Van Afrikanerstaat tot sosialistiese Afrikastaat

flip-buys-2017-11-02

Flip Buys is die voorsitter van die Solidariteit Beweging. Foto: René Roux.

Die ANC se stapsgewyse transformasie van Suid-Afrika ná 1994 vanaf ʼn Afrikanerstaat na ʼn Afrikastaat, was die voorspel tot die stelselmatige verskuiwing vanaf ʼn liberale grondwetlike bedeling na ʼn linkse staatsbestel. Met so ʼn geweldige omwenteling waar so baie op die spel is, moes die ANC steeds versigtig te werk gaan, om te verseker dat hulle strategie nie ontspoor nie.

Die strategie was om dit stapsgewys en met klein treetjies te doen, sodat nie te veel teenstand gelyktydig kon ontstaan nie. Dit was veral so in die tydperk net na 1994 toe die ANC net aan bewind gekom het maar nog nie genoeg mag gehad het om hulle langtermyn agenda deur te dryf nie. Hulle was toe net aan bewind, maar nog nie “in mag” nie, omdat hul regeer het, maar die land steeds deur die vorige staatsdiens bestuur was. Hulle stapsgewyse korttermyn strategie het goed gewerk, omdat daar wye begrip was vir die veranderinge weg van die ou Afrikanerstaat, en omdat aanvaar is dat hulle eindpunt die liberale bestel soos verwoord deur die Grondwet was.

Rewolusie

Namate die veranderinge verder beweeg het as net die aftakeling van Apartheid van die eerste fase, het daar mettertyd kommer begin ontstaan dat hulle uiteindelike bloudruk nie die Grondwet was nie, maar die “Nasionaal-Demokratiese Rewolusie” gegrond op ʼn stelsel van Afrikanasionalisme en rassesosialisme. Dit het later geblyk dat die ANC tydens die Kodesa-onderhandelinge toegewings gemaak het om die mag te kry, net om die staatsmag ná oorname te gebruik om hulle oorspronklike doelstellings te verwesenlik.

Hierdie stapsgewyse strategie was goed deurdag. Die stappies was op hul eie elkeen te klein om ʼn breë weerstand uit te lok, maar die gesamentlike uitwerking van almal was die radikale omskepping van die land en samelewing. Dit was nie maklik om aan die ontvangkant van die veranderings te sit en te besluit hoe dit hanteer moes word nie. Eerstens was sommige van veranderings begryplik, veral aan die begin toe dit op die insluiting van swart mense in die owerheidsbestel gerig was. Die veranderings het later ʼn momentum van hul eie gekry, deurdat die een verandering tot die ander gelei het. Tweedens was daar nie ʼn sentrale Afrikaner-instelling wat die omwenteling kon probeer bestuur nie. Derdens het die Afrikaner ook nie meer die mag gehad om die veranderings te keer nie.

Groot prentjie

Vierdens was die verband tussen al die veranderings aanvanklik nie duidelik nie, en kon die kolletjies nie maklik verbind word om die groot prentjie te sien nie. Die ontwikkeling van ʼn gesamentlike strategie was gevolglik onmoontlik, en elkeen het onsuksesvol probeer om die betrokke verandering op sy terrein op sy eie te hanteer. Die onmoontlike om ʼn sentrale strategie wat met staatsmag en -hulpbronne uitgevoer word, sonder ʼn gesamentlike plan en op ʼn versplinterde manier te probeer hanteer, het gou geblyk. Die probleem was ook dat hoe meer stappies geduld en aanvaar word, hoe minder geregverdig het dit gevoel om oor ʼn enkele, oënskynlik geïsoleerde stap in opstand te kom, veral as daar al soveel onreg in stilte verdra is. Laastens is alles bemoeilik omdat die ANC nou in beheer was, en hulle hele transformasieproses aangevul is met ʼn reuse-staatspropaganda wat die verlede gediskrediteer en die veranderings verduidelik het. So het in Marx se woorde, die “ideologie van die regerende klas, die regerende ideologie van die samelewing” geword.

Afrika-lesse

Die ANC en EFF se beleid oor onteiening sonder vergoeding, is die nuutste bewys dat hulle niks van sosialisme vergeet het nie, en niks van die mislukkings daarvan onthou het nie. Dit lyk al meer of hulle vasbeslote is om die foute van postkoloniale Afrika te herhaal. Aan die ander kant is dit ironies dat talle Afrikalande uit hulle eie foute geleer het, en juis wegbeweeg van sosialisme, staatsbeheer oor grond, en onderwys in die koloniale taal. Selfs Zimbabwe begin nou erken dat die staatsgedrewe diefstal van boere se grond ʼn fout was wat die ekonomie verwoes het en dat hulle die boere nou wil vergoed.

