Van die drie grootste partye is die ANC in die slegste toestand

Argieffoto.

Jan-Jan Joubert, ʼn gesoute politieke joernalis en skrywer van die boek Wie gaan in 2019 regeer? kyk hierdie week in drie artikels na die situasie in die land se drie grootste partye: die ANC, DA en EFF. Vandag kom die ANC aan die beurt. Lees hier wat Joubert oor die stand van sake in die party skryf:

Met sowat ‘n jaar oor voor die volgende verkiesing moet plaasvind, stoei die drie grootste politieke partye in Suid-Afrika elk met hul eie interne verdeeldheid, beleidsonsekerheid en organisatoriese chaos.

Van die drie grootste partye is die ANC in die slegste toestand. Die meerderheidsmening onder politieke ontleders en kommentators blyk te wees dat die vervanging van oudpres. Jacob Zuma deur pres. Cyril Ramaphosa behoort te beteken dat die ANC beter vaar in 2018 as in 2014 en 2016. Ter ondersteuning word Ramaphosa se hoë goedkeuringsyfer in meningspeilings aangevoer.

Dit is ‘n ongelooflik lui en substandaard analise. Alle Suid-Afrikaanse verkiesingsyfers ooit toon dat ‘n slegte of ongewilde leier gewoonlik beteken dat ‘n party swakker vaar in ‘n verkiesing, maar dat ‘n goeie leier gewoonlik nie beteken dat ‘n party beter sal vaar nie. As een van baie voorbeelde: genl. Bantu Holomisa van die UDM word positief ervaar deur byna alle Suid-Afrikaners, maar sy party sukkel om meer as 1% van die stemme te trek.

Dit kan mens reeds sien in tussenverkiesingsuitslae sedert Ramaphosa president geword het. In die KwaZulu-Natalse platteland is die IVP besig om soos Lasarus uit sy eens klaarblyklik terminale siekbed op te staan en een wyk ná die ander by die ANC af te neem. Dit is belangrik om in ag te neem dat hierdie tendens in die platteland uitspeel. Daar was baie lanklaas ‘n tussenverkiesing in ‘n stedelike KwaZulu-Natalse kiesafdeling.

Verlede week het die ANC in alle rigtings steun verloor in tussenverkiesings in die Oos-Kaap, Mpumalanga en Noordwes. Dit is die voortsetting van ‘n tendens wat reeds die afgelope twee jaar vorm aangeneem het, maar voorstanders van die Ramaforie (‘n euforie wat sommiges oor Ramaphosa ervaar) kyk die syfers blykbaar vlak, soos mense hier in die Kaap sou beweer.

Ramaphosa – en die party se bevrydingsgeskiedenis – is sekerlik die ANC se grootste bates vir volgende jaar se verkiesing, hoewel die wyse waarop Ramaphosa in eiebelang ‘n Faustiaanse pakt met David Mabuza aangegaan het sodat hy ANC-leier kon word, beteken sy ANC-leierskap is op skrikwekkende fondamente gebou.

Tans lyk dit of min waarnemers dit besef, maar die fondament is bepalend vir die aard en kwaliteit van die huis. Die huis van Ramaphosa se ANC-leierskap is ten beste bedenklik. Onthou maar in die toekoms: Dit is Ramaphosa wat in eiebelang Mabuza op hierdie land losgelaat het.

Presies hoe bedenklik afhanklik Ramaphosa van Mabuza – en alles wat hy verteenwoordig – is, het reeds op verskeie maniere duidelik geword. Eerstens het Mabuza vir Ramaphosa heeltemal ore aangesit met die samestelling van die land se presidensie.

ANC-logo

ANC se logo op ‘n muur in Soweto, Johannesburg. Foto: Ben Sutherland/Flickr.com

As Ramaphosa in beheer van sy ambisie en koelkop in sy strategie was, sou hy ‘n tussenganger-president (byvoorbeeld Baleka Mbete, en dan kon ons op die koop toe in haar plek ‘n vaardige en waardige speaker gekry het) aangestel het, rustig adjunkpresident en hoof van regeringsake gebly het en eers die strukturele uitdagings van ons oordadige kabinet, ons sukkelende staatsdiens en ons groot hoeveelheid disfunksionele munisipaliteite (waarvan die ANC byna al die swakstes regeer en die DA die oorgrote meerderheid van die bestes) reggeruk het.

Hy sou ook die kans gehad het om korrupsie in Mpumalanga te ondersoek sodat Mabuza (indien skoon) met verloop van tyd die adjunkpresidentskap van die land sou kon opneem wat hom as ANC-onderleier sou toekom indien die ANC volgende jaar se verkiesing wen of anders (indien skuldig) verhoed sou word om dit te doen.

