Van hofsake tot vennootskappe: Só sê Theuns Eloff

Theuns Eloff (Foto: Skermskoot uit NWU-video)

Theuns Eloff (Foto: Skermskoot uit NWU-video)

Dr Theuns Eloff, voormalige visekanselier van die Noordwes-Universiteit, reageer op die meningstuk, Afrikaans: Van hofsake tot vennootskappe

Die antwoord is nie eenvoudig nie. Aan die een kant is ek seker dat AfriForum en Solidariteit nie die tyd en geld wat hulle elders vrugbaar sou kon gebruik, wil spandeer op hofsake nie. Aan die ander kant is dit in die meeste gevalle waar dat die reg die laaste uitweg is, nadat mooipraat, pleit en onderhandel misluk het. Baie mense lewer kritiek op AfriForum en Solidariteit omdat hulle in so baie hofsake betrokke is. Is daar nie ander manier nie? Berokken julle nie saak van Afrikaans hierdeur net meer skade nie, word gevra.

Ek is, soos uit my verlede blyk, ʼn voorstaander van praat en onderhandel en kompromie soek. Maar daar kom ʼn punt dat dit nie (meer) help en werk nie. Daar is ʼn tyd wanneer dit nodig is om ter wille van Afrikaans jou regte tot in die konstitusionele hof te gaan opeis.

Ek is dit dus in beginsel eens dat dit goed sal wees as hofsake na vennootskappe omgeskakel kan word.

Dit moet egter in gedagte gehou word dat só ʼn aanpak nie oral sal werk nie, omdat dit tyd en plek en universiteitsgebonde is. Dit word beïnvloed deur die persoonlikhede, sienings en styl van leiersfigure, van ʼn universiteit se geskiedenis en haar omgewing, en van die mate van druk van anti-Afrikaanse en anti-wit groepe.

Aan die ander kant moet die vraag gevra word, wat die gevolge is as ʼn hofsaak teen ʼn universiteit gewen word? In ʼn omgewing waar die taaldemografie reeds verby die internasionale kantelpunt van 30% (verteenwoordigers van die meerderheidstaal) beweeg het, sal dit hoogstens tydelike verligting bring. Met die volgende veranderde taalbeleid sal die universiteit se slim advokate gewoon aanvoer dat, vanweë die klein persentasie studente wat onderrig in Afrikaans wil ontvang, dit nou nie meer “redelikerwys doenlik” is nie (soos wat art. 29(2) van die Grondwet bepaal). En dan sal die hof nie ʼn ander keuse hê nie as om in die guns van die universiteit te beslis.

Intussen sal die universiteit ʼn hofuitspraak hoogs onwillig toepas, en talle struikelblokke in Afrikaanse studente se pad opstapel. Dosente sal (soos reeds gebeur) Afrikaanse studente sielkundig intimideer en anti-wit en anti-Afrikaanse studente sal hulle hierin steun. Kortom, ek kan nie sien dat Afrikaanse studente op die lang duur kan tuis voel onder hierdie omstandighede nie.

Aan die ander kant moet ʼn mens onthou dat dit nie maklik sal gebeur dat universiteite se leierskap sommer Afrikaanse kursusse aan byvoorbeeld Akademia gaan beskikbaar stel nie. Redes hiervoor kan talryk wees:

  • Blote moedswilligheid moet nie buite rekening gelaat word nie – “as ons nie Afrikaanse studente kan kry nie, kan niemand hulle kry nie”.
  • Ideologiese oorwegings – “as Afrikaanse studente nie by die (swart) meerderheid wil inskakel deur Engels nie, en nie aan transformasie wil meewerk nie, behoort hulle nie toegang tot hoër onderwys te hê nie”.
  • Finansiële oorwegings – “Afrikaanse studente is goeie betalers en ons wil hulle nie verloor nie, al wil ons hulle nie in Afrikaans onderrig gee nie”.

Om te dink dat universiteite se huidige leierskap ʼn skuldgevoel het teenoor Afrikaans en Afrikaanse studente, en daarom ʼn “ereskuld” het, is waarskynlik wensdenkery.

Dit alles beteken egter nie dat die Afrikaanse gemeenskap nie moet probeer om hofsake in vennootskappe te omskep nie. Ons moet net weet dat dit nie maklik sal wees nie. En ons moet myns insiens albei strategieë gebruik.

