Van Eerste na Derde Wêreld – Suid-Afrika onder die ANC

Nelson Mandela en FW de Flerk vier die einde van apartheid.

Van Derde Wêreld na Eerste Wêreld – dit is die beskrywende titel van die boek wat die leier van Singapoer oor sy land se skouspelagtige ontwikkeling geskryf het. Hierdie naam sê alles wat oor die afgelope 40 jaar in Singapoer onder die leierskap van Lee Kuan Yew en sy regerende party gebeur het. Maar anders as in Singapoer, blyk die teenoorgestelde die geval te wees as mens terugkyk oor die ANC se bewind.

Ek het as jong student nooit gedink dat die ANC die land sou kon regeer nie. As ek voor 1994 ’n voorspelling oor die titel van ’n boek oor die ANC se regering van Suid-Afrika sou moes waag, sou dit eerder iets soos Van Eerste na Derde Wêreld gewees het. Die ANC is nou 18 jaar aan bewind. As ek kyk na wat in die land aangaan en ek dit nog 22 jaar die toekoms in projekteer, is ek bevrees dat my jeugdige siening van die ANC min of meer reg was. My siening was en bly dat die ANC se ideologie onwerkbaar is, en dat ’n ANC-regering daarom nie suksesvol kan wees nie.

Voordat ek summier van rassisme en Afrika-pessimisme veroordeel word, wil ek my destydse redes en vandag se siening darem motiveer. Natuurlik is dit vandag maklik om met die wysheid van terugskouing slim te klink, maar ek het deur my staatsleeraantekeninge van my universiteitsdae geblaai, en wil my destydse sienings opsom in “Sewe redes waarom ek nie gedink het dat die ANC die land goed sal kan regeer nie”.

1. Ideologiese redes
Die ideologiese wortels van die ANC is Marxisties. Dit is die eerste rede hoekom ek nie gedink het dat die party die land suksesvol sal kan regeer nie. Marxisme is ’n “struggle-ideologie”, en nie ’n “regeringsideologie” soos byvoorbeeld die liberale demokrasie nie. Marxisme is ’n ideale ideologie om ’n land oor te neem, maar dit is ’n rampspoedige ideologie om ’n land te regeer. Dit is hoekom Marxiste nie dit wat hulle oorneem kan regeer nie, en hoekom rewolusionêre sosialisme nêrens werk nie. Bronne oor die Westerse liberale demokrasie is vol verwysings na “regeringsinstrumente”, soos die skeiding van ’n land se wetgewende, regterlike en uitvoerende gesag, beperkings op staatsmagte, beskerming van eiendomsreg en persoonlike vryheid, en waarborge oor die onafhanklikheid van die howe en die media. Daarteenoor is Marxisme ’n aggressiewe ideologie, waarvan die bronne wemel van begrippe soos opstand, gewelddadige omverwerping, gebruik van staatsmag om eiendom af te vat, en die feitlik onbeperkte mag van die staat om oor mense se lewens te besluit.

Waar die Westerse demokrasie staatsmagte verdeel en beperk, is die Marxisme ’n oorheersingsideologie wat alleen wil regeer, alle mag opeis, en oor alles in die samelewing wil besluit. Marxistiese partye gebruik die demokrasie om aan bewind te kom, maar skaal dit dan af en sentraliseer hul mag. Bewindsoorname beteken nie soos in die Weste om ’n land goed te regeer sodat die mense jou herverkies nie. Bewindsoorname is net ’n voortsetting van die struggle met staatsmag en –bronne, soos in die ANC se dokumente staan. Die ANC is nie meer in die geheel so Marxisties soos vroeër nie, maar selfs ’n oorsigtelike ontleding van hul brondokumente soos Strategy and Tactics en hul National Democratic Revolution, maak dit duidelik dat die party se grondliggende filosofie steeds op die Marxisme berus. Selfs die sosiaal-demokrate in die ANC se ideologiese wortels is verlinks.

