Van Eerste na Derde Wêreld – Suid-Afrika onder die ANC

Nelson Mandela en FW de Flerk vier die einde van apartheid.

Van Derde Wêreld na Eerste Wêreld – dit is die beskrywende titel van die boek wat die leier van Singapoer oor sy land se skouspelagtige ontwikkeling geskryf het. Hierdie naam sê alles wat oor die afgelope 40 jaar in Singapoer onder die leierskap van Lee Kuan Yew en sy regerende party gebeur het. Maar anders as in Singapoer, blyk die teenoorgestelde die geval te wees as mens terugkyk oor die ANC se bewind.

Ek het as jong student nooit gedink dat die ANC die land sou kon regeer nie. As ek voor 1994 ’n voorspelling oor die titel van ’n boek oor die ANC se regering van Suid-Afrika sou moes waag, sou dit eerder iets soos Van Eerste na Derde Wêreld gewees het. Die ANC is nou 18 jaar aan bewind. As ek kyk na wat in die land aangaan en ek dit nog 22 jaar die toekoms in projekteer, is ek bevrees dat my jeugdige siening van die ANC min of meer reg was. My siening was en bly dat die ANC se ideologie onwerkbaar is, en dat ’n ANC-regering daarom nie suksesvol kan wees nie.

Voordat ek summier van rassisme en Afrika-pessimisme veroordeel word, wil ek my destydse redes en vandag se siening darem motiveer. Natuurlik is dit vandag maklik om met die wysheid van terugskouing slim te klink, maar ek het deur my staatsleeraantekeninge van my universiteitsdae geblaai, en wil my destydse sienings opsom in “Sewe redes waarom ek nie gedink het dat die ANC die land goed sal kan regeer nie”.

1. Ideologiese redes
Die ideologiese wortels van die ANC is Marxisties. Dit is die eerste rede hoekom ek nie gedink het dat die party die land suksesvol sal kan regeer nie. Marxisme is ’n “struggle-ideologie”, en nie ’n “regeringsideologie” soos byvoorbeeld die liberale demokrasie nie. Marxisme is ’n ideale ideologie om ’n land oor te neem, maar dit is ’n rampspoedige ideologie om ’n land te regeer. Dit is hoekom Marxiste nie dit wat hulle oorneem kan regeer nie, en hoekom rewolusionêre sosialisme nêrens werk nie. Bronne oor die Westerse liberale demokrasie is vol verwysings na “regeringsinstrumente”, soos die skeiding van ’n land se wetgewende, regterlike en uitvoerende gesag, beperkings op staatsmagte, beskerming van eiendomsreg en persoonlike vryheid, en waarborge oor die onafhanklikheid van die howe en die media. Daarteenoor is Marxisme ’n aggressiewe ideologie, waarvan die bronne wemel van begrippe soos opstand, gewelddadige omverwerping, gebruik van staatsmag om eiendom af te vat, en die feitlik onbeperkte mag van die staat om oor mense se lewens te besluit.

Waar die Westerse demokrasie staatsmagte verdeel en beperk, is die Marxisme ’n oorheersingsideologie wat alleen wil regeer, alle mag opeis, en oor alles in die samelewing wil besluit. Marxistiese partye gebruik die demokrasie om aan bewind te kom, maar skaal dit dan af en sentraliseer hul mag. Bewindsoorname beteken nie soos in die Weste om ’n land goed te regeer sodat die mense jou herverkies nie. Bewindsoorname is net ’n voortsetting van die struggle met staatsmag en –bronne, soos in die ANC se dokumente staan. Die ANC is nie meer in die geheel so Marxisties soos vroeër nie, maar selfs ’n oorsigtelike ontleding van hul brondokumente soos Strategy and Tactics en hul National Democratic Revolution, maak dit duidelik dat die party se grondliggende filosofie steeds op die Marxisme berus. Selfs die sosiaal-demokrate in die ANC se ideologiese wortels is verlinks.

