Vat jou goed en trek, Ferreira?

tienie-fourie

Tienie Fourie. Foto: Verskaf.

1980. My toentertydse redakteur by Beeld, Ton Vosloo, bel my eendag waar ek in die persgalery in Kaapstad sit. Sonder veel omhaal, bied hy aan dat ek ’n buro vir die Nasionale Pers in (toe nog) Salisbury in Rhodesië moet gaan open. Sonder omhaal sê ek nee, hy moet maar iemand anders vra.

Vroeër het ek die bosoorlog in Rhodesië vir die pers gedek, gesien hoe Margaret Thatcher, op ’n Statebondsberaad in Lusaka, Rhodesië aan die guerrillas van Robert Mugabe wegteken. Hy het daarna die verkiesing gewen.

My vrou was verwagtend met ons eersteling – om haar te vat waar die rou wonde van oorlog nog vars was, was ondenkbaar. Maar ek is omgepraat en het in April 1980 in Harare beland. Een van die eerste stories wat ek geskryf het, was toe een van Mugabe se ministers, Edgar Tekere, ’n boer vermoor het. Daarna het ek ’n nuwe fenomeen gesien: die eerste golf van blanke vlugtelinge wat na Suid-Afrika versit het. Sommige van hulle het oorspronklik uit Kenia se Hooglande gekom, is daar op plase aangeval en was nie meer van hul veiligheid verseker nie.

Self is ek amper doodgeskiet, toe ek onverwags op ’n Zipra-kamp (Zimbabwean People’s Revolutionary Army) van Joshua Nkomo in Harare afgekom het.

Baie Rhodesiërs het besluit hulle kyk nie meer televisie nie, lees nie meer koerante nie. Die redenasie was dat wat die oog nie sien nie, die gees nie kan ontstel nie. Hulle was ook venynig teenoor diegene wat suid gevlug het. Smalend is verwys na die chicken run, mense wat te bang was om ’n swart regering te aanvaar. Die kritici was egter onder die voorste naellopers toe Mugabe in 2000 sy kop verloor en plase van wit boere sonder vergoeding begin gryp het. Baie van die plase het in sy pelle se hande beland.

Vandag sukkel Zimbabwe om van dié wandade te herstel. Die Zimbabwiese ekonomie is steeds aan flarde. Duisende swart Zimbabwiërs het uitgewyk na Suid-Afrika.

Dit bring my by Suid-Afrika wat myns insiens – tensy ’n wonderwerk gebeur – op dieselfde pad is. Net soos in Zimbabwe word mense wat emigreer, as lafaards uitgeskel. Wit mense word dikwels vertel hulle is nie in Suid-Afrika welkom nie. Baie Suid-Afrikaners lees ook nie meer koerant of kyk na die nuus nie. En soos die ekonomiese vlugtelingstroom uit Suid-Afrika al hoe groter word, word die kritiek uit liberale geledere al hoe feller. Woorde soos “verraaiers” en “rassiste” word al hoe meer op sosiale media gebruik.

Maar gaan kyk maar waar sommige liberale rubriekskrywers en diesulkes woon: Oranjezicht in Kaapstad, Waterkloof in Pretoria, iewers in die buiteland of in hul ivoortorings by universiteite. Die meeste het van die grootste voordeel uit apartheid getrek: goeie universitêre opleiding, goeie betrekkings, sommige van hulle was selfs diplomate.

Baie van hulle het president Ramaphosa onlangs verdedig toe hy in die buiteland gesê het daar is geen plaasmoorde in Suid Afrika nie, waarna ek persoonlik ’n paar genooi het om op my onkoste ’n maand lank alleen op ’n plaas in Limpopo te gaan woon. Ek wag nou nog op vrywilligers. Agter hul elektriese heinings en soms gewapende wagte gee hulle nie eintlik ’n snars om wat op plase gebeur nie. Hulle gee nie om oor die honderde wit en swart boere wat vermoor is, wat snags nie kan slaap nie, wat die daeraad vermink binnegaan (as hulle gelukkig is).

