Van Wyk Louw en MER se oorlewingskrisisse vir die Afrikaner

NP van Wyk Louw

Ter viering van Van Wyk Louw se honderdste verjaardag het ’n geselskap onder leiding van John Kannemeyer en Wium van Zyl op Sutherland hulde aan dié groot gees gebring. Ek was bevoorreg om by die geleentheid oor Louw se politieke nalatenskap te praat. Hy is seker die Suid-Afrikaanse denker wat op my die grootste invloed gehad het. Sy woorde oor die noodsaak van “voortbestaan in geregtigheid” wou my geslag Afrikaners nie laat los nie, net soos Andries Stockenstrom se aandrang op “waarheid en geregtigheid” in die eerste helfte van die negentiende eeu by die boere aan die Oosgrens bly weerklink het (Giliomee, 2003:133-136).

Van Wyk Louw en sy tyd

Daar was ’n tyd in die 1980s toe Van Wyk Louw se politieke beeld troebel was. Sekere akademici en joernaliste het hom dadelik in verband gebring met Afrikanernasionalisme en sy “medepligtigheid” aan apartheid (Olivier, 1992; Sanders 1999). Hierteenoor het J.C. Steyn die klem laat val op Louw as die denker wat hom teen enige ideologiese hegemonie verset het en wat steeds die oop gesprek en volkskritiek bepleit het. Daarmee het hy die Afrikaners tot kritiese ondersoek gedwing oor hul uitoefening van mag in die apartheidsbestel. (Steyn, 1998: 639-42,784-88,953-58; vir ’n ontleding van die botsende benaderings, kyk Nash, 2000:8-22.)

Louw se uitsprake oor die rassebeleid is nog nie behoorlik gekontekstualiseer nie. Sy vormende politieke jare was tussen 1936 en 1956, toe segregasie in Suid-Afrika en in die Westerse wêreld nog baie sterk gestaan het. In 1939 het Alfred Hoernlé, die voorste liberale intellektueel van die eerste helfte van die twintigste eeu in Suid-Afrika, gesê dat dit ’n besoeker van Mars onmiddellik sou opval hoe allesomvattend die stelsel van rasse-uitsluiting en -diskriminasie is. Die besoeker sou tot net een gevolgtrekking kom: “[There is] a dominant urge towards segregation, which has moulded the structure of South African society and made it what it now is.” (Hoernlé, 1945: 96-97)

Hoernlé self het rassevermenging tussen wit en swart afgekeur, maar wel op maatskaplike en politieke gronde en nie op biologiese gronde nie. Hy het geglo dat “race purity” noodsaaklik is vir “racial respect and racial pride”. Dit was, in sy woorde, die opvatting van “the best public opinion, the most enlightened racial self-consciousness, of natives no less than of whites”. The Forum, ’n tydskrif wat gestig is om die liberalisme van Jan Hofmeyr te ondersteun, was “revolted” deur bloedvermenging. Dit het residensiële en maatskaplike segregasie bepleit, maar nie wetgewing voorgestaan nie. (Kyk Giliomee, 2003:449.)

“Voorwaarts met hoop”

As daar een ding was wat Van Wyk Louw op politieke gebied nie kon verdra nie, was dit die oproep van sommige liberale dat ’n mens oor Suid Afrika se politieke toekoms die vertroue en geloof moet hê dat dinge goed sal afloop as liberale waardes vir ’n oplossing aangewend word. J.H. Hofmeyr, kabinetslid, Jan Smuts se regterhand en die vernaamste voorstander van liberalisme in die Verenigde Party, was sy vernaamste teiken.

In 1936 het Jan Hofmeyr sy politieke geloofsbelydenis uitgespel. Hy het die liberale benadering voorgehou as een wat visie, verbeeldingrykheid en geloof vereis. Geen waarborge kon verskaf word oor waarheen dit sou lei nie. In 1945 het Hofmeyr sy denke verder uitgebou in ’n toespraak getitel “Christian principles and race problems”. Hier het hy geloof teenoor vrees gestel. Hy het toegegee dat daar gronde is om swart oorheersing te vrees, veral as gedink word aan die groot swart getalsoorwig. Die regte benadering is egter om beginselvas te wees en in geloof die stryd aan te durf (Hofmeyr, 1945:16-17). Hierdie mengsel van liberale beginsels en Christelike hoop en vertroue was die kenmerk van die Suid-Afrikaanse liberalisme.

Vir Hoernlé was dit nie goed genoeg nie: Hy het die uitdaging tot die liberale gerig om die liberale beginsels weer van nuuts af in die veelrassige situasie van Suid-Afrika te probeer deurdink. Hy het daarop aangedring dat die liberale die volgende vraag moet kan beantwoord: “Wat is ons langtermyn politieke doelstelling?” (Hoernlé, 1939: 149-68)

Teen 1948, toe die NP aan die bewind gekom het, het liberale akademici nie universele stemreg bepleit nie. Die twee mees belowende jong liberale historici, Arthur Keppel-Jones en Leonard Thompson, het in die woorde van eersgenoemde verklaar dat ’n vorm van demokratiese regering waar die meerderheid onbeperkte mag geniet, nie kan werk in Suid-Afrika met al sy rasse en etniese groepe nie. Keppel-Jones en Thompson het gehoop dat ’n nie-rassige gekwalifiseerde stem swart kiesers meer gematig sou maak en dat hulle op grond van hul middelklasbelange eerder as hul rasse of etniese identiteit sou stem. (Kyk Giliomee, 2003:481).

Louw se kritiek

Vir Louw was die probleem dat mense wat die gekwalifiseerde stemreg voorstaan, die ontoepaslike model van Brittanje voorhou. Hier is die stemreg in die 100 jaar ná 1832 van een klas na die ander uitgebrei tot daar universele stemreg was. Maar die uitbreiding van ’n gekwalifiseerde stemreg het net in klas-gebaseerde lande gewerk, nie in lande waar die sosiaal-politieke strukture op ras en etnisiteit gebaseer was nie. Die gekwalifiseerde stemreg het in geen ander veelrassige land stabiliteit gebring nie en daar was geen rede om te glo dat dit ’n werkbare oplossing vir Suid-Afrika sou wees nie.

Vir Louw (1986,1:505) het Hofmeyr se visie van ’n Suid-Afrika gebaseer op ’n liberale grondwet beteken dat die twee betreklik ontwikkelde blanke gemeenskappe sou “versink tot magtelose minderhede tussen ’n massa swartes”. Die Afrikaners was geen klein koloniale groep nie en het, anders as die Engelssprekendes, nie ’n ander land gehad om na te vlug nie. Om “liberaal” te wees, het vir die Afrikaner op nasionale selfmoord en vernietiging neergekom. Louw het bygevoeg: “En as hy [die Afrikaner] hier so ’n minderheid word, dan weet hy dat hy so hulpeloos as die Jood in Duitsland sal wees.” In Louw se oë was liberalisme in Suid-Afrika steriel as dit “volle demokrasie” eis in ’n land waar “eenvormige gelykheid alleen oor die liggaam van ’n hele volk heen bereik kan word” .

Louw se probleem met Hofmeyr en ander liberale was hul gebrek aan realisme. Hulle het nie die oorwig van swart getalle in berekening gebring nie en was onwillig om met Suid-Afrika as ’n heterogene samelewing erns te maak. In abstrakte terme klink die liberale eise van vryheid, gelyke regte en gelyke kanse vir almal “byna vanselfsprekend billik”, maar in die praktyk is die implikasies vir die etniese minderhede ontstellend (Louw, 1986,1:502-506).

Nasionalisme en apartheid

Apartheid was Afrikanernasionalisme se antwoord op liberalisme eerder as op ’n opkomende swart nasionalisme. In sy boek The Dilemma of South Africa, wat in 1953 verskyn het, vertel John Hatch, ’n Britse joernalis, dat Eben Dönges, minister van binnelandse sake, aan hom gesê het dat apartheid vir hom en sy kollegas beteken dat die huidige en die volgende twee geslagte teen die gevare van ’n vinnig groeiende swart en bruin bevolking beskerm word. Apartheid was ten minste vir Dönges, een van die hoofargitekte, veronderstel om ’n middel te wees tot ’n meer aanvaarbare stelsel. In die openbaar het Nasionale Party (NP)-leiers egter gou apartheid tot ’n doel op sigself en tot ’n permanente oplossing verklaar (Hatch, 1953:93).

Louw se oplossing vir die wit-swart-probleem was skeiding. Hy het geskryf: “[Die] erkenning van die nasionale prinsiep vir die Afrikaner moet logies die erkenning daarvan vir alle nasionale groepe in Suid-Afrika insluit. Ons mag dan nie praat van onsself as ‘die volk van Suid-Afrika’ nie, maar as ‘een van die volke van Suid-Afrika’. Ons moet konsekwent en radikaal dink aan die Unie as ’n multi-nasionale staat en ons vraagstukke begin deurdink binne die grense wat vir ons deur die konkrete politiek geskep is.”

Teen 1948 het hy vier wit en vier swart afsonderlike state in Suider-Afrika voorsien. Maar sy denke oor die hele kwessie van ’n verdeling van die land het vaag gebly. In 1960 (Louw, 1960) het hy net sydelings verwys na die noodsaak om plek te maak vir “twee soorte mense” in “twee helftes van hierdie groot land van ons”.

Louw se woorde oor “skeiding” kon op verskillende wyses gebruik word. In die 1960s en vroeë 1970s het apologete vir apartheid formulerings en beeldspraak gebruik wat baie klink na dié wat die eerste keer deur Louw in die 1940s aangewend is. Maar terselfdertyd het sy beskouing van die Afrikaners as slegs een van verskillende gelyke volke die ideologie van wit baasskap ondermyn (Olivier, 1992:228-45; Giliomee, 1987:363-83).

’n Pregnante frase

Die werklike rede waarom Van Wyk Louw se politieke opvattinge lank ná hom geleef het, was die etiese dimensie wat hy in die debat oor Afrikaneroorlewing ingevoer het. Hy het dit gedoen deur die pregnante frase “voortbestaan in geregtigheid”. Sy argument was dat die dood van die volk verkieslik is bo ’n volksbestaan gegrond op ongeregtigheid. Sy belangrikste opstel in hierdie verband, “Kultuur en Krisis”, is die eerste keer in Augustus 1952 in Die Huisgenoot gepubliseer.