Die Marxisme berus grootliks op ’n samesweringsteorie wat alles verklaar aan die hand van ’n vaste ideologiese raamwerk oor ’n klassestryd, rassisme, uitbuiting, struggle en omverwerping, rewolusie of transformasie van die samelewing, gebruik van staatsmag om ekonomiese mag te bekom, en verheerliking van die rol van die party. Marxiste se siening van die verlede bepaal hul beleid vir die toekoms. Apartheid word as die enigste oorsaak van swart mense se armoede en ongelykheid gesien, terwyl die algemene probleme wat onderontwikkeldheid en armoede regoor Afrika veroorsaak het, nie in ag geneem word nie. Hierdie halfgebakte diagnose van die probleem lei tot die verkeerde behandeling daarvan, en daarom vererger die probleme omdat die medisyne erger as die siekte is.

2. Polities
Die NP se leiers het die ineenstorting van die kommunisme verkeerd gelees, want hulle het gedink dat die ANC daarmee saam gaan val of ten minste nie meer ’n groot faktor gaan wees nie. Hulle het die Koue Oorlog-oorwinning van die Westerse “goue tweeling”- die liberale kapitalisme – totaal oorskat en gedink dat die ANC nie ’n ander keuse gaan hê as om sosialisme af te sweer en vir altyd volgens hierdie Westerse model te regeer nie. Hulle volgende denkfout was die een van “onmisbaarheid”. Hulle het gedink dat die NP en wit mense se kundigheid onmisbaar is en het daarom geglo dat daar met ’n ANC-oorname nie veel in die land gaan verander nie. Die ANC sou wel die land regeer, maar die NP en wit mense sou steeds die land bestuur. Die aard en omvang van die veranderinge in die land is totaal onderskat.

Die ANC is tegelyk onderskat en oorskat. Die NP het verkeerdelik gedink dat hulle die ANC by die onderhandelinge kan uitoorlê, maar terselfdertyd die ANC oorskat deur te dink dat die party die land bevredigend sal kan regeer. Die ANC het wel briljante individuele leiers gehad, maar nie ’n breë genoeg vaardigheidsprofiel, leierskaps- en bestuursdiepte om die land te regeer nie. Hulle het die uitdaging om ’n moderne land te bestuur totaal onderskat en het op groot skaal van kundigheid en ervaring ontslae geraak en met lojale kaders vervang. Die gevolg hiervan was ’n skerp verswakking in die staat se vermoë. Daar is ’n groeiende gaping tussen wat die regering wíl doen en wat die staat kán doen.

Die NP het boonop verkeerdelik verwag om in verkiesings die steun van groot getalle swart mense te kry wat vir sy gematigde beleid sou stem, aangesien die ANC weens sy sosialistiese beleid steun sou afstaan. Maar in die werklikheid het swart mense, soos elders in die wêreld, vir groepsidentiteit eerder as beleid gestem. Kiesersgedrag is nou een maal nie dieselfde as kopersgedrag nie!

My verwagting was dat die stelsel van die Afrikaner ’n ongewilde minderheid sou maak, wat in die woorde van top politieke wetenskaplikes demokraties uitgesluit en struktureel oorheers sou word. Daarby het ek verwag dat die ANC met die tipiese linkse beleidsrigtings wat sulke regerings wêreldwyd kenmerk sou regeer, en dat dit die land geweldig sou benadeel en selfs kon laat misluk.

3. Grondwetlik
Ons mooi Grondwet was seker die belangrikste gerusstelling aan wit mense ná 1994. Ons is wysgemaak dat dit nie eintlik die ANC is wat sou regeer nie, maar die Grondwet omdat dit die reëls van die spel sou neerlê. “Reg” sou “mag” vervang. Almal sou eintlik deur die Grondwet bykans kon mederegeer, met die howe wat ’n tipe opponerende rol sou speel en die ANC sou vasvat.