Maar moenie ’n fout maak nie, die stroom uit Suid-Afrika word al hoe groter. En dis nie net wit mense nie. Ek sien dit ook in die groep waarvan ek die administrateur is, die South Africans Living in China. Verlede jaar hierdie tyd was daar sowat 700 lede in hierdie groep; vandag is ons goed op pad na 3 000. En, verrassend genoeg, is die meeste van hulle swart. Ek word elke dag oorval met versoeke om lidmaatskap uit veral KwaZulu-Natal – mense kry nie werk in Suid-Afrika nie.

Soos die meeste van ons. Waarom emigreer wit mense? Oor ’n gebrek aan ’n toekoms vir hul kinders, vrees vir wat mag kom, ensovoorts. Ja, baie van hulle kom terug nadat hulle ander lande se burgerskap of paspoorte gekry het. Oumas en oupas in Suid Afrika is te oud om te emigreer, daarom gaan hul volwasse kinders voorlopig terug tot hul ouers nie meer daar is nie.

Kom ons wees eerlik: Hoeveel mense in Suid-Afrika het nie al daaraan gedink om te emigreer nie? Wie kan hulle kwalik neem? Net sodra ons dink ons het die bodem van die put bereik, ruk ’n nuwe skandaal ons. ’n bank word besteel, treine word verbrand, plaasaanvalle duur voort, die staatskas is leeg, belasting in die een of ander vorm word al hoe meer. Die infrastruktuur is besig om in duie te stort, elektrisiteit word al hoe skaarser en duurder, ensovoorts, ensovoorts. Politici is bang om die suipers aan die Vrystaatse melkkoei hok te slaan. Dalk wag hulle tot dit ’n droë koei word.

Die gewone man en vrou leef op hoop, dat dit eendag beter sal gaan en ons in ons geliefde Suid-Afrika kan bly. Maar voortdurend word daar vir ons gelieg. Baie ekonome wat geld op die aandelebeurs het, vertel hoe dit beter sal gaan. Intussen skuif hulle en ander Suid-Afrikaners miljarde rande landuit… net soos dit toentertyd in Zimbabwe gebeur het. Toe was die land se geldeenheid feitlik niks meer werd nie.

Wat nou? Is dit soos die Bybel sê, ’n kwessie van geloof, hoop en liefde? Kom ons begin dan by die begin: Kom ons wees lief nie net vir die armes nie, maar ook vir ons landgenote wat nie meer vir alles kans sien nie. Duisende sit in Australië, Amerika, Europa (veral Nederland) en Rusland (’n nuwe gewilde bestemming).

Geloof en hoop is natuurlik ʼn ander saak. Die meeste van ons hoop dat president Cyril Ramaphosa die wegholtrein vol Suid-Afrikaners kan stop voordat dit oor die afgrond stort. Maar hoeveel van ons glo dat hy enigsins kan?

Soos ’n Suid-Afrikaner in China onlangs vir my skryf: “Dalk is Zuma reg, dis alles Jan van Riebeeck se skuld. Het hy nie na die suidpunt van Afrika gekom nie, was baie wit mense in hul lande van herkoms, soos Nederland, Frankryk, Engeland, en ander. Dan was daar geen beskuldigings dat hulle grond gesteel het nie en die swart bevolking kon in vrede aangaan.

Maar miskien, as Julius Malema sy sin kry, sal Suid-Afrikaners ook soos hul mede-Afrikane in Noord-Afrika in Europa asiel gaan soek.

