Veiligheid en die 2024-verkiesings: ʼn Intelligensie-analise

Deur dr. Willem Steenkamp

‘n Lid van die Suid-Afrikaanse Polisiediens tydens die Julie-onluste van 2021 (Foto: LUCA SOLA / AFP)

Sedert die 1950’s is georganiseerde Swart-politiek in Suid-Afrika (soos in baie dele van Afrika) gekenmerk deur ʼn verdeling tussen gematigde elemente wat verkies het om by nie-rassige, Westerse stylbeleide te hou, en diegene wat streef na ʼn sogenaamde Afrikanistiese benadering. Binne die ANC het dit gelei tot die webreek van die Afrikanistiese PAC-element in die laat 50’s (ook weens hul weerstand teen die invloed van nie-Swart-kommuniste binne die ANC/ SAKP-alliansie). In die sewentigerjare het die Swartbewussynsbeweging na vore getree.

Binne die ANC/ SAKP-alliansie self was die “Lusaka”- en “Londen”-vlerke duidelik onderskeibaar, met laasgenoemde (verpersoonlik deur latere president Thabo Mbeki) wat die gematigde neiging verteenwoordig het. Die feit dat president Nelson Mandela die gematigde benadering in die laat tagtigerjare as ʼn kwessie van realpolitiek omhels het (sonder om die Afrikanistiese of kommunistiese vleuels af te sweer) het verseker dat die ANC-gematigdes in beheer was tydens die oorgangsonderhandelinge (wat beteken het dat hulle nie meer aangedring het op die idee van ʼn Marxistiese volksrepubliek nie en ʼn Westerse-styl grondwetlike demokrasie aangeneem het).

Dit het egter nié beteken dat die Afrikanistiese vleuel hul drome van ʼn Nasionale Demokratiese Revolusie (NDR) prysgegee het nie. Takties het hulle bloot as prioriteit erken die noodsaaklikheid om eers ontslae te raak van die wit regering, met die NDR wat later sou volg op ʼn geleë toekomstige oomblik.

Die opkoms van die gematigdes het geëindig by die ANC se Polokwane-verkiesingskonferensie in Desember 2007. Die “Lusaka”-vleuel se meester-taktikus en geswore vyand van Thabo Mbeki, Mac Maharaj (wat my vader, die oorlede generaal Frans Steenkamp, voormalige hoof van die SA Polisie Veiligheidstak altyd beskryf het as die gevaarlikste ANC-leier) en geswore vyand van Thabo Mbeki, het die gaping in die ANC se interne grondwet geïdentifiseer wat sy man, Jacob Zuma, as partyleier verkies sou laat word. Wat nodig was, was om die konferensie te oorstroom met afgevaardigdes van KwaZulu-Natal (KZN) vanuit ʼn menigte nuwe takke wat daar wettiglik geregistreer is gedurende ‘n Zuma-gedrewe veldtog.

Aangesien die Suid-Afrikaanse Grondwet so gestruktureer is dat die dominante faksie binne die dominante party (as dié ʼn meerderheid van die setels in die parlement hou) effektief die staatshoof aanstel, is Zuma vervolgens as die land se president ingehuldig.

Gedurende sy presidentskap het Zuma reeds duidelike tekens van sy Afrikanistiese oortuigings getoon, alhoewel hy toe geen poging aangewend het om die bestaande Westerse-styl grondwet te wysig nie.

In werklikheid was dit Zuma wat die jong radikale uit die ANC verdryf het wat toe die EFF (Economic Freedom Fighters) onder leiding van mnr. Julius Malema gevorm het.

Zuma het homself gou genoeg omring gevind deur “adviseurs” wat daarop uit was om die staatskas te melk. Dit het die gewildheid van die ANC negatief beïnvloed. Saam met die vrees onder ander ANC-lede dat Zuma ook die Zoeloes buitensporige mag binne die ANC gee, en met befondsing vanuit wit sake-geldere het die “gematigde” vleuel ‘n terugkeer bewerkstellig , , Zuma se bedanking bewerkstellig en die naelskraapse verkiesing van Cyril Ramaphosa as party-president in Desember 2017 vermag.

