Van rommel tot gemors

bennie-van-zyl-tlu-sa

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA. Foto: Facebook.

Deur Bennie van Zyl, hoofbestuurder: TLU SA

Onlangs het die president van TLU SA in ʼn mediaverklaring gesê as daar so ʼn kategorie was, sou Suid-Afrika waarskynlik kon kwalifiseer vir gemorsstatus, wat uiteraard ʼn graad erger is as die pas verworwe rommelstatus.

Dit laat onwillekeurig die vraag ontstaan wat dan nou die huidige status is van ʼn land soos Zimbabwe. Doen graderingsagentskappe nog die moeite om te probeer kyk of daar iewers ʼn vlammetjie van hoop onder die rommel te vinde is met die oog op die toekoms?

Die volgende vraag is dan hoe lank dit Suid-Afrika sal neem om by daardie selfde posisie uit te kom, met ander woorde, hoe lank het die regering nodig om die huidige rommel in ʼn totale gemors te omskep?

Regeringsleiers skyn ongeërg hieroor te wees, en natuurlik word dieselfde ou rympie gesing, naamlik dat dit maar deel is van die erflating van die verlede, en dat die graderingsinstansies nie in ag neem waar die land vandaan kom nie. Dit is natuurlik loutere onsin. Die gradeerders kyk na die toekoms, en neem waarskynlik die bewese potensiaal van die verlede in ag, en ongeag hulle moontlike politieke bril sien hulle geen ontwikkeling nie maar slegs agteruitgang.

Eweso is daar kommentators wat aan strooihalms vasgryp, en in wese niks anders as ʼn valse gerusstelling kweek nie. Die protesoptogte van verlede Vrydag word as een van daardie strooihalms gesien. Hulle glo dat die graderingsagentskappe die burgerlike ongelukkigheid sal raaksien en dit in ag sal neem om nie te hard op die land se graderings vir die toekoms te wees nie. Net soos die kommentators glo dat die optogte die einde van pres. Jacob Zuma se ampstermyn gaan wees. Die feit bly dat die kiesers vir die ANC gestem het, die ANC het Zuma as sy leier verkies, en die ANC het hom weer eens agter Zuma geskaar. In terme van die huidige definisie of praktyk van die demokrasie is Zuma dus onaantasbaar en kan hy voortgaan met sy radikale ekonomiese transformasie.

Dit is dalk ʼn sterker punt om met ons eie radikale ekonomiese opbou te begin. Dit sal egter beteken dat ons vernuwend en dalk selfs radikaal anders sal moet begin dink en optree om op enige wetlike wyse denkbaar die ANC en EFF se ekonomiese revolusie te frustreer. Doen ons dit nie, pleeg ons ʼn stadige en pynlike selfmoord.

Dit was dieselfde TLU SA wat die insinuasie gelaat het: om selfs net gedeeltelik mee te doen met regeringsprojekte, gaan lei tot algehele selfvernietiging. Boere, en vir die argument sluit dit sakemanne in, wat bereid is om 10 of 50 persent aandele van hulle boerderye of besighede af te staan, is nie meer in beheer nie. Daardie wig gaan die deur uiteindelik oopdwing tot wawyd oop, wat 100 persent is.

Die Instituut vir Rasseverhoudinge het ook al daarop gesinspeel dat boere en besighede moet kennis neem van wat die regering doen, maar voluit aangaan met hulle bedrywe en om hulleself sterk te maak sonder om mee te doen aan regeringsbeleid, ten minste nie vrywillig nie. Die regering se vermoë wat die afdwing van sy kommunistiese maatreëls betref word elke dag minder omdat sy krag op elke terrein van regering afneem. In daardie opsig kan dit selfs voordelig wees dat bekwame ministers met swakkes vervang word. Daaruit kan ons net sterker groei as ons dit uit ʼn posisie van beginsel en eendrag aanpak.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Merkur ·

Hopenlik kan die selfvernietiging van die regering as kans vir nuwe moontlikhede gesien en benut word.

Afrikaanse Knaap ·

Ek stem met die skrywer saam. Jy staan nie 1% aan hulle af nie. Die ANC en die regering het absoluut geen respek vir boere en hulle kennis en hulle struwelinge nie. Hulle gaan net wil hê en absoluut niks bydra nie en niks tafel toe bring nie.

Ken2 ·

Hoe meer jy afstaan hoe meer sal hulle bly soek. Ons gee dan vernietig hulle dit en wil dan meer he tot daar niks meer oor is nie. So ons moet sê genoeg is genoeg.

apie ·

stem saam. mense wat goed verniet kry waardeer niks. leer ook niks. Is baie waar dat die regering verswak by die dag.

Henry ·

Hoe lekker is dit om die kommentaar van ‘n kundige op beide die teoretiese, maar veral die praktiese en uitvoerbare terreine te lees!!!

Die ANC wat die sogenaamde Nasionale Nemokratiese Rewolusie aanstook, is bloot besig om hul Marxistiese ideologie aan hierdie droewe land en sy inwoners op te dwing. Dit is verblydend dat die TLU die probleme wat ons in die gesig staar, korrek identifiseer en hul lede dusdanig op hoogte hou en adviseer.

Hartlike dank aan Mnr van Zyl wat soos die here – Flip Buys, Kallie Kriel en hul kollegas, ons van pitkos voorsien.

In teenstelling met sommige kommentators/ kommintatorre wat in die SA media doenig is en wie se skryfsels dikwels met die van ‘n tuindwergie s’n ooreenstem, kan Mnr van Zyl se vermoë om op onbeskroomde en klinklare wyse die gevare en moontlike oplossings vir verwikkelinge in Suid Afrika te identifiseer, met waardering geniet word.

Dirk Breytenbach ·

En daar is ook ‘n dawerende stilte van groot besigheid af, is dit omdat hulle reeds hul eie harte uitgeruk het met aandele aan die swart elite? Is dit dalk ‘n stille instemming vanaf sakeleiers dat hulle tevrede is met die huidige politieke en ekonomiese klimaat wat deur korrupsie en onkunde daargestel is?

Gemorsie ·

Aanvaar almal in SA is gemors en wees tevrede om nog n dak oor jou kop te kan he !

John ·

Met antie X aan die stuur gaan ons nog verder af beweeg na ‘n wat-de-drommel-status.

Ramkat ·

Dit is opvallend hoedat die zmorongesindes die protesoptogte die afgelope week probeer afmaak met siening wat hoegenaamd nie met die werklikhede van die dag.ooreenstem nie.
Met Z Dlamoron Zmoron het ook nou n eiertjie gele wat ek moeilik gevind het om te volg so dwaal sy in haar argument.
Geen wonder Afrika state het.haar die trek pas gegee.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.