Van Mandela tot Malema – ‘n voorsmakie

Ernst Roets

Ernst Roets

Die Nelson Mandela-brand het groter geword as die party en selfs die land waarvan hy die president was.  Regoor die wêreld word die Mandela-brand met vrede, vryheid en demokrasie geassosieer.

Time Magazine het Mandela op hul lys van die wêreld se top 25 politieke ikone van alle tye geplaas – hoër as Abraham Lincoln, Cleopatra, die Dalai Lama en Koningin Victoria.  Dié wenner van die Nobel-vredesprys word beskryf as ’n simbool van die struggle teen ongeregtigheid en die verpersoonliking van die stryd vir vrede.

Lojaliteit teenoor die ANC word algemeen regverdig omdat dit “Mandela se party” is  – ’n morele inspuiting waarvoor die ANC ewig dankbaar moet wees!

Ongelukkig ervaar ’n toenemende aantal Suid-Afrikaners dat, ten spyte van hul kleurryke vooruitsigte, geklits met ’n paar jaar van taamlike stabiliteit, die post-1994 Suid-Afrika nie so roemryk en welvarend is soos baie verwag het nie.  In ’n Suid-Afrika waar rassepolarisasie, haatspraak en misdaad toeneem, moet besin word oor die vraag of die “ANC van Mandela” en die ANC van vandag dieselfde organisasie is.  Is die optrede van die ANC versoenbaar met die beeld wat aan hulle toegedig word?  Verdien die ANC om bekend te staan as “die ANC van Mandela” – ’n organisasie wat met alles wat billik en regverdig is, geassosieer word?

Daar is net een manier om dit te antwoord – ’n baie eenvoudige manier.  Ons moet die ANC se optrede in ’n kontemporêre Suid-Afrika evalueer.  Daar is ’n gesegde dat die kern van enige politieke organisasie vasgestel word deur die bestudering van die optrede van sy jeugbeweging.  Dít, nie net omdat jongmense minder diplomaties is nie, maar ook omdat vandag se jeugleiers die toekoms van die organisasie gaan bepaal.  Dit was die geval met die voormalige ANC-jeugleier, Nelson Mandela, net soos dit die geval is met duisende jeugleiers regoor die wêreld.

Dié teorie kan ook getoets word.  Die toets of die optrede van ’n jeugleier binne die ideologiese denkraamwerk van die moederliggaam val, is of die moederliggaam bereid is om hulle daarvan te distansieer of dissiplinêre stappe te neem.  Daar is ook ’n baie skaars uitsondering hierop.  Dit is dat die moederliggaam nie die jeugleier se uitlatings sal verwerp nie, indien sy aansien binne die organisasie groter geword het as dié van die leiers wat veronderstel is om die meeste senioriteit te hê.

AfriForum het onlangs ’n internasionale bewusmakingsveldtog oor die “ANC van vandag” aangekondig.  Die doel hiervan is om vir die wêreld te wys dat die ANC nie verdien om met alles wat billik en redelik is geassosieer te word nie.  Dié veldtog is grootliks gebaseer op ’n reeks skokkende uitlatings wat jy-weet-wie onlangs onder eed in die hof gemaak het, asook die feit dat die ander jy-weet-wie nie bereid is om sy jeugleier se optredes te verwerp nie.  Die veldtog sal op verskeie vlakke gevoer word en sal onder meer  ’n dokumentêre video, ’n webblad en ’n boek insluit.  Dele van hierdie artikel is uit die voorwoord van die boek getrek.

Sonder om te veel te vroeg te verklap, noem ek graag twee voorbeelde wat hierdie teorie bevestig.  Op 8 Mei 2011 het beide die jy-weet-wie’s ’n vergadering in Kimberley toegespreek.  Die jonger jy-weet-wie het in die teenwoordigheid van die ouer jy-weet-wie die skare toegespreek met sy kenmerkende gebulder.  Hy het verklaar dat witmense kriminele is en dat hulle as sulks hanteer moet word.  Die skokkendste was egter sy verklaring dat die wittes wat hul grond sonder vergoeding oorhandig, nie hoef te vrees dat hulle aangeval sal word nie.  Die ouer jy-weet-wie het geknik, gestaan, gepraat, gesit en tot vandag toe hom nie hiervan gedistansieer nie.  Die ander voorbeeld was in 2010 toe die jonger jy-weet-wie deur die moederorganisasie voor ’n dissiplinêre komitee moes verskyn op vier aanklagtes.  Die klagtes het gehandel oor ’n openbare aanval op sy organisasie se president, die sing van “Skiet die Boer” nadat die ANC-leierskap gevra het dat dit nie gedoen moet word nie, inmenging met die vredesonderhandelings in Zimbabwe deur sy party se ondersteuning aan Mugabe en Zanu-PF te verklaar en verbale aanvalle op ’n BBC-joernalis.  Die verhoor is gekenmerk deur geheimhouding en teenstrydige verklarings.  Uiteindelik breek die nuus: Jy-weet-wie het op al vier die klagtes skuldig gepleit, maar is op slegs een skuldig bevind.  Die skuldigbevinding was in verband met sy publieke aanval op die ouer jy-weet-wie.

Hierdie en vele ander voorbeelde laat ernstige vrae onstaan.  Is die “ANC van Mandela” en die “ANC van Malema” dieselfde organisasie?  Het die “ANC van Mandela” die “ANC van Malema” geword of was dit nog altyd dieselfde organisasie?  En die belangrikste… wat is die “ANC van Malema?”

  • Die boek, From Mandela to Malema: The new face of South Africa’s ruling party, word in Oktober uitgegee.  Bestel dit solank by [email protected].

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Ernst Roets

Dr. Ernst Roets is beleidshoof van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anoniem ·

Wat jy se is baie waar en op reg n baie goei vraag. Ek wil n klip in die bos gooi. Ek dink iemand in die ANC is daar gestel om vir Malema voor te se om te doen wat hy doen sodat die aandag van die “moeder-party” geskuif kan word sodat hulle kan aan gaan met hulle gekonkelry, met ander woorde, so lank die werld se aan dag op Malema bly en ne so seer na hulle kyk nie verloor ons dan die perspektief oor waarmee hulle regtig besig is. Dat almal se aandag nou op Malema gevestig is, is dit ook so dat as mens iets se en dan n reaksie ontlont dit die vonk is om te sien wat die volgende reaksie gaan wees daarom hou hy aan daar mee. Die oomblik wat niemand meer n reaksie gaan toon op wat hy doen en se nie gaan dit nie meer aangenaam vir hom wees nie en sal hy dan sy aandag moet hervestig om gehoor en gesien te word en meskien, n groot meskien begin hy dalk iets reg doen. My punt is moet ons nie begin op hou kyk hoeveel keer ons Malema in die nuus en hof kan kry en begin kyk wat die ANC verkeerd doen en hulle dan daarop wys nie.

Leon Visser ·

My opinie die ANC van Mandela (gematigdes na CODESA) is nou ANC van Malema (die regte ANC)….die regte ANC vra jy? Organisation that supports and do not condemn violent acts which are intended to create fear…die ou terroriste organisasie wat ons mee groot geword het!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.