boekies te bly.

Marikana knak die Num

Die volgende oomblik tref Marikana die mynbedryf in Augustus 2012 en die onmiddellike gevolg was die Num wat 40% van sy steun verloor het. Sy invloed in die mynbedryf en binne Cosatu het drasties begin kwyn. Die ondenkbare het plaasgevind deurdat die magtige mynvakbond deesdae om oorlewing moet veg en erkenning by talle werksplekke moet soek.

Ek het ná jare lange samewerking met die Num gewoond geraak aan sy eertydse oorheersing en magsvertoon wanneer lede met dreunsang die onderhandelingskamer binnegekom of verlaat het. Ek het selfs af en toe my duim in die lug gehou as die “comrades” by Solidariteit se afvaardiging verbygedans het om darem aan te dui dat ons kennis neem van die kragtoertjie! Nou is die Num ʼn skadu van die vakbond wat hy was; dit raak die ANC direk, omrede die Num se vakbondstrukture tot onlangs nog ook as die ANC-strukture gefunksioneer het.

ANC en die Num se eerste krake

Hoewel ek nie die Num se inploffing sien kom het nie, kan ek egter die ANC se inploffing sien kom weens die direkte parallelle wat tussen die ANC en die Num getrek kan word. Gepaardgaande is pres. Jacob Zuma op sy eie besig om die party se inploffing te versnel deur sy eie belange bo dié van die ANC en Suid-Afrika te stel.

Die aanvanklike krake in albei organisasies kan terugherlei word na die wegbreek van prominente populistiese jong Turke wat ʼn opposisie-organisasie ná konflik met die topgesag geskep het. In die Num se geval het Joseph Matunjwa in 2001 as gewilde Num-streeksleier in Mpumalanga die Amcu gestig en Num-lede begin afrokkel. Dit was ná ʼn onderonsie met Gwede Mantashe, die Num se destydse hoofsekretaris. In die ANC se geval het Julius Malema in 2013 uit die ANC-strukture weggebreek, die EFF tot stand gebring en die politieke ruimte aan die linkerkant ingeneem.

Die rooi ligte het vroeg in 2012 vir die Num begin flikker toe die rotsbooroperateurs by Impala Platinum gevoel het dat die Num hulle in die steek gelaat het. Duisende lede het na die Amcu oorgeloop. Direk daarna volg die Marikana-tragedie wat voorafgegaan is toe Lonmin se rotsbooroperateurs ook na die Amcu oorgeloop het. Die les wat die ANC in 2012 by die Num moes geleer het, is dat daar nie vervreemding tussen die organisasie en hul grondvlak-ondersteunersbasis moet wees nie. In daardie stadium het die Num se nasionale en streeksleiers blink motors gery en meer tyd op internasionale vlugte en in vyfsterhotelle deurgebring as om lede se behoeftes te probeer oplos – die ANC is ook lankal in die posisie.

Soos met die EFF die geval is, het die Amcu dadelik as deel van sy opmars die grondvlak-behoeftes begin verwoord en op brood-en-botter-sake gefokus. Dit het groot aanklank gevind.

Die ANC se mini-Marikana                             

So was die verkiesing van die plaaslike regering in 2016 die ANC se mini-Marikana. Ewe skielik tree die ontnugtering in dat die “geloofsbriewe” van die vryheidstryd nie meer blindelingse steun beteken nie.

Omrede die ANC (soos die Num) sy steunbasis en gesag danksy die pre-1994-posisionering op ʼn skinkbord gekry het, het nie een van hierdie instansies ʼn benul van hoe om vir steun te veg nie. Die gevolg is dat die Num nou by verskeie werksplekke die minderheidsvakbond is en dat die Amcu tans die meerderheid lede verteenwoordig. Boonop beskik die Num nie oor ʼn strategie of die ervaring om die bordjies te verhang nie. Dieselfde lot het die ANC getref in die metropole van Pretoria, Johannesburg en Nelson Mandelabaai, waar hulle nie weet hoe om as ʼn doeltreffende opposisie- of minderheidsparty te funksioneer nie.

Die gevolg vir albei organisasies is dat die “historiese vyand” van ʼn wit politieke en ekonomiese mag wat die organisasies saamgesnoer het, nou aan die verkrummel is. Nou begin etniese en ideologiese verskille die organisasies van binne uitdaag wat faksiegevegte tot gevolg het weens ʼn soort-soek-soort-verskynsel.