Die Marxisme berus grootliks op ’n samesweringsteorie wat alles verklaar aan die hand van ’n vaste ideologiese raamwerk oor ’n klassestryd, rassisme, uitbuiting, struggle en omverwerping, rewolusie of transformasie van die samelewing, gebruik van staatsmag om ekonomiese mag te bekom, en verheerliking van die rol van die party. Marxiste se siening van die verlede bepaal hul beleid vir die toekoms. Apartheid word as die enigste oorsaak van swart mense se armoede en ongelykheid gesien, terwyl die algemene probleme wat onderontwikkeldheid en armoede regoor Afrika veroorsaak het, nie in ag geneem word nie. Hierdie halfgebakte diagnose van die probleem lei tot die verkeerde behandeling daarvan, en daarom vererger die probleme omdat die medisyne erger as die siekte is.

2. Polities
Die NP se leiers het die ineenstorting van die kommunisme verkeerd gelees, want hulle het gedink dat die ANC daarmee saam gaan val of ten minste nie meer ’n groot faktor gaan wees nie. Hulle het die Koue Oorlog-oorwinning van die Westerse “goue tweeling”- die liberale kapitalisme – totaal oorskat en gedink dat die ANC nie ’n ander keuse gaan hê as om sosialisme af te sweer en vir altyd volgens hierdie Westerse model te regeer nie. Hulle volgende denkfout was die een van “onmisbaarheid”. Hulle het gedink dat die NP en wit mense se kundigheid onmisbaar is en het daarom geglo dat daar met ’n ANC-oorname nie veel in die land gaan verander nie. Die ANC sou wel die land regeer, maar die NP en wit mense sou steeds die land bestuur. Die aard en omvang van die veranderinge in die land is totaal onderskat.

Die ANC is tegelyk onderskat en oorskat. Die NP het verkeerdelik gedink dat hulle die ANC by die onderhandelinge kan uitoorlê, maar terselfdertyd die ANC oorskat deur te dink dat die party die land bevredigend sal kan regeer. Die ANC het wel briljante individuele leiers gehad, maar nie ’n breë genoeg vaardigheidsprofiel, leierskaps- en bestuursdiepte om die land te regeer nie. Hulle het die uitdaging om ’n moderne land te bestuur totaal onderskat en het op groot skaal van kundigheid en ervaring ontslae geraak en met lojale kaders vervang. Die gevolg hiervan was ’n skerp verswakking in die staat se vermoë. Daar is ’n groeiende gaping tussen wat die regering wíl doen en wat die staat kán doen.

Die NP het boonop verkeerdelik verwag om in verkiesings die steun van groot getalle swart mense te kry wat vir sy gematigde beleid sou stem, aangesien die ANC weens sy sosialistiese beleid steun sou afstaan. Maar in die werklikheid het swart mense, soos elders in die wêreld, vir groepsidentiteit eerder as beleid gestem. Kiesersgedrag is nou een maal nie dieselfde as kopersgedrag nie!

My verwagting was dat die stelsel van die Afrikaner ’n ongewilde minderheid sou maak, wat in die woorde van top politieke wetenskaplikes demokraties uitgesluit en struktureel oorheers sou word. Daarby het ek verwag dat die ANC met die tipiese linkse beleidsrigtings wat sulke regerings wêreldwyd kenmerk sou regeer, en dat dit die land geweldig sou benadeel en selfs kon laat misluk.

3. Grondwetlik
Ons mooi Grondwet was seker die belangrikste gerusstelling aan wit mense ná 1994. Ons is wysgemaak dat dit nie eintlik die ANC is wat sou regeer nie, maar die Grondwet omdat dit die reëls van die spel sou neerlê. “Reg” sou “mag” vervang. Almal sou eintlik deur die Grondwet bykans kon mederegeer, met die howe wat ’n tipe opponerende rol sou speel en die ANC sou vasvat.

Die Grondwet bevat inderdaad pragtige bepalings, en ons howe doen goeie werk, maar ek het destyds al gedink die Grondwet se rol en magte word oorskat. Kom ons neem boks as ’n voorbeeld. Hierdie sport het ook ’n pragtige grondwet met reëls, maar min mense sal saam met ’n groter bokser in die kryt klim. Die rede is eenvoudig: die uitslag van die geveg word deur die deelnemers bepaal, en nie deur die reëls nie! Inteendeel – die reëls waarborg dat die groter bokser altyd die geveg sal wen – selfs met ’n wettige uitklophou! In die regte lewe word die hoofskeidsregter ook deur die grootse bokser aangestel, soos nou met Regter Mogoeng gebeur het.