Zuma verdedig homself sedertdien teen regsbewerings van korrupsie. Sy kortstondige opsluiting in 2021 vir minagting van die Grondwethof het gelei tot ʼn uitbarsting van gewelddadige protes en plundering, hoofsaaklik in sy tuisprovinsie KZN. Hy is vinnig deel van ʼn algemene vonnisvermindering gemaak en vrygelaat.

Wat die Julie 2021-onluste aangedui het

Die Julie 2021-onluste het drie kritieke punte onderstreep, elk baie relevant tot hierdie analise:

Eerstens dat, as ʼn instrument om politieke druk uit te oefen, die aanhitsing van sulke gewelddadige onrus ongetwyfeld geslaag het;

Tweedens, die veiligheidsmagte was heeltemal onbevoeg om die veiligheidssituasie te bestuur; en

Derde, vir die aanstigters was daar geen saakmakende negatiewe gevolge nie.

Dit gesê, teen die einde van 2023 het dit al hoe duideliker geword dat Zuma se “Stalingrad”-vertragingstaktiek in die hof effektief die einde van die pad bereik het. Hierdie keer het “Team Zuma” die nasionale Grondwet ontleed. Gebaseer op proporsionele verteenwoordiging (wat sistemies die vorming van ‘n magdom klein partye bevoordeel), was die geleentheid daar vir Zuma om weer ʼn lid van die parlement te kon word, buite-om die ANC.

Koalisieregering-afdwing deur die ANC te verswak

Belangriker nog – as die ANC onder 50% van die setels in die parlement gebring kon word deur ʼn klomp van hul tradisionele kiesers af te rokkel na Zuma se nuwe MK-party, dan sou die ANC gedwing word om koalisievennote te soek en sou die stert dalk die hond kon swaai. (Die feit dat die MK-naam en logo gekies is, maak dit duidelik dat die hoofdoel was om ANC-kiesers af te rokkel na hierdie “gesuiwerde” of “oorspronklike” party wat terugverwys na die bevrydingsbeweging-dae; die party se manifes met sy Afrikanistiese en NDR-doelwitte maak dit ook duidelik).

Die belang van al die voorafgaande wanneer ʼn mens die waarskynlikheid beoordeel van geweld voor, tydens en veral na die verkiesings beoordeel, is dat die vreedsame aard van die verkiesings gehou van 1994 tot 2019, meestal te danke was aan die feit dat dit altyd ʼn uitgemaakte saak was dat die ANC ʼn absolute meerderheid sou wen. Nou is daar egter vir die eerste keer die waarskynlikheid (volgens die meningspeilings) dat die ANC nie ʼn volstrekte meerderheid sal behaal nie. Dit beteken dat die verkiesing as sodanig, hierdie keer niks meer nie as die aanvanklike toneelskikking sal wees.

Dit is nie die 2024-verkiesing wat die samestelling van Suid-Afrika se volgende regering sal bepaal nie (as, soos voorspel, geen party ʼn absolute meerderheid wen nie). Dit sal die politici wees wat nuut verkies is tot die parlement, deur onderhandelinge onder mekaar. Om te probeer om ʼn stabiele koalisie te vorm.

Só ʼn scenario bring die volgende belangrike vrae na vore: sal daar nie logies ʼn ewe groot poging wees ná die verkiesing om die genoemde politici te beïnvloed, as wat daar was voor die verkiesing was om te probeer om die kiesers te beïnvloed nie? Of moet ons werklik glo dat ons nuut-verkose parlementslede vroom sal optree asof in ‘n Suid-Afrikaanse eweknie van ‘n pouslike verkiesing in die Sixtynse Kapel, beleefd gewikkel in ernstige debat oor wie die eer en verantwoordelikheid van staatshoof toekom, gelei suiwer deur goddelike inspirasie? Sal ons bevolking buite staan, waardig en met stille geduld, asof op ʼn St. Peter’s Plein vergader, passief wagtend vir wit rook om uit ʼn skoorsteen te kom om aan te dui dat ons nuwe “pous” gekies is?

