Veg beslis maar beleefd vir die regte van die Grondwet

veg-rookbom

Foto ter illustrasie. Foto:
Warren Wong/Unsplash.com

Met die lees van die Suid-Afrikaanse koerante die laaste week of wat, is dit moeilik om nie wanhopig oor die toekoms van ons land te word nie. Dis die een negatiewe vooruitsig ná die ander – en ’n mens kan nie eens sê dis buite verband geruk of oordrewe nie.

So op wyle pres. Paul Kruger se verjaardag kyk ’n mens na die volgende:

  • Die 30 top-ekonome wat deelneem aan Media24 se Ekonoom van die Jaar-wedstryd het hul groeiprognose van 1,34% verlede maand tot 0,97% verlaag. Dít nadat hulle in Mei nog ’n groei van 1,8% verwag het.
  • Staatsdepartemente en -ondernemings se onreëlmatige besteding is ’n skrikwekkende R72,6 miljard. Die vorige jaar was dit nog R42,8 miljard. Volgens prof. Jannie Rossouw, ekonoom by Wits in Johannesburg, wys dit die ANC-regering “is besig om die land in die grond in te bestuur”.
  • Die een skokkende onthulling ná die ander word voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping gemaak. Die Zuma-regering, blyk dit nou, wou met voorbedagte rade vir die land lieg oor die aanskaf van ’n oordrewe duur en onnodige kernkragsentrale van Rusland wat uiteindelik waarskynlik R1 000 miljard sou gekos het. Omdat die destydse minister van finansies, Nhlanhla Nene, geweier het om die transaksie goed te keur, het Zuma hom in die pad gesteek en met Des van Rooyen vervang, iemand wat van finansies en ekonomiese sake niks geweet en nog minder verstaan het.
  • Tydens die ondersoek het Phumla Williams (in ’n stadium waarnemende direkteur-generaal van die staat se inligtings- en kommunikasiediens) getuig dat haar minister, Faith Muthambi, korrup was en “tot elke prys” wou steel.
  • Die streekhofpresident van KwaZulu-Natal, Eric Nzimande, word daarvan verdink dat hy omkoopgeld aanvaar om sake deur die “regte” landdroste te laat hanteer.
  • Jacob Zuma het agter die skerms in Durban vergader met ’n aantal grootkoppe in die ANC, onder wie die party se sekretaris-generaal, Ace Magashule. Die doel was waarskynlik ’n komplot om pres. Cyril Ramaphosa tot ’n val te bring.
  • Die land se fisieke infrastruktuur gaan agteruit. Paaie word plek-plek nie herstel nie, die spoorweë funksioneer steeds slegter, die SAL steier kort voor bankrotskap.
  • Misdaad ruk heeltemal handuit.
  • Ensovoorts, ensovoorts.

En intussen duik die rand asof hy by die Augrabies-waterval afstort. Luidens berigte word die nuus dat Nene sy ontslag aangebied het, hiervoor verantwoordelik gestel. My gesonde verstand sê my egter dat die verslegtende situasie in Suid-Afrika minstens gedeeltelik hiermee te make het.

Die kern van die saak is die fundamentele onbekwaamheid en grypsug van 95% van die ANC-bestuurders. En die wortels hiervan strek terug tot die tydperk van ballingskap voor 1990.

Die Brits-Nederlandse historikus Stephen Ellis het in sy boek External Mission al ’n paar jaar gelede onthul dat heelparty leiers van die ANC/SAKP in ballingskap al korrup was en dat hulle hul magsposisie misbruik het om hulself te verryk.

Ná 1990 het jy steeds meer in dié geledere gehoor dat gesê word “Dis nou óns beurt om te ‘eet’ ”. Aanvanklik was die implikasie dat dit die wit mense se bevoorregting was wat verby was, maar allengs het dit steeds meer gegaan om ANC-lede wat mekáár by die krip wou verdring.

In talle opsigte was pres. Nelson Mandela in die jare 1994-’99 die regte man op die regte plek. Maar eerlike historici sal nie kan ontken dat hy sy oë gesluit het vir die eerste tekens van onbekwaamheid, magsmisbruik, korrupsie en nepotisme wat toe al sy kop uitgesteek het nie.

Dalk was dit pure naïwiteit, dat hy nie kon glo dat sy geliefde ANC nooit so edel was as wat hy gedink het nie. Of anders het diegene om hom sy beweegruimte veel meer beperk as wat bekend was.

Hoe ook al, pres. Thabo Mbeki se rassenasionalisme het gemaak dat hy sy oë resoluut gesluit het vir enigiets wat Afrikane verkeerd doen. En toe kom die kersie op die koek, Jacob Zuma, wat eenvoudig die ANC-Mafia se capo di tutti capi was.