Die Grondwet bevat inderdaad pragtige bepalings, en ons howe doen goeie werk, maar ek het destyds al gedink die Grondwet se rol en magte word oorskat. Kom ons neem boks as ’n voorbeeld. Hierdie sport het ook ’n pragtige grondwet met reëls, maar min mense sal saam met ’n groter bokser in die kryt klim. Die rede is eenvoudig: die uitslag van die geveg word deur die deelnemers bepaal, en nie deur die reëls nie! Inteendeel – die reëls waarborg dat die groter bokser altyd die geveg sal wen – selfs met ’n wettige uitklophou! In die regte lewe word die hoofskeidsregter ook deur die grootse bokser aangestel, soos nou met Regter Mogoeng gebeur het.

Daarom het ek gemeen dat die Grondwet meer beskerming vir minderhede moes bevat, want tans word net meerderheidsregte verskans! Daar is byvoorbeeld ’n vae beskerming vir die regte van Afrikaans en Afrikaanse skole, maar geen magte om dié regte te verwerklik nie. Die beste praktyke in moderne state soos Kanada, België, Switserland, Spanje en in bykans alle Europese demokrasieë gee magte en belastinggeld aan minderheidsgroepe om hul regte uit te oefen. Vir my het dit nie sin gemaak dat ons Grondwet in ’n land wat histories deur groepsvraagstukke oorheers is suiwer op individuele regte gebaseer is nie.

Daarby was ek nog altyd uiters bekommerd oor die NP se eensydige Westerse vertolking van die Grondwet. Na die verkiesing het die magsbalans dramaties en permanent na die ANC geswaai, en hul linkse vertolking van die Grondwet sou na die verkiesing die deurslag gee. Hulle sou ook al die wette maak én toepas volgens hul siening daarvan. Omdat ek nie gedink het linkse beleidsrigtings kan hier werk nie, het ek nie geglo dat die ANC die land suksesvol sou kon regeer nie.

4. Ekonomies
Die val van kommunisme het wit mense oortuig dat sosialisme iets van die verlede is. Maar sosialisme strek veel wyer as ’n ekonomiese beskouing, en is eerder ’n volbloed alternatiewe lewensbeskouing. Die kern van alle linkse regerings se siening is dat politieke mag gebruik moet word om ekonomiese mag te kry, omdat, soos die ANC gereeld sê, politieke vryheid sonder ekonomiese vryheid betekenisloos is.

Die ANC het inderdaad na 1994 in die Mandela- en Mbeki-era baie van die ou kommunistiese sienings, soos sentrale beplanning en nasionalisering, laat vaar. Die party het die markekonomie aanvaar omdat dit die enigste stelsel is wat welvaart kan skep sodat hy dit deur belastings kon herverdeel en ’n welsynstelsel kon instel wat sy sosialistiese doelwitte kon finansier. Hierdie sosialistiese doelwitte is byna ongesiens in die Grondwet geskryf, waar artikels 26 en 27 van die Grondwet ’n omvattende welsynstelsel voorskryf. Dit is hoekom Dr. Van Zyl Slabbert gesê het dat die Grondwet verwagtinge skep waaraan die ekonomie nie kan voldoen nie.

Maar sosialisme en demokrasie is ook net tydelike bedmaats. Luiser maar wat het Jan Steyn gesê oor die verband tussen sosialisme en outokrasie:

It is naive to believe that one can adopt the basic economic tenets of socialism, without also inheriting its authoritarian political structures and limitations of personal freedom. There is ample evidence to substantiate the argument that there is a real and unbreakable connection between economic and political freedom, both of which may be lost if the state unduly expands its role in society.

