Van Kuruman tot Cootamundra – die lied van ʼn volk in ‘verstrooiing’

biltong-en-boerewors-dirk-hermann-01

Dr. Dirk Hermann saam met Carl Koekemoer, die eienaar van Biltong en Boerewors in Australië. Foto: Verskaf.

Ons land in die pragtige stad Sydney. Ons beleef die Sydney-operahuis, die Sydney-hawebrug, watertaxi’s en talle ander goed wat nie aan ons in Suid-Afrika bekend is nie.

Daar is tog dinge wat bekend is, soos die Britse argitektuur wat van dieselfde tydperk dateer as die argitektuur van ons stede. Die mense lyk nogal soos ons. Britse kolonialisme het kennelik ʼn stempel op ons almal afgedruk.

Nog bekender is die musiek – Afrikaanse musiek – wat ons hoor. My skoonsus, Yolanda, het ons by die lughawe kom oplaai. Sy en haar man het so 12 jaar gelede na Australië geëmigreer. Haar man, Jacques, is ʼn mediese dokter en hulle woon in die dorpie Cootamundra in Nieu-Suid-Wallis in Australië. In haar motor speel Afrikaanse musiek.

Terwyl ek so na die Afrikaanse musiek in die vreemde luister, betrap ek my dat ek in my kop “En hoor jy die magtige dreuning” neurie, maar my kop verander die woorde wat daarop volg na “…die lied van ʼn volk in verstrooiing wat harte laat sidder en beef”.

Hierdie harte is verlangharte, nostalgieharte, die harte van Skype-oumas wat kleinkinders mis, verskeurde harte, maar harte wat steeds Afrikaanse harte is.

Jacques het gevra ons moet speserye en biltong saambring en so ry ons ʼn draai om dit by die winkel Boerewors en biltong te gaan kry. Boerewors en biltong is so ʼn plekkie buite Sydney waarheen Afrikaners gaan om tuis te voel. Daar word jy in Afrikaans bedien; daar is biltong, boerewors, Mrs HS Ball’s se blatjang en talle ander produkte wat boeretroos bring. Die eienaar Carl Koekemoer gesels land en sand. Hy vertel van die gom wat Afrikaners in die buiteland saambind, van kunstenaars wat opvoerings in die buiteland kom aanbied en van netwerke wat in stand gehou word. In die motor loer ek na die Facebook-profiele van vriende in Australië. Hulle hou van Afrikaanse kunstenaars, is ingeskakel by Afrikaanse groepe en ondersteun Suid-Afrikaanse rugbyspanne.

In Cootamundra aangekom laai ons ons bagasie af. Ons word verwelkom deur die klanke van Bokradio wat oor die internet in die huis speel. Die Woensdag ná ons aankoms het ek ʼn radio-onderhoud met ’n stasie wat op Woensdagaande tussen 20:00 en 21:00 in Afrikaans uitsaai.

Ons verlang na Jacques, Yolanda, Zach en Mariné en hulle verlang na ons. Hulle verlang egter nie net na ons nie; hulle is nog ons.

Dit bring ons by die vraag oor die verhouding tussen Afrikaners in die buiteland en Afrikaners in Suid-Afrika. Moet Afrikaners verstrooi wees of kan Afrikaners oor die wêreld heen steeds aan mekaar gebind wees? Is emigrante verraaiers of kan hulle ambassadeurs wees? Trek Afrikaners oor en weg van Afrikaner-grense of word Afrikaner-grense globaal? Vir Afrikaners is dit nuwe vrae – vrae wat ons dikwels vermy.

Vir die Joodse gemeenskap sal die feit dat ons hierdie vrae vra vreemd wees. Die Jode is globaal aanmekaar gebonde en is ambassadeurs vir mekaar. Hulle val binne die Joodse grense wat groter is as dié van die staat Israel, maar hulle is almal gebonde aan die Jode in Israel en help bou aan die Joodse enjinkamer wat Israel is.

Steven Silbiger skryf in sy boek The Jewish Phenomenon dat die invloed van geloof, etnisiteit en ʼn gedeelde geskiedenis in die Joodse sukses wêreldwyd totaal onderskat word. Hy skryf dat Jode die wêreld oor deur hul tuisland Israel, hul geloof, tradisie en taal aan mekaar gebonde is. Hy sê die benaming “Jode” dui op meer as bloot geloof. Hy beskryf die Jode eerder as ʼn “tribe”.