Die ANC het in 1994 ’n uitstekende infrastruktuur van die vorige regering (wat self nie sonder foute was nie) geërf. Wat hulle nie besef het nie (of dalk kon dit hulle nie skeel nie), was dat ’n infrastruktuur deurgaans in stand gehou en aangepas moet word, en dat dit moeite en geld kos.

Daar was ’n versameling van kundigheid en ervaring wat tot die ANC se beskikking was, mense wat meer as gewillig was om terwille van die land én hul eie belang daardie infrastruktuur aan die gang te hou. En om swart mense te bemagtig om ook ’n bydrae te lewer.

Maar dit was “ons beurt om te ‘eet’ ”. Wit mense se hande is weggeklap.

’n Mens merk ’n herlewing van rassisme onder wit mense in Suid-Afrika. Dis verkeerd en nie die pad om te loop nie. Maar kan enigiemand hulle blameer? Kom ons wees eerlik, die ANC (en deesdae toenemend die EFF ook) maak dit nie maklik vir ’n mens om verstandig te blý en rassisme af te wys nie.

En tog moet dit. Haat en rassisme bied geen blywende oplossing nie.

Hoe dan nou?

Die agteruitgang van die situasie in Suid-Afrika hang saam met die toenemende druk op Afrikaans en die druk op die oorlewing van die Afrikaners en ander Afrikaanssprekendes.

Allereers moet ons mense voortgaan om op ’n beleefde, maar besliste wyse, te veg vir die regte wat die Grondwet aan ons toeken. Let wel, dit gaan nie om die onregverdige voorregte van die verlede nie, maar om die onvervreembare regte wat die Grondwet veronderstel is om te waarborg.

Verder sal die Afrikaners en ander Afrikaanssprekendes wat gewillig is, hulself steeds meer bo-oor alle politieke en kleurgrense moet organiseer. Getalle tel.

Solidariteit en AfriForum speel hier ’n belangrike rol.

En uiteindelik, probeer perspektief behou. Moenie dat die ANC en EFF se rassisme ons verlei om ’n spieëlbeeld van hulle te word nie.

Dis onverstandig. En laat ons nooit vergeet dat dit teen ons Christelike geloof indruis nie. Uiteindelik is dít nog die belangrikste.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

23 Kommentare

Eish ·

Moeilik om n positiewe sentiment te behou in die raak beskrywing van die helhool!
Dit is altyd met groot waardering dat ek artikels uit u pen lees.
Die boodskap aan die einde van die artikel bly tog maar die kruks van ons ingesteldheid.
” … die Christelike geloof…”
Al wat ek kan sê is dat die kruis my nerfaf en potblou geskaaf en gestamp het.
My bede draai aanmekaar net om een vraag, hoe lank nog?

Conrad ·

Hierdie kommentaar van LS kan beslis prominent geplaas word.

Eish hierbo maak ‘n geldige stelling tov die kruis. Of is dit dalk die selfaangestelde kruistogvoerders?

MTSteyn ·

Interessante skrywe, Broer Leopold.

Ek wil graag aansluit by jou vertoe wat paslik afsluit met die Christelike geloof wat eintlik ons metode en manier van verset bepaal.

Ek ‘sukkel’ so die laaste 20 jaar met die vlg. Christelike beginsel: Kinders van God word opgeroep om hulle by die regering van die dag rustig te gedra, vir daardie regering te bid, en daardie regering se voorspoed te soek deur hard te werk, belasting te betaal, en binne die wette vreedsaam te leef (solank dit nie indruis teen jou Christelike godsdiens nie), al is daardie regering die van Keiser Nero, wat jou bloed soek.

Wat hieruit voortvloei, is die vlg.:

Jy mag nie daardie regering omverwerp met brandende bande, landmyne op plaaspaaie, kleefmyne in restourante, die beywering van ekonomiese sanksies in die buiteland, en ander terroristiese dade teen ‘n ongewapende burgerlike samelewing nie. Inteendeel, jy moet op jou kniee gaan vir die behoud van daardie regering, want as Christen glo jy dat God daardie regering oor jou geplaas het in Sy soewereiniteit!

Die omverwerping deur geweld is dus nie ‘n Christelike beginsel nie, maar ‘n humanistiese sonde, nie waar nie Leopold?

Ek glo jy begryp my ‘wroeging’, sonder dat ek dit verder hoef in te kleur.