Louw was in Amsterdam werksaam toe hy hierdie opstel geskryf het. Watter impulse die sterkste op hom ingewerk het, is onmoontlik om vas te stel. Miskien was dit die opsienbarende toespraak wat die groot Joodse filosoof Martin Buber kort tevore in dié stad gehou het. Sy tema was dat Israel deur die waarheid en geregtigheid teenoor die Palestyne met wie hulle die land deel, verlos sou word. Maar dit is ook moontlik dat Louw veel dieper as ander Afrikaners onder die besef gekom het van die waansin wat gelei het tot die opkoms en ondergang van Nazi-Duitsland. (Giliomee, 1994: 527-48)

Die onmiddellike prikkel vir sy opstel was die toepassing van die NP-regering se wetgewing op groepsgebiede en kleurvermenging, wat ’n diep kloof tussen wit en bruin Afrikaanssprekendes veroorsaak het. Hy het geweier om te glo dat hierdie wetgewing noodsaaklik is vir die oorlewing van die Afrikanervolk. Dit was in hierdie verband dat hy die treffende passasies geskryf wat in die volgende vier dekades in die openbare debat sou eggo.

Hy (Louw, 1986,1:457-459) het drie soorte volkskrisisse geïdentifiseer waartydens die voortbestaan van ’n volk in die gedrang is.
• Eerstens kan ’n volk deur militêre oorrompeling (soos Transvaal in 1899) of deur toeploeging (massa-immigrasie, en dies meer) bedreig word. Milner se pogings om Engels die enigste ampstaal te maak van die verowerde republieke en die beplande nuwe Suid-Afrikaanse staat, was klaarblyklik ’n voorbeeld, maar Louw het ook verwys na meer tydgenootlike gevalle. Een daarvan was die gedagte wat tussen 1945 en 1948 onder ondersteuners van die Smuts-regering vaardig was om massa-immigrasie van Europa aan te moedig. Louw verwys na praatjies van ’n blanke “volk” van tien miljoen in Suid-Afrika, wat die Afrikaners tot ’n posisie vergelykbaar met die “rol van immigrante-Pole in die VSA” sou reduseer.
• Die tweede krisis is geestelik van aard en kom voor wanneer “’n groot deel van ons mense self daaraan sou begin twyfel of ons as volk moet voortbestaan”. Die gevaar ontstaan wanneer ’n deurslaggewende getal van dergelike mense besluit die geesteslewe van die volk is te swak en dat die taal te weinig bied om “die honger van die verstand te versadig”. Hierdie soort krisis is nie ’n gevaar by ’n groot volk nie, maar wel by ’n klein volkie soos die Afrikaners. ’n Duisend wat kan dink en skryf, kan ’n hele volk swaai.
• Dan is daar ook ’n derde moontlike krisis, wat ’n etiese krisis is en een van die uiterste krisisse waarin ’n volk kan beland. Hy verduidelik dit so: “Gestel dat ’n volk ‘tussen die engtes’ ingekom het – vind dat hy hom op lewe en dood moet verdedig; hy span alle stoflike en politieke kragte in, behoed en brei sy geestelike, tegniese, intellektuele besit uit, doen alles wat hy kan, om te bly voortbestaan…
• Dan kom hy voor die laaste versoeking: om te glo dat die blote voortbestaan verkieslik is bo die voortbestaan in geregtigheid.” Vir die Afrikaners sal ’n krisis van hierdie aard aanbreek “wanneer ’n groot deel van ons volk in die gevaar sou kom om te meen dat ons nie in geregtigheid met ons mede-volke in Suid-Afrika hoef saam te leef nie: sou kon meen dat blote voortbestaan die hoofsaak is, nie regverdige bestaan nie”.

Louw het besef dat die vraag gestel kan word of dit hoegenaamd die hele voortbestaan van ’n volk kan bedreig. Sy antwoord was: “Hoe kan ’n klein volk lank bly voortbestaan, as hy iets haatliks en iets boos is vir die beste binne – of buite – hom?” Vir Louw was dit inderdaad “die grootste, die byna mistieke krisis waarvoor ’n volk te staan kan kom”. Hy sluit af: “Ek glo dat op ’n vreemde manier dit die krisis is waaruit ’n volk herbore, jonk, skeppend, te voorskyn kom, hierdie ‘donker nag van die siel’ waarin hy gesê het: Ek sal liewer ondergaan as deur ongeregtigheid bly voortbestaan.” (Louw, 1986,1: 462-63)

Louw het ’n troue lid van die Afrikaner-Broederbond en ondersteuner van die NP gebly. Om hierdie rede het sommige skrywers hom negatief beoordeel. In laaste instansie hang sy status as kritikus egter af van die vraag of hy ’n punt kon voorsien waar die volk om etiese redes tot die besluit kan kom om die mag prys te gee en die toekoms daarsonder aan te durf. En vir Louw was daar so ’n punt: Die Afrikaners het nie die reg om uiterste maatreëls te gebruik om onreg te verdedig nie. Die oorlewing van die Afrikaners kan dus nie tot elke prys gekoop word nie. Daar is liberale waardes en morele oortuigings wat nie aanhoudend verkrag mag word nie.

