Van MWU tot Solidariteit Beweging

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, sê selfbestuur sal nog momentum kry soos wat Afrikaners sien hoe hierdie projekte sukses begin behaal. Foto: Reint Dykema.

Die Amerikaanse skrywer Mark Twain het vir ʼn koerant wat per ongeluk sy doodsberig geplaas het, geskryf dat die “gerugte oor my dood grootliks oordrewe is!”. Dis omtrent hoe ek gevoel het toe daar in die 1997-uitgawe van die grootste arbeidsverhoudinge-handboek staan dat die Mynwerkersunie onder gaan. Die ergste was dat die professor wat die boek geskryf het reg was dat die vakbond in ʼn bestaanskrisis was. Ek is toe pas as hoofsekretaris verkies, en moes dadelik vure begin doodslaan.

Die dubbele rewolusie van die politieke omwenteling in die land en ekonomiese globalisering, het die vakbond en ons lede soos twee stoomtreine getref. Duisende lede van die MWU het as gevolg van die nuwe rassewette en internasionale mededinging uittreepakette gekry. Sakereuse soos Yskor, Eskom, Telkom en die myne het hul werksmagte met bykans die helfte gesny. Ons het letterlik oor die afgrond gestaar as gevolg van groot ledeverliese en die land wat oornag ʼn vreemde plek geword het.

Talle mense was in die destydse Madibajare onder ʼn soort politieke beswyming van die “wonderwerkskikking” en die blink nuwe toekoms wat onderhandel is. Enige afwykende waarskuwing dat ʼn ANC-regering nie die spreekwoordelike hemel op aarde gaan wees nie, is met vuur en swael begroet. Dit was eensame jare vir mense wat die ANC se dokumente gelees en geglo het dat hulle ernstig was om te doen wat hul daarin sê. Ek moes verskeie kere verduidelik dat ek nie terugverlang na die verlede onder die NP nie, maar beslis nie uitsien na die toekoms onder die ANC nie.

Boer maak ʼn plan

Een van die min mense wat gebel het om my geluk te wens met my aanstelling, was my arbeidsverhoudingeprofessor by die destydse RAU, prof. Luther Backer. Hy het sommer met die deur in die huis geval en gevra in watter rigting ek die vakbond gaan lei. Ek kon hom met beslistheid antwoord, want ek het lank daaroor gedink en sou nie die pos aanvaar het sonder ʼn plan vir die toekoms nie. ʼn Boer maak immers ʼn plan!

Daarom het ek dadelik geantwoord dat my doel is om die MWU tot ʼn beweging van organisasies uit te bou, gebaseer op die model van die Israelse Histadrut waarvan prof. Backer ons geleer het. Die Histadrut is deur mense soos David Ben Gurion en Golda Meir gestig. Hulle het onder meer kibboetse, ʼn vakbond, ʼn welsynsorganisasie, koerante, ʼn sakebeen en kolleges begin waarmee hulle Israel van die grond af opgebou het. Prof. Backer was opgewonde, en het my aangeraai om self in Israel te gaan kyk om te leer wat van toepassing in ons omstandighede sou wees. Dit het ek op eie koste gedoen, en gewapen met nuwe kennis was dit moontlik om my kollegas aan te vuur met ʼn nuwe visie.

Span vir die plan

Die eerste twee stappe wat ek moes doen was bitter moeilik. Die eerste stap was om ʼn bekwame span op te bou om die plan verder uit te werk en uit te voer. Sonder die regte span, sou geen plan kon werk nie. Die probleem was om die regte leiers te kry, veral omdat sulke mense uiters skaars was. Ek het net ʼn droom gehad om hulle te lok, sonder die hulpbronne wat daarvoor nodig was. Daarom het ek begin om sterk jongmense te oorreed om saam aan die droom te begin werk.

Ek het Dirk Hermann oor die destyds nuwe internet ontmoet toe hy in Amerika was, en hy was die eerste aanstelling wat ek gemaak het. Die tweede aanstelling was Henk Schalekamp, met Kallie Kriel wat ʼn ruk daarna gevolg het. Gelukkig het van die bestaande mense soos André Vermaak, Piet du Plooy en ander vinnig in die nuwe visie ingekoop en saam begin werk om dit ʼn werklikheid te maak.