Hoe lank sal al hierdie neem?

Die koalisiescenario bring nuwe, onbekende risiko’s en uitdagings

Hierdie potensiële koalisiebou-scenario is vol risiko’s, gesien vanuit ʼn nasionale veiligheidsperspektief:

Eerstens, as die ANC nie met ʼn duidelike meerderheid te voorskyn kom nie, sal almal – insluitend baie binne die veiligheidsmagte – dadelik aanvoel dat hul huidige politieke meesters op geleende tyd is, wat ernstig die gesag van die lameduck-ministers sal beïnvloed (omdat hulle net mense is, sal die individuele lede van die veiligheidsmagte ook elkeen hul eie party-politieke en stam-affiliasies hê, om sake verder te kompliseer).

Tweedens, daar is waarskynlik dadelik negatiewe ekonomiese impakte, soos ʼn beduidende verswakking van die Rand.

Derdens, emosies sal hoog loop – beide onder politici (met lewensbestaan op die spel) en die bevolking, wat skree vir “hul ouens” om ʼn kans te kry.

Vierdens, daar sal ʼn oorweldigende versoeking wees om daardie proses van toutrek rondom posisies te probeer beïnvloed; dit sal waarskynlik nie die vorm aanneem van die beleefde uitwys van jou span se meriete nie – veel eerder sal dit sterk-arm wees, in die vorm van openbare demonstrasie van wat die ongemaklike gevolge sal wees as jou kant uitgesluit word.

Vyfdens, die grootste deel van gewone parlementslede sal gefokus wees daarop dat hulle spesifieke party in staat moet wees om in die buit te kan deel (vir dus hulself), sonder veel agting vir die persoonlike voorkeure van hul leiers rondom met welke opponente laasgenoemdes persoonlik gemaklik sal wees om saam te werk. Dit mag dus goed moontlik gebeur dat, as daar leiers is wat om watter historiese interpersoonlike redes ook al nie met bepaalde ander saam wil werk nie, daardie leiers dalk onthef mag word ten einde ʼn maghebbende koalisie moontlik te maak. Dit kan lei tot verdere onstabiliteit op party-politieke vlak indien iemand soos president Ramaphosa, byvoorbeeld, uittree of uitgedwing word.

Laastens, die stemtelproses – die duur en geloofwaardigheid daarvan – kan aanleiding gee tot onrus, veral as daar bewerings van verkiesingsbedrog gemaak word (waarvoor Zuma reeds die grondslag gelê het).

Die politici weet wat waarskynlik gaan kom en beplan duidelik al reeds daarvoor

Dit verg nie diepsinnige denkvermoë nie om te begryp dat hierdie komende realiteite reeds deur politici van alle kleure verstaan word. Hulle dink beslis reeds daaroor en beplan hoe hulle hulself die beste kan posisioneer in die geval van so ‘n smousery met mag en posisies. Belangrik in terme van nasionale veiligheid-analise is wat elke party bereid en in staat sal wees om eintlik te doen, na-verkiesing, om hul invloed aan die onderhandelingstafel te maksimeer (hier moet onthou word dat ons nie net op nasionale vlak praat nie – daar is provinsies wat dalk koalisievorming kan vereis: KZN meestal so, maar bes moontlik ook die Wes-Kaap, Gauteng – moontlik selfs almal).