Leopold Scholtz ·

Beste Martiens, dis interessant: In die Calvinisme was daar ‘n ontwikkeling in hierdie opsig. ‘n Gewelddadige opstand is net geregverdig as allerlaaste middel nadat alle ander geprobeer is en misluk het. En dan ook net as die regering dit vir ons onmoontlik maak om ons geloof uit te leef. Selfs dan mag jy nie willekeurige geweld, soos met terrorisme, toepas nie. Die ANC het die Leninistiese model gevolg in die struggletyd. Hulle wou apartheid – wat ek as ‘n onchristelike beleid sien, altans soos hy in die praktyk toegepas is – vervang met ‘n kommunistiese diktatuur, en dit deur middel van terreur. As Christen glo ek jy moet tot die uiterste gaan om die reg aan jou kant te hou. En dit beteken ons moet geweldloos en binne die wet optree. Dankie vir jou bydrae.

gys ·

Soos die leerskool van afrikanerpolitiek my sedert 1969 geleer het sal ek maar net beleefd, eenkant en nie-deel-van wees.

Boerseun ·

Dat enige iemand in 92 ooit kon dink dat so iets sou gebeur. Ai

Hendrik ·

Jammer beleefd se tyd is verby. Daar moet op die man af gepraat word oor die onregte wat tans gebeur in S.A. Dit is hoekom burgeregtegroep Afriforum nie ‘n duim moet agteruit staan vir Afrikanerregte nie. Dis hoekom ons as homogene Afrikanergemeenskap nie ‘n duim ageruit sal staan as ons bereig gaan word nie. Ons het al gegroepeer soos voorgestel is deur Solidariteits Beweging (Flip Buys en Prof Koos Malan). Ons moet die huidige senario oorleef soos Frans Cronje (IRR) voorstel.

Andrea ·

Hendrik, ek lees gereeld jou kommentaar en hou van wat ek sien, want dit strook met my siening. Ek bly egter vra: wat gaan ons daadwerklik doen om die groepering daar te stel sodat ons beter by ‘selfbeskikking’ op n klein skaal, binne die beperkinge wat bestaan, kan uitkom?
Daar moet tog planne wees? Dr Flip Buys sê gereeld dis makliker om verskoning te vra as toestemming. Wat my laat dink daar planne is. Ek verstaan dat alles nie in die media uitbasuin kan word nie, maar as lid van hierdie organisasies wil ek meer inligting hê. Want ek moet besluite neem oor bly, skuif na ander area, of emigrasie. Wat is jou insette, asb?

Fanie ·

Uitstekende ontleding dankie! Solidariteit en AfriForum kry kritiek oor wat hulle doen vanaf mense wat niks doen nie.

OWO ·

Goeie en interessante skrywe mnr Scholtz.Ek praat vanuit ‘n derde vlak Regeringsoogpunt,maw dienslewering.Vanaf 1994 tot 2000 het dit redelik goedgegaan wat dienslewering betref.Vanaf 2001 het die wiele na mening begin afval.Daar is te gou van kundigheid ontslae geraak,en die mense wat aangestel is,het eenvoudig die bestaande bestuurstrukture van die tafel afgevee en afgeskaf.Bestuur is tog beheer oor iets of iemand en as dit nie meer bestaan nie,is dit ‘n kandidaat vir ‘n ramp.Die grootmaat dienste was nog altyd redelik goed,maar die sekondere dienste bv,bouplanne,parke,oop ruimtes,inspeksiedienste,stortterreine,begraafplase ens,lei groot skade agv swak of geen bestuur nie.Ek dink die ideologiese en kultuur verskille speel wel hier ‘n groot rol.

Jerry ·

Dit is n skrywe waarmee ek myself gemaklik kan vereenselwig. Tree versoenend op deur beleefd te veg vir Afrikanerregte met die hoop dat beleefdheid ons nageslag se regte sal beskerm en dat beleefdheid nie net teenoor die magshebbers, maar ook teenoor mekaar, die Afrikaner geregverdig sal verening sou die dag wel aanbreek om verbete te moet veg vir die behoud van die nalatenskap van die regte van ons voorvaders vir ons nageslagte. Beleefdheid onder mede Afrikaners en teenoor mekaar is die resep vir eenheid onder die Afrikaner in die tyd waarin ons leef. Domastrante, skoorsoekende, ongeskikte beledigende en ondermynende optredes saai erge verdeeldheid onder Afrikaners soos wat ons tans sien aan die gebeur is. Dit is tyd om slegte praktyke te laat vaar! Ons moet daarteen waak om nie kwaad met kwaad te vergeld nie. Die geregtigheid wat ons nastrewe moet dus geregverdigbaar wees. Ons moet ophou om die vinger na mekaar te wys en om mekaar te blameer, ons moet ophou om n wig tussen die ouergarde en die jeug in te dryf, ons moet ophou om ons wil op mekaar af te wil forseer. Ons moet ophou om mekaar op te sweep. Ons moet mekaar beleefd behandel en mekaar respekteer en ons moet na mekaar uitreik en ons moet hande vat en ons moet bid, ons moet saam bid in ons strewe na n vreedsame en voorspoedige voortbestaan! Onsself is nie meer tot beleefdheid instaat nie, daarom moet ons daarvoor bid!

