Van toeka tot nou: Republiekwording en die Solidariteit Beweging

31-mei

Hierdie foto is geneem op 31 Mei 1961 op Kerkplein om 12:00, oomblikke nadat Suid-Afrika formeel ‘n Republiek geword het. Foto: FAK/Afrikanergeskiedenis.co.za

Die republiekwording (1961) was vir Afrikaners ʼn vreugdevolle gebeurtenis, omdat die republikeinse droom van vryheid en selfbestuur lank gekoester was. Die dryfkrag van die #OnsSalSelf-slagspreuk van die Solidariteit Beweging is ook ʼn vreugdevolle gebeurtenis, want om staatsbestand te wees maak jou vry en dit maak die doelwit van selfbestuur toenemend haalbaar.

Waarom sal ek die republiekwording en die Solidariteit Beweging gelykstel aan mekaar? Waarom sal ek die behoefte hê om die twee hoegenaamd te korreleer? Wel, daar was ʼn rede waarom die republikeinse droom in die Afrikanergeskiedenis gekoester is en vandag is daar ʼn rede waarom die federale droom vir die Afrikanertoekoms gekoester word.

Ek kyk na Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, se een toespraak getiteld: “Die staat is dood, lank lewe die republiek!” Ek stem saam – die staat is dood. Ek stem saam – lank lewe die republiek.

Maar ek praat van die republiek en nié die Republiek nie. Die Republiek het te groot geword en word toe ook ʼn groot staat waar die Afrikaners se republikeinse gees verlore gegaan het. So, hoe leef die republiek as die Republiek (staat) sterf?

Die Republiek van toe

Die republiekwording van 1961 het ʼn groot rol in die geskiedenis van die Afrikaner gespeel, want die republikeinse idee was van die begin af deel van die Afrikaner se karakter.

Republikeine laat nie oor hulle heers nie – hulle hou van selfstandigheid en handhaaf ʼn interessante verhouding tussen groep en individu. ʼn Republiek, as regeringsvorm, bied vryheid. Dit bied ook verantwoordelikhede wat dui op ʼn gebondenheid aan mekaar – iets wat help om ʼn ongesonde fokus op hiperindividualisme te verhoed.

Afrikaners se wortels lê in die Reformasie wat onder meer gelei het tot direkte toegang na die ware Middelaar, persoonlike verlossing, dankbaarheid en gesamentlike verantwoordelikheid. Afrikaners het die Protestantse tradisie aangeneem: fokus op verantwoordelikheid in gedesentraliseerde betrokkenheid.

Die Afrikaners wou nie dat daar oor hulle geheers word nie. Hulle verdedig met die Eerste Vryheidsoorlog hulle republieke en verslaan die magtige Britse ryk. Hulle betaal daarna 33 000 vrouens en kinders vir die koningin se wraak (tydens die Anglo-Boereoorlog), maar verloor hulle republieke. Die republikeinse gees was egter nie verlore nie. Ten spyte van Britse oorheersing het die Afrikaners republikeinse instellings gebou en republikeinse dade gedoen, wat tot die groot opstaan ná die Boereoorloë gelei het.

Die strewe na ʼn republiek word nog die hele tyd gekoester, want Afrikaners wil nooit weer die pyn van die konsentrasiekampe beleef nie. Op 31 Mei 1961 kom massas mense uiteindelik op Kerkplein byeen vir die republiekwording. Dit was groot en die republikeinse ywer, daarna, ook. Afrikaners het binne een geslag ʼn moderne staat, ekonomie en weermag opgebou.

Maar die Republiek was so groot dat Afrikaners se republikeinse gees begin kwyn het.

Die republiek van nou

Die Solidariteit Beweging vier sy 120ste bestaansjaar. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Vandag word Afrikaners weer deur heersers, wat glo in ʼn sosialistiese staat waar alles gesentraliseer word, vervolg en teen gediskrimineer.