Die beste manier om te werk te gaan, sou wees dat AfriForum die hofsake aanhangig maak, goed argumenteer en alles in sy vermoë doen om te wen. Op die regte oomblik kan die regspanne die moontlikheid van ʼn skikking begin bespreek, met as kern van die skikking die gedagte van ʼn toekomstige vennootskap – tussen die universiteit en Akademia. Die ideaal sal wees dat die vennootskap ʼn bevel van die hof gemaak word. Dit verskaf sekerheid en maak die verpligtinge van die twee partye in die openbaar duidelik. Dan sal dit moeilik wees vir selfs die skelmste persoon om daarvan weg te stap.

My gunstelingskrywer van fiksie, Louis L’Amour, sê deur sy Puriteinse “cowboy”-karakters in die Wilde Weste: “I trust the Lord, and I keep my powder dry.” Dis goeie raad oor Afrikaans en universiteite.

Dr. Theuns Eloff is die voormalige visekanselier van die Noordwes-Universiteit (NWU)

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Theuns Eloff

Theuns Eloff is ʼn onafhanklike kommentator.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

JC ·

Baie interessante meningstuk, ek is egter van mening dat die tyd vir saamstaan nou aangebreek het in enigiets betreffende ‘n bedreiging vir ons taal en kultuur (insl. hofsake want praat gaan net so ver…moeggepraat!), en dat daar enersyds met respek omgegaan moet word, maar dat daar ook in enigiets oor ons taal ‘n houding van eendragtigheid en onverbiddelikheid moet wees m.a.w. om rotsvas te staan in die gesig van teenspoed en antagonisme SOOS WAT AFRIFORUM/SOLIDARITEIT JUIS DOEN. Oor geslagte sal dan teruggekyk word na die huidige teenstand en eendragtigheid met respek, trots en admirasie!!Goeie voorbeelde is die Afrikaanse tuks studente se rotsvasstaan-houding by Tuks, die Afrikaanse De Goedehoop Koshuis by Tuks-‘n tuiste vir Afrikaanses by tuks, verskeie inisiatiewe, trots wees op Afrikaner-en Afrikaanswees, AKADEMIA, SOL-TECH, en die hofsake. Ek dink daar moet beslis soos Afriforum doen ‘n “many pronged” benadering wees-soos hul juis doen met ‘n grootse poging wat SLAAN vanuit verskeie oorde. Moet ook nie vergeet van AROS nie-ONS ANDER PRIVAAT AFRIKAANSE UNIVERSITEIT!

JC ·

In ‘n neutedop, het ek reeds verskeie menings waargeneem en ook bemoedigende tekens gesien (AFRIKAANS.COM) dat mense NET NIE SAL GAAN LE oor wat vir hul ‘n saak van erns is en hul moedertaal en kultuurtaal is nie!
Die ganse Afrikaanse samelewing is aan die gons oor hierdie kwessie en verseker is daar net een opinie-HOU AAN VEG VIR AFRIKAANS EN ONDERSTEUN AFRIFORUM EN SOLIDARITEIT. Dit spreek vansself dat die kwessie besig is om Afrikaners te radikaliseer, miskien is dit ook goed so aangesien dit ‘n tydperk van hernieude waardering vir ons taal en kultuur aandui en ‘n tipe herbesinning en waardering veroorsaak vir ons unieke plek in die wereld, en hopelik die boodskap tuisbring en versterk dat ons moet vasbyt en BOU, soos Afriforum se projek heet. Afriforum het ons mondstuk en “SKILD” geword en gaan nog massief raak, en soos ek reeds vroeer te kenne gegee het kan Afriforum gerus my Afrikanerskap “kaap” as dit die tipe werk is wat hul doen-sien ook hul voorleggings by die VN. Die nare waarheid is dat die huidige regime presies dit probeer doen wat die ou regering gedoen het dit wil se die gepoogde intrekking van regte deur drakoniese wette, maar dat hul nie suksesvol is nie agv die beskerming wat die Handves van Regte aan Afrikaners bied, en belangrik ook ons beste karakteristiek-‘N BOER MAAK ‘N PLAN!.

Theuns ·

Beste Dr Theuns Eloff, wat jy voorstel maak sin! Wat egter ook gebeur is dat die aanhoudende swart op wit rassisme, regstellende aksie, miskenning van die Afrikaner se waarde sisteme en sy kultuur, besig is om die witmense en Afrikaners te radikaliseer. Hofsake is tans die enigste manier om die woede van die witmense en Afrikaners per se te bestuur en in toom te hou! Die ANC en EFF het nie ‘n benul van die implikasies van die vuur wat hulle mee speel nie. Wanneer bereik ‘n gemeenskap die sogenaamde ” Point of no return” of gaan daar verby. Ons kan maar net dankie se vir mense soos AfriForum en Solidariteit! Sal graag U opinie wil hoor. By voorbaat dankie.