Toe die Tomlinson-kommissie se verslag in 1956 gepubliseer is, het Louw gesê daar is net een “radikale geneeswyse vir ons kwaal: uiteindelike billike gebiedskeiding met volkome vryheid vir almal […] En nou het met die Tomlinson-verslag ’n skrefie lig gekom, wat eties juis is, miskien […] en as die goeie wil daar is […] nie ekonomies onmoontlik nie.”(Louw, 1986, 2:593-594) In sy lesings het hy gepleit dat sommige van die reservate onafhanklik of ’n deel van ’n nuwe Suid-Afrikaanse federasie word. Dikwels het lede van sy gehoor gevra of die regering so iets sou doen, waarop hy geantwoord het dat hy alleen kan praat oor wat ’n Afrikanerintellektueel dink.

Uitwerking op die politiek

Wat verbasend is, is dat Louw se gedagtes, veral oor oorlewing in geregtigheid, so min aandag in die loop van die 1950s getrek het. Die verklaring is dat die stryd tussen die twee wit gemeenskappe en die Afrikanernasionaliste se opmars na republiekwording (in 1961) omtrent al die aandag van die blanke gemeenskap in beslag geneem het. Nog ’n verklaring is dat die sentrum van politieke mag en invloed binne die NP van die Suide na die Noorde verskuif het en dat Hendrik Verwoerd toenemend die terme van die rassedebat gedikteer het.

En toe kom 1960 en die skok van Sharpeville, die noodtoestand en die vrees vir internasionale isolasie. Verheug en verlig dat die bruin mense nie aan die betogings deelgeneem het nie, het daar rondom Piet Cillié, redakteur van Die Burger, die gedagte ontstaan dat bruin mense deur ’n aantal bruin mense in die parlement verteenwoordig moet word. Verwoerd het dit onomwonde afgewys as ’n resep vir integrasie, selfs biologiese integrasie, van wit met bruin en wit met swart mense. Hy het gevra dat die NP-leiers soos “mure van graniet” moet staan omdat die voortbestaan van die volk op die spel is.

In wat later sou blyk sy grootste uur te wees, het Cillié in die laaste maande van 1960 en die eerste maand of wat van 1961 onverskrokke sy standpunt gestel. Hy het die term biologiese integrasie as “’n afskuwelike nuwe eufemisme vir verbastering” bestempel. Hy het gewaarsku teen ’n ketterjag teen die Afrikaner-“intellektuele”, wat dan “liberale” sou wees, en oor die kloof wat ontstaan het tussen hulle en die “gewone mense”. (Dawie, 1965:195-206)

Een van die liberale was ongetwyfeld Louw. Sy Huisgenoot-rubrieke is twee jaar tevore gebundel en het onder die naam Liberale Nasionalisme verskyn. Piet Cillié het dit in Die Burger baie gunstig beoordeel. Hy het geskryf dat Louw as “’n soort intellektuele vroedvrou” optree. Hy is “vaardiger en subtieler” as baie ander denkers, maar sonder die pretensies van absolute sekerheid (Die Burger, 16 Augustus 1959). In sy voorwoord tot D.P. Botha se Opkoms van ons Derde Stand (1960) het Louw (1960:v) gepleit vir die integrasie van die bruin mense. Hy het geskryf: “Die bruinmense is ons mense, hoort by ons.” Verwoerd sou ongetwyfeld van hierdie uitsprake kennis geneem het.

Privaat het Cillié sterk steun ontvang. Een van die briewe was van die 85-jarige skryfster M.E.R. Sy het hom in die dertigerjare leer ken toe hulle saamgewerk het in die bekamping van blanke armoede en het goed bevriend met hom en sy vrou gebly. Sy kon geen rede vir Verwoerd se hardvogtige beleid teenoor die bruin mense sien nie. Aan Cillié skryf sy wat die skok van sy toespraak soveel erger maak, is dat, anders as in die geval van die ander Afrikanerleiers, sy familie onbekend is!

In haar brief skryf M.E.R. met verwysing na Van Wyk Louw se Liberale Nasionalisme dat sy twee tendense by die Afrikaners bespeur: Enersyds is daar die sterk en duidelike wil tot voortbestaan as ’n volk; andersyds die oortuiging dat “ons in ons groei darem geen ander volk wil beskadig nie”. Sy voeg by dat voortbestaan noodsaaklik is; geregtigheid onontbeerlik. Die essensiële lewensvoorwaardes moet behoue bly. Sy is verheug dat Cillié en ander “sterk jongeres” hartstogtelik voel vir voortbestaan met geregtigheid. (Giliomee, 2003:527)

Die tweede tendens wat M.E.R. noem – dat die Afrikaners in hul voortbestaanstryd nie ander volke mag beskadig nie – staan op ’n gelyke vlak met Louw se waarskuwing oor voortbestaan in geregtigheid.