Daarom het ek gemeen dat die Grondwet meer beskerming vir minderhede moes bevat, want tans word net meerderheidsregte verskans! Daar is byvoorbeeld ’n vae beskerming vir die regte van Afrikaans en Afrikaanse skole, maar geen magte om dié regte te verwerklik nie. Die beste praktyke in moderne state soos Kanada, België, Switserland, Spanje en in bykans alle Europese demokrasieë gee magte en belastinggeld aan minderheidsgroepe om hul regte uit te oefen. Vir my het dit nie sin gemaak dat ons Grondwet in ’n land wat histories deur groepsvraagstukke oorheers is suiwer op individuele regte gebaseer is nie.

Daarby was ek nog altyd uiters bekommerd oor die NP se eensydige Westerse vertolking van die Grondwet. Na die verkiesing het die magsbalans dramaties en permanent na die ANC geswaai, en hul linkse vertolking van die Grondwet sou na die verkiesing die deurslag gee. Hulle sou ook al die wette maak én toepas volgens hul siening daarvan. Omdat ek nie gedink het linkse beleidsrigtings kan hier werk nie, het ek nie geglo dat die ANC die land suksesvol sou kon regeer nie.

4. Ekonomies
Die val van kommunisme het wit mense oortuig dat sosialisme iets van die verlede is. Maar sosialisme strek veel wyer as ’n ekonomiese beskouing, en is eerder ’n volbloed alternatiewe lewensbeskouing. Die kern van alle linkse regerings se siening is dat politieke mag gebruik moet word om ekonomiese mag te kry, omdat, soos die ANC gereeld sê, politieke vryheid sonder ekonomiese vryheid betekenisloos is.

Die ANC het inderdaad na 1994 in die Mandela- en Mbeki-era baie van die ou kommunistiese sienings, soos sentrale beplanning en nasionalisering, laat vaar. Die party het die markekonomie aanvaar omdat dit die enigste stelsel is wat welvaart kan skep sodat hy dit deur belastings kon herverdeel en ’n welsynstelsel kon instel wat sy sosialistiese doelwitte kon finansier. Hierdie sosialistiese doelwitte is byna ongesiens in die Grondwet geskryf, waar artikels 26 en 27 van die Grondwet ’n omvattende welsynstelsel voorskryf. Dit is hoekom Dr. Van Zyl Slabbert gesê het dat die Grondwet verwagtinge skep waaraan die ekonomie nie kan voldoen nie.

Maar sosialisme en demokrasie is ook net tydelike bedmaats. Luiser maar wat het Jan Steyn gesê oor die verband tussen sosialisme en outokrasie:

It is naive to believe that one can adopt the basic economic tenets of socialism, without also inheriting its authoritarian political structures and limitations of personal freedom. There is ample evidence to substantiate the argument that there is a real and unbreakable connection between economic and political freedom, both of which may be lost if the state unduly expands its role in society.

5. Demografies
Afrikaners het histories ’n rol in die land gespeel wat ver bo hul getalle was. Die werklikheid van bevolkingsgetalle het uiteindelik tot Afrikaners se ondergang as staatkundige moondheid gelei. Gedurende apartheid is normale bevolkingsbewegings grootliks gevries deur die destydse maatreëls soos grensbeheer en instromingswette. Na 1994 het dit totaal verander en grootskaalse binnelandse en buitelandse migrasie het plaasgevind, wat die getalleverhoudings van voor 1994 totaal verander het. ANC beleidsrigtings, soos kindertoelaes, bevorder terselfdertyd ’n groter aanwas onder arm mense. Die land neem mettertyd die vorm van die bevolking aan en Suid-Afrika is stadig maar seker besig om te verander vanaf ’n Westers-oorheersde Eerste Wêreld-staat na ’n Derde Wêreld Afrikastaat met normale Afrika-omstandighede. Die gevolge hiervan is die hoofoorsaak van Westerse emigrasie na Westerse lande. Hierdie verwysings na Afrika is nie ’n waarde-oordeel nie, maar bloot ’n waarneming van wat in die praktyk gebeur.