Fanie ·

Uitstekende en nugtere ontleding Dr Eloff! Baie dankie hiervoor. U moet asb u ondervinding en strategiese insig mbt die universiteitswese beskikbaar stel.

JC ·

Dit is lagwekkend om te dink dat ‘n persoon soos Breyten Breytenbach wat geboet het met tronkstraf agv sy ondersteuning aan die “vryheidsbeweging” en sy deelname daarin asook sy minagting van diskriminerende en drakoniese Wette; nou moet baklei vir sy TAAL wat sy reg is!! Andre P Brink sou beslis ook in sy graf omgedraai het!Wys jou watter opinie die huidige regime eintlik oor Breyten huldig en dat hul hom slegs oordeel op grond van sy velkleur en nie sy vroeere bydrae in die verband nie, wat pateties verby is!! Dit laat mens onwillekeurig wonder wat die sg. “struggle” nou eintlik behels het? (in my opinie ‘n kort en gemaklike rit na die soustrein, wat gekaap is deur die ANC) Dink ook maar gerus aan kampvegters vir Afrikaans soos Rhoda Kadalie wie se pragtige Afrikaaps-(Kaaps) nou NIE MEER GOED GENOEG IS NIE!! Ek sal graag wil weet wie hierdie dosente is wat studente intimideer-hul behoort hul te skaam en is nie die naam “dosent” werd nie!!

humor ·

Theunsie jy het baie woorde. In die eerste plek glo ek nie studiemateriaal is n onomkeerbare probleem nie. Die beste ter wereld is op internasionale gebied bekombaar. Mynsinsiens word die veld van stryd net ietwat van gedaante verander. Die Afrikaner het baie wantrouig geraak en die bestaande universiteite het deurgans openbaar dat hul skreiend arm aan integriteit is. Ek is bang vir daai voet in die deur. Die hele voorstel lyk vir my gans te veelna N P van Wyk Louw se Raka.

Anne ·

Kobus, seker as gevolg van ‘n bietjie meerwaardige cest la vie mening?

John ·

Die regters kan nie met rewolwers hul uitsprake afdwing nie. Die universiteite sal doen wat hulle wil. Hulle weet goed minderhede kan nie vir ewig hof toe hardloop wanneer ondernemings nie nagekom word nie. As universiteite omgegee het vir Afrikaanse studente sou die probleme nie uitgekring het tot hofsake nie. Groot veranderinge kom binnekort as die kwessie van gratis universiteitstudie uitgeklaar is. Dit kan verdere probleme vir wit studente beteken.

JC ·

John, gelukkig is daar vir gevalle soos jy nou net beskryf het iets soos ‘n AANSOEK OM MINAGTING VAN DIE HOF.
DIE OPPERHEERSKAPPY VAN DIE REG GELD NOG IN HIERDIE LAND HOOR.

JC ·

O ja, en Afriforum sal nie huiwer om so ‘n minagtingsaansoek te bring nie!!

Advokaat ·

JC, ongelukkig het die Hoogste Hof van Appèl in die FAKIE-BESLISSING (van 2006) dit BYKANS ONMOONTLIK GEMAAK om ‘n hofbevel ad factum praestandum deur minagtingsaansoeke AF TE DWING.

Dosent ·

Goeie artikel! Ek sou graag meer wou hoor oor hoe n vennootskap tussen Akademia en ander universiteite kan lyk. Ek stem saam met humor dat daar baie goeie materiaal bekombaar is, en ek voel dat die Afrikaanse gemeenskap kan help om dit aan te vul, ons het baie spesialiste en goed gekwalifiseerde mense wat graag sal wil help.

humor ·

Stem John , is die dat ek se Theunsie. O die PUK, die PUK. En die regters van die toekoms? Die onderwys het alreeds lelik bloedneus gekry. Die toekoms is selfs nie eens baie vloeibaar nie maar steeds baie onseker en gewis op n afdraende pad. Aan wie se kant is vader tyd??????

Jan ·

Dr.Theuns , jy is waardevol in hierdie stryd. Hou asb. aan. Die beste ding na my mening wat uit al die teenkantings voortgevloei het is dat ons Afrikaners wakker geword uit ‘n sluimer. Groete en seen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.