Die tweede stap was om die organisasie te oortuig om ʼn nuwe rigting in te slaan. Daarvoor het ek begin met die leuse “skeppende vernuwing gegrond op beproefde waardes”. Dit was ʼn geval van “hoede af vir die verlede, baadjies uittrek vir die toekoms”. Dit is met groot dankbaarheid dat ek kan sê dat die vakbond se hoofraad heelhartig in die nuwe visie ingekoop het, en dat mense soos Steve Scott, Blackie Swart, Deon de Vries, Johnny Esterhuyse en talle ander die skouer aan die wiel gesit het en gehelp het om die wa deur die drif te trek.

Tydens die eerste kongres na my aanstelling het die Nasionale Raad die plan om ʼn Beweging te stig feitlik eenparig aanvaar. Almal het besef dat normale werk nie moontlik gaan wees in ʼn abnormale land nie, en dat ʼn Beweging wat op alle belangrike gebiede dienste lewer noodsaaklik gaan wees om ʼn normale bestaan te kan voer.

Ons was ʼn klein groepie mense wat aan ʼn baie groot droom begin werk het. Dit was om Solidariteit te vestig as die middelpunt van ʼn Helpmekaar-beweging wat die omstandighede kon skep waar Afrikaners blywend vry, veilig en voorspoedig in Suider-Afrika kon voortbestaan. Dis die enigste manier waarop ons ʼn volhoubare bydrae tot die welstand van die land en al sy mense sou kon lewer.

Krisisbeweging

Die span het die plan verder uitgewerk en ontwikkel, en die Beweging se organisasies is die een na die ander gestig en het begin groei en ʼn verskil begin maak. Ons sin vir dringendheid het ons aangevuur om kliphard te werk, omdat ons die Beweging begin het juis omdat ons krisisse voorsien het.

Ons het die krisisse een vir een gepak, vanaf die diskriminerende rassewette, die platval van tegniese opleiding, die afskaling van Afrikaans, die groeiende armoedeprobleem, geweldsmisdaad, die verval van dorpe en vele meer. Teen die tyd wat die Covid-19-krisis die land getref het, was ons Beweging slaggereed om die soveelste krisis aan te pak en sterker anderkant uit te kom. Al ons organisasies het uitstekend presteer, danksy die harde werk van ons rade, besture, personeel en landswye spanne vrywilligers.

Natuurlik weet ons dat daar nog baie is wat gedoen moet word, maar ons kan met dankbaarheid teenoor ons Hemelse Vader en trots op ons mense terugkyk op die afgelope 25 jaar se bouwerk. Dit help nie om net te kla oor dit wat verkeerd is in die land nie. Dit ís so dat soveel van wat opgebou is verval, verlore of oorgevat is. Ons mag nie moedeloos raak oor dit wat ons nie kan verander nie. Ons moet eerder werk aan dit waaraan ons wel iets kan doen. Kom ons pak die volgende fase van die bouwerk met al sy uitdagings aan deur mekaar aan te vuur om te doen wat ons kan, waar ons is, met wat ons het.

Boubeweging

Baie mense dink die einde van Afrikaners se geskiedenis het aangebreek. Hierdie “gerugte oor ons dood” is grootliks oordrewe! Ons Beweging beskerm en bou om te verseker dat ons toekoms nóg beter as ons verlede is.

Ons brand en breek nie, ons bou en beskerm. Ons wag nie dat die regering ons probleme oplos nie, ons sal dit self doen, en ons sal ook dit saam doen as dit kan. Ons het in die jare wat verby is vinnig gevorder met al die “kamers” van die kulturele tuiste en tuisvoelruimtes wat ons besig is om te bou.

Kom ons bou voortaan vinnig verder aan die Afrikaanse ruimtes en kulturele infrastruktuur wat ons nodig het vir ʼn volhoubare, vrye, veilige en voorspoedige voortbestaan.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Wilhelm ·

Flip ek hoop om jou eendag te ontmoet sodat ek jou kan bedank vir dit wat jy en jou span doen.

ABDP ·

Ek en my gesin staan bankvas agter julle! dankie vir die wonderlike vooruitsigte. Ons kan want ons sal self!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.