5. Demografies
Afrikaners het histories ’n rol in die land gespeel wat ver bo hul getalle was. Die werklikheid van bevolkingsgetalle het uiteindelik tot Afrikaners se ondergang as staatkundige moondheid gelei. Gedurende apartheid is normale bevolkingsbewegings grootliks gevries deur die destydse maatreëls soos grensbeheer en instromingswette. Na 1994 het dit totaal verander en grootskaalse binnelandse en buitelandse migrasie het plaasgevind, wat die getalleverhoudings van voor 1994 totaal verander het. ANC beleidsrigtings, soos kindertoelaes, bevorder terselfdertyd ’n groter aanwas onder arm mense. Die land neem mettertyd die vorm van die bevolking aan en Suid-Afrika is stadig maar seker besig om te verander vanaf ’n Westers-oorheersde Eerste Wêreld-staat na ’n Derde Wêreld Afrikastaat met normale Afrika-omstandighede. Die gevolge hiervan is die hoofoorsaak van Westerse emigrasie na Westerse lande. Hierdie verwysings na Afrika is nie ’n waarde-oordeel nie, maar bloot ’n waarneming van wat in die praktyk gebeur.

6. Kultureel
Minderheidstale kan nêrens in die wêreld blywend oorleef sonder ’n eie betreklik afgesonderde grondgebied en of politieke mag wat spesiale beskerming aan ’n taal bied nie. Dit beteken nie dat die minderheid die hele land hoef te regeer nie, want in federale gebiede soos Quebec in Kanada kan tale ook beskerm word. Die ANC was altyd uitgesproke dat Engels sy voorkeurtaal was en die party se huidige grondwetlike lippediens aan veeltaligheid was te wagte. Afrikaans en Afrikaanse instellings soos universiteite en skole het drasties agteruitgegaan weens ’n gebrek aan doeltreffende beskerming. Die ANC het ’n historiese weersin in en ’n onverdraagsaamheid jeens ’n veelheid van tale en kulture. Die party wil eerder een nasie met een taal bou met een land en een party.

7. Staatsverval
Die ANC het in die negentigerjare toegewings gemaak om die mag te kry en gebruik die mag nou om sy oorspronklike doelstellings te verwesenlik. Die ANC regeer met ’n tipiese linkse agenda, en vertolk die Grondwet in terme van hierdie linkse ideologie. Hierdie ideologie toon wêreldwyd kenmerkende beleidsrigtings op gebiede soos misdaad en veiligheid, gelyke uitkomste, afwatering van eiendomsreg, duur welsynstelsels, hoë belasting, ’n groter rol vir die staat, ‘n herverdelende ekonomie, streng arbeidswetgewing, onderwys, staatspandering en werkskepping. Oral waar dit toegepas word is staatsverval ongelukkig die gevolg hiervan omdat die stelsel gebou is op die verhoging van verbruik eerder as op groei en verhoging van produksie.

Die verval van groot dele van die staatsdiens, provinsies en dorpe, asook die geweldmisdaad wat die land teister, spruit grootliks uit die toepassing van hierdie linkse beleidsrigtings van die ANC sedert hul struggle jare voor 1994. Soos mnr. Buthelezi voorspel het, sit die ANC-in-regering nou met die probleme wat die ANC-in-struggle help veroorsaak het.

Gevolgtrekking
Ek is lief vir die land, al hou ek nie van die ANC-ideologie en -beleid nie. Die rede is eenvoudig: ek het nog altyd geglo en glo nog steeds dat die ANC se beleidsrigtings sleg vir die land is en dat hy daarom nie die land alleen kan of ooit kon regeer nie.

*Hierdie bydrae maak deel uit van ‘n nuwe gesprekreeks op Die Groot Debat, “1990 tot 2012: Die Nuwe Suid-Afrika se verlede en toekoms in oënskou“. Stuur vir ons jou bydrae na [email protected].

Lees ook Christo van der Rheede se bydrae.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

jaco ·

Het als hierbo vlugtig gelees en stem saam. Ons moenie vandag kwaad wees vir die wat die land regeer nie maar vir FW De Klerk en die wat die ANC daar geplaas het, Afrika was immers al daai tyd ñ voorbeeld van hoe dit gaan.