Toekomsstrategie

Die ANC het die staat gekaap en gebruik die staatsinkomste sover moontlik vir sy eie ondersteuners. Die belangrikste les vir Afrikaners en ander minderhede is dat dit nie sal help om afhanklik van die staat en sy instellings te probeer wees nie. Privaat- en gemeenskapsinstellings sal geskep en uitgebou moet word om dienste te voorsien wat die staat nie wil of kan lewer nie. Dit geld vir veiligheid, gesondheidsorg, opleiding, onderwys, werksgeleenthede en ander dienste. Die uitdaging bly om belasting te betaal sonder om waarde en dienste daarvoor te kry, maar die opbou van selfbestuur ter wille van groter selfstandigheid is ongelukkig die enigste antwoord op swak staatsbestuur en groter staatsbeheer.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Casper Labuschagne ·

‘n Puik artikel oor ‘n onderwerp wat so reusagtig is dat ons dit meestal nie kan raaksien nie. Ek het toevallig die naweek weer in Martin Meredith se boek, The Fate of Africa rondgelees. Een van die lesse van daardie boek is dat op die vlak van ‘n individuele Afrika staat, so ‘n oordawerende rumoer voorkom van brokkies inligting aangaande wat op ‘n gegewe oomblik gebeur dat die groter prentjie (die punt wat hierbo gemaak word) nie herken kan word nie. Omdat Afrikastate ‘n plat en gevolglike meer outoritêre magstruktuur het sonder die outoritêre hiërargie van betroubare inligting wat in westerse samelewings voorkom, maak Meredith die punt dat die beste aanwysers is om parallelle ontwikkelinge in soortgelyke Afrika lande te vergelyk. En deur die huidige aanwysers in SA met soortgelyke parallelle in die Kongo, Zambië, Tanzanië, Kenia of Zimbabwe te vergelyk is die prentjie wat hierbo geskilder word, besonder optimisties. Daarby wys dit dat die horlosiewyser sover dit die wit minderheid betref, reeds verby die vyf minute voor middernag punt is en dat die ‘n Afrika middernag nou amper op hande is.

Jerry ·

Die dag wat grondeienaarskap en eiendomsreg afgeskaf word, daardie dag sal ons kan se dat SA is n sosialistiese afrikastaat. Tans is ons nog n kapitalistiese demokrasie danksy die gematigdes van die ANC wat beheer oorgeneem het by die anargistiese Zuptas. Solank as wat die gematigdes in beheer sal wees, solank sal die kapitalistiese demokrasie bly staan en solank het Afrikaners nog tyd om te konsentreer of te emigreer. Die ANC gematigdes het duidellik lesse geleer uit Afrika se mislukkings en daarom behoort dit verblydend te wees om te sien dat CR se intensies is om grondeienaarskap en eiendomsreg uit te brei vir alle Suid Afrikaners. Dit mag ons net dalk n treetjie verder wegneem van n sosialistiese afrikastaat vir ten minste tot aan die einde van CR se termyn.

Boerseun ·

Jy lewe in n droom wereld, bee is op geen vlak n kapitalistiese demokrasie nie. Ons is klaar by die eindpunt , net n kwessie van tyd. Wag maar as hulle nie meer staats toelae kan betaal nie, dan is dit 1,2,3 blok myself. Om gematig te wees gaan jou ondergang wees

Flip ·

Jerry, die doel is ongelukkig nie om eiendomsreg vir almal uit te brei nie, maar om wit eienaars te ‘ontneem’ (kamtig ipv onteien), met die staat as Trustee. (Een groot ‘tuisland?’). SA is ‘n mengsel van kapitalisme en demokratiese sosialisme- met as einddoel ondemokratiese Sosialisme. Kenmerke: markekonomie wat welvaart skep, skerp herverdelende belastingstelsel, onbefondste en nie-bydraende welsynstelsel, uitkomsgedrewe gelykheidsbeleid waarvolgens welvaart vgl die bevolkingsamestelling herverdeel moet word (‘vat en gee’ ipv groei), gelykheidsdoelwitte wat met staatsmag ten koste van vryheid nagejaag word, staatsingryping in die samelewing, en ‘n rasnasionalistiese beleid.