Korrupsie vreet die ANC en Num van binne op

Dan bestaan daar die ooreenkomste van korrupsie wat volg wanneer magsposisies oor ʼn baie lang tyd beklee word en moraliteit deur eiebelang verdring word. Korrupsie binne die ANC is egter niks nuuts nie, maar onlangs is grootskaalse korrupsie binne die Num oopgekrap, en die voorkoms van selfverryking is ʼn duidelike teken dat eiebelang bo lede se belang gestel word. Met die Num se 2015-leierskapsverkiesing is die Num se nuwe hoofsekretaris, David Sipunzi, se veldtog deur ʼn Gupta-maatskappy ondersteun met ʼn skenking van R1,5 miljoen. Die gevolg is dat die nuwe leierskap – soos die ANC se topleierskap – ʼn geloofwaardigheidskrisis beleef wat interne tweespalt verhoog en verdere skeurings of ʼn massa-uittog van ondersteuners tot gevolg gaan hê.

Weens bogenoemde redes het ledediens, ledebehoud en ledegroei in albei organisasies van sekondêre belang geword, met die gevolg dat politieke en vakbondleiers op nasionale, provinsiale en plaaslike vlak verdere kontak met hul ondersteunersbasis verloor.

ANC-logo

ANC se logo op ‘n muur in Soweto, Johannesburg. Foto: Ben Sutherland/Flickr.com

Radikalisering word as laaste kaart gespeel

Omrede die Num – nogeens soos die ANC – glad nie snap dat lede en ondersteuners deur goeie dienslewering getrek en behou word nie, gryp hulle eerder na radikale strooihalms om populêre steun te werf. Die Num het tydens die onlangse kongres ʼn resolusie aanvaar om meer radikaal te word om sy relevansie te verhoog en lede terug te lok. So probeer die ANC dieselfde strategie, met Zuma wat nou met radikale ekonomiese transformasie dreig. Dit sluit onder meer die afneem van plase sonder vergoeding in.

Die twee instansies se radikale geluide is veronderstel om die druk van die linkerkant – deur die Amcu in die Num se geval en die EFF in die ANC se geval – te neutraliseer. Omrede die Num volgende jaar sy verkiesingskonferensie hou, en die ANC teen die einde van die jaar, kan hierdie radikalisering ook herlei word na pogings deur die huidige topleierskap en hul volgelinge in die binnekring om vas te klou aan mag, want waar mag is, is daar mos geld ook.

Die Num en ANC se slottoneel

Die inploffing van die Num het bewys dat die ANC ook gaan inplof, maar dit is nie werklik goeie nuus nie, indien die radikale Amcu en die EFF die gapings gaan vul.

 Die ANC en die Num het uit hul perspektief ʼn trotse geskiedenis waaruit prominente leiers na vore gekom het. Hulle het ook sterk handelsmerke, strukture en internasionale netwerke ontwikkel. Dit kan egter alles tot niet gaan as die huidige leierskap – wat onbeskaamd ingestel is op eie oorlewing eerder as die beste belange van hul organisasies – nie met beginselvaste en dinamiese leiers vervang word nie. Dit verg dus ʼn wilsbesluit tussen die belange van individue, en dié van die organisasie in sy geheel.

Ek is egter bevrees dat eiebelang gaan seëvier en dit is so ironies dat, indien hierdie inploffings ʼn film was, die gehoor die slottoneel sou kon voorspel; die akteurs gee egter nie om wat teen die einde gebeur nie, solank hulle net ʼn soortgelyke rol in die opvolgfilm kan kry.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Gideon Du Plessis

Meer oor die skrywer: Gideon Du Plessis

Gideon du Plessis is hoofsekretaris van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Gerhard ·

Dit het maar altyd net om selfbelang gegaan,om die land tot voorspoed te bou was nog altyd ‘n bysaak.

abel ·

Plunder eerder vir die eie sak as vir die land. Breek ook af. Dit loop hand aan hand.

Verwonderd ·

Die ANC sal nie toelaat dat daar inplowwing sal wees nie. Hulle anekseer die ideale van hulle oposissie en probeer daarme hardloop. Maar soos elke aksie ‘n re-aksie het, besef hulle nie dat hulle sal moet doen wat hulle propogeer. Hulle sal moet, aggresief, enige ’94 ooreenkoms en grondwet om die lewe bring, om ‘n diktakture bestel daar te stel sodat hulle, hulle beloftes aan hulle kaders kan hou. Ongelukkig is dit ten koste van die land en ekonomie. Suid Afrika is ‘n droë land, dinge mag dalk binne ‘n dekade soos Ethiopië lyk, as hulle aanhou aandring om boere van die grond te verwyder. Mag die Here ons red.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.