Volgens Silbiger isoleer dit nie die Jode nie, maar stel dit hulle juis in staat om in die groter gemeenskap te kan presteer. Hy voer aan dat hoe verder jy van die bron van jou tradisie is, hoe kleiner raak jou bydrae wat jy in ʼn nuwe bestemming, soos Amerika, kan maak.

Die Jode ondersteun mekaar oor die wêreld heen, maar ondersteun veral diegene in Israel. Hulle help om hulp- en gemeenskapsorganisasies van die grond af te kry. Hulle stig fondse om die selfhelpdoelwitte van hul gemeenskap oor die langtermyn te bereik. Hul doel is om hul “tribe” so ver as moontlik onafhanklik te maak van die hulp van ander groepe. Die soort hulp wat hulle aan hul gemeenskap gee, het ten doel om die ontvanger van daardie hulp selfstandig te maak.

Die hulp wat hulle verleen, eindig egter nie by hul “tribe” nie. Hulle neem ook aktief deel aan plaaslike politiek en is betrokke by groter gemeenskapkwessies. Hulle gebruik hul kulturele kapitaal en belê dit ook in die groter wêreld waarbinne hulle leef.

Ek het iets daarvan by Jacques en Yolanda beleef. Hulle leef nog uit hul kulturele kapitaal. Daar is steeds ʼn verbintenis aan die Afrikaner-“tribe”. Jacques dra maandeliks by tot ʼn projek vir bejaardes van Solidariteit Helpende Hand en hy oorweeg dit om saam met ʼn paar ander Afrikaanse dokters ʼn studiefonds vir Afrikaanse studente te begin.

Ons onderskat die rol wat Afrikanertradisie, -geloof, -etiek en die geborgenheid van ʼn gedeelde geskiedenis in die sukses van Afrikaners in die buiteland speel.

Daar loop ʼn draad met baie kulturele kapitaal wat Afrikaners dwarsoor die wêreld aan mekaar bind en dié draad moet ons erken en ontgin.

Die Afrikaner-“tribe” is dus groter as net diegene wat in Suid-Afrika woon. As ons die krag daarvan begin ontdek, kan honderdeduisende Afrikaners oor die wêreld heen belê om, soos Jacques, hul “tribe” selfstandig en suksesvol te maak. Hulle kan help om kulturele enjins soos Afrikaanse universiteite, gemeenskapsorganisasies, hulporganisasies en vele meer te bou.

In ruil daarvoor verskaf die “tribe” kulturele energie aan sy lede om suksesvol in hul gemeenskap te wees, of dit nou in Kuruman of Cootamundra is.

Die “tribe” in die land help ook om ʼn veilige omgewing vir familie, oupas, oumas en vriende van lede van die “tribe” wat in die buiteland woon in Suid-Afrika te skep.

Verstrooiing word dan gebondenheid aan mekaar wat baie sterker as bloot Skype-kontak is.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Dirk Hermann

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

10 Kommentare

CJ ·

Dirk. Goeie idee! Baie bly om te hoor jy het sulke oulike familie! Moet egter nie oor-optimisties wees nie. My belewenis is dat baie persone wat emigreer, hulle optrede regverdig deur hulle self te oortuig dat dit baie sleg gaan in Suid-Afrika – selfs tot die punt toe dat Suid-Afrika sleg is. Persone wat as volwassenes emigreer bly grootliks Afrikaans. Jong kinders word egter Engels – per implikasie Australiërs, Kanadese, ens. Vir my die hartseerste is dat stoere Boere-oupas en -oumas met hulle kleinkinders Engels moet praat. Ons is nie soos die Jode nie. Ten spyte van wat jy hierbo skryf, maak die Joodse godsdiens hulle uniek. Baie Afrikaners wat emigreer voel sommer gou tuis in Engelse (lees Australiese-, ens.) kerke. Benut die geleenthede wat ons “ambassadeurs” skep en moet hulle nie vervreem nie. Die harde realiteit is egter dat ons feitlik uitsluitlik op onsself aangewese is (onsself – lees: dié wat bly).

Gerhard ·

Jy is reg dat die meeste Afrikaners net vir een generasie Afrikaner bly, daarna is hulle in geburger. Jy is egter verkeerd as jy dink die meeste voel hulle moet hulself regverdig met die gedagte dat dit sleg gaan in SA. Dit gaan sleg in SA, baie sleg ;-)

Disselboom ·

Die teorie van emigrante wat bydra tot die instandhouding van Afrikanerwees klink goed. Dit gebeur nie juis nie. Die geld gaan in vliegkaartjies vir die eie familiebelang in – om Oupa en Ouma Australië of Kanada toe te piekel vir ‘n besoek aan die kleinkinders, en om pa of ma wat in Suid-Afrika gebly het se begrafnis te kom bywoon.