Watter taktieke sal hierdie partye gebruik? Hoe ver sal hulle bereid wees om te gaan, nasionaal sowel as met betrekking tot bestrede provinsies, om hul onderskeie posisies te bevorder? Sal hulle vertrou op rede alleen, of sal sommige van hulle bereid wees om oor te gaan tot fisiese optrede, tot “rollende massamobilisering” om druk uit te oefen? (Soos, byvoorbeeld, gebeur het na die laaste verkiesing in die VSA).

ʼn Mens kan net staatmaak op die geskiedenis. Die gebeure van Julie 2021 spreek vanself, wat die modus operandi van “Team Zuma” betref.

Die reeks politieke moorde wat reeds in KZN aanskou is, beklemtoon dat politiek in Suid-Afrika ʼn dodelik ernstige saak is, nie ʼn Sondagskool-piekniek nie. As ons ʼn bietjie verder terugkyk, is daar die geskiedenis van gewelddadige swart-op-swart-bloedvergieting tydens die aanloop tot die 1994-verkiesing.

Daar is ook die “Lusaka”-vleuel se beplanning van Operasie Vula, wat presies ontwerp was om daardie verkiesing en die vorming van die eerste nie-rassige regering deur gewapende geweld te beïnvloed, as sake nie na hul sin gegaan het nie (en as die destydse veiligheidsmagte nie ʼn stokkie daarvoor gesteek het nie). Net so het SWAPO dieselfde gewelddadige “sterk man”-taktiek in Namibië probeer met hul rampspoedige inval daar op 1 April 1989, in die aanloop tot daardie verkiesing.

Dit is nie laster om te sê dat politici en partye met hul wortels in revolusionêre politiek ʼn ander siening van geweld as politieke instrument het nie – dis tog só dat Mao hulle duidelik geleer het dat “politieke mag uit die loop van ʼn geweer groei”.

Waarom politici dalk in massa-aksie sal probeer

ʼn Aantal faktore sal dit baie aanloklik maak vir sekere politici om koalisievorming te probeer beïnvloed deur middel van massamobilisering en onrus, gedurende die post-elektorale smousery wat waarskynlik sal volg as geen party ʼn duidelike meerderheid wen nie:

Die feit dat daar waarskynlik weer nie enige negatiewe gevolge op hulle besoek sal word nie, vir so iets aanhits (met ander woorde, daar is geen effektiewe afskrikmiddel in terme van hul persoonlike wen-verloor-keuse nie, met dus effektief niks om te verloor nie, en alles om te wen).

Aan die ander kant van die balans-skaal, is dit só dat om deel van die regering te wees, dalk vir van hulle die sekerste manier sal wees om van hul regskwessies ontslae te raak en uit die tronk te bly.

Die veiligheidsmagte sal bes moontlik nog minder in staat wees om effektief op te tree as hul jammerlike vertoning destyds in Julie 2021, en hierdie politici weet dit.

Die aanhitsing van onrus sal baat vind by die wye uitreik-vermoë wat deur sosiale media gebied word, sowel as deur die vermenigvuldigingseffek van algemene frustrasie en woede onder veral die werklose jeug – plus die geleentheid wat die kriminele element (asook honger skares) sal sien in enige ineenstorting van wet-en-orde, om weer op ʼn plunderingstog te gaan.

Met die vinnige vrylating van Zuma na die Julie 2021-onluste, het hulle gesien dat die aanhitsing van onrus ʼn effektiewe politieke magshefboom is – veral die begrip dat: “as jy ons uitsluit, dan sal daar geen vrede wees nie”.

ʼn Laaste faktor wat in ag geneem moet word, is die skuiwende magsbalans in die wêreld, plus (verwant daaraan) die huidige neiging in Afrika rakende anti-imperialisme en Afrikanisme. Die Weste is besig om sy oorheersing te verloor. Met soveel wat tans op sy steeds kwynende kollektiewe bord is (Gaza, Oekraïne), sal die Weste nie konkreet ingryp as dinge ernstig verkeerd begin loop in Suid-Afrika na die verkiesing nie.