Latere “volkskritici”

Toe van die vernaamste Afrikaanse “dissidente”, soos Breyten Breytenbach, Johan Degenaar en André du Toit, in die loop van die 1970s begin om apartheid radikaal te kritiseer, het hulle by Louw se woorde oor die etiese krisis aansluiting gevind. In ’n wanhopige pleidooi om versagting net voordat hy in 1975 op aanklag van hoogverraad gevonnis sou word, het Breyten Breytenbach hom op Van Wyk Louw se bekende essay beroep: “Dit is dalk paradoksaal, maar vir my het dit gegaan om die voortbestaan van ons volk, ’n voortbestaan met regverdigheid soos Van Wyk Louw dit uitgedruk het, oor die gehalte en inhoud van ons beskawing.”(Viviers, 1978:52-73)

Johannes Degenaar se bundel opstelle van 1980 oor die politieke rol van die Afrikaner in die krisis waarin die land hom toe bevind het, is getitel Voortbestaan in geregtigheid, en hierdie idee staan sentraal in sy denke. Hy trek die begrip liberale nasionalisme verder as Louw deur deurdat hy die twee konsepte nie in spanning met mekaar probeer hou nie, maar nasionalisme beslis ondergeskik aan sy idee van pluralisme stel. ’n Kulturele nasionalisme wat op vrye identifikasie berus en nie wil oorheers nie, kan mense help om mondigwording te bereik. Hulle hoef dit nie net as indiwidue te doen nie, soos wat die liberale ideologie veronderstel nie, maar as deel van ’n kulturele gemeenskap. (Degenaar, 1980:1-5)

In 1982 verskyn André du Toit se boek Die Sondes van die Vaders. Ook hy plaas Van Wyk Louw se gedagtes sentraal in sy pleidooi dat die Afrikaners moet afstand doen van die politieke mag. Op die buiteblad van die boek is die volgende woorde uit Louw se essay groot gedruk: “Hoe kan ’n klein volk lank bly voortbestaan, as hy iets haatliks en iets boos is vir die beste binne – of buite – hom?”

Vir Du Toit is die oomblik daar wat Louw genoem het die “donker nag van die siel” wanneer ’n volk vir homself moet sê: “Ek sal liewer ondergaan as deur ongeregtigheid bly voortbestaan.” Hy argumenteer dat die regering se aandrang dat politieke mag noodsaaklik is om die Afrikaner se kultuur en taal te bewaar ’n fatale flater is. Dit sal slegs swart nasionaliste aanmoedig om nie net die mag nie, maar ook die taal en kultuur as hul vyand te beskou. Die Afrikaanse kultuur moet losgemaak word van Afrikanermag.

Die Sondes van die Vaders vertolk ook die stryd as een wat tussen verskillende geslagte gevoer word. Die ouer geslag is nie werklik in staat om aan enige toekoms anderkant Afrikanermag te dink nie. ’n Jonger geslag word egter deur die vooruitsig van ’n eindelose militêre en politieke stryd, waarvoor daar geen oortuigende regverdiging is nie, in die oë gestaar. (Du Toit, 1983:26)

Du Toit se opstel verteenwoordig ’n huldeblyk aan Louw se groot idee dat die Afrikaners nie aan die mag kan vasklou terwyl die beleid waaronder hulle dit doen, nie meer enige etiese regverdiging het nie. Die morele sanksies waaronder die Afrikaners in die 1980s gebuk gegaan het, was myns insien ’n veel belangriker rede waarom die Afrikaners die mag prysgegee het as die ekonomiese sanksies.

F.W. de Klerk bevestig die kernbelang van Louw se bydrae in die toespraak wat hy in sy grootste oomblik gegee het. Dit was in 1992 toe hy in die blanke referendum ’n tweederde-ja-stem gekry het vir die beëindiging van apartheid.

Hy het na Van Wyk Louw verwys en toe in die digter se idioom gesê: “Vandag het daar ’n daad geskied in Suid-Afrika wat opklink oor die aarde en wat ’n magtige boodskap van versoening dra, wat ’n magtige uitreiking tot ware geregtigheid daarstel.” (Giliomee, 2003:634)

Die passasie in Van Wyk Louw se gedig (Die dieper reg, 1938) waarna hier verwys word, kan gelees word as ’n terugblik oor die Afrikanervolk se geskiedenis. Dit lui soos volg:

O wye en droewe land, alleen
onder die groot suidersterre.
Sal ooit ’n hoë blydskap kom
deur jou stil droefenis? […]

[…] sal nooit ’n magtige skoonheid kom
oor jou soos die haelwit somerwolk
wat uitbloei oor jou donker berge,
en nooit in jou ’n daad geskied
wat opklink oor die aarde en
die jare in hul onmag terge […]

Dit het natuurlik nie so uitgewerk nie. Sekere buitelandse leiers, veral Margaret Thatcher, het die blankes lof toegeswaai, maar die swart leiers en meningsvormers het gou die prentjie omgekeer en ’n beeld voorgehou van blankes wat verplig was om oor te gee en nou danksy die genade van ’n swart regering nog lekker kan lewe. Die feit dat die Afrikaners een van die weinige volke is wat die mag prysgegee het voordat hulle verslaan is, het in die openbare debat vergete geraak.

M.E.R. se twee “wille”

Hierbo het ek M.E.R. aangehaal wat van twee wille praat: die sterk en duidelike wil tot voortbestaan as ’n volk, en die wil om geen ander volk te wil beskadig nie.