Eish ·

Baie goeie opsomming van die laaste kwarteeu se politiek.
My ouma het die vermoë gehad om n hele boek in n enkele sin saam te vat. Sy sou die artikel opgesom het deur te sê:
“Ons is in ons peetjie as ons enigiets van die regering verwag.”
Met die belasting implikasie wat ons vermoë ernstig kortwiek om die uitkoms behoorlik en tydig te befonds, is ons bootjie tans in onstuimige water. Dit, terwyl sommige van ons passasiers nie saam roei nie, maar boorwerk verrig op die kiel.
Ons, ons klompie het net die Simson opsie oor.

Strateeg Vrydenker Wildevark ·

Flip, soos altyd baie dankie vir jou insiggewende artikels. Hierdie is ‘n uiterste belangrike platform waar die Afrikaners en Afrikaanssprekendes gedagtes oor die toekoms kan deel en mekaar verryk.
Wat ons ookal doen, moet daarop gerig wees om reg en geregtigheid te laat geskied, geen verskuilde motiewe en geheime agendas nie. Ons moet daarna strewe om in naasteliefde met ons nasiegenote saam te lewe. Toestande in ons land beproef ons geduld en verdraagsaamheid. Ons is min en verspreid. Daarom moet ons konsentreer en konsolideer. Ons fokus moet wees opvoeding, onderwys en opleiding by uitnemendheid aan ons kinders. Ook ondersteuning aan ons toegewyde polisiemanne/vroue, verpleërs en verpleegsters, onderwysers en onderwyseresse en skoolhoofde en hul steun personeel. En ons brood verdien deur entrepreneurskap buite die grypsfeer van die staat. En ons moet weer ‘n kultuur van spaar, spaar en spaar bevorder.
Ons moet ons burgerlike strukture aktief ondersteun. En ons moet binnelandse en buitelandse druk op die regering hou om demokraties met geregtigheid vir almal op te tree.
Soos wat ons nasiegenote blootstelling aan die slimfone en multimedia bekom en gedagtes met die ingeligte middelstand uitruil en eienaarskap van aardse goedere bekom, so sal hulle weg swaai van uitgediende idealogië. Almal verlang vrede en voorspoed en ‘n toekoms vir hul kinders in hierdie pragtige land. Maar die nuwe Rome kan nie in ‘n dag gebou word nie. Prosesse moet gevestig raak.

Francois ·

‘n Goeie beginpunt is vir Afrikaners om ander Afrikaners se besighede en entrepeneurskap te ondersteun. In soverre dit moontlik is, weier ek om besigheid in Engels of met nie-Afrikaners te doen: wanneer ek aan my huis wil aanbou, doen ek navraag en neem ‘n goeie Afrikanerbouer in diens; wanneer ek gaan uiteet, vermy ek restourante waar die restourantpersoneel nie Afrikaans praat nie; wanneer ek my swaarverdiende geld belê, doen ek my navorsing en maak van ‘n uitnemende Afrikaner-makelaar gebruik, ens, ens, ens. So bemagtig ons mekaar as volksgenote en laat ons die wiel stadig maar seker draai na groter volkseie vooruitgang.

Dink Self ·

Wanneer word hierdie artikels in Engels vertaal? Ons kerm dat die buiteland moet help, maar hoe kan hulle as ons net vir ‘n handjievol Afrikaans sprekendes skryf?!

Rynhardt ·

Dink self,buiteland kom nie help nie,hulle het hul eie probleme!???

AJ ·

‘Begeer nie on ver te sien nie maar om wát jy sien DUIDELIK te sien!”

In Afrika bepaal WAPENS die uitkoms van elke argument!

Vergeet van praatjies maak!

Stig klein parate gemeenskappe (veiligheidswoonbuurte) (soos kibboetse) waar elke man, vrou, kind gewapende selfverdediging kan toepas.

En raak self onderhoudend t.o.v. voedselproduksie, skoon water en sonkrag (of windkrag).

Neem die Afrikaanse skole en kerke as middelpunt en vestig Afrikaanse gesinne daaromheen.

Stel toegangbeheer in. En verpligte patrollies / wagbeurte vir elke inwoner!

Die kibboetsstelsel in Israel het ‘n nasie gevestig wat ontwikkel het en steeds floreer.

Hier is die dominees en skoolhoofde se geleentheid om die “kuddes” te organiseer sodat hulle saamwerk om hulle self teen vyandige barbare te beskerm én om selfonderhoudend te raak!