Maar toe raak Ramaphosa haastig en oordadig triomfantlik, en neem self die presidensie op. Die storie wat algemeen vertel word, is dat Mabuza gesê het hy wil nie nou adjunkpresident van die land word nie; hy is doodtevrede om premier van Mpumalanga te bly. Die oomblik toe die oorhaastige Ramaphosa president word, verander Mabuza van deuntjie (en regtig, dit kon vir niemand wat sy loopbaan volg, ‘n verrassing gewees het nie) en nou sit Suid-Afrika met iemand soos Mabuza as adjunkpresident – en as president indien Ramaphosa sou wegval. Wat ‘n gemors.

Mabuza is trouens tot kommerwekkende mate die stert wat die Ramaphosa-hond swaai. Hier is twee belangrike voorbeelde. Hoewel die kabinetskommeling vroeër vanjaar verskeie van Zuma se ergste staatskapers uitgeskud het, was dit uit die amateuragtige herhaaldelike uitstel van die aankondiging sowel as Ramaphosa se begrafnisgesig duidelik dat hy nie by magte was om sy presidensiële prerogatief om die kabinet saam te stel, kon uitoefen nie. Dit het sedertdien aan die lig gekom dat dit Mabuza was wat aangedring het dat ministers soos Bathabile Dlamini en Malusi Gigaba in die kabinet bly.

Mabuza het gepraat en Ramaphosa moes luister, al gaan dit teen sy beloofde stryd teen korrupsie. En dit is juis betreffende die stryd teen korrupsie dat die tweede en erger voorbeeld van hoe ter wille Ramaphosa se Faustiaanse pakt met Mabuza hom aan sy adjunk maak, ter sprake kom. Dis sekerlik goed en wel dat korrupsie in die Vrystaat en Noordwes uiteindelik voor stok gekry word, en baie mense sal dit geniet om te sien hoe oudpremiers Ace Magashule en Supra Mahumapelo aan die pen ry.

Maar wanneer kom die ondersoek na korrupsie in Mabuza se tyd in Mpumalanga? Dis goed en wel om jou politieke vyande in Noordwes en die Vrystaat by te kom, maar die toets vir streng, beginselvaste optrede is tog seker as dit by jou politieke weldoener kom. Anders is jy in beginsel niks beter as Zuma nie. Toe ek verlede week vir een van Ramaphosa se topmense vra wanneer die ondersoek na Mpumalanga se korrupsie dan gaan begin, was die antwoord: “Ons sal maar eers na KwaZulu-Natal kyk.” Nou ja: hoe polities gedienstig blyk Ramaphosa tog nie oor Mabuza te wees nie!

Die ANC het ook ander probleme in die aanloop tot 2019. Eerstens is dit baie duidelik dat die nasionale leierskap nie beheer het oor die party in veral Noordwes, die Vrystaat en KwaZulu-Natal nie. Mahumapelo bly ANC-leier in Noordwes en geniet die lojaliteit van die oorgrote meerderheid ANC-takke in die provinsie. Dieselfde geld Magashule-lojaliste se sterk posisie in die Vrystaat. In KwaZulu-Natal is ANC-lede besig om mekaar uit te moor in groeiende getalle met niemand wat ‘n sterk genoeg leier is om die dodelike gemors op te los nie.

Pres. Cyril Ramaphosa tydens Werkersdagvieringe by die Wolfson-stadion buite Port Elizabeth in die Oos-Kaap. Foto: ANC Kommunikasiespan

‘n Derde groot probleem vir die ANC is beleidsonsekerheid. Die beste voorbeeld hiervan is die bontpratery oor onteiening van eiendom sonder vergoeding. Die ANC is self vir hul penarie te blameer. Die sterkste ANC-leiers was nie in die parlement die dag toe die ANC ten gunste van die EFF-mosie hieroor gestem het nie. Dis aan die vriendelike, maar onindrukwekkende adjunk-hoofsweep, Doris Dlakude, oorgelaat om die turksvy te hanteer. Sy het dit maar power gedoen en nou sit die ANC met die gebakte pere.

Maar die ANC se grootste probleem is die miserabele mislukking wat hulle van te veel regeringsfunksies gemaak het. Dit is in die oorweldigende meerderheid gevalle die rampokkergedrag van die ANC in munisipaliteite wat verlede week gesorg het vir die sterks bewoorde amptelike verslag wat ek in sewentien jaar in die parlement beleef het. En die rede is duidelik: Die ANC sien die staat eerstens as ‘n plek vir sy lede om geld as salarisse te bekom (verdien sou nie hier ‘n gepaste word wees nie) eerder as om op effektiewe en wettige manier dienste te lewer met die klem op die kwesbaarste inwoners.