Tussen 1992 en 1996 is die debat oor die tweede punt afgesluit. Die Afrikaners het hulle uit die mag onderhandel. Maar was daar nog iets van die eerste punt oor? Was daar nog ’n wil tot ’n voortbestaan van ’n volk – en by implikasie van ’n gemeenskap wat vir sy taal verantwoordelikheid neem – oor?

In sy opstel van 1952 het Louw geskryf dat as ’n volk sy etiese krisis kan oorkom – as hy kies vir voortbestaan in geregtigheid bo blote voortbestaan – kan so ’n volk “herbore, jonk, skeppend, te voorskyn kom”. Dertig jaar later, toe André du Toit se Die Sondes van die Vaders gepubliseer het, was dit ’n ope vraag of daar ’n duidelike wil tot die voortbestaan van die volk is. Du Toit het nie geprobeer om die Afrikaners te oorreed dat hulle taal en kultuur nog onder ’n swart meerderheidsregering sou floreer nie. Een van die implikasies van sy argument was dat die Afrikaners hulle dan oor ander sake as die handhawing van hul taal en kultuur sou moes bekommer.

Natuurlik is omtrent almal bly oor die huidige oplewing van die Afrikaanse letterkunde en musiek, oor die veel groter veelsydigheid van die Afrikaanse koerante en tydskrifte, oor die vermenigvuldiging van kuns- en woordfeeste. Kom ons noem dit die oplewing in die konsumpsie van Afrikaans. Hier word tans die vrugte gepluk van baie jare se investering in moedertaalonderrig, hoofsaaklik in enkelmediuminstellings.

Maar is daar werklik baie mense wat bekommerd is oor die voorwaardes vir die reproduksie van Afrikaans as literêre en openbare taal, en by name skole en universiteite waar Afrikaans ’n vaste plek het? Toenemend lyk dit of daar in die topbesture van universiteite die argument aangevoer word dat, om M.E.R se woorde te gebruik, “ons in ons groei darem geen ander volk wil beskadig nie”. Die argument is dat die aandrang op Afrikaans ondergeskik staan aan die bruin en swart mense se aandrang om in Engels te leer.

Maar wat is die implikasies daarvan vir die voortbestaan van Afrikaans as hoogkultuurtaal? Een van die belangrikste insigte in die internasionale debat oor die bedreiging en behoud van bedreigde tale is die sleutelrol van identiteit. In David & Maya Bradley se Language Endangerment and Language Maintenance maak S.Wurm die volgende gevolgtrekking: “One of the most important factors for the maintenance and reinvigoration of a threatened language is the attitude of speakers towards their own language and the importance they attach to it as a major symbol of their identity.” (Wurm, 2002:15)

Dit bring ons by die tweede groot krisis wat Louw voorsien het naas militêre oorrompeling en die etiese krisis. Hy het dit soos volg gestel: “Die tweede krisis is geestelik van aard en kom voor wanneer ’n groot deel van ons mense self daaraan sou begin twyfel of ons as volk moet voortbestaan.” Die gevaar ontstaan wanneer ’n deurslaggewende getal van dergelike mense besluit die geesteslewe van die volk is te swak en dat die taal te weinig bied om “die honger van die verstand te versadig” (Louw, 1986, 1:459).

Destyds was die gevaar vir Louw dat die Afrikaanse geesteslewe te arm sou wees. Oor die daaropvolgende vyftig jaar het die velde van die Afrikaanse lettere en geskiedskrywing, om net twee velde te noem, ryker en veelsydiger geword as wat hy ooit kon droom. Aan die ander kant is ons op universiteitsvlak vandag waarskynlik armer as wat hy kon dink. Om `n eenvoudige voorbeeld te noem: ’n Geskiedenisdosent aan die Universiteit van Stellenbosch erken onlangs teenoor my dat hy nie ’n uitknipsel uit die dag se Burger in sy dubbelmediumklas as hulpmiddel gebruik nie omdat studente mag protesteer dat dit ten nadele is van diegene in die klas wat nie Afrikaans ken nie.

Die huidige taaldebat aan die US kan nie verstaan word as ’n mens nie begryp dat by sommige lede van die bestuur en ander belangrike besluitnemers ’n wesenlike skuif plaasgevind het nie. ’n Persoonlike vriend, wat nooit die NP ondersteun het nie, maar ’n voorstander is van Afrikaansenkelmedium, het aan die einde van 2005 die senaat van die universiteit se debat oor die voertaalkwessie bygewoon. Hy het sy indruk aan my meegedeel: “Hulle het hul geloof in Afrikaans verloor, net soos wat hulle in die 1980s hul geloof in die NP en in apartheid verloor het.” Ek het twee dosente gevra waarom hulle nie beswaar gemaak het teen die prysgawe in die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte van Afrikaans-enkelmedium nie. Hul antwoord was: “Ons sou dood gewees het. Ons sou gesien gewees het as deel van die ou Suid-Afrika.”

My vriend het verder gegaan en verwys na ’n klimaat in die binnekring van die universiteit wat afkeurend is van enige vereenselwiging met Afrikaner-wees of van enige aandrang op Afrikaans. Chris Brink (2006), byvoorbeeld, lewer in sy boek No lesser place ’n pleidooi dat Afrikaans hom moet “losmaak van Afrikanerskap”, van ’n “volkstaat van die gees”.

