Veldtog begin oor groot Pta-grondeis

CaptureAfriSake in samewerking met AfriForum gaan ’n omvattende veldtog begin om ’n reuse-grondeis in die noorde en ooste van Pretoria teen te staan.

Die sakeregte-waghond, AfriSake, het by monde van Cornelius Jansen van Rensburg, uitvoerende hoof, gesê die organisasie sal sy lede se eiendomsregte beskerm.

Die grondeis wat opslae maak, raak meer as 400 residensiële erwe, besigheidspersele en landbougrond. Die eis word deur die Victor Lekhuleni, opperstamhoof van die Bakgatla Ba Lekhuleni-gemeenskap gebring en is op 12 Desember 2014 en weer op 6 Februarie 2015 gepubliseer.
Die rede dat die eis vir ’n tweede keer gepubliseer is, hou vermoedelik daarmee verband dat daar probleme met die aanvanklike aansoek was en dat dit afgekeur is. Lekhuleni het hom toe tot die hof gewend wat gelas het dat die eis wel gepubliseer en gehanteer moet word.
Die gebiede wat onder meer geraak word, sluit in Baviaanspoort, Derdepoort, Koedoespoort, Mamelodi, Nooitgedacht, Pienaarspoort, Die Wilgers, Vlakfontein, Wapadrand en Silverton.

Volgens Jansen van Rensburg gaan die eis groot onsekerheid ten opsigte van eiendomsreg in die gebied skep. “Dit neem dikwels jare vir ʼn grondeis om afgehandel te word. Dié onsekerheid beïnvloed eiendomswaardes en die likiditeit van eiendom negatief.”

AfriSake het ook ernstige kommer en besware oor die posisie waarin grondeienaars hulself bevind omdat staatshulp net vir grondeisers beskikbaar is. Grondeienaars moet hul eie tyd, moeite en geld gebruik om hul eiendomsregte te beskerm te af te dwing. Volgens Jansen van Rensburg skep dit ’n situasie van wesenlike ongelykheid.

AfriSake gaan egter sakelui bystaan deur die volgende stappe te doen:

  1. Om deur navorsing die historiese besit van die gebied te bepaal.
  2.  Om lede by te staan met enige regsprosesse wat daarop gemik sou wees om die grondeis te besleg.
  3. Om ondersoek in te stel na die ongelyke posisie ten opsigte van staatshulp waarin grondeienaars hulself bevind in die proses om hul eiendomsregte te beskerm.

Die publiek kan AfriSake se webwerf www.afrisake.co.za besoek om die nodige dokumente af te laai. Alternatiewelik kan ʼn e-pos na [email protected] gestuur word. Die dokumente sluit in die toepaslike Staatskoerantpublikasies en ’n dokument waarmee grondeienaars AfriSake die mandaat kan gee om namens hulle op te tree.

Jansen van Rensburg sê die legitieme herstel van grondregte wat histories deur die staat geskend is, moet plaasvind, maar die proses moet egter nie misbruik word nie. “Daar bestaan ʼn wesenlike kans dat hierdie grondeis drasties opgeblaas en gedoen is met die doel om hoë kompensasie te eis.”

Tiaan van Dyk, ’n bekende prokureur van Pretoria wat onder meer grond- en grondeise-sake doen, meen daar moet nog baie water in die see loop voor daar uitsluitsel oor dié eis sal wees.

Die proses bestaan basies uit twee fases naamlik:

Fase 1: Die eisers moet eers hulle eis bewys op ʼn oorwig van waarskynlikheid aan die hand van die kriteria ingevolge die Restitusie-wet;
Fase 2: Eers as die eisers se eis as geldig bewys is in die grondeisehof, kom die kwessie van moontlike restitusie (teruggawe) van die grond ter sprake.
Volgens Van Dyk is vier uitkomste moontlik. Dit is:
1.Die eisers kry die grond wat hulle geëis het terug (restitusie);
2.Eisers kry alternatiewe grond (gewoonlik staatsgrond);
3.Die eisers kry vergoeding in die vorm van geld (kompensasie);
4.Die eisers word vergoed deur middel van ʼn kombinasie van bogenoemde drie moontlikhede.

Wat fase 1 betref moet die eisers bewys dat hulle ʼn reg in grond gehad het gedurende die periode 19 Junie 1913 tot 31 Desember 1998. Hulle moet ook bewys dat hulle van daardie reg grond ontneem is en dat ontneming geskied het in die tydperk 19 Junie 1913 tot 31 Desember 1998. Hulle moet voorts bewys dat die ontneming geskied het op grond van rasgebaseerde wetgewing en/of praktyke en dat hulle geen vergoeding vir sodanige ontneming ontvang het nie, of nie genoegsame vergoeding vir sodanige ontneming ontvang het nie. Dan moet die eisers ’n regsgeldige eis by die kommissie op herstel van grondregte ingedien het.

Van Dyk wys daarop dat al bogenoemde kriteria bewys moet word vir die eis om te slaag.
Eers as die eis bewys is, sal aandag aan die uitkoms gegee word.
In hierdie geval bestaan die gebied wat geëis word uit plase, maar ook digbewoonde stedelike eiendom, kleinhoewes, winkelsentrums en besighede. “Die kans dat die hof ontwikkelde eiendom aan die eisers sal toeken, is skraal. Daar is wel ʼn groter kans dat die hof moontlik ʼn plaas of nie ontwikkelde eiendomme aan die eisers kan teruggee.