6. Kultureel
Minderheidstale kan nêrens in die wêreld blywend oorleef sonder ’n eie betreklik afgesonderde grondgebied en of politieke mag wat spesiale beskerming aan ’n taal bied nie. Dit beteken nie dat die minderheid die hele land hoef te regeer nie, want in federale gebiede soos Quebec in Kanada kan tale ook beskerm word. Die ANC was altyd uitgesproke dat Engels sy voorkeurtaal was en die party se huidige grondwetlike lippediens aan veeltaligheid was te wagte. Afrikaans en Afrikaanse instellings soos universiteite en skole het drasties agteruitgegaan weens ’n gebrek aan doeltreffende beskerming. Die ANC het ’n historiese weersin in en ’n onverdraagsaamheid jeens ’n veelheid van tale en kulture. Die party wil eerder een nasie met een taal bou met een land en een party.

7. Staatsverval
Die ANC het in die negentigerjare toegewings gemaak om die mag te kry en gebruik die mag nou om sy oorspronklike doelstellings te verwesenlik. Die ANC regeer met ’n tipiese linkse agenda, en vertolk die Grondwet in terme van hierdie linkse ideologie. Hierdie ideologie toon wêreldwyd kenmerkende beleidsrigtings op gebiede soos misdaad en veiligheid, gelyke uitkomste, afwatering van eiendomsreg, duur welsynstelsels, hoë belasting, ’n groter rol vir die staat, ‘n herverdelende ekonomie, streng arbeidswetgewing, onderwys, staatspandering en werkskepping. Oral waar dit toegepas word is staatsverval ongelukkig die gevolg hiervan omdat die stelsel gebou is op die verhoging van verbruik eerder as op groei en verhoging van produksie.

Die verval van groot dele van die staatsdiens, provinsies en dorpe, asook die geweldmisdaad wat die land teister, spruit grootliks uit die toepassing van hierdie linkse beleidsrigtings van die ANC sedert hul struggle jare voor 1994. Soos mnr. Buthelezi voorspel het, sit die ANC-in-regering nou met die probleme wat die ANC-in-struggle help veroorsaak het.

Gevolgtrekking
Ek is lief vir die land, al hou ek nie van die ANC-ideologie en -beleid nie. Die rede is eenvoudig: ek het nog altyd geglo en glo nog steeds dat die ANC se beleidsrigtings sleg vir die land is en dat hy daarom nie die land alleen kan of ooit kon regeer nie.

*Hierdie bydrae maak deel uit van ‘n nuwe gesprekreeks op Die Groot Debat, “1990 tot 2012: Die Nuwe Suid-Afrika se verlede en toekoms in oënskou“. Stuur vir ons jou bydrae na [email protected]

Lees ook Christo van der Rheede se bydrae.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Flip Buys

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

16 Kommentare

jongste oudste gewildste
jaco

Het als hierbo vlugtig gelees en stem saam. Ons moenie vandag kwaad wees vir die wat die land regeer nie maar vir FW De Klerk en die wat die ANC daar geplaas het, Afrika was immers al daai tyd ñ voorbeeld van hoe dit gaan.

Jacques

Baie van dit wat ek nou gelees het,het ek geweet maar ook hoe die ANC die wet interpreteer glad nie geweet nie. Als maak nou meer sin vir my….

Izak

Net jammer to PW en Verwoerd presies dit voorspel het het almal hulle afgekraak as naief en rasisities – nou pluk ons die vrugte van die sogenaamde verligtes

Frank

Baie goed geskryf en met wysheid deurdink. Ek hoop jy kan die selfde wysheid toepas in ‘n strategie vir die Afrikaner ( en ander minderhede? ) om te oorleef in die nuwe Suid Afrika. Dalk kan die stuk in europese tale vertaal en uitgestuur word. ‘n Goeie dokumenter kan ook help met bewusmaking…

Welgedaan

louis

stem saam met Frank – vertaal asb in engels dat ons dit vir ons kaders en hul kiesers kan oordra…..