Hy is natuurlik reg as ons praat van mense wat Afrikaans opeis as die witmanstaal van ’n volk wat in die waan verkeer dat hy uitverkore is of buitengewoon geseën. Maar wie huldig vandag nog so ’n mening? Die Afrikaanssprekende gemeenskap wat op Afrikaans aandring, is ’n losse koalisie van, aan die een kant, mense vir wie Afrikaans net of oorwegend ’n instrument is, en aan die ander kant diegene vir wie Afrikaans nie net ’n instrument is nie, maar ook ’n belangrike deel van hul identiteit.

Afrikaans behoort nie aan enige van die twee genoemde dele nie. Dit is moontlik vir die bondgenote om konsensus te bereik dat Afrikaans ’n unieke instrument is vir bemagtiging van alle Afrikaanssprekendes, ryk én arm.

Die vraag is: hoe het dit gebeur dat spesifiek die US in so ’n taaldebakel beland het? Om die vraag te beantwoord moet ons wegkom van die persoonlikhede in die debat. Ons moet die vraag stel of dit nie dalk simptomaties is van Afrikaners se ontwikkeling oor die laaste 50 tot 75 jaar nie. In 1955 het Louw die vraag gestel: Is die Afrikaners ’n intellektuele volk? Leopold Scholtz (2007) betwyfel uit. Hy verwys tereg na die vlakheid van die taaldebat wat gekenmerk word deur die opstel en afskiet van strooipoppe. (Kyk ook Scholtz & Scholtz, 2006.)

Maar lê die probleem nie dieper nie? En moet die antwoord nie in die institusionele kultuur en kulturele karakter van elke indiwiduele universiteit gesoek word nie?

Verskeie faktore het ’n bepalende rol gespeel in die lotgevalle van Afrikaans. Dit is opvallend dat die saak van Afrikaans die beste versorg word aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) in Bloemfontein met sy geskiedenis van ’n stryd teen die oorheersing van Engels en aan die Noordwes-Universiteit (NWU) op Potchefstroom. Die twee universiteite hier was ’n groot deel van die vorige eeu veel meer beginsel-georiënteer en beginselvas as die Universiteit van Pretoria (UP) en die US. Die Randse Afrikaanse Universiteit (RAU)/Universiteit van Johannesburg (UJ), wat op ’n uitgesproke taalbasis gestig is, het volhard met ’n stelsel van parallelmedium ten spyte van ’n ongustiger omgewing as dié van die UP en US.

Tradisioneel is daar by die hoofstroom van die UP- en US-akademici ’n huiwering om hulle op ’n duidelike beginsel te stel, wat soms aan opportunisme gegrens het. Anders as die UP het die US nie Afrikaans geword na ’n intense taalstryd teen die voertaalbeleid nie. Die besluit om van Engels as voertaal af te wyk, spruit ten eerste uit die begeerte om die voorwaarde van Jannie Marais se testament na te kom. Hy het in 1915 geldelike bystand beloof toe die Victoria-Kollege ’n universiteit wou word, mits Hollands/Afrikaans nie ’n mindere plek inneem as die ander landstaal (Engels) nie.

Ten tweede was daar die verset teen die regering se plan om ’n inrigting in Kaapstad die enigste volwaardige universiteit in die land te maak. In die woorde van die memorandum wat van Stellenbosch na die regering gestuur het, was die Victoria Kollege op Stellenbosch die plek waar die “geestelike, maatskaplike en nasionale lewe van die Hollandssprekende deel van die volk” die beste verwesenlik kan word […] Dit staan vir ’n idee.”

Die “idee” van ’n inrigting in diens van ’n taalgemeenskap was van die begin af problematies, omdat die helfte van die sprekers van die taal uitgesluit was. Maar die punt is ook dat die US toe, net soos vandag , versuim het om hom op enige ‘beginsel’-basis te plaas. Daar is nooit geprobeer om die “idee” waarvoor die US dan sou staan duidelik en in terme van bepaalde beginsels te verwoord nie. Toe ek teen die middel van die 1950s op Stellenbosch gekom het, was die idee van Stellenbosch meer die onderwerp van lughartige spot as van besinning. Die beginseldenke van die Dopper-tradisie op Potchefstroom staan in skerp kontras hiermee. Eers in die tyd van prof. Andreas van Wyk as rektor (1991-2001) het die US hom op liberaal-demokratiese beginsels en spesifiek op die grondwet gestel vir sy primêre gebruik van Afrikaans as voertaal op voorgraadse vlak. Onder ’n nuwe rektor (Chris Brink) het die US egter gou hierdie sterk verbintenis tot Afrikaans laat vaar en op ’n glybaan na Engels beland (Giliomee and Schlemmer, 2006:165-174).

Soms het beginseldenke nadele en pragmatisme/opportunisme voordele. Stellenbosch het hom byvoorbeeld gedurende die tweede fase van die apartheidsera nie in dieselfde mate as Potchefstroom gaan vasknoop aan die Verwoerdiaanse ideologie nie. Ander kere kan ’n beginselbenadering voordele vir ’n universiteit hê. Daar is ’n baie skerp kontras tussen die verantwoordelike en beginselvaste manier waarop die NWU en die UV die kwessie van voertaal na 1990 aangepak het en die lukrake manier waarop die US in 2005 na ’n stelsel van onderrig gegly het waarin ’n vorm van pseudo-dubbelmedium met rasse skrede toegeneem het.