“Gegewe egter dat hierdie ʼn stedelike gebied is, ten spyte daarvan dat daar nog plase, kleinhoewes en onontwikkelde stukke grond is, is die vermoede dat dit onwaarskynlik is dat die hof die grond aan die eisers sal teruggee. Dit is egter voortydig om na die uitkomste te kyk voordat die eis nie bewys is nie,” meen Van Dyk.

Op ’n vraag wat se raad Van Dyk vir grondeienaars het, het hy die volgende aanbevelings gemaak:

1.Hulle moet kennis gee van hulle opponering van die eis, tensy hulle natuurlik hulle eiendomme wil verkoop aan die kommissie (die grondeisers). Sodra hulle kennis gegee het dat hulle die aksie gaan teenstaan, moet dit so spoedig moontlik gedoen word en nie later nie as die tydperk wat die kommissie se kennisgewing aandui. In die geval is dit binne 60 dae na publikasie van die eis.
2.Grondeienaars moet seker maak dat die navorsing rakende die meriete van die eis korrek en so vinnig moontlik gedoen moet word.
3. Nadat die navorsing gedoen is, kan die grondeienaars oorweeg of hulle vertoë aan die kommissie wil rig, al dan nie. Die doel van die vertoë is om die kommissie te oortuig om die grondeis terug te trek, of gedeeltelik terug te trek, of reg te stel (indien daar foute is). Dit is nie altyd wenslik om vertoë te rig nie.
4.Deel van die kommissie se ondersoek-proses behoort ’n inspeksie in loco te wees, wat ʼn belangrike prosedure is. Grondeienaars word aangeraai om dié inspeksie by te woon of alternatiewelik hulle regsverteenwoordigers te kry om dit by te woon.

Op ’n vraag hoe die eis die koper- en verkopersmark in die betrokke gebiede gaan raak, meen Van Dyk dit is moontlik dat die landbougrond negatief beïnvloed kan word, maar nie noodwendig stedelike eiendom nie. “Tot op hede is markwaarde betaalbaar ter vergoeding van eiendomme wat in die loop van grondhervormingsproses by grondeienaars gekoop word. Dit gaan waarskynlik egter binnekort verander in die lig van die nuwe wetgewing wat die ANC-regering beoog.

“Die prys gaan dan bepaal word aan die hand van die faktore uiteengesit in Artikel 25(3) van die grondwet. “Markwaarde is slegs een van vyf kriteria. Dit beteken nie noodwendig dat die waarde van die eiendom minder as markwaarde gaan wees nie, dit kan ook dalk meer as markwaarde wees. Die staat se doel is egter om grond vir grondhervormingsdoeleindes te bekom teen so goedkoop as moontlike prys.

“In die verband gaan die kantoor van die beoogde grondwaardeerdergeneraal ʼn belangrike rol speel om pryse te probeer afdwing,” verduidelik Van Dyk.
Van Dyk het gesê eienaars wat die eis teenstaan, moet verkieslik van hul regsverteenwoordigers gebruik maak om beswaar aan te teken. Dit sal ook wenslik wees as grondeienaars en groepe kollektief kan saamwerk om onder meer regskostes te spaar.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

zahn ·

Ek wonder of Afriforum my kan help. Ek wil ‘n grondeis indien. Sien, my oupa der oupas, het iewers in die vroeë 1800’s met sy ossewa deur Kwazulu Natal gery. Hy het ‘n pap wiel gekry, ek dink dit was die regter agter wiel. Hy moes stop, en eers ‘n geskikte boom soek om nuwe hout van te sny. Hy het die gebruiklike 6 maande geneem om die hout te laat droog, intussen gou ‘n lappie mielies geplant, want dit was nie in sy natuur om te sit en kyk hoe ouma Liefste heeldag niks doen nie. Sy was maar lui, dit het haar ‘n hele twee maande geneem om ‘n hartebeeshuisie te bou. Oupa was baie geduldig. Hy het ook sy seuns gestuur om te gaan biltong maak, en twee van die sewe het nie teruggekom nie. Een het runderpes ontwikkel, hy is daar onder die ou koorsboom begrawe. So my “ansesta” lê daar. Die ander een het verdwaal. Wel, my oupa der oupas was ‘n vindingryke man, hy het die area mooi bekyk, dit aan sy jongste seun, Wiets, verduidelik en mooi beskryf, twee jaar voor oupa se dood. Groot agter oupa Wiets het die area so aan sy seuns oor beskryf, en hulle so aan hulle seuns, tot dit nou by my uitgekom het. Ek is oortuig daarvan dat die stuk grond wat my oupa der oupas destyds beset het, is waar Nkandla vandag staan. Kan julle my asb help om die eis te verwerk? Ek onderneem dat die hele redaksie van Maroela elke jaar vir twee weke verniet kan kom kuier in die rondawel van jou keuse, indien my eis suksesvol is. Ek wag op jul gunstige terugvoering.

Hannes Deetlefs ·

Jou Oupa se Oupa se Oupa se voet, man, Zahn, jy kan nou maar stry as jy wil, maar daardie our-our-oupa het destyds al met ‘n grend Fordjie die wêreld platgery. En hy het sommer so deur die rye en rye mielies en graan wat daar manshoog gestaan het, gery, sonder om te ‘mind’. En van daardie dag af kon daar nie meer mielies geplant word nie, tot nou toe nie. dis hoekom daar nou op die grond, wat hy so gemors het, gebou moes word. Verstaan?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.