Dieselfde gemors kom om dieselfde rede in byna alle staatsbeheerde instellings voor. Miljarde word wanbestee deur onbekwame en dikwels net gewoon skelm ANC-kaders. Dit is ongelukkig so dat die ANC vrot regeer waar hulle regeer, en dat daar geen aanduiding is dat Ramaphosa teen sy korrupte en onbekwame ontplooide partykaders gaan optree behalwe waar hulle ook sy teenstanders in die ANC is nie. Daarvan is die sloerdery met die ondersoek na korrupsie in Mpumalanga so ‘n duidelike voorbeeld dat net die blindste Ramaphosa-lojalis dit sal ontken.

Met die ANC op 53%-steun in die 2016-verkiesing, intern letterlik moorddadig, verdeeld en duidelik ‘n vrot regering, behoort die koring groen op die land te staan vir die twee grootste opposisiepartye – die DA met 27% steun in 2016, en die EFF met 8% steun in dieselfde jaar. Van die smorgasbord kleiner nispartye het net die IVP meer as 1% steun, so ons gaan in twee aflewerings môre en oormôre kyk na die verstommende selfgeskepte onvermoë van die DA en die EFF om hieruit munt te slaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Liberaal ·

Toemaar ANC, die liberale massamedia het nou besluit om tot julle redding te kom en gee baie goeie publisiteit aan julle, en die DA word soos ‘n valkoog dopgehou om elke dingetjie wat dalk sleg opgedis kan word groot op te blaas. Liberale massamedia sal sorg dat julle aan bewind bly en die EFF groei.

Rupert Ashford ·

Ruil daardie persentasies vir die DA en EFF om vir die volgende verkiesing. Of die EFF selfs in die 30s, DA gelukkig as hulle 15 haal, en die IVP wat KZN beheer met omtrent 10% nasionaal. ANC in die 40 en regeer in koalisie met die EFF , Julias adjunk President.

Casper Labuschagne ·

Geen probleme nie – as die ANC net hard genoeg en vir lank genoeg geraas maak oor rassisme, wit welvaart, ongelykheid, Apartheid, rassisme, wit plaasboere, wit bevoorregting, wit monopolie kapitaal, onregte van die verlede, Apartheid, Afrikaanse skole asook Afrikaans wat in die pad van swart vooruitgang staan, dan maak dit nie saak hoe sleg die party se toestand is nie, die meerderheid kiesers sal verenig wees deur hul gemeenskaplike vyand en sal weereens ANC stem. Dit sal ook nogal help om die indruk te skep dat die eiendom van wittes weggeneem sal word sonder vergoeding en sodoende die meerderheid te laat glo dat hulle self die grond gaan kry. En maak seker dat die meerderheid weet dal elkeen van hulle persoonlik benadeel of beroof is deur wat president Ramaphosa die oorspronklike sonde noem. En kiesers moet nooit Ramaphosa se woorde in 2014 vergeet nie, as die DA wen, dan neem die Boere weer oor.

John ·

… hierdie keer gaan baie boere belangriker dinge he om te doen as om in lang rye in die son wat glo nie in Afrika op hulle mag skyn nie, vir die blou ‘monnik’ (seker sonder ‘n koloniale Bybel) te gaan staan. Die ANC floreer nog altyd in chaos – dis sy trade mark – en stem sal hulle stem vir nog meer van dieselfde chaos.

Gertryda ·

Bid is al wat ek kan doen
Ek is bitter bang vir wat gaan gebeur
Geen genade van EFF hulle is baie baie bang vir die rooi gevaar

Henry ·

Dankie tog Jan-Jan Joubert!

Die vrese wat my pelle en ek dikwels wil ignoreer, of neig om annerpad te loop kyk oor die verval van hierdie droewe land se politieke-stelsel, ekonomie, veiligheid, voortbestaansmoontlikhede ens ens., word op kundige en gefundeerde wyse deur mnr Joubert beskryf.

Mynsinsiens bevestig die skryfsel hierbo dat hy uitstekende toegang tot die ANC se binnekring en hoof rolspelers besit. Andersyds, dat hy sonder “fear or favour” sy insigte/vertolkings met ons deel. Bates waaroor bloedweinig ander sogenaamde akademici en politieke kommentators beskik.

Baie dankie aan MM dat julle hierdie skryfsels plaas en moenougrootassebliefnie ophou nie.
:-)

Hendrik ·

Wat tragies is, is dat byna 50% van die ANC se kiesers nie omgee dat die party tot in sy kern korrup en verrot is nie. As dit is hoe die mense van die land voel, hoe sal ons ooit by die punt kom waar persoonlike verantwoordelikheid vir jou eie lot aanvaar word?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.