Afrikaners is vas in hierdie staat, maar kan deur republikeinse idees bly leef en na vryheid streef. Kyk net hoe Afrikaners vandag in ʼn swak, onvriendelike staat ʼn toekoms bou waar hulle soos die Solidariteit Beweging sê: “vry, veilig en voorspoedig” kan wees.

Afrikaners word weer republikeine deur die Republiek van die Solidariteit Beweging. Dit is ʼn kragtige netwerk wat saambind. Sonder staatsbetrokkenheid kry hierdie kragtige netwerk van republikeinsgesinde Afrikaners dit reg om grootskaals ʼn beter toekoms aan die suidpunt van Afrika te skep.

Dink aan die 165 AfriForum-buurtwagte en veiligheid. Dink aan Akademia, Sol-Tech en opleiding. Dink aan Solidariteit en werk. Dink aan AfriForum se groeiende takke en munisipale dienste. Dink aan Helpende Hand en gemeenskapsontwikkeling. Dink aan Maroela Media en Afrikaanse nuus. Dink aan die Solidariteit Regsfonds en die stryd teen rasmalheid. Dink aan die FAK en kulturele gebondenheid. Dink aan Kanton Eiendomme en leefruimtes vir Afrikaans. Dink aan soveel ander klein republikeinse dade wat groot is!

Ek kyk na Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, se onlangse artikel waar federalisme as oplossing teen Suid-Afrika se mislukkende sentralisme voorgehou word. Dit kom neer op dieselfde: “die staat is dood, lank lewe die republiek!” Die Republiek van die Solidariteit Beweging, beslis. Die Afrikaners leef steeds volgens die Protestantse tradisie om verantwoordelikheid deur gedesentraliseerde betrokkenheid te neem. Hierdie tradisie het gelei tot die groot republiekwording van 1961 en dit kan weer lei tot suksesvolle federalisme, waar sterk en selfstandige gemeenskappe hulle toekoms in hul eie hande neem.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: René van der Vyver

René van der Vyver is woordvoerder van AfriForum Jeug. René het haar meestersgraad (cum laude) in Toerismebestuur aan die Noordwes-Universiteit verwerf. Sy het haar navorsingstema, “Kreatiewe Afrikanerkultuurtoerisme”, ontwerp omdat sy passievol is oor die Afrikanerkultuur. René se passie gee egter die toon aan op verskeie gebiede, soos wanneer sy standpunt inneem oor aktuele kwessies op Twitter en YouTube (@realReneKruger).

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Is Solidariteit nou Afrikaners se nuwe regering?

Sterling ·

Goed geskryf!

Ek dink die kern wat mens hieruit moet neem, is ‘ons’ voorgangers het iets onmoontlik vermag. Naamlik republiekwording. Hul voorgangers het Republieke gestig. Hul voorgangers het die Groot Trek vermag. Hul voorgangers het ‘n nuwe lewe begin aan die Suidpunt van Afrika.

Tans lyk federalisme of selfs selfbeskikking ‘n politites onmoonlikheid, maar op grondvlak is dit reeds besig om gestalte te neem. Ons moet net aanhou ‘n toekoms bou en hoop skep ipv om te verval in ‘n gees magteloosheid. Ons moet terugkeer na die pioniersgees wat Afrika getem het! Die selfdoen houding ipv die staat sal…

Republikein in die Wes Kaap ·

Die enigste plekke waar dit sal werk is in gebiede soos Orania en Kleinfontein. In middelklas stedelike woonbuurte word Afrikaners verdring deur mense van kleur. Skole is lankal oorgeneem. Die platteland het reeds grotendeels ontvolk. Die selfdoen sal ander groepe eintlik meer bevoordeel, soos veiligheid, skoon water, rioolering, slaggate en skoon parke.

kaplyn ·

Suidlander so wat stel jy voor? Die Afrikaners staan almal in ‘n kringetjie en huil op mekaar se skouers? Nee wat, harde werk maak jy vry! Doen dit self!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.