Velkleur gee jou minder regte

dr-leopold-scholtz-kruispaaie

Dr. Leopold Scholtz. Foto: Reint Dykema.

Wanneer ’n mens deesdae ’n Afrikaanse koerant of aanlyn-nuuswebwerf oopmaak, weet jy nie of jy moet lag of huil nie. Die alternatief is om histeries te word en jou kop teen die muur te kap totdat die muur (of jou kop!) verkrummel.

Die laaste tyd het die flagrante dubbele standaarde in die Suid-Afrikaanse politiek alle perke oorskry – en dan is ek terdeë daarvan bewus dat ek ook na my eie neiging tot dubbele standaarde moet kyk.

Dit gaan hier veral oor die kwessie van misdaad in die algemeen en plaasmoorde in die besonder. Dan help dit natuurlik nie om die probleem te probeer oplos deur jou kop met die muur kennis te laat maak nie; dis altyd die beste om jou woede en vrees eenkant in ’n hoek te parkeer (let wel, nie om dit weg te gooi nie) en die saak rasioneel te benader.

Emosie is menslik. Dis wat ons ménse maak, en dit help nie om dit te onderdruk nie.

Maar dit moet ’n getemperde emosie wees. Jou emosie kan die motivering verskaf om ’n probleem soos plaasmoorde juis rasioneel te benader.

Fikile Mbalula, minister van polisie, het die yslike landwye betoging van verlede week, bekend as Swart Maandag, juis met ’n oordosis emosie – in sy geval haat en afkeer van wit mense – benader. Sy reaksie was dat “wit rassiste” die dag vir “’n agenda van rassistiese politieke opstand gekaap het”.

Ook Tony Ehrenreich, Wes-Kaapse sekretaris van Cosatu, was onmiddellik gereed met ’n beskuldiging dat die betogers se “rassistiese agenda” onderliggend was aan die legitimasie van “die grootskaalse diefstal van apartheid”. En Andile Mngxitama van die organisasie Black First Land First noem die boere “rassistiese, wrede gronddiewe wat nie ons simpatie verdien nie”.

Dit ten spyte van die feit dat ’n onafhanklike grondoudit onlangs bevind het dat nie-wittes reeds 26,7% van die landbougrond in ons land besit en meer as 46% van die land se landboupotensiaal beheer. In die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal en Limpopo, waar van die vrugbaarste landbougrond voorkom, is meer as die helfte van die landbougrond reeds in swart besit.

Nou kan ’n mens, as jy onemosioneel na die saak wil kyk, sekerlik ’n legitieme debat voer oor die vraag hoe die wit bevolkingsgroep as geheel aan sy grondbesit gekom het.

As ek my indink in die swart posisie, kan ek insien hoe van daardie kant aangevoer word dat apartheid op institusionele diefstal neergekom het. Van die wit kant kan ewe legitiem aangevoer word dat die grond in al die individuele gevalle wettig gekoop of geërf is, en dat die besitters die grond oorweldigend produktief aangewend het.

Maar kom ons los dié debat uit. Ons kyk na die vraag of waardige, geweldlose protes teen plaasmoorde, soos dié van Swart Maandag, getuig van “rassistiese politieke opstand”.

Getuig die feit dat enkele randeiers die ou vlag geswaai het,daarvan dat die betogings as sodanig rassisties was? Veral omdat die kritici ou foto’s gebruik het wat blykbaar lank gelede geneem is?

Ek sou sê enige rasionele mens, wat sy – begryplike – emosie eenkant parkeer, sal dit nie kan volhou nie. En wat dan van die swart betogers wat moorddadige leuses teenoor wittes dra? Hoekom húlle nie eweneens van “rassisme” beskuldig nie?

Dan: Is dit hoegenaamd nodig om teen die moorde te protesteer?

Connie Mulder, hoof van Solidariteit se navorsingsinstituut, skryf dat die moordkoers onder Suid-Afrikaanse boere sowat 105 per 100 000 is. Ter vergelyking, volgens die VN was die wêreldwye moordkoers in 2012 6,2 per 100 000.

In van die ergste moorddadige lande ter wêreld kom dit nie eens naby hieraan nie. In wettelose lande soos die deur burgeroorlog geteisterde Suid-Soedan is dit 13,7 per 100 000, in die Sentraal-Afrikaanse Republiek 13,1, die Kongo 13,4, Jamaika 43,2, en Venezuela 57,2 – om maar ’n paar te noem.

Die enigste wat naby die syfer vir Suid-Afrikaanse boere kom, is El Salvador (108,6). Op 12 Januarie vanjaar het The Guardian berig dat twee dae tevore die geskiedenis sou ingaan as die eerste dag sedert Januarie 2015 waarop geen enkele moord in die land gepleeg is nie – ’n land in wie se geselskap geen staat of gemeenskap met selfrespek wil wees nie.

Is dit “rassistiese opstand” om jou stem teen só ’n skande dik te maak? Of sê dit meer van Mbalula en Mngxitama as van die betogers?

Weer eens, ’n mens moet nie jou emosie oorhand laat kry nie. Verskeie navorsers het plaasmoorde uitvoerig ondersoek, maar geen kategoriese bevinding dat daar ’n georganiseerde veldtog agter sit om die grond van die wittes af te vat, is moontlik nie.

Trouens, dit lyk of hulle taamlik in die duister tas.

