Veglus en die wil tot beveiliging

guerrillavegters

Guerrillavegters tydens die Tweede Vryheidsoorlog.

Deur Johan Schoeman

Die sielkunde meld dat die drang tot oorlewing en beveiliging op die vlak van instink by mens en dier funksioneer. Dit is steeds die geval, maar maatreëls om dit reg te kry, het mettertyd baie meer gesofistikeerd geraak en strek nou oor ’n breë spektrum; van die voer van oorlog tot die gebruik, in die sosio-maatskaplike omgewing, van dialoog, diplomasie en die verkiesing van diegene wat op politieke vlak hierdie veiligheid in alle vorme daarvan aan burgers moet waarborg.

Van verkiesings gepraat – binnekort word Suid-Afrikaners weer opgeroep tot verkiesing van hulle plaaslike politieke verteenwoordigers. Só kan burgers egter ook opgeroep word tot militêre diens ten tyde van gebeure wat die staat bedreig. Patrick van Schie, direkteur van die TeldersStichting, ’n liberale dinkskrum in Nederland, skryf onlangs in ’n artikel in die Nederlandse blad Trouw oor die kwessie van, soos hy dit noem, veglus by volke. Hy noem dat daar onlangs ’n opname gemaak is wat aantoon dat slegs 18% van Duitsers en 11% van Japannese hulle nou bereid verklaar om vir hulle land te veg. Insiggewend, veral gesien teen die agtergrond van hierdie (egter nie die enigste nie) lande se geskiedenis in die 20ste eeu wat militêre bedrywighede betref. Hy wy egter nie in die artikel uit oor die redes vir hierdie standpunt van die respondente in die opname nie.

Die Skotse denker, Adam Ferguson, het reeds 200 jaar gelede al gedink en geskryf oor veglus in moderne samelewings. Hy toon aan dat stryd en oorlog soms goeie dinge in mense na vore bring, byvoorbeeld kameraadskap en moed. Soos aangetoon deur nog ’n bekende denker van die Skotse Verligting, Adam Smith, het die ontwikkeling van arbeid- en taakspesialisering in lande mettertyd grootliks die welvaart van bevolkings bevorder.

Vandag word hierdie spesialisering egter bevraagteken uit die oorde van diegene wat voorstanders is van die gedagte dat akademiese bedrywighede eerder klem moet lê op die verbande tussen verskillende dissiplines en oor vakgrense heen moet kyk. Nietemin, hierdie taakspesialisering het ook gelei tot die daarstel van ’n beroepsleër, wat veroorsaak het dat burgers hulle direkte band met die krygsmag verloor het, dikwels saam met hulle militêre deugde en vaardighede.

Volgens Van Schie kan dit dui op die verswakking van die samelewing se vermoë en wil om weerstand te bied teen nasionale bedreigings en is só ’n samelewing se voortbestaan maklik in gedrang, veral as dit gepaardgaan met die verkleining in die begroting gewy aan nasionale verdediging. Hoewel ’n voorstander van ’n nasionale milisie (in sy tyd ’n groepering van manlike persone wat ten nouste betrokke is by landsverdediging), beteken dit nie dat Ferguson burgers tot allerhande militêre avonture aangemoedig het nie. Hy het deurgaans die gevaar beklemtoon dat mense op sleeptou geneem kan word deur hierdie aksies, en pleit daarom vir ’n staatsvorm wat verskeie wigte en teenwigte bevat om dit te voorkom. Hy maak egter ’n sterk saak daarvoor uit dat burgers steeds nie hierdie wil tot verdediging behoort te verloor nie.

Die Suid-Afrikaanse geskiedenis getuig van verskeie sulke militêre “avonture”. Daar is natuurlik uiteenlopende argumente oor die betekenis en aard daarvan, die redes daarvoor, asook die wenslikheid van hierdie aktiwiteite al dan nie. Tog bestaan daar ook ander tipes bedreigings, wat niks te doen het met gewapende optrede nie. In Suid-Afrika is ons terdeë hiervan bewus, ook as Afrikaner en Afrikaanse groepering. Terwyl jy weet dat die opponent se persepsie van die mate waartoe jy veglustig is ook ’n rol kan speel in wat hy gaan doen, word kwessies soos hoe jy in sulke gevalle wil optree, waarvoor jy wil optree, waarvoor nie en met watter prioriteite, nou meer ter sake.

Een manier is die gedagte om nie net dit wat bestaan te probeer beveilig nie, maar ook die neem van aksie deur nuut te skep; om ruimtes te skep waar dit nie nodig is om net te probeer oorleef nie, maar waar jy kan floreer. Militêre optrede as reaksie op ’n eksterne bedreiging ter syde, sou mens wonder hoe plaaslike houdings vir beveiliging van die bestaande, maar ook die wil om nuut te skep, binne die Afrikaanse gemeenskap sou lyk.

Besluite om dit te doen bly gegrond op (dikwels moeilike) individuele en groepskeuses, wat dui op die nakoming van ’n bepaalde verantwoordelikheid, of die afwesigheid daarvan. Die geskiedenis, wat onder meer ook ’n kroniek van veglus en optrede tot beveiliging verteenwoordig, sal uiteindelik oor hierdie keuses en die sukses daarvan, al dan nie, skeidsregter speel. Dit vra dus die berekende aandag van almal vir wie die voortbestaan en beveiliging van dit wat vir hulle waarde het, ’n saak van erns is.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: NP van Wyk Louw-sentrum

Die NP van Wyk Louw-sentrum vir Gemeenskapstudies is ‘n toekomsgerigte ideesentrum wat fokus op die voorwaardes vir selfstandige en suksesvolle gemeenskappe.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

BOERE NOOI ·

Ag nee regtig. Van wanneer af is ‘n Boer ‘n Guerrilla vegter? Dit is totaal en al n verdraaiing van Feite.

Pieter ·

Oooh so Genls. De La Rey en De Wet is bekend vir die truie wat hulle gebrei het en nie die meesterlike verfyning van Guerrilla oorlog nie?? Lyk my al die boeke wat ek oor die twee merkwaardige mans besit, is totaal en al verkeerd, tsk tsk

Sputnik ·

Boere Nooi (wat eintlik Boerenooi in goeie Afrikaans moet lees), jy ken darem maar jou geskiedenis baie, baie swak!!

Otter ·

Ek dink erandering is nodig. Groot verandrringe het in die verlede gebeur in die teenwoordigheid van manifeste. Dit lyk of Afrikaners onsself moet organiseer sodat iemand namens ons kan praat met ‘n sigbare mandaat. Ons moet dan ons grieweuitspel, en op grond daarvan biddend besluit watter oplossings ons wil volg. Hierdie word dan gekommunikeer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.