Die enigste hulp wat Witmense gaan kry is van die hande aan die einde van hulle eie arms!

RM ·

Ons sal moet in hierdie rigting begin beweeg as ‘n volk, voordat al hulle klein stappies ons weg maak. Spring paddas, SPRING!

Casper Labuschagne ·

@AJ, jy het ‘n goeie punt daar beet. Ek wil ook net dit sê, in Afrika word jy of gerespekteer, of jy word vertrap. Daar bestaan nie ‘n middeweg nie. En respek kom net vanweë mag en die vorm van geen en neem dialoog word nie gerespekteer nie, op sy beste sal dit ‘n meganisme wees om mag en dus die reg op respek van die een party na die ander oor te dra. In Afrika konteks beteken dialoog dat diegene met mag sal luister na die griewe van diegene wat nie mag het nie.

[email protected] ·

“Hier is die dominees en skoolhoofde [EN AJ !!!!!!!!] se geleentheid om die ‘kuddes’ te organiseer sodat hulle saamwerk om hulle self teen vyandige barbare te beskerm én om selfonderhoudend te raak!”

AJ, het jy persoonlik al ‘n deeglie studie gemaak van die geskiedenis en werking van die kibboetsstelsel? Was jy al ooit in Israel? Het jy al ‘n kibboets besoek? Welke Suid-Afrikaanse nasiegenote gaan die reg hê om sonder vooraf toestemmig die kibboetse te betree?

Willie Conradie ·

Flip, jy skets duidelik die onstellende prentjie en vir my, soos baie ander wat nie rerig ‘n ander opsie het as om in die pot te sit en geleidelik gaar te word nie, is die paadjie vorentoe heel onduidelik.
Julle ouens moet dalk kyk na aanvaarbare strategie wat uitvoerbaar is vir die meerderheid van die minderheid en ophou terugkyk en ons vertel hoe ver ons is van “well done” af.

Flip ·

Willie, jy’s reg, dit help nie om net oor die probleem te skryf nie. Lees asb my vorige artikel ‘Konsentreer of emigreer’, waarin ek ons alternatief in breë trekke skets. Groete

Francois ·

Willem, in die geval waar ‘n kelner nie Afrikaans kan/wil praat nie, gaan ek eenvoudig nie terug na daardie restourant toe nie. Ek woon nie in Gauteng nie, so ek hoef nie Sandton City se restourante te verduur nie, maar, indien ek wel daar gewoon het, sou ek eerder in Pretoria gaan uiteet het waar daar wel heelwat restourante met Afrikaanssprekende kelners is. Hierdie is nie vuurpylwetenskap nie – ek spandeer my geld daar waar ek gemaklik en geborge voel om dit te spandeer, en dít is waar my geld ander Afrikaners of Afrikaanssprekendes ekonomies versterk.

Jan ·

Flip, jou analise oor Afrika is in die kol maar jou oplossing (selfstandige ontwikkelling) is doodgewoon nie werkbaar nie.

Die Afrikaner is deel van Afrika en kan net tot ‘n baie beperkte mate ‘selfstandig’ lewe (indien ek verkeerd is, wys my waar selfstandige ontwikkelling werk en waar dit werklik outonoom is? Outonoom in die sin dat dit nie aan die potensiele onteieningsbeleid van die regering onderwerp is nie). Buitendien lewe mens nie selfstandig nie, die oomblik as jy uit jou enklave stap is jy blootgestel aan die elemente (misdaad, geweld, korrupsie ens).

Daar is net twee opsies : 1) neem deel aan die politieke proses (as eie politieke party of in samewerking met die amptelike opposisie) of 2) emigreer. Om op die eie identiteit van die Afrikaner te bly hamer gaan geen positiewe impak vir die Afrikaner he nie, want dis juis vir hierdie groep wat die ANC sy mes in het.

Oorlewing is op die spel ! Amalgameer of emigreer.

Flip ·

Jan, jy beskryf ‘Plan A’, deelname aan die demokratiese- en grondwetlike prosesse en samewerking. Daarmee stem ek saam, maar dis ongelukkig nie genoeg nie. Daarom werk ons terselfdertyd aan Plan B, omdat ons nie kan wag dat dinge sekf regkom nie. As ons bv net op Plan A staatgemaak het om Afrikaanse jongmense toegang tot gehalte tegniese opleiding te gee, sou 3 000 jongmense nie nou ‘n goeie werk en inkomste gehad het nie. Dieselfde vir ons ander projekte. Politiek alleen gaan ons nêrens bring nie, vir die Opposisie om te wen sal hul die demografiese meerderheid se beleid moet aanneem. Ons weeg meer as wat ons tel.