Aanvaar ‘n uitdaging vir bewyse dat Afrikaner-emigrante wesentlik en gereeld bydra vir Afrikaanse instellings, soos kerk en skool in Suid-Afrika om dit sterk te hou en uit te bou. Bewys die stelling verkeerd dat die pogings om Afrikaner te bly waar mense oorsee woon, oor meer as net persoonlike selfbehoud en selfregverdiging gaan.

Ander vraag is of ‘n immigrant nie eerder sy nuwe tuisland ten volle moet ondersteun, en ‘n Australiër of Kanadees of Brit word en sy gewig voluit daar ingooi nie?

Hendrik ·

Nee wat julle kom trek hier in net buite Pretoria in Kleinfontein. Die ouens wil net praat en kleitjies bak met allerande voorstelle. Met getalle kan ons binne ‘n paar jaar regtig groot raak en baie dinge vermag. Werkskepping vir ons mense en ons het alreeds instansies soos Soltech, Akademia en al die ander tersiere instansies in Pretoria. Komaan mense word wakker en haal die demokratiese oogklappe en die kom investeer. Nyweraars is baie welkom.

Eish ·

Dit is n pragtige artikel met n verfrissende invalshoek wat jou al die goedjies wat wigte tussen ons indryf, totaal laat vergeet. Mens lees dit met n knop in jou keel. Mag die skrywer se droom in ons en deur ons almal realiseer. Ons het so baie wat ons styf aanmekaar vasbind! Ons boeties en sussies in die buiteland werk! Kyk daardie ure wat ingesit word! Dis n grootse taak om almal vas aanmekaar te bind deur ons onderlinge verbondenheid. Mag daar tog iets goed uit die saadjie voortspruit.

Geurt Bloem ·

Dr Herman, wat ek ook hoor is dat daai mense ook wil hoor ons staan sterk. Dit is dan waarom julle so hard werk aan Afrikaans en ook sy mense.
Sommige het definitief hul kanse op oorlewing gaan op weeg teen sy ‘nasie’ en die ‘nasie’ te lig bevind en geskuif. Dit is hul besluit en hul reg.
Ons is besig om almal te verbaas met ons oorlewing en DIT is wat ons aan moet bly werk. Die werk het jy en ander soos jy opgeneem en daar is meer en meer wat dit raak sien. Ons mense het baie aangepas en ons is baie, baie meer volwasse as nasie en dit is waar ons sterkte verder gaan ontwikkel!
Dankie

Veritas ·

Geurt dit lyk my dit is net ek en jy wat dit so insien. Sover dit my aangaan, is die Afrikaner besig om moed te verloor. Waaroor, weet ek nie. As Boerenasie staan ons nog sterk in Suid-Afrika. As dit nie so was nie, sou daar nie so’n aanslag teen ons gewees het nie. Die vyand is jaloers op dít wat die Afrikaner in die verlede bereik het en wat dit vir hulle nog meer onverdraaglik maak, is dat ons nie bes gee nie maar steeds veg vir ons taal en kultuur. Dit moet vir hulle regtig erg wees om hulself as die Afrikaner se mindere te ag. Siestog.

Ampie ·

Afrikaners is ongelukkig nie so patrioties (as dit die regte woord is) soos Jode nie. Die generasie wat oorsee trek, is dalk nog Afrikaners, maar hul kinders word Aussies of Amerikaners of Kanadese. Die wag agter bly moet dit maar besef.

Frans C ·

Die geskiedenis van Israel strek baie verder terug as die geskiedenis van die Afrikaner.Quote from Charles Krauthammer – The Weekly Standard, May 11, 1998

“Israel is the very embodiment of Jewish continuity: It is the only nation on earth that inhabits the same land, bears the same name, speaks the same language, and worships the same God that it did 3,000 years ago. You dig the soil and you find pottery from Davidic times, coins from Bar Kokhba, and 2,000-year-old scrolls written in a script remarkably like the one that today advertises ice cream at the corner candy store.”

Daar bestaan nie by al die Afrikaners dieselfde hegte gemeenskapsdoel nie. Ou bome verplant moeilik, kinders pas makliker aan en word gou deel van ‘n nuwe gemeenskap,met ‘n nuwe taal,kultuur en geskiedenis.Kyk maar hoe lekker die kindertjies die Haka in NZ uitvoer.

Jaco Prins ·

Mooi Stukkie, maar wanneer gaan ons ons eie Israel stig? Die tyd is nou!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.