Paul ·

Vragie, Jaco: Wat gaan jou woede teenoor FW de Klerk bereik of herstel? Neewat – dis ‘n mors van energie om wrokkig te wees.

Dave Du Plessis ·

Élke ‘Ja’stemmer het bygedra tot die oorgawe aan die ANC. Waarom kon hulle nie sien wat vir die HNP ooglopend was nie? Waarom nou die vervelige rympie bly sing dat die Nasionale Party se leiers hulle mislei het? Waarom word daar nie een enkele woord gesê oor hul eie aanvalle en gevegte teen die konserwatiewes nie?

Óns is stil daaroor want dìt was ‘n demokratiese referendum, maar somtyds kry ek die idee dat die trekkers van die ‘JA’kruisies van hul eie gewete probeer ontsnap deur die skuld (slegs) op FW & kie te pak, terwyl die HNP derduisende gespandeer het om die waarheid in posbusse en teen lamppale te vertoon.

Jacques ·

Baie van dit wat ek nou gelees het,het ek geweet maar ook hoe die ANC die wet interpreteer glad nie geweet nie. Als maak nou meer sin vir my….

Izak ·

Net jammer to PW en Verwoerd presies dit voorspel het het almal hulle afgekraak as naief en rasisities – nou pluk ons die vrugte van die sogenaamde verligtes

Frank ·

Baie goed geskryf en met wysheid deurdink. Ek hoop jy kan die selfde wysheid toepas in ‘n strategie vir die Afrikaner ( en ander minderhede? ) om te oorleef in die nuwe Suid Afrika. Dalk kan die stuk in europese tale vertaal en uitgestuur word. ‘n Goeie dokumenter kan ook help met bewusmaking…

Welgedaan

louis ·

stem saam met Frank – vertaal asb in engels dat ons dit vir ons kaders en hul kiesers kan oordra…..

Andre ·

Noudat ons dit alles weet, sal dit ons net negatief maak of is dit ‘n kwessie van ek het jou mos gesê en dan bly dit daar?

Conrad ·

Wat u hier geskryf het ondervind ek eerstehands. My kinders is oorsee en hulle sal dom wees om terug te kom. Ek reikuit vir ekonomiese oorlewing na die buiteland want ek ondervind dat ekonomiese tak waarin ek my professie uitvoer deur swart bemagtiging vir my meer een meer ontoereikend word. Ek is vier keer beroof in 2011. My plaasgrond se mineraleregte is geneem sonder vergoeding deur die staat. Ek eis die dag wanneer my plaas van fyf geslagte genasionaliseer gaan word. Wat kan ek nog sê.

Wimpie ·

Ek het hierdie artikel ook vlugtig gelees. As werknemer van die staat kan ek wel getuig van die ANC se beleid en het spesifiek empatie met Conrad.

Die verlede is ongelukkig gesiedenis en ek verstaan die vorige leiers se besluite t.o.v. apartheid, maar is ook in n mate bly vir die ANC se oorname, die wereld kan nou sien dat Afrika nie Europa of Amerika is nie; waaroor ons so veroordeel was.

Ons sal nooit weer terug keer na rasse “apartheid” nie, maar ek weet dat daar weer aparte ontwikkeling sal wees, ongeag van kleur; omdat n sekere groep mense altyd sal uitstyg en werklikke leiers is. Ons moet aanhou druk toepas en veg vir wat reg is, ek veg al n saak teen die ANC sedert 2004 en sien nou eers lig. Daar is nie n kits oplossing vir die tydperk waarin ons lewe nie, maar ons moet net nooit opgee nie………

Flip ·

Vriende, baie dankie vir almal se kommentaar op hierdie blad en al die persoonlike eposse wat ek ongelukkig nie almal kan beantwoord nie. Net 2 punte: met hierdie artikel bedoel ek nie dat die status quo behoue moes bly nie, daar moes verandering kom- maar in ‘n ander rigting met die “beste praktyke” van soortgelyke lande waaroor ek nog sal skryf. Om te dink alles kon net so bly of dat die rede vir Afrikaners se probleme so eenvoudig was soos “die Ja-stemmers het als weggegee” is om diepgaande makro-omwentelinge wat die politieke veranderinge gedryf het mis te kyk en die getye met die golwe te verwar.