Sal dit nie pret wees nie!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Tienie Fourie

Tienie Fourie is ʼn oud-joernalis wat Suid-Afrika ook as diplomaat in Londen, New York en Wene verteenwoordig het. Hy het ook in Zimbabwe en China gewerk.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

41 Kommentare

Neville ·

As dit vir my enigsins moontlik was , was ek al weg , ongelukkig moet ek maar my beurt afwag vir die einde , sou graag wou he dat my kinders moes aanbeweeg en n beter heenkome soek , maar heelaas hul byt vas hier .Die skrif is aan die muur , n party wat vir 24 jaar regeer (met n bykans twee derde meerderheid)en bly droogmaak en steeds aan bewind is en aan bewind sal bly ,dit wys daar is n groot fout met politieke bestel wat blykbaar nie reg gemaak sal word nie ,dit beklemtoon waarna ons op pad is net die wat siende blind is en horende doof ,met verstand wat tog ook hul denke verloor het kan nie die skrif aan die muur sien nie , dit is n onstuitbare golf en sal nie uitwoed voor als en almal vernietig is nie.Dink daar is mense wat weier om toe tegee dat hul denkfoute gemaak het , mense wat glo gebed sal als regmaak , DIE WAT ONS HET IS BESLIS NIE N DEMOKRASIE NIE

Willem ·

Ek gee jou ‘n miljoen regmerke, sorry man, ‘n biljoen , ‘n triljoen?, want die ANC tel mos in biljoene of miljarde, dis soos hulle die woord demokrasie gebruik, hulle het nie ‘n idee nie, maar dit klink so mooi.

Te pragtig, en dit pas hul agenda.

Jordaan ·

Ek ook, Neville. Het al navraag gedoen en is te oud bevind vir die “normale” immigrasieprosesse van sinvolle Westerse lande. Die proses om burgerskap te koop in een of ander Karibiese land of eiland is ook te duur vir my karige spaargeldjies, dus moet ek maar hier bly en saam met die skip sink.

Kt ·

Hartseer, so hartseer dit breek my hart. Ek leef dit, beleef die platteland se verval. Kyk terug is oë wat my nie ken nie, maar met bitter haat aangluur. Dit maak jou twyfel, selfs in geloof.

Johan ·

Baie mooi geskryf, verwoord die situasie goed. Dis ‘n hartseer storie, en die mense wat agter bly moet probeer verstaan. Dalk kan ons hulp verleen van oorsee wanneer die Rand nie meer iets werd is nie.

Sjym ·

Waar kan ek die groep “South Africans Living in China” opspoor? Ek kan dit nie op Google vind nie. Is dit ‘n groep op WhatsApp en hoe sluit ‘n mens aan?

marco polo ·

Lyk na ‘n facebook groep. Help jou veel as jy in China is, hier is nie facebook nie. Ek sal ook graag wil aansluit.

Frans C ·

En waarheen sal ons oues nou eintlik vlug? Terug na die stamlande waaruit ouers en voorouers gekom het.Gaan dit maar net nie so beroerd daar nie.Nederland waar meer as 50% nie in God of sy gebod glo nie en sy bestaan ontken.
Die bevolking gaan volgens statistieke sy hoogtepunt van 17.7 miljoen in 2036 bereik en dan gelydelik daal.Muslim bevolking van Europa staan tans op 4.9 % ongeveer 25.7 miljoen in 2016.Daar is ongeveer 4 % Muslims in Nederland.

Wil ‘n mens werklik in so’n ‘land gaan woon?

Reinhardt ·

Is dit jou sterkste teenargument vir Nederland? ‘n Paar mense wat n ander geloofsoortuiging as jy het? Ek kies dit 10/10 keer, elke keer.

HPV ·

Mense emigreer om van ‘n geplunderde land weg te kom , weg van die huidige regime en ‘n dreigende burgeroorlog waar jy in elk geval alles, moontlik ook jou lewe, kan verloor. Selfs al moet mens met niks van vooraf begin het jy darem hoop in ‘n werklike demokrasie.

Frans C ·

Met ‘n steeds verswakkende rand sal jy meer as net ‘n Randmiljoener moet wees as jy hier reeds afgetree is en jou dan in Europa wil hervestig.Glo nie die Nederlanders sal met ope arms ‘n klomp verarmde Suid Afrikaners met verwelkom nie.