Die Weste word tans gedwing om uit Afrika terug te trek. Veral nou die Franse en die VSA (die Britte het lankal vertrek). Dit is deel van die groeiende verdeling in die wêreld, soos gesien vanuit die Derdewêreld-perspektief. ʼn Verdeling tussen “imperialistiese” en “anti-imperialistiese” kragte (die Weste word geïdentifiseer met die voormalige). Dit sluit aan by wat die ekonoom Arnold Kling ʼn dekade gelede geskryf het, oor teenstrydige wêreldbeskouings wat verskillende bevolkingsgroeperings lei om die politieke debat te sien in terme van ‘n stryd tussen “beskawing en barbarisme” of “onderdruktes teenoor onderdrukkers” (met laasgenoemde wat, in onlangse terminologie, anti-imperialisme versus imperialisme is).

Hierdie anti-imperialistiese, Afrikanistiese neiging wat ons nou sien afspeel in Afrika van sy Noorde af, is deels verbind met die Oekraïne-konflik en die rol van die Russiese Federasie in die poging om die Weste in Afrika te ontsetel en te vervang.

Die Russe wys uit (tereg) aan Afrikane dat hierdie Westerse moondhede soos Frankryk in die sestigerjare vir hulle net skyn-onafhanklikheid toegestaan het, bloot sodat Parys nie meer gekonfronteer sou word met meer oorloë van nasionale bevryding soos wat hulle verloor het in Indo-China en Algerië nie. Vanaf “onafhanklikheid” het die Franse dit só gemanipuleer dat dit voortaan “Swart”-regerings sou wees wat die swart massas in toom sou hou – maar Swart-regerings hand-gekies deur die Franse, met hierdie Afrikane wat regeer op die Franse grondwetlike model. In werklikheid egter, op ʼn “krap mekaar se rug”-basis van korrupsie. Hierdie verhouding van voortdurende afhanklikheid is gewoonlik bereik deur die Franse wat die kleinste stam in ʼn land verhef het tot die nuwe Askaris wat die massas onder beheer moet hou en die Franse hul wins moet toelaat, terwyl die só bekroonde nuwe “leiereskorps” toegelaat word om vir hulleself ook die room af te skep.

Die huidige golf van Afrikanisme tesame met anti-imperialisme is ʼn baie kragtige sielkundige en nasionalistiese krag wat, in die Suid-Afrikaanse konteks, die idee ondersteun dat die tyd hier ook aangebreek het om die Westerse-styl grondwetlike bestel van 1994 te vervang met ʼn Afrikanistiese model.

Terwyl baie Suid-Afrikaners siel-salig gedroom het oor die dag dat die ANC sy verdiende loon by die stembus sal kry, mag die gevolglike realiteit nie ʼn alliansie van Westerse-styl gematigdes wees wat oorneem nie, maar anti-imperialistiese Afrikaniste…

Statisties het die huidige lede van die nuwe Veelpartyhandves skaars 33% van die stemme by die laaste verkiesing behaal. Wat dus maklik kan gebeur uit die ANC wat hierdie jaar nie 50% behaal nie, is dat ʼn ander, baie verskillende Afrikanistiese alliansie inderdaad ʼn tweederde meerderheid kan behaal. ʼn Alliansie van wesenlik die Afrikanistiese bewegings soos MK en die EFF, plus die ANC (dan omgeskakel na volwaardige Afrikanistiese, om nog deel te wees van ʼn regerende meerderheid) saam met ʼn versameling van kleiner partye soos GOOD. Wat hulle gesamentlik ʼn voldoende meerderheid in die nuwe parlement toelaat om die huidige Grondwet te wysig.

Die kompetisie is skerp, met (voormalige) rewolusionêres wat geleentheid ruik en nie veel weerstand voorsien nie – nóg plaaslik van veiligheidsmagte, nóg internasionaal (in werklikheid, met die soos van die Russiese Federasie en China wat hulle ondersteun, om Westerse invloed in Afrika te verswak).

