Van Kings Park tot Roland Garros

Maria Sharapova ná haar oorwinning Saterdag op Roland Garros

Met die breekkans van die Super 15 word die sportnet die week ʼn bietjie wyer as net die rugbyveld gegooi.

Die Springbokke het dit gemaak, maar ook maar net-net. Verskeie faktore het hier ʼn rol gespeel en ek dink nie ons moet hulle te kras oordeel nie. Voor verlede Saterdag het die manne nog binne spanverband in die Super 15 hulle harte uitgespeel. Maandag het hulle met seer lywe bymekaar gekom en om jou provinsie sommer so goedsmoeds eenkant toe te skuif en in nasionale belang op te tree, is nie so maklik nie.

Die weersomstandighede het ook nie bygedra tot ʼn skouspel nie. Verder moet onthou word dat die Engelse binne spanverband al ʼn hele paar wedstryde agter die blad het. Die Bokke het met redelike gemak die spel oorheers, maar kon nie afrond nie.

Ek voorspel dat ons die Engelse op Ellispark met gemak en met meer as 25 punte gaan klop. Alhoewel Heyneke Meyer gesê het hy gaan sy span onveranderd laat, sou ek tog vir Ruan Pienaar op skrumskakel wou sien. Hougaard se spelpeil is tans nie op sy snykant nie en hy raak te voorspelbaar met sy lugskoppies. Hy bly egter ʼn skitterende speler wat net weer sy ou vorm moet vind (of is dit dalk die geval dat die briljante speler in ʼn patroon ingedruk word wat hom nie gemaklik laat voel nie?). Pienaar se diens was egter flink en vinnig en het onmiddellik gesorg dat daar meer ritme agterlangs was.

Morné Steyn sal sy skopwerk moet slyp want dit sal help om my voorspelling waar te maak.

Die debutante het na my mening goed gedoen en hulle gaan nog almal groot spore in Springbok-rugby trap.

Ons hou duimvas dat die junior Bokkies die knoop teen die Engelse onder 20-span gaan deurhaak. Dit sal egter nie maklik gaan nie, maar die jongelinge het wel die skietgoed om dit te doen. Hou hulle gerus eerskomende Dinsdag dop.

Die damesfinaal op Roland Garros was sag op die oog, veral as jy ʼn ondersteuner van Maria Sharapova is. Sy was klinies in haar oorwinning wat haar ook die nommer 1 vrouespeler in die wêreld gemaak het. Ek het Sondagaand so met een oog na die mansfinaal gekyk en tot dusver was Djokovic sy eie grootste vyand. Hy is tot veel beter in staat.

Ons vroue hokkiespan het wel teen die nommer een span in die wêreld verloor, maar het met soveel eer uit die stryd getree dat dit hulle selfvertroue verseker op ʼn ander vlak geplaas het.

Gelukwense aan Sunette Viljoen wat met ʼn allemintige gooi van 69.35 meter in die spiesgooi, nie net ʼn nuwe SA-rekord opgestel het nie, maar ook in die proses met die huidige wêreldrekordhouer en nommer een in die wêreld, Barbora Spotakova, afgereken het. Ons weet dat Olimpiese goud binne haar bereik is.

Sportgroete tot volgende week

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Polla Roux

Polla Roux is 'n oud-Westransvaler. Na draaie in die onderwys en korporatiewe wêreld, het hy vroeër vanjaar as Organisasiesekretaris by Solidariteit uitgetree.Hy het net meer as honderd Carlton-wedstryde agter die blad (1966-1976), het vir Noord-Transvaal gespeel en is na Springbokproewe genooi, maar sy loopbaan is deur 'n skouerbesering kortgeknip. Hy het gereeld as eerste liga-skeidsregter opgetree en was vanaf 1995 tot 1998 senior bestuurder by die Noordtransvaalse Rugby-unie en betrokke by die skep van die Bloubul-lied saam met Steve Hofmeyr.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.