Andrea van Vuren ·

Ons blankes gaan China toe en die Chinese stroom in massas hierheen.
‘n Ruiltransaksie of ‘n wen-wen situasie?

Jerry ·

Vat jou goed en trek is seker die beste advies wat enige wyse persoon met insig vir Suid Afrikaners sal gee. Gegewe die tendens van die ANC om die rand te laat val en weer te probeer optel terwyl hulle die klimaat skep vir NDR struggle programme, soos onder andere plundery en OSV waarmee hulle beoog om grond teen n appel en n ui te vat, is dit beter om maar te red wat nog te redde is en te trek. Die trek wat bedoel word is nie vanaf die kaap na Pretoria toe nie, maar vanaf SA na die buiteland, daar waar Suid Afrikaners welkom is en hulle nageslagte weer kan leef en laat leef. Terwyl die toekoms in SA rooskleurig blyk te wees vir die korttermyn, blyk dit uiters donker te wees oor die langtermyn, aangesien die enigste lig wat skyn aan die einde van die tonnel, die vuur is van n land wat brand!

Lu D ·

My hart ween. Hoe gemaak? Nes mens dink dit moet bodem wees, dan kom nog ‘n skande op die lappe. En natuurlike nog ‘n kommisssie kom op die been, en nog geld moet gaan vir dit. Dis my land ook. Ek wil nie weg gaan. Hier en daar is nog ‘n silver randjie, maar dit raak AL hoe moeiliker om raak te sien en te waardeer.

Fryingfrog ·

Ek kan Nederland toe emigreer, want ek het baie familie, insluitende my dogter daar. Maar Europa verwag ‘n Derde Wêreldoorlog. Ek kan Australië toe gaan, want ek het ‘n suster met haar kinders daar en nog ‘n dogter, of Nieu-Seeland waar twee broers en hul kinders woon. Ek kan Indië toe gaan, want daar is ook kennisse, maar… maar… maar… Hoe oorleef ‘n mens op ‘n monopoly-geld pensioentjie in duur lande soos Europa en Australië? Is jou tyd nie maar jou tyd nie? ‘n Mens kan nie vir jou einde wegvlug nie. Dus ploeter ons maar aan sonder kinders of kleinkinders in SA en met min familie of vriende. ‘n Eensame bestaan. Ja, Jan, jy wou eintlik nie in SA wees nie. Jy moes jou kinders terugstuur Nederland toe vir ordentlike onderwys. Jy is na 10 jaar se treurmares oor die ewige gestelery en moorde na Batavia oorgeplaas. Jou kinders het jou nooit weer gesien nie. Dis vandag maar nog so, Jan. RIP. Ons sal binnekort volg.

Snowball ·

Suid Afrikaners word in globale terme toenemend armer, daarom maak dit uit ‘n suiwer finansiële oogpunt sin om, indien nie fisies nie, wel finansieel te emigreer. ‘n Finansiële adviseur het nie lank terug gewaarsku dat daar net twee soorte Zimbabwiërs is, dié wat hulle geld betyds uit die land gekry het, en dié wat nie het nie. Of Suid Afrika soos Zimbabwe sal word, sal tyd leer, maar die onvermydelike soortgelyke pad lyk of dit vir ons uitgelê is. Verstrengel in die aanhoudende wik en weeg tussen wat die hart voor hoop en die verstand weerlê, hang die moeilikste besluit wat mens moet neem om jou Vaderland finaal te verlaat en jou heil elders te gaan vind, veral ter wille van jou kinders, want Suid Afrika is lankal nie meer ‘n ligpunt in donker Afrika nie…

Gerhard ·

Eintlik is die probleem iets wat opgelos kan word. Omdat amper al die hoofstroom Afrikaner organisasies hulle egter ophou met twak wat geen lange termyn antwoord is nie is al wat oorbly vir die gewone mense om hul tassies te pak. Dit is nou as jy kan. So kom die Afrikaner aan sy einde, want daar word “geveg” oor sake wat reeds verlore is. Soos Afrikaans in die Nuwe Suid-Afrika se skole en universiteite. Enige mens met twee breinselle weet tog jy kan nie daardie oorlog wen nie. Dit is net ‘n kwessie van tyd. Een jaar of twintig jaar dit is al verskil. Tog sal die hardkoppige omies nie luister nie totdat dit te laat is. Ek hoop dat as hulle eendag as hulle oud is moet toekyk hoe die Afrikaner uiteindelik sy laaste asem uitblaas as volk, hulle dan besef hul hardkoppigheid het dit veroorsaak.

