“Vat jou goed en loop!” – Die trauma van afleggings

André Ankiewicz se vrou en seun

The last human beings that my brother spoke to were his manager and the payroll officer. He put down the phone, walked a couple of metres, and shot himself.

Dit is ʼn skrywe van Adele Ankiewicz, suster van Andre Ankiewicz wat selfmoord gepleeg het tydens die afleggingsproses by die selfoonreus Cell C.

Suid-Afrika word nou weer deur ʼn vlaag afleggings getref en Solidariteit se verwagting is dat dit gaan toeneem. Saam met die afleggings sien ons ook ʼn nuwe tendens by groot Suid-Afrikaanse maatskappye, naamlik ʼn koue, kliniese benadering tot afleggings. Werknemers word gesien as produksiefaktore en die mens word uit die werknemer gehaal. In die ABSA-geval het afgedankte werknemers houers ontvang en hulle is versoek om onmiddellik hul persoonlike besittings daarin te pak. Hulle moes dan die gebou onder begeleiding verlaat.

“Meer as dertig jaar diens en dan word ons soos kriminele behandel,” het ʼn werknemer aan Solidariteit gesê. Hulle was bitter, maar wanneer ek in hulle oë kyk, sien ek verwarring. Oë vol vraagtekens.

Die “produksiefaktor” wat uit die gebou begelei is, is egter ʼn mens met emosie. ʼn Mens wat ʼn gesin moet versorg en ʼn mens met trots. ʼn Mens met ʼn gevoel van magteloosheid en onsekerheid oor die toekoms. ʼn Mens wat verneder voel en, hoewel hy nie tot sy situasie bygedra het nie, skuldig voel. ʼn Mens wat deur al die fases van trauma moet gaan: skok, ontkenning, woede, hantering en ─ indien dit reg hanteer word ─ berusting. ʼn Mens wat deur hierdie trauma gelei moet word en nie net uit die gebou nie.

Hierdie koue benadering is vreemd vir Suid-Afrika. Suid-Afrika is ʼn “mens”-land. Hier in Suid-Afrika leef ons deur ander mense en gee ons om vir mekaar. Ons kan eenvoudig nie hierdie koue benadering tot afleggings toelaat nie.

Die trauma van afleggings kan met die trauma van die dood van ʼn geliefde vergelyk word. Die probleem is dat die ondersteuningstrukture by afleggings meesal swakker is. Die element van vernedering, ʼn gevoel van mislukking, wanhoop, rigtingloosheid, bitterheid, skande, leegheid en vrees is ook verswarend in die trauma wat by afleggings beleef word.

Maar hoekom beleef mense die verlies aan werk so traumaties?

Werk is deel van die mens se eie en sy sosiale identiteit. Die hoofbepaler van ʼn persoon se sosiale status is sy beroep. Deur verlies van werk verloor die persoon iets van homself en van sy plek in die gemeenskap. Werk is ook ʼn belangrike bepaler in ʼn persoon se selfagting. Om oortollig verklaar te word, kan ʼn negatiewe invloed op selfagting hê en gevoelens van verwerping ontketen.

Werk is ook ʼn bron van sekuriteit vir die persoon en sy gesin. Daar is steeds ʼn sterk siening dat die man die primêre broodwinner is. Werk is dus die instrument waardeur die man sy gesin versorg. Werksverlies kan dus tot gevolg hê dat ʼn persoon voel hy steek sy gesin in die skande. Sy eer word in die proses gekrenk.

Die onsekerheid word reeds geskep deur moontlike gerugte van afleggings. Die blote aanwesigheid van gerugte en nie soseer die akkuraatheid daarvan nie, lei reeds daartoe dat trauma beleef word. Hoe nader die gerugte aan die werklikheid kom, hoe groter word die onsekerheid wat die individu en sy gesin beleef. In hierdie onsekere fase is vrees vir die toekoms die ergste emosie. Werkgewers moet reeds hier die nodige ondersteuning aan werknemers gee. In so ʼn aaklige proses is dit belangriker om vinnig sekerheid te gee as om die onsekerheid lank uit te rek.

ʼn Herstruktureringsproses se trauma lê ook in die gevoel van magteloosheid. Die individu het niks verkeerds gedoen nie, maar die instelling teenoor wie hy lojaal was, straf hom. Die gevolg is dat hy ʼn gevoel van isolasie beleef. Hy voel alleen teen die groot magtige werkgewer en sy vooruitsig van werkloosheid laat hom betekenisloos voel. Die persoon worstel met homself en vra vrae, maar niks maak sin nie; hy is nie die oorsaak van sy situasie nie, maar tog die slagoffer. Die finale fase is waar hierdie verwarring die persoon van homself vervreem. Hy voel magteloos, sien nie meer ʼn toekoms nie, weet nie hoe om daaruit te kom nie en voel baie alleen. In hierdie fase van selfvervreemding tree depressie in en in uiterste gevalle, selfmoord.

Enige ekonomie gaan soms deur onsekere tye wat tot herstrukturering kan lei. Groot maatskappye moet egter baie meer verantwoordelik met afleggings omgaan. Mense mag nie maklik geoffer word bloot vir groter wins en groter bonusse nie. In gevalle waar afleggings wel onvermydelik is, moet werknemers as mense met emosie hanteer word. Werkgewers moet die proses met ʼn behoorlike maatskaplike plan aanpak met die doel om die individu deur die hele proses te ondersteun en sover moontlik te lei om terug in die ekonomie geplaas te word. Die kerk, familie en gemeenskap moet ook besef dat die trauma van werksverlies ʼn ondersteuningstruktuur vra. Ons mag nie toelaat dat mense wat hulle werk verloor van hulleself vervreem raak, in depressie verval en dalk selfmoord pleeg nie. Indien maatskappye afleggings op ʼn manier hanteer wat teen die gemeenskap se waardes indruis, moet die gemeenskap hulle straf.

Andre Ankiewicz se selfmoord het getoon watter ekstreme gevolge so ʼn afleggingsproses kan hê. Hy was midde-in die onsekerheid en het in daardie toestand van trauma geen hoop gesien nie. Die gebeure was so oorweldigend dat hy in daardie stadium geen uitkoms kon sien nie. Mag sy dood help dat die kliniese benadering van groot maatskappye tot afleggings gestuit word. Indien daar iets goeds uit Andre se tragiese dood kan kom, is dat dit bygedra het om die mens in die produksiefaktor terug te bring.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Dirk Hermann

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae