Veldtogte op kampusse: Niks nuuts onder die son nie

Foto: Verskaf

Foto: Verskaf

Die Suid-Afrikaanse media het die laaste paar maande baie aandag gegee aan (dikwels bevoorregte) studente se vloermoere op verskeie kampusse. #FeesMustFall, Open Stellenbosch en ander dergelike veldtogte het gereeld die voorblaaie van koerante gehaal.

Baie mense het verontwaardig gereageer. Wat hulle egter nie besef nie, is dat dit nie uit die hemel val nie, maar ʼn gier is wat van Amerika en Brittanje oorgewaai het.

Kyk byvoorbeeld na die lys van eise wat die Black Students Union (BSU) aan die Universiteit van Kalifonië se Los Angeles-kampus (UCLA) onlangs aan die universiteitsowerheid oorhandig het. Hull eis:

  • $80 000 per jaar vir die BSU;
  • $30 miljoen per jaar om swart studente se lewenstyl te finansier;
  • $100 000 ekstra vir die departement Pan-Afrikaanse studie;
  • ʼn Magisterstudie in dié departement;
  • Die aanstelling van tien permanente professore in dié departement;
  • Drie permanente poste vir swartes by die studente se gesondheidsentrum;
  • Alle eerste- en tweedejaars moet ʼn minimum van twee “etniese studiekursusse” slaag (waarvan een ʼn Pan-Afrikaanse studiekursus moet wees) om graad te kry; en
  • Finansiering vir huisvesting gereserveer vir swart studente en ʼn voltydse inwonende direkteur wat net na die belange van swart studente omsien. Dis nodig om “ʼn veilige omgewing te skep” vir swart studente wat “voortdurend die teiken is van rassistiese aanvalle deur medestudente, dosente en universiteitspersoneel”.

Soortgelyke eise is letterlik aan tientalle universiteite gestel.

Op verskeie kampusse is selfs simpatieke rektore en professore gedwing om te bedank nadat hul – dikwels onskuldige – uitsprake nie goed deur die studente ontvang is nie. In heelparty gevalle het hulle die lewe van die betrokkenes só ontwrig dat hulle maar ander werk gaan soek het.

Die onrus by UCLA het ʼn paar maande gelede ʼn nuwe fase binnegegaan toe sekere studente beswaar gemaak het teen ʼn partytjie met die tema Kanye West/Kim Kardashian. Dis diskriminerend teenoor etniese minderhede en dus ook teen swartes, het die Afrikan Student Union(stet) aangevoer.

Sommige van die klaers het ook beweer dat sekere gaste hulle aan blackfacing skuldig gemaak het. ʼn Verslaggewer wat die beelde op sosiale media ondersoek het, kon dit nie bevestig nie.

ʼn Armeens-Amerikaanse student het teruggekap met die standpunt dat Kim Kardashian nie eens swart is nie, maar van Armeense afkoms. Dis begroet met ʼn storm van verontwaardiging en eise dat sy uit die universiteit geskop moet word.

Britse kampusse het soortgelyke veldtogte. Op die Europese vasteland kom dit vrywel nie voor nie.

Maar ʼn reaksie is ook aan die groei. In ʼn artikel in wat groot aandag getrek het, skryf die Amerikaners Greg Lukianoff en Jonathan Haidt, respektiewelik voorsitter van die Stigting vir Individuele Regte in die Onderwys en sosiale sielkundige aan die Universiteit van New York, in The Atlantic:

“Iets vreemds is aan Amerika se kolleges en universiteite aan die gebeur. ʼn Beweging word gestig, ongerig en hoofsaaklik deur studente gedryf, om kampusse skoon te skrop van woorde, idees en onderwerpe wat ongemaklikheid veroorsaak of mense teen die bors stuit.”

Hulle haal iemand aan wat onder ʼn skuilnaam geskryf het: “Ek is ʼn liberale professor en my liberale studente maak my doodbang.”

Lukianoff en Haidt gaan voort: “Dié nuwe klimaat word stadigaan geïnstitusionaliseer en affekteer wat in die klaskamer gesê kan word, selfs as die grondslag vir ʼn bespreking. In die akademiese jaar 2014-2015 het die administrateurs by fakulteits-leierskapsessies dekane en departementshoofde op die 10 kampusse van die Universiteit van Kalifornië gekonfronteer met voorbeelde van ‘mikro-aggressie’. Die lys van aanstootlike uitlatings het ingesluit ‘Amerika is die land van geleentheid’ en ‘ek glo die geskikste persoon moet die pos kry’.”

Die huidige veldtog, meen Lukianoff en Haidt, “is hoofsaaklik oor emosionele welsyn. Dit veronderstel ʼn buitengewone kwesbaarheid van die kollege se psige en stel hom ten doel om die studente teen sielkundige nadeel te beskerm. Dit lyk of die uiteindelike doel is om kampusse in ‘veilige ruimtes’ om te skep waar jong volwassenes beskerm word teen woorde en idees wat sommige ongemaklik maak. …

“Dié beweging wil almal wat met dié doel inmeng, selfs per ongeluk, straf. Jy kan dit wraaksugtige beskerming noem.”

Onlangs het ʼn Britse Asiër-student, Maz Hussien, ʼn konferensie van swart studente in die Londense voorstad Milton Keynes bygewoon. Vir die eerste keer in sy lewe, skryf hy in Huffington Post, was hy “skaam om swart te wees”.

“Ek is vertel ‘wit baasskap’ moet oorwin word. Ek is vertel ons onderwys moet ‘van wit bevoorregting gedekoloniseer’ word. Ek is beveel om te onthou dat ‘elke dag wat jy op universiteit is, is jy in ʼn oorlogsone’.”

Hussien kon homself nie sover bring om die tweede dag van die konferensie by te woon nie. Hy is vol walging huis toe.

ʼn Paar weke gelede het die jaarlikse “Free Speech University Rankings” bevind dat 90% van die 115 Britse universiteite en kolleges in die ondersoek sensuur toepas. Universiteitsowerehede het altesaam 148 keer uitlatings, wat moontlik polities inkorrek kon wees, verbied.

Altesaam 30 kampusse het koerante verbied, 25 het dieselfde met liedere gedoen, 20 met klubs of verenigings en 19 met sprekers of vergaderings.

In The Daily Telegraph skryf Tom Slater, een van die inisiatiefnemers van die ondersoek, dit is die ergste by die elite-universiteite. “Die groot ironie is dat sensuur op kampusse vandag byna altyd verdedig word in die naam van beskerming van die kwesbare teen belediging. Arm, swart, homoseksuele of transgender-mense, word gesê, is net ʼn bietjie sagter as die res van ons en ter wille hulle moet die openbare lewe gesuiwer word.”

Selfs die feministiese aktivis, Julie Bindel, het ʼn paar dae gelede gewaarsku sensuur word “die nuwe normaliteit” op Britse kampusse.

Dit alles herinner sterk aan die opeenvolgende veldtogte op Suid-Afrikaanse kampusse. Dis nie verniet nie dat die ou Romeine gesê het daar is niks nuuts onder die son nie.

Die tragedie is dat die universiteitsowerhede in Suid-Afrika ewe min ruggraat vertoon as baie van dié in Amerika en Brittanje. En dat die bestuur aan die Universiteit van Stellenbosch klaarblyklik voorloop in ruggraatloosheid.

Universiteite is juis veronderstel om dié plek te wees waar vrye denke en debat gestimuleer en aangemoedig word. Helaas help dit nie as rektore en vise-rektore hulle doodskrik vir die eerste beste piepgeluid van ʼn klomp rebelse studente nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Reinhardt ·

Daars niks nuuts onder die son nie, en in die skaduwee brand Suid-Afrika.

Jaco ·

Kom ons veronderstel hulle kry alles wat hulle voor betoog:
Fees finally fall en hulle betaal nie studiegeld nie
Rhodes finally falls en hulle kry onderrig net in Engels vanaf ten volle affirmative action beneficiated professors
Behuisingsprobleme word opgelos met gratis blyplek vir alle studente
Gaan hulle dan na voltooiing van hulle studie hoegenaamd werk kry met hulle kwalifikasies? Daars NOU reeds reusagtige werkloosheid. Hoe erg gaan dit nie oor n paar jaar wees nie?

Mick ·

Lekker leesstof Leopold. Goed nagevors. Dit lyk nie eintlik of die studente dieselfde navorsing gedoen het nie. As ek so na die foto kyk sien ek ‘n wasgoeddraad aan die regterkant van die hut. Ek merk die KLEURE van die wasgoed is Oranje, Wit en Blou. Sommer op een lyn langs mekaar?
Iemand is baie onnosel om dit so uit te stal en dan weer eens die vorige bedeling die skuld vir alles te gee.

Loeis ·

Is dit werklik die studente wie ontevrede is? Wie sit regtig agter hierdie – kan mens dit intellektuele sensuur, noem?

By Stellenbosch het Kaylie Thomas bedank nadat Wim besluit het om Afrikaans af te skaal. Sy het gese dat haar werk daar gedoen is. Dit nadat sy tot ‘n fase van moeilikhied bygedra het. Dit het later ook gebleik dat van Open Stellenbosch se mense nie eens daar studente is nie. Daar is ‘n tendens dat studente opgesweep word om ontevrede te wees en dan veranderinge aanvra wat ander studente benadeel. Ons moet na die grootter patroon kyk en onsself afvra waarheen dit mik, wat die ware doelwitte is wat hieragter skuil.

chrisp ·

Leopold.
Dankie vir ‘n puik stuk .Rugraatloos is die regte woord soos jy dit noem.

Leendert van Oostrum ·

Hmmmmmm……..

“Niks nuuts onder die son nie” – Salomo, aangehaal deur Leopold Scholtz.

“Ex Afrika semper aliquid novi” (Altyd iets nuut uit Afrika) – Die Ouer Plinius, aangehaal deur Thabo Mbeki.

Ek vermoed ons gaan hier ook innovatiewe en ekstreme voorbeelde sien van die wat op kampusse in die buiteland gebeur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.