Veerkrag is sleutel tot die Afrikaner se toekoms

Namate dienslewering, infrastruktuur, ekonomiese groei en veiligheid in Suid-Afrika verswak is daar al meer Afrikaners wat bekommerd is oor die toekoms.Dienslewering

Dit is nie slegs Afrikaners wat ontevrede is nie. Veral armes van Suid-Afrika voel al meer ontnugter met die ANC, wat sommige noop om die linkse rewolusionêre agenda van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EVV) te steun.

Ook hierdie reaksie is vir Afrikaners ʼn bron tot kommer, want daarmee verskuif die politieke klimaat van die land as geheel verder na links, soos aangedui deur die beleide van die meeste politieke partye (ANC, DA, COPE, EVV) wat nou ten gunste van diskriminasie teen Afrikaners is.

Met die toename in korrupsie, verswakking in vermoë en wegdoen van meriete is dit geen verrassing dat Suid-Afrika, soos gereeld in Maroela Media se nuuskommentaar vermeld word, besig is om agteruit te boer op die saakmakende internasionale indekse soos dié van persvryheid, korrupsiepersepsie en die indeks van mislukte state.

Die vraag is hoe Afrikaners kan aanhou leef, groei en floreer indien Suid-Afrika ʼn mislukte staat, of selfs erger, ʼn vyandige staat word?

Volke, nes mense, beleef tye van krisis en tye van oplewing. Dikwels word tye van oplewing voorafgegaan en selfs moontlik gemaak deur tye van krisis. In ons geskiedenis het ons telkens tydens die eeuwisseling ʼn ernstige bestaanskrisis ervaar, net om daarna sterker na vore te tree.

Groei en vooruitgang is egter nie ʼn gegewe nie. Mense kan slegs deur onmoontlike omstandighede beur indien hulle oor genoeg innerlike krag beskik om aan te hou wanneer ander moed opgee en tou opgooi.

Hierdie innerlike krag word in die sakewêreld, waar sakemodelle en kompetisie teen die spoed van lig verander, veerkragtigheid genoem. Deur veerkrag te ontwikkel word die vermoë geskep om weer op te kan staan ongeag wat die toekoms mag oplewer. Dit is ʼn baie meer veelsydige en plooibare strategie om die toekoms mee tegemoet te gaan as om die toekoms te probeer voorspel, want voorspel jy verkeerd, is jou strategie dalk onvanpas en kan jy jouself baie vinnig in ʼn doodloopstraat vind.

Veerkrag is soos enige ander hulpbron. Dit is iets wat voortdurend aangevul moet word. So nie word dit uitgeput en mag die tenk leeg wees net wanneer daardie ekstra brandstofinspuiting nodig is om deur die drif te kom.

Hoe kan Afrikaners ons veerkrag hernu en vermeerder? Hieronder raak ek drie aspekte aan wat ons onontbeerlik is vir die opbou van veerkrag.

Lewensvreugde

Die flambojante Franse het ʼn term hiervoor. Dit is “joie de vivre”. Dit beskryf die heerlikheid van lewe; die viering van gees.

Sonder enige vorm van vreugde sal die lewe baie vinnig onleefbaar raak. Goeie tye is ʼn onontbeerlike bron van innerlike krag.

Wat bring vir Afrikaners vandag lewensvreugde? Ons politieke diskoers word hoofsaaklik gekenmerk deur roubeklaging. Die helfte wat nie rou oor wat ons in 1994 verloor het nie, rou oor wat ons voor 1994 verkeerd gedoen het.

Hierdie troostelose selfbejammering deur ons volk is baie sigbaar, veral in ons eie kunste, soos uitgebeeld in Deon Opperman se reeks “Donkerland”.

Ons sal egter goed doen om die woorde van pres. Paul Kruger se laaste brief aan ons te onthou: “Soek in die verlede al die goeie en skone wat daarin te ontdek is, vorm daarna u ideaal en streef om vir die toekoms daardie ideaal te verwesenlik.”

Ons kulturele skatte, insluitend musiek, literatuur, beeldende kunste, teater en ook ons kookkuns bied aan ons baie om te waardeer en te geniet. Ons moet ons kunstenaars, skrywers, digters, sangers, kokke, skilders, beeldvormers, ens. ondersteun en waardeer, veral waar hulle wegbreek van die roubeklaging.

Lewensdoel

Lewensvreugde wat nie geanker is in en ondergeskik is aan ʼn groter doel nie, kan in ʼn gekkeparadys ontaard.

Die Franse noem daardie groter doel die “raison d’être”. Wat is ons doel? Wat wil ons bereik? Wat is ons bestaansrede?