Die potensiaal vir doelbewuste aanhitsing van onrus, sowel as vir die spontane eskalasie daarvan, moet dus nie onderskat word nie.

Waar sal onrus waarskynlik manifesteer?

Die voor die hand liggende eerste streek om op te fokus is KZN, gegewe Zuma se tradisionele magsbasis daar. Dan, die ander Zoeloe-gedomineerde dele van Suid-Afrika, soos die noordoostelike Vrystaat, Witwatersrand, en suidoostelike dele van die voormalige Transvaal. Gegewe dat daar hierdie keer baie meer op die spel is as in Julie 2021 (toe die onrus nie na die res van die land versprei het nie), is dit heel moontlik dat dit nou kan gebeur – veral in die geval van provinsies waar geen duidelike wenner na vore kom nie.

Areas met hoë vlakke van ontevredenheid en frustrasie wat onder misdaad en erge armoede ly, waar bendes die geleentheid kan aangryp, kan veral só geneig wees. ʼn Ander “sagte teiken” wat besef moet word (en wat aansluit by die oproepe van die Afrikaniste vir grond-herverdeling), is die landelike gebiede. Dit is denkbaar dat ʼn toestand van politieke verwarring hierdie partye kan beweeg om grondbesettings te instigeer as ʼn manier om politieke hefboomkrag en relevansie vir hulle self te bekom, asook om hulle populistiese geloofwaardigheid en “toewyding aan die mense” te demonstreer.

Wat kan as katalisators vir moeilikhede dien?

Afgesien van die smous-fase (as noodwendige gevolg van ʼn parlement sonder volstrekte meerderheid) wat hierbo beskryf is, kan moeilikhede selfs voor die verkiesings uitbreek as mnr. Zuma ontken word die moontlikheid om op die MK se kandidatelys te wees ontsê word (die Grondwethof moet nog finaal hieroor beslis). Die sluipmoord-tendens kan ook onrus veroorsaak, veral as ʼn baie hoëprofiel-kandidaat vermoor sou word.

In die onmiddellike nasleep van die verkiesing, sal alle oë op die verkiesingskommissie wees. As daar enige vermeende onbehoorlike vertraging in die vrystel van die uitslae sou wees, of as bewerings van bedrog geloofwaardig gemaak word, kan dit lei tot oproepe vir massamobilisasie en protes, wat ʼn eie lewe kan aanneem en in wydverspreide geweld kan ontaard.

Sou ʼn party besluit om ongrondwetlike, in effek rewolusionêre middele te gebruik om sy sterk-man geloofsbriewe te demonstreer (effektief sy vermoë om die land gyselaar te hou) dan kan dinge baie vinnig ernstig raak.

Wat kan so ʼn “massa-aksie”-strategie potensieel behels?

Gegewe die land se topografie en etniese demografie, kan daar weer ʼn poging wees om die hoofpaaie af te sny – waarskynlik by die bergpasse (Van Reenen) of knoop-punte (Mooirivier). Dit kan gepaard gaan met die ontwrigting van ʼn ekonomies uiters belangrike hawe soos Durban. Aksies soos hierdie, veral as die onderhandelingsfase uitgerek word, sal die aanstigters aansienlike hefboom-krag oor die (tussentydse) regering en die sakewêreld bied.

Dit sal duidelik die aflewering van brandstof en voedsel beïnvloed. (Dit moet nie vergeet word dat die 1994-verkiesingsuitslag, ten besluite, inderdaad ʼn “ooreengekome resultaat” was, eerder as ʼn wiskundig korrek berekende resultaat, presies as gevolg van sulke politieke oorwegings van die vermyding van onstabiliteit nie, sodat ʼn presedent vir só ‘n tipe uitkoms wel bestaan).