Die tweede punt is dat daar wel oplossings vir Afrikaners en vir Afrikaans is, maar dat dit nie oppervlakkige kitsoplossings of maklike oplossings is nie- daarvoor is ons omstandighede te ingewikkeld. Meer daaroor later. Flip

Dewald van Jaarsveldt ·

Dit is vir my interresant dat ons Afrikaners so sukkel met die verlede.Ek het vele kere met mense te doene gekry wat erken dat hulle skaam is oor die apartheidsjare.Vir my is dit belangrik dat ons na onself kyk en die nalatingskap van die Afrikaner in die RSA en Afrika.Die belangrikste van die ANC se teenpropaganda is dat hulle ons hamer oor apartheid,terselfdertyd daaragter skuil en hoop ons krap net aan ons kant,wat ons wel doen…Was hulle sulke ”engeltjies..”?

In 1975 bou my pa ‘n plaas skool op die plaas.Daardie september,wat normaalweg trektyd was,trek die helfte van my pa se werkers weg..Die rede?..Die skool voor hul agterdeur,…hulle wil nie westerse geleerdhied he’ vir al hul kinders nie.Party moet ongeletterd bly om na hul ouers om te sien as die ouers oud is.Die geleerdes trek weg stede toe.Vandag in mozambique is dit nog so…Vraag is ..hoeveel westerse geleedheid wou die ANC he’ gedurende 1948?..”Ons het sover gekom sonder geleerdheid, ..ons het geen rede om geleerdhied te he’ om verder te gaan nie…”.Dit is wat die ANC jeugliga nou onlangs se mening was oor geleerdheid.!

In Long walk to freedom,mnr Nelson Mandela se boek,skryf hy van die kolonel in die polisie wat se werk dit was,”..vang Nelson Mandela..”.Mnr Mandela het mense afgelaai en deur Johannesburg gery na mnr Jo Slovo.Hy stop by die rooi robot,kyk lings,kyk regs,sien die kolonel in ‘n motor en besef sy dae is getel,..Die robot word groen,mnr Mandela ry voort,en sien dat die kolonel draai regs af en uit die pad.Mnr mandele wonder by homself hoe gaan jy ‘n swartman vang,as jy nie na swartmense kyk nie…Wat mnr Mandela nie se’ nie,is dat hierdie kolonel het die hele ANC hierargie behawe Jo Slovo in een kamer in revonia vasgetrek… Doodgewoon briljant!

”It takes two to tango”,se’ die spreekwoord.Voor die 1948 verkiesing was daar twee lande in Afrika met apartheid,..Suid Afrika en ”Rhodesia”,nou Zimbabwe’.Al twee lande is volgens die Britse model van seperatisme geregeer.Na die 1948 verkiesing kom apartheid op die wetboeke in Suid Afrika,Rhodesia ploeter voort en eindig uiteindelik in ‘n ”failed state”.In die RSA is daar tuislande,in Rhodesia is daar reserwe gebiede,in woorde anders,in dade dieselfde model.

Van al die vorige kolonies van Eoropese lande in Afrika,is die RSA die beste ontwikkeld,met die grootste ekonomie.Ons het nooit die inheemse tale probeer onderdruk in die skole nie,soos die geval is in bv. mozambique en vele ander lande nie.Inteendeel,die bybel is vertaal in die inheemse tale,selfs ook in die boesmantaal.Geen westerse land kom naby die sukses wat ons in Afrika behaal het nie,doodgewoon omdat hulle nie kon vasvat,soos die Afrikaner nie.