Gerhard ·

Om op te volg, my stelling is om uit te wys dat daar min of geen werk gedoen word waar dit moet nie. ‘n Afrikanerstaat was die antwoord 200 jaar gelede, dit was die antwoord ‘n 100 jaar gelede en dit is ook nou die antwoord.

Jan ·

Gerhard, maar Orania en Akademie lê reeds die grondslag vir ń Afrikanerstaat, dit is nou ons verantwoordelikheid om hul te ondersteun.

Gerhard ·

Almal weet van Orania se bestaan . Orania as dorp kan nooit die antwoord wees nie, dit moet iets groter wees en daarvoor het jy meer ondersteuning nodig as wat Orania het. Dit sal nooit gebeur as mense bly glo aan alternatiewe waarhede nie. Bv. ankerdorpe en eie instellings in daardie ankerdorpe wat in elk geval net deur Kaders oorgeneem gaan word iewers in die toekoms. ‘n Voorbeeld daarvan is Akedemia. Hierdie aksies gaan nie keer dat mense hul tassies pak en oorsee gaan nie, want meeste mense kan sien dit is nie ‘n antwoord nie.

Jan ·

Gerhard, Akademia is ń privaat instelling, daar is absoluut geen manier dat “kaders” dit kan oorneem nie, die rede waaarom hulle aan publieke universiteite kan voorskryf is omdat díe instellings deur die staat gesubsidieer word.

Gerhard ·

Daar is tot onglangs gedink hulle kan nie privaat grond en privaat mediese versekering oorneem nie. Nou probeer hulle reeds om dit te doen. Het gedeeltelik geslaag. Hoe sal hulle private onderig oorneem? Hulle hoef bloot Engels die enigste onderrig taal te maak en uitsluiting op grond van taal onwettig te maak. Dit sal gebeur 100% verseker.

Therese van Schalkwyk ·

Die punt wat die skrywer oor “liberale rubriekskrywers” maak, is m.i. een van dié gróótste ontnugterings van die nuwe Suid-Afrika. Dis beslis ‘n groter teleurstelling as die ANC, ‘n voormalige bevrydingsbeweging, van wie geen redelike persoon ‘n werklik suksesvolle oorgang kon verwag nie.
Die feit dat mede-Afrikaanssprekendes (Afrikaners is hulle nie) gereeld hooghartige, voorskriftelike en dikwels beledigende menings op hul lesers, AfriForumlede en andersdenkende loslaat, is ‘n ‘stootfaktor’ uit die land soos min ander.

Kannemandannie ·

Mens noem die verskynsel of sindroom oïkofobie, iemand wat alles wat sy eie is haat….

Merkur ·

Hallo Therese, dis goed om jou weer hier te sien.
Ek sluit my heeltemaal by jou kommentaar aan.

Therese ·

Merkur! My Maroela-vriend!
Mag dit sommer voor die wind gaan met jou daar in die verre Duitsland.
Kan glo dat Angela Merkel se aftrede gemengde gevoelens laat. Sy is ‘n formidabele ‘staatsman’ ongeag haar ondeurdagte immigrasiebeleid.

Kannemandannie ·

Ek is een van die wat nie meer hoofstroom nuus kyk of lees nie. Ek laat nie my kop besoedel deur die seunse weenkoor nie, ek steur my nie verder aan oïkofobiese liberale wat alles wat hul eie is haat nie, en ek glo nie nuus wat elke dag berig dat hierdie politikus “dit of dat gesê het” nie. Bitter min hoor, sien of lees mens van iets wat werklik GEDOEN is.