Ek verwys hier nie na die doelwitte wat individue najaag soos familielewe, geloofsvervulling, sukses, erkenning, welvaart of roem nie. Ek verwys eerder na dit wat dit die moeite werd maak om deel van ʼn volk te wees. ʼn Doel wat nie ons persoonlike doelwitte vervang of daarmee meeding nie, maar wat ons saamsnoer en toelaat om op mekaar te steun.

Ons ouer geslag Afrikaners het hul doel in die term “Ons vir jou Suid-Afrika” vasgevang. Dit is tot só ʼn mate gedoen dat daar selfs vandag baie Afrikaners is wat hul identiteit nie los van Suid-Afrika kan sien nie.

Die vraag is egter waar hierdie doel ons sal laat indien Suid-Afrika, ten spyte van ons beste pogings, misluk? Ons het reeds gesien hoe Afrikaner-instellings wat hul bestaansrede aan die Suid-Afrikaanse regering gebind het, in duie gestort het. Dieselfde lot kan ons as volk tref indien ons nie ʼn meer aanpasbare verhouding met Suid-Afrika aanknoop nie.

Daarbenewens is daar baie jong Afrikaners, veral die wat na 1994 gebore is, wat nie as deel van die “ons-vir-jou”-geslag getel kan word nie. Hulle voel instinktief aan dat Suid-Afrika aktief teen hulle diskrimineer deur geleenthede van hulle te weerhou ten spyte van hul harde werk of meriete.

Terwyl die ons-vir-jou-lojaliteit is besig om te kwyn, moet ons onsself vra of dit realisties is om van ons volgende geslag te verwag om deur Suid-Afrika geïnspireer te word as Suid-Afrika hulle verwerp?

Daar is ook ʼn wesenlike getal Afrikaners, ons familie en vriende, wat as gevolg van diskriminasie, verval en misdaad besluit het om Suid-Afrika te verlaat. Ons durf hulle nie as volksgenote te vervreem en ons kulturele bande met hulle op te offer bloot omdat ons ʼn blinde lojaliteit jeens ʼn staat in stand wil hou nie.

Indien die opbou van Suid-Afrika nie meer ons bestaansrede kan wees nie, wat sal dit dan wees? Wat sal jong Afrikaners en Afrikaners in ander lande inspireer om hul volkskap op te neem en uit te leef?

In die verlede het ons as volk bestaanskrisisse oorleef deur die vernuwing van ons vryheidsideaal.

Lewensruimte

Volgens Wikipedia beskryf die Duitse woord “heimat” die verhouding tussen ʼn mens met ʼn spesifieke sosiale ruimte. Dit staan teenoor sosiale uitsluiting. Dit verteenwoordig ʼn plek waar iemand tuiskom.

Elkeen het ʼn plek nodig waar sy haarself kan vind. Waar ons “batterye kan laai” en krag kan kry vir die taak wat wag. Nie alleen ʼn plek vir rus nie, maar ook vir bou en vir groei. Veral ook ʼn veilige hawe.

Dieselfde geld vir volke. Die kommissaris vir minderhede in die Europese Uunie stel byvoorbeeld dat tale nie slegs in opleidingsinstellings (soos skole, universiteite en tegniese kolleges) kan oorleef nie. Daar moet ook ekonomiese en praktiese redes wees waarom ʼn taal gebruik word, anders verval dit in onbruik.

Dit is daarom gebiedend noodsaaklik dat ons ruimtes toe-eien waaraan ons beslag kan gee.

Volke skep hul lewensruimtes op twee vlakke.

Die een is deur eie instellings. Ons instellings bied aan ons die vermoë om oor grense en geslagte heen ons kultuur uit te leef, te ontwikkel en oor te dra.

Orania3Die ander is op ʼn geografiese grondgebied. Tale en kulture is streekgebonde omdat streke die logiese basis vir die organisering van politieke vermoë is. Politieke vermoë lei tot regering, wat weer oor die vermoë beskik om kulture te skep, te vernietig en te laat herleef. Selfs die magtigste instellings kan vyandige regerings oor die duur nie weerstaan nie.

Klein volke soos die Baske het reeds bewys dat dit moontlik is om moeilike omstandighede, ja selfs vergelding, te oorleef in ʼn eie grondgebied.

ʼn Volk se grond is egter net so groot as wat hy as meerderheid kan bewerk en beheer. Ons beskik reeds oor Orania wat as Afrikanermunisipaliteit erken word. Orania sal groter steun uit ons geledere benodig om vir meer as ʼn handjie vol van ons kinders ʼn tuiste te kan bied.

Waar staan ons vandag?

Ons het met die oorgang in 1994 belangrike bevoegdhede prysgegee. Ons kon egter ook die voetboei afhaal waarin apartheid ontaard het.

ʼn Belangrike les wat ons altyd moet onthou is dat dit nie help om onnodig vyande te maak nie. In ons pogings om ons lewensvreugde, lewensdoel en lewensruimte na te jaag, kan ons nie ander volke só hanteer dat ons weer in ʼn politieke doodloopstraat eindig nie.