Jerry ·

Jy skets n donker prentjie Flip. As jy tussen die lyne kan lees gaan jou donker prentjie nog donkerder raak want dit gaan gepaard gaan met geweld en vervolging, maar eers wanneer die ANC anargiste weer aan bewind kom. Terwyl die gematigdes aan bewind bly kan ons n tree weg of nader aan die donker prentjie beweeg, maar dit gaan ons nie by daardie donker prentjie uitbring nie. Waaroor ons saamstem is dat SA wel een of ander tyd n sosialistiese afrikastaat gaan word en dat Afrikaners wat nie kan emigreer nie, armoede, vernedering, geweld en vervolging in die gesig sal staar. Om jouself te isoleer en laer te trek is alles goed en wel, maar die realiteite is dat as hulle vir jou kom en jy kwaad met kwaad moet vergeld, kweek dit n boosheid wat alles sal verswelg, dit het die res van Afrika reeds bewys. Dit is my eie beskeie opinie dat ons nie selfsugtig moet wees nie en daarna gekyk moet word om soveel as moontlik Afrikaners te help om te emigreer, want of ons baie in getalle is of nie, ons gaan sleg tweede kom. Stuur die jeug oorsee om te studeer en te werk en hulself te vestig en dan kan die ouergarde volg. Die prentjie wat jy skets is te donker om die Afrikaner jeug daaraan, te onderwerp!

1+1 ·

Wat moet gebeur sal gebeur. Niks gebeur sonder ‘n doel nie en niks is toevallig nie. Hoop almal glo dit?

Suid-Afrikaner Stadsvark ·

Die Suid-Afrikaanse nasie moet deeglik verstaan: Om die regerende party(e) te wees beteken nie dat jou siening en jou wetgewing altyd reg is nie. Die minderheidsparty(e) mag ook reg wees en die regerende party mag verkeerd wees oor sekere aangeleenthede.

‘n Wyse leier sal gereeld saam koffie/tee drink of uiteet met die leiers van die opposisie. Waarom? Ter opbou van wedersydse respek en vertroue en om die ander kant se sieninge aan te hoor. IMMERS, dit behoort mos te gaan oor wat is in die beste belang van alle Suid-Afrikaners. En niemand het al die kennis en wysheid in pag nie.

Jandre ·

Mense. Die pad is altyd dieselfde, as jy geskiedenis navorsing doen. Lande gaan van onafhanklike republieke, na Demokrasie, na sosialisme, navolledige kommunisme tot n uiteinde van volkome elende en openlike onderdrukking, gepaard met geweld. Is ek verkeerd?

Hendrik ·

Selfstandigheid, onafhanklikheid, veiligheid, gesondheid, werkskepping, dienste, Plan B ens. lui maar na groepering in geografiese gebied. Holland is tans op die voortpunt van voedsel produsente en ek voorsien dat ons dieselfde kan doen. Met die IRR , Frans Cronje se senario beplanning moet ons beslis seker maak dat ons die stampe van die nuwe bedeling kan handteer en dit oorleef. Skep nuwe fokuspunte en bou om dit en sorg dan dat opleiding, gesondheid, en alles wat genoem word aangespreek word. Arbeid is natuurlik ‘n GROOT probleem want alhoewel daar baie werklose wittes is moet daar eers sosiale opheffing en opleiding eers plaasvind voordat hierdie arbeid gebruik kan word. DIe huidge tradisionele arbeidsmag sal beslis tot voordeel wees hierdie fokuspuntontwikkeling nie.

Gerhard ·

Die skip is besig om te sink, die voorkant al onder water. Intussen agter op die dek argumenteer die passasiers of hulle moet deelneem aan die besluitnemingsproses wat bepaal waarheen die skip sal vaar. Sommige stel voor spring in die water en swem na die eiland in die verte, maar dan word hulle vertel dit is onwerkbaar ons is beter af om hier te bly en die skip te maak werk. Dit is ‘n deurmekaarspul soos min.

Hendrik ·

Gerhard jy het voorheen gevra waar is die Afrikanerdorp naby Pretoria. Kleinfontein is die naam. 400 huise en 1400 mense. 15 km vanaf Hans Strydom op die N4 oos. Rayton /Cullinan/Babsfontein afrit. Suid oor die snelweg en eerste teerpad regs. http://www.kleinfontein.net.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.