Christo Volschenk ·

Ek meen Mandela se “een-land-een-volk”- eksperiment het gefaal. En dat die minderhede nou geregtig is om te druk vir n eie ” tuisland”. En dat die enigste deel van SA waar swartmense geen reg op het nie, die suide is. Meer bepaald, die ou Kaapkolonie soos die Engelse destyds die grense getrek het. Tot daar onderhandel word, behoort die minderhede noord van die Kaapkolonie te trek..en wel suidwaarts (nie uit die land uit nie!). Terug na die land van hul voorvaders – die Voortrekkers.

1+1 ·

Waar in die wereld vind ons ‘n Teokrasie landsbestuurstelsel. Is dit nie die oplossing vir die RSA nie

JAN ·

Daar is slegs 2 keuses.
Bly of trek .
Die SA bevolking was nog altyd erg nomadies ; slim mense reken ons ganse bevolking verhuis elke 5 jaar. Dis ons kultuur / natuur.
Die buitelandse opsie / megrasie is nou nuut vir ons na sanksies met die globalisasie mode..
Binnelandse migrasie / trek opsie is iets om ernstig te oorweeg.
Dis baie goedkoper en baie makliker toekoms gerig op die oudag – selfbeskikking.
Of hoe doen mens die kosteberekening. ?

Hello ·

Wanneer die skip besig is om te sink dan sien die skeepskaptein en die bemanning toe dat die passasiers die sinkende skip verlaat en heel laaste verlaat die bemanning en die kaptein die sinkende skip. So is dit dan nou ook die geval met Suid Afrikaners wat SA verlaat. Die stootfaktor is inderwaarheid die skeepskaptein en bemanning wat besig is om toe te sien dat die passasiers die sinkende skip verlaat. Dit gebeur ook dat jy passasiers sal kry wat weier om n sinkende skip te verlaat. Hierdie passasiers word saam met die skip deur die see verswelg en diegene wat wonderbaarlik nie verswelg word nie, word drenkelinge wat verbete vasklou aan dryfhout en hoop en bid dat iemand hulle tog sal kom red.

Stephan de S ·

Netjies en eerlik gestel. Ons land balanseer op oomblik op n mespunt: of Zimbabwe of regkom. Wie sal weet?

Gerhard ·

Dit is nie tussen Zimbabwe en regkom nie. Dit is tussen Zimbabwe en meer tipies Afrika Derdewêreld. So as jy gelukkig is bly dit soos dit is.

Merkur ·

Reguit en direkte artikels is goed om te lees.

Dit kan dalk ook nog kom dat sommige Europeërs eendag in Suid-Afrika asiel gaan soek. Die toekoms van Europa is baie ongewis. Wie weet?

Eish ·

Puik artikel dankie.
Met verbasing dat ek die totaliteit van waarheid uit die pen lees…
Werklik goeie artikel dankie.

Frank ·

… wat van Botswana toe skuif…? Dit lyk of daar goeie geleenthede is, Baie veiliger?

JAN ·

Of jy bly of gly sal deur jou EiE ARBEID bepaal word.
Oorsee is selfdoen selfbeskikking.
Besef en begryp dat dit in SA vir altyd ook ons selfbeskikking bepaal.
Meganisasie en gat-van-stoel-af selfdoen.
Orania is 9000 hektar so groot soos Singapoer Honkong. Grootste waterbron. Beste landbougrond. Beste potensiaal.
Kry net die selfdood propaganda van Vals Nuus Media uit julle koppe uit.
Ek bid soos Elisa vir sy maatjie; “Ag Here maak tog julle oge oop om te kan sien ons is baie meer as hulle!”

Hans ·

Dis verbasend dat iemand wat onder Ton Vosloo gewerk het so n nugter siening het-dankie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.