Ons stamvaders kom nie van die onderpunt van nasies nie,0ns is wel afgeroom van van die bokant af… Ja,ons stem in die parlement het stil geraak,die DA dink ek doen goed,is net te effens engels vir my sin.
Ja,ons tyd sal weer kom.,ons leiers sal weer opstaan en parlement toe gaan..Hiedie land het die Afrikaner nodig…Ons is die enigste mense wat die regte handboek kan skryf vir hoe om afrika reg te ruk.
Ek wil nie eers probeer om Britanje se Zimbabwe met ons RSA te vergelyk nie.

Aparthied was daar omdat die ANC nie vestaan het,of wou verstaan het,wat jy nodig het om hierdie land te regeer nie.Die wiel sal draai.

Louis Pretorius ·

Die opskrif van die artikel deur Mnr. Buys geskryf , naamlik: Van Eerste na Derde Wereld-SA onder die ANC, bied interesssante moontlikhede vir ontleding en gesprekvoering.

Die gespreksdeelnemer kan die suiwer humanistiese invalshoek aanneem deur gebruik te maak van die afgelope paar jaar se propaganda en noem dat SA nou in haar 18de jaar van Vryheid is en dat hierdie ‘vryheid’ alles oortreffend is, dat enige onreg wat aan ‘n man gedoen word verdraagsaam is mits daardie man ‘vry’ is, of-

die gespreksdeelnemer kan die rassistiese invalshoek inslaan en verwys na die ANC as ‘n swart regering en dus in elk geval korrup en onbevoeg, of-

die gespreksdeelnemer kan verwys na die moontlikhede wat daar in SA bestaan om handel met die res van die ‘global village’ te dryf weens SA se hertoelating tot die internasionale gemeenskap, die afskaffing van sanksies en die afskaffing van die ‘muishond’ gedagte wat aan SA gedurende die NP-regering gekleef het, of-

die gespreksdeelnemer kan sy/haar skouers opneem en ander kant toe kyk, soos wat Louis Brits in sy bekende ‘gospel-liedjie’ Gekruisigde Hande sing: “die nuus oop die tv maak my siek en ek draai my rug”, of-

die gespreksdeelnemer kan sekerlik die NUWE BETER SA vanuit die ander hoek met ‘n ander invalshoek inneem en vir my vertel dat dit ons as voorheen bevoordeeldes se verdiende loon is en hom/haar dus skaar by die aangewese groep wat bevoordeling MOET geniet, of-

die gspreksdeelnemer kan probeer verstaan wat aan die gang is rondom hom/haar en dus die probleme raaksien en nou aan oplossings tot die probleme dink.

U sien, al die opsies, behalwe die laaste opsie, is emosioneel gedrewe, bied geen tuiste vir diversiteit nie en is myns insiens, naif: die werklikheid word nie raakgesien nie en dus kan daar geen oplossings na vore tree nie.

Enige beweging, d.i. nou die ANC-politieke party, wat ontstaan ten einde ‘n doelwit te verwesenlik, moet homself die volgende afvra: “Wat gebeur indien ek daardie doelwit verwesenlik?” Ons weet dat die ANC ontstaan het as ‘n struggle-party, een wat sy ondersteuners tot vryheid moes lei. Is hierdie vryheid dan nie verwesenlik die afgelope bykans 18 jaar nie? Alle wit/blanke bevoordeling is afgeskaf, segregasie/apartheid is vernietig en as ‘n sonde teen die mensdom geklassifiseer, inteendeel, alles wat die swart bevolking voorheen onder druk het, is mos nou uit die weg uit geruim of hoe? Gespreksdeelnemers, JuJu Malema en by geleentheid, selfs Siduma Dlamini, die President van COSATU, het dit baie duidelik gestel dat politieke vryheid wel verkry is en nou moet EKONOMIESE vryheid nog verkry word. U sien, die mag het wel oorgegaan op die ANC en sy mandaterings groep, maar nie die geldmag (maatskappye se bates, top poste in die privaat sektor, werksgeleenthede, ens ens ) nie. Mnr. Buys het verwys na die NDR wat as deel van die beleid deur die regering aangeneem is en my vraag is: indien die politieke mag oorgegaan het en nie die ekonomiese mag nie, is die groepering wat dan steeds die ekonomiese mag in hul hande het (ook maar net skraps) dan nie ook volledige en bydraende burgers van hierdie land aan die Suide nie? Wanneer daar dus van een bevolkings groep wat burgers van jou land uitmaak, geneem moet word om ander burgers van jou land te bevoordeel, is dit dan steeds in die belang van al die burgers van jou land om te herverdeel? En as dit die amptelike beleid van ‘n regering is om die herverdeling met alle mag na te streef, sal daar dan nie juis op ander terreine waarvoor ‘n regering verantwoordelik is, ingeboet moet word ten einde jou eerste werklike beleid ten alle koste na te jaag nie?