Dr. Johan Burger, navorser aan die Instituut vir Sekerheidstudie, meen rowery is die hoofmotief. En plase is die teiken bloot omdat hulle afgeleë en kwesbaar is. Ander dink anders.

Vergeet ook nie dat dit nie net wit boere is wat aangeval word nie; ook hul swart plaaswerkers loop gereeld deur.

Ook hieroor kan ’n mens ’n legitieme debat voer. Die openbare diskoers word egter nie aangehelp deur mense wat ’n begryplike en wettige kommer oor plaasmoorde het, by voorbaat as rassiste uit te kryt nie. Dit is die einde van alle rasionele debatvoering.

Intussen probeer die Zuma-vleuel van die regering alle kritiek op hom smoor. Ek wag nog vir my kopie van Jacques Pauw se jongste boek, The President’s Keepers (waarin hy Zuma se skaamtelose korrupsie genadeloos oopvlek), maar daar word reeds gepoog om dit verbied te kry.

Sowel die SA Inkomstediens as die Staatsveiligheidsagentskap het Pauw en die uitgewer gedreig. Hul antwoord is korrek en dapper: Ons sien julle dan in die hof!

Dis dié dubbele standaarde wat ’n mens se bloed onwillekeurig laat kook. Jy mág maar ontlasting rondstrooi, miljarde steel en die land se infrastruktuur laat verkrummel. Jy mág maar rassistiese tekste op T-hemde dra (solank wittes geteiken word). Jy mág maar spandoeke met die Kommunistiese hamer en sekel in die openbaar dra.

Maar ’n ou Suid-Afrikaanse vlag (wat, toegegee, polities onverstandig is)? Protesteer teen plaasmoorde? Nammah Wan se korrupsie aan die kaak stel?

Aikôna. Dáár word die streep getrek.

Jy is wit, vriend. Maak nie saak wat die wet sê nie, jou velkleur gee jou minder regte.

Klink dit dalk bekend?

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

John ·

Dus… hoe minder pigment in jou vel, hoe minder regte kom jou toe en hoe meer moet jy aanvaar dat alles wat jy bereik het, besit, doen of se, verkeerd, gesteel of dwaas is/was. Waar laat dit die Afrikaners? Selfs in ‘n sosialisties-kommunistiese bedeling waarin aan almal presies gelyke hoeveelhede ‘water’ in dieselfde grootte glase uitgedeel word, sal daar steeds ‘n gevoel opborrel dat witmense iewers voorgetrek word deur ‘n onbepaalbare ‘faktor’ ~ wat ‘n mens kan aanvoel maar nie sien of bewys nie. Laasgenoemde gevoel het ook destyds posgevat by die Nazi’s tov die Jode wat glo altyd so eenkant gehou het, al die eerste pryse gewen het en erger nog, ja… ja so anders ruik. Natuurlik, as mens hulle uitroei, so is dit destyds in netjiese Duitse wiskunde uitgewerk, kan ons terugvat wat ons s’n is (veral daai kunswerke, gesteelde geld in die banke en eiendom) en ons wetenskaplikes kan op hul breine opereer (tesisse skryf, ja) en waarneem waar/hoe dit anders is/lyk… en so kom jaloesie tot sy volle reg… soos by die oudste sluwe wese van alle tye…

jan_alleman ·

25 November , ek kan nie wag nie , dit gaan die grootste dag in boere geskiedenis wees

hennie ·

To the person who posted the video on the grave danger of systematic genocide of South African farmers..
You are perfectly correct. Anyone with more than one brain cell knows that these savage attacks and murders are meant to terrorize farmers to evacuate their farms

Eish ·

My simpatie lê by diegene wat in die kruisvuur sneuwel. Die blankes wat die voorreg het tot werk, goeie inkomste of pensioen het, het uit die aard van die saak middele tot oorlewing wat toenemend met selfsug bestuur moet word vir individuele oorlewing.

Dan is daar die res van ons wat voortspoed na verarming. Vriend van my wat aan dié Wesrand woonagtig is, het in April sy werk verloor. Hy laat weet dat hy op sy spaargeldjies en werkloosheidsversekering oorleef. Kwart van die besighede in die industriële gebied is toe. Blankes wat aansoek doen om die voordeel, by verre in die meerderheid by die plaaslike kantoor.
Dit is n BCom gegradueerde. Ander vriend wat n markagent is, stuur n video met n gebedsversoek.
” Kyk hoe ‘besig’ is die mark. Bid vir ons.”

Plaasmoorde en staatskaping kry die publisiteit, tereg ook, maar die uitwissing van die ekonomie en die gepaardgaande marteldood van ons mense eis sy pond vleis. Des te meer die marteldood uitgerek word oor tyd en die feit dat slagoffers nie n kortstondige, bloedige, wrede dood sterf nie, maar een lang lyding in die helhool beleef, om uiteindelik as n lewende lyk aan die samelewing te onttrek.

Ons is verby die punt van herstel. Die Burgerregte organisasies probeer in n uiters vyandige omgewing iets vermag, maar daar is nie genoeg vingers in die lekkende dam nie.

Slegs ons hemelse Vader kan ons omstandighede verander, geen menslike poging nie.

Jerry ·

Leopold dit is n goeie raakvat van die probleem. Gee nou so n goeie ontleding van die oplossing.

DewaldS ·

Daar is