Ek dink nie Van Wyk Louw het ’n groot liefde vir òf die US òf die UP gehad nie. Wat met Afrikaans aan dié twee instellings aan die gebeur is, sou hom wel geskok het, maar dit sou hom seker ook nie heeltemal verbaas het nie. Nietemin staan sy punt dat die voortbestaan van Afrikaans afhang van die geloof van ’n volk of ’n taalgemeenskap dat die medium van Afrikaans ’n ryk geesteslewe kan bied en dat “’n duisend mense wat kan dink en skryf” die hele debat kan swaai. In die geval van universiteite is die getal veel kleiner – miskien ’n skrale vyftig – wat deurslaggewend kan wees vir die behoud van Afrikaans as voertaal aan ’n universiteit wat die waarde van sy partikuliere wortels erken en respekteer.

Dit bring ons by een van Louw se fundamentele punte oor die voortbestaan van Afrikaans. Hy skryf in 1939: Geen amptelike erkenning van regte verander die wesenlik onseker posisie van Afrikaans nie – “dit skep alleen die moontlikheid van die stryd daarvoor” (Louw, 1986, 1:79). Wat nodig is – ook in 2008 op ons kampusse – is “strydbaarheid” en saam daarmee die “stille herskepping” van die kultuur en die taal van die minderheid in die land wat dit daarin dink en wat dit praat en skryf.

 

Die artikel het oorspronklik in Die Stilet verskyn, en word met prof. Giliomee se toestemming weer hier op Maroela Media publiseer. -Red

VERWYSINGS

BOTHA, D.P.
1960. Die opkoms van ons derde stand. Kaapstad: Human & Rousseau.

BRINK, CHRIS.
2006. No lesser place: The taaldebat at Stellenbosch. Stellenbosch: Sun Press.

DAWIE,
1965. Dawie, 1946-1964, samegestel deur Louis Louw. Kaapstad: Tafelberg.

DEGENAAR, J.J.
1980. Voortbestaan in geregtigheid. Kaapstad: Tafelberg.

DU TOIT, ANDRÉ.
1983. Die Sondes van die Vaders. Kaapstad: Rubicon.

GILIOMEE, HERMANN.
1987. “Apartheid, verligtheid and liberalism”. In: Jeffey Butler et al (reds.). Democratic Liberalism in South Africa. Middletown, Conn.: Wesleyan University Press.

1994. “Survival in Justice: An Afrikaner Debate over Apartheid”, Comparative Studies in Society and History, 36, 1.

2003. The Afrikaners: Biography of a People. Cape Town: Tafelberg.

GILIOMEE, HERMANN & SCHLEMMER, LAWRENCE.
2006. ’n Vaste plek vir Afrikaans: Taaluitdagings op kampus. Stellenbosch: Sun Press.

HATCH, JOHN.
1953. The Dilemma of South Africa. London: Dennis Dobson.

HOERNLÉ, R.F.ALFRED.
1939. South African Native Policy and the Liberal Spirit. Johannesburg: University of Witwatersrand Press.

1945. Race and Reason. Johannesburg: University of Witwatersrand Press.

HOFMEYR, J.H.
1945. Christian Principles and Race Problems. Johannesburg: South African Institute of Race Relations.

LOUW, N.P. VAN WYK.
1960. “Voorwoord” tot D.P. Botha, Die Opkoms van ons derde stand. Kaapstad: Human en Rousseau.

1986. Versamelde Prosa, twee volumes. Kaapstad: Tafelberg & Human & Rousseau.

NASH, ANDREW.
2000. “The dialectical tradition in South Africa.” Ongepubliseerde doktorale verhandeling, Universiteit van Kaapstad.

OLIVIER, GERRIT.
1992. N.P. van Wyk Louw: Literatuur, filosofie, politiek. Kaapstad: Human & Rousseau.

SANDERS, MARK.
1999. “Problems of Europe: N.P. van Wyk Louw, the Intellectual and Apartheid”, Journal of Southern African Studies, 25, 4.

SCHOLTZ, LEOPOLD.
2007 “Die debat oor die posisie van Afrikaans aan die Universiteit van Stellenbosch: ’n Ontleding.” D.F. Malherbe-gedenklesing. Bloemfontein: Universiteit van die Vrystaat.

SCHOLTZ, LEOPOLD & SCHOLTZ, INGRID.
2006 “Die debat oor die verering van Bram Fischer.” Tydskrif vir Geesteswetenskappe 46(1).

STEYN, JAAP.
1998. Van Wyk Louw: ’n Lewensverhaal. Kaapstad: Tafelberg.

VIVIERS, JACK.
1978. Breyten: ’n Verslag oor Breyten Breytenbach. Kaapstad: Tafelberg.

WURM, S.
2002. “Strategies for Language Maintenance and Survival”. In: David and Maya Bradley (reds.). Language Endangerment and Language Maintenance. Londen: Routledge.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Hermann Giliomee

Hermann Giliomee was 'n professor in politieke wetenskap aan die Universiteit van Kaapstad. Hy skryf gereeld oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis en kontemporêre politiek. Hy woon tans in Stellenbosch.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.