‘n Artikel gskryf deur Maike Currie in die Indwe tydskrif het betrekking: sy haal die wyd gesproke sentiment aan dat “China wil be old before it will be rich” en dat China se bevolking teen 2030 die gemiddelde ouderdom van 45 jaar oud sal wees, dit is in skrille kontras met die geskatte gemiddelde ouderdom van Afrika se bevolking teen 2030 wat 19,7 jaar sal wees. Die gevolgtrekking: China sal oor 40 jaar 1 uit elke 8 van die aarde se werkersmag uitmaak, terwyl Afrika 2 uit elke 8 van die aarde se werkersmag sal uitmaak en dat die volgende supermoondheid nie China nie, maar eerder Afrika sal wees.

Hierdie stelling bring my terug tot die laaste opsie wat ek kon waarneem as beskikbaar tot ‘n gespreksdeelnemer, naamlik om die werklikheid raak te sien en daarop te reageer: is Maike Currie se waarneming korrek volgens feite? ja sekerlik, maar is dit korrek met die konteks van Donker Afrika deur die eeue? Myns insiens was Afrika nog altyd ‘n baie dinamiese kontinent waar net die sterkste en die slimste oorleef (die wet van die oerwoud) en dat vandag heeltemal anders as gister was en gister nie herken sal word as die voorloper tot more nie.

Soos Thomas Jefferson dit gestel het: ” I am a firm believer of good luck, the harder I work, the more I find I have of it”.

Mag ons almal regtig ons uiterste doen om deur harde werk en die verkryging van skaars vaardighede en die behoud van ons oortuigings en identiteit ons so op te stel dat ons more dalk heeltemal anders daarna sal uitsien as wat vandag en gister die werklikheid is. Wanneer Mnr. Buys die struikelblokke uitwys, doen die moeite en onderrig jouself in daardie struikelblokke en bedink wat die oplossing mag wees, dalk is die oplossing ‘n goedkeurende kop-knik van die huidge, dalk ‘n skouer-ophaling of ‘n rug-toekering, of dalk net dalk is die oplossing om terug te keer na ons empiriese waarnemings talent en die werklikheid te aanskou vir dit wat dit is en om oplossings te bedink op die probleme wat ons nou sonder oogklappe waarneem.

SJ Botha ·

Rassisme en misdaad is slegs uitdrukkings wat na vore kom omdat nasies in eenheidstate vasgedruk word teen hul sin. Dit veroorsaak aanhoudende baklei vir beperke hulpbronne en die staat sal altyd die suksesvolles beroof om vir hul eie stemvee te betaal. Dus steel by Gert en gee vir Sipho en natuurlik moet Gert stilbly want hy het mos stemreg. Dis om van te kots.

Brenda ·

Ek haal aan uit die artikel: ” Die party wil eerder een nasie met een taal bou met een land en een party.”…
EENWERELD REGERING??… Die ANC pas so reg in by die Nuwe Wereldorde, en niemand sien dit eers raak nie… Maar dan, dit was mos van die begin af hul plan!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.