Ons moet leer uit ons foute, maar ons moet ook kan aanbeweeg. Ons mag ook aan óns kant wees. As ons dit nie doen nie, gaan niemand anders aan ons kant wees nie.

Suid-Afrika het talle uitdagings, maar ons lot is in ons hande. Indien ons in veerkrag belê, sal ons volhoubaarheid oes.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Ebert Terblanche

Meer oor die skrywer: Ebert Terblanche

Ebert Terblanche is 'n bestuurskonsultant by 'n internasionale ouditeursfirma. Hy spesialiseer in risikobestuur. Hy is betrokke by die Orania Beweging, Afriforum en die FAK.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

Rudi ·

Goed deurdink en duidelik gestel. Dis werklik waarop dit alles neerkom.

Rudi ·

Goed deurdink en duidelik gestel. Dis werklik waarop dit alles neerkom.

Deon ·

Goeie artikel Ebert. Die generiese risikobestuursmodel kan help om klinies ons Volksoorlewingsrisikos te identifiseer, rangeer en voorkomende of impakintensiteite te minimaliseer om oorlewings- en selfonderhoubare strategiee te formuleer en kommunikeer aan meningsvormers. Dit behoort dan in ‘n eenvoudige 7 punt plan vir selfbeskikking beginnende op plaaslike woonbuurt en kantonvlak vergestalt te word en volksgerigte instellings en meningsvormende indiwidue genooi word om die pad na outonomie te visioneer en fasiliteer. Die mate van haalbare outonomie sal afhang van gebiedsteun en gebiedsrealiteite. Eendrag sal sodoende versterk, en Eendrag maak Mag. Die Visie – Die 7 punt plan – Plaaslike leierskap – suksesse word gekommunikeer – Selfbeskikking, groeiende outonomie – Volkstaat met sateliet kantonne die doel met vredesverdrae met buur-volke en Volksrade in oorseese lande met konsentrasies van Volksgenote om internasionale impak te fasiliteer.

Slim Daan ·

U kom oor as n PW protégé. Groot blaf ( anglismes en hoogdrawendheid ) en min ( haas onverstaanbare ! ) inhoud.
Us mere mortals will give this one a skip.

PS.
Daar’s voorwaar n toekoms vir u in die politiek….durf ek se.

Deon ·

Goeie artikel Ebert. Die generiese risikobestuursmodel kan help om klinies ons Volksoorlewingsrisikos te identifiseer, rangeer en voorkomende of impakintensiteite te minimaliseer om oorlewings- en selfonderhoubare strategiee te formuleer en kommunikeer aan meningsvormers. Dit behoort dan in ‘n eenvoudige 7 punt plan vir selfbeskikking beginnende op plaaslike woonbuurt en kantonvlak vergestalt te word en volksgerigte instellings en meningsvormende indiwidue genooi word om die pad na outonomie te visioneer en fasiliteer. Die mate van haalbare outonomie sal afhang van gebiedsteun en gebiedsrealiteite. Eendrag sal sodoende versterk, en Eendrag maak Mag. Die Visie – Die 7 punt plan – Plaaslike leierskap – suksesse word gekommunikeer – Selfbeskikking, groeiende outonomie – Volkstaat met sateliet kantonne die doel met vredesverdrae met buur-volke en Volksrade in oorseese lande met konsentrasies van Volksgenote om internasionale impak te fasiliteer.

Slim Daan ·

U kom oor as n PW protégé. Groot blaf ( anglismes en hoogdrawendheid ) en min ( haas onverstaanbare ! ) inhoud.
Us mere mortals will give this one a skip.

PS.
Daar’s voorwaar n toekoms vir u in die politiek….durf ek se.

André ·

Ebert, Ai ,hoekom sien ek nou eers hierdie finominale stuk inligting raak. Daar is seker maar n rede voor nê.
Ek vertrou regtig dat Dr Pieter hulle van die VF+ hierdie skrywe van jou ook onder oog gekry het.
Dit stimuleer denke en beplanning vir wat voorlê. Aan die hand van hierdie skrywe kan daar geweldige stimulasie kom wat kan groei tot iets waaruit ons as volk net sukses kan smaak.

Seëngroete,

André ·

Ebert, Ai ,hoekom sien ek nou eers hierdie finominale stuk inligting raak. Daar is seker maar n rede voor nê.
Ek vertrou regtig dat Dr Pieter hulle van die VF+ hierdie skrywe van jou ook onder oog gekry het.
Dit stimuleer denke en beplanning vir wat voorlê. Aan die hand van hierdie skrywe kan daar geweldige stimulasie kom wat kan groei tot iets waaruit ons as volk net sukses kan smaak.

Seëngroete,

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.