Rupert Ashford ·

Puik laaste twee paragrawe Oom Leopold. Dit is die kruks van die saak.

B ·

Kom ons staan gou stil by die punt van rassisme : Die term ‘rassisme’ is die tema van die dekade, maar wat is die definisie nou weer?

Google-loer stel bv: ‘Racism is a belief that one race is superior to the other or the practice of treating a person or group of people differently on the basis of their race.’ (LW daar is geen sterretjie of voetnota wat dit ‘n gekwalifiseerde definisie maak.)

Dit lei ons dan tot die volgende vraag, wat is ‘superioriteit’. Is dit gekoppel aan ‘uitnemendheid’? Is dit net ‘n ‘gevoel/persepsie, of is dit ‘n realiteit? (Of dalk ‘n persepsie geskep deur realiteit?) Doen die ANC nie hulle bes om op verskeie vlakke te demonstreer dat hulle nie voldoen aan die definisie van uitnemendheid? (Op ‘n syrangering – is ‘xenofobie’ nie eintlik ‘n eufemisme vir rassisme?)
Is iemand wat streef na uitnemendheid (self en dit verwag van andere) dan ‘n rassis by implikasie?

Word wittes verskillend behandel op grond van hulle ras? Verseker ja – volgens die definisie het ons dus (gewettigde) rassisme in ons land maar dit word bedek met ‘n kombers van politieke breinspoeling. Is gewettigde rassisme dan enigsins regverdigbaar, en hoe verskil dit van ‘ander’ rassisme?

So wat nou?
(Mense is huiwerig om rassisme te debatteer, maar is dit nie dalk juis nodig om daaroor ook te praat? Kritiek (teen pesone, instansies ens) word maklik gesien as ‘rassisme’, maar dis ‘n wanopvatting.)

B ·

Jammer, wou nog byvoeg :

Waar laat dit wedersydse respek? Ek glo dat heel moontlik kan rassisme nie bestaan / voortleef in die teenwoordigheid van respek?

Paul ·

Amen, amen, Demaskus, Demaskus. Ongelukkig is dit so dat as ek die een wang draai, dan is die realiteit waarmee ons hier te kampe het, dat ek ook die ander wang moet draai.

Dus, hier is my tjekboek, hier is my password, my versoenende offer.

Ek vertrou jou en dat jy my met dieselfde ingesteldheid sal behandel as ek vir jou hier
voor.

Marthinus Willemse ·

Ek het in die NG Kerk gekatkiseer onder dr Johan Janse van Rensburg. In sy boek Nie deur geweld …: `n Kritiese studie oor Revolusie en Teologie.(1985) NG Kerkboekhandel Transvaal., bespreek hy Bevrydingsteologie, Swart Teologie en Teologie van die Revolusie, wat begin verkondig het dat Jesus `n revolusionêr was, en dat dit aanvaarbaar is om teologie te predik met `n geweer in die hand. Die nuwe hemel en nuwe aarde kon slegs geskep word indien die bestaandes vernietig word.

Volgens prof Van Rensburg het Jesus by slegs een geleentheid oor geweld gepraat, en dit toe afgewys. (Mt 26:52) Maar, ons hoef nie die bestaande orde net so te aanvaar nie, soos Van Rensburg skryf:

“Dit kan nie ontken word dat verandering en vernuwing `n Bybelse begrip is en dat die beginsel van vernuwing en lewensverandering `n wesenlike deel van die Christelike geloof is nie. Ons moet daarom toegee dat dit onverantwoordelik is om doelbewus of onbewustelik van die standpunt uit te gaan dat alles wat is, rég is. Ook in die samelewing moet die beginsel geld dat die bestaande orde nie noodwendig die enigste en beste oplossing is nie. Dit sou onverskoonbaar simplisties wees om te meen dat die gekompliseerde wêreldprobleme met `n een-dimensionele denkwyse opgelos kan word.” [1:61]

Die SA nasie van Varkerasies ·

Die Suid-Afrikaanse nasie van alle spesies van varkerasies stem volmondig met u saam.
Viva vriendelikheid, viva beskeidenheid, viva geduld, viva mekaar verdra in liefde, viva reg en geregtigheid, viva vir ‘n vreedsame voorspoedige SA vir alle SA-ners en alle varkerasiegenote !

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.