Kommunikasie deesdae hang baie af van selfoontorings, wat weer ʼn teiken kan wees.

Noodsaaklike infrastruktuur soos elektrisiteit- en watervoorsiening kan ook geteiken word, as ʼn manier om frustrasie en woede te verhoog en om die vermoë om te ontwrig te demonstreer.

Om plunderaars (of grondbesetters) tot aksie op te roep, is uiteraard ʼn hoë-impak maneuver, met brandstigting as ʼn goedkoop en geredelik beskikbare “massavernietigingswapen”.

Die gevaar vir persoonlike veiligheid

Die beste manier om veiligheid van eie persoon en familie te verseker is om nie onverhoeds en onvoorbereid betrap te word nie. Daar is inderdaad veiligheid in getalle. Dit is noodsaaklik dat gesinne by plaaslike wettige, amptelik-erkende gemeenskapsorganisasies soos buurtwagte en gemeenskapspolisieforums aansluit. Vermy die in-die-oomblik-vorming van vigilante-groepe, wat ʼn mens in groot regsmoeilikheid kan laat beland. Assosieer met die koelkoppe, nie die heethoofde nie.

Vermy ʼn “ons of hulle”-benadering – reik uit buite jou eie groep. Andersins kan voorbereiding (hoe goed ook al bedoel) gesien word as polarisasie en sake dan net vererger.

Die oorgrote meerderheid Suid-Afrikaners van alle kleure en gelowe is vredeliewende, wetsgehoorsame burgers wat absoluut nie wil sien dat hul gemeenskappe of lewensmiddele verwoes word nie. Saam, is dit ʼn kragtige mag waarby ʼn mens kan aansluit, deur op ʼn breë gemeenskapsbasis uit te reik en hande te vat. Nie om ʼn geveg te begin nie, maar om in werklikheid konflik af te weer deur sigbaar voorbereid te wees.

Die Switserland-prinsiep, met ander woorde – maak jou gemeenskap so sigbaar verenig, voorbereid en dus formidabel, dat aanstigters en die kriminele elemente vêr verby jou sal stuur.

Aanvaar ʼn tweehandige benadering: nie net om voor te berei om jou huis en gemeenskap te verdedig nie, maar ook om aktief uit te reik om vrede en verdraagsaamheid te bevorder – soos byvoorbeeld om intergeloof, gemeenskapsbreë kerkdienste te hou met oproepe vir ʼn vreedsame en demokratiese verkiesing, op die Sondag voor na die stembus gegaan word. Reik uit na, en werk op ʼn voorafbeplande manier saam met almal wat baie het om te verloor in geval ban gewelddadige verwoesting – soos die plaaslike taxi-vereniging, byvoorbeeld.

Bowenal, wees ingelig en voorbereid, met ʼn behoorlike gemeenskapsveiligheidsplan. Daar is kundiges wat hiermee kan help: Generaal Roland de Vries (wat meer as 80 gemeenskappe gehelp het om hul veiligheidsplanne voor te berei), en mnr. Johan Botha van die vrywillige Sinoville Brandbestrydingsvereniging is voorbeelde van sulke kundiges.

As dinge ernstig verkeerd loop vir ‘n lang periode, dan sal dit ook nodig wees om gereed te wees om vlugtelinge uit townships te help, wat na alle waarskynlikheid veel erger deur onrus geraak sal word as die lowergroen voorstede. Vir hierdie moontlikheid moet beplan word, as ʼn morele plig en om nie groepe desperate mense op straat te laat nie.

Ter afsluiting

In versigtige voorbereiding vir enige moontlikheid, is dit sielkundig belangrik om nie daardeur ‘n atmosfeer van paranoia en polarisasie aan te hits nie. Soos aan die begin gesê: Suid-Afrika is ʼn land van wonders, en dit is heel moontlik dat die eerste oefening in koalisievorming redelik glad kan verloop, wat ʼn nuwe era van groter inklusiwiteit, samewerking, en vordering mag inlui.

Dit sou ook verkeerd wees om vooraf, sonder konkrete bewyse, enige party te beskuldig van definitief beplande kwade dade – hierdie artikel wil beslis nie voorgee dat die MK-party of mnr. Zuma, byvoorbeeld, onvermydelik en opsetlik slegte dinge in die mou voer nie.

Dit gesê, wys die geskiedenis van Julie 2021 en die klowings en frustrasies heersend in die land een ding: tydige beplanning vir die veiligheid van self, gesin en eie gemeenskap, is noodsaaklik. Op grondslag van: “Hoop vir die beste, maar wees gereed vir die ergste”. En bid dat die politici oop-kop sal bly en die nasionale belang bo alles sal stel, wanneer die verkiesing se stof gaan lê het en ʼn koalisie-regering dalk gevorm moet word…

  • Dr. Willem Steenkamp is ʼn afgetrede intelligensie-ontleder, ambassadeur, prokureur, en mede-redakteur van Nongqai SA Forces History Tydskrif.

Hierdie artikel het eerste in Nongqai SA Forces History verskyn en is met hul toestemming gebruik. 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Karel Kobus Kruger ·

Eers die covid bandwagon, nou die verkiesing bandwagon.

Republikein in die Wes Kaap ·

Hier in die Wes-Kaap sal ons ons eie toekoms bepaal. Die res van die land moet doen wat hulle ook al moet doen.

Manie ·

Die ANC en Kie se koalisie regering is hoogs waarskynlik reeds gevorm, die res kan maar net sake uitspook oor wie die amptelike opposisie gaan wees.

Swartberg ·

@Rebublikein: Vriend – Ek dink daar is meer as wat jy veronderstel: Ons nie ek of jy nie leef in ernstige en vloeibare tye. Die kompleksiteit van die situasie was tot nou toe verborge. Die tye is nie in my, jou en ons hande nie. Die feite is geopenbaar en my eie vermoë om te antisipeer is daarmee heen, behalwe die Genade Gawe van GELOOF, HOOP EN LIEFDE Juis omdat ons as mense almal gees siel en liggaam Ons is almal gees, siel en liggaam is. 1 Kor. 13:13 – Dit bly die bestendige gawes aan die Kerk deur die eeue heen en die belangrikste daarvan is die liefde .

Swartberg ·

Ons leef in ernstig en vloeibare tye. Die kompleksietyd van die situasie, was tot nou toe verborge. Die tye is nie in ons hande nie. Die feite is geopenbaar en my vermoë om te antisipeer daarmee heen, behalwe die genade gawes van GELOOF, HOOP en LIEFDE 1 Kor. 13:13

Frank ·

Die olifant in kamer word misgekyk want 1) die ANC verbrand diesel vir vale om buurtkrag aan te hou en 2) direk na verkiesing as hulle baie swak vaar is buurtkrag terug as ideale onluste en oproer instrument met die polisie en weermag wat steeds na ANC se pype dans en doelbewus NIE reg en doeltreffend daarteen gaan optree nie. So geen opstokery en en en nodig nie, sit bloot die krag af en die massiewe oproer pas die ANC soos handskoen

Republikein in die Wes Kaap ·

@Swartberg, wat jy eintlik sê is dat ons nie eers moet stem nie. Ons moet net wag. Ek sal so maak.
@Frank, dit kan ook beteken dat die ANC ‘n noodtoestand afkondig wat kan aanhou en aanhou.

Pieter ·

@Republukein, ek mag dalk dink jou kanse vir sukses is skraal (ten minste in die volgende dekade) maar moet nooit ophou baklei nie. As mense doen wat Swartberg sê sal niemand ooit iets doen nie.

Swartberg ·

Is die “oorlog wat ons nou voer werklik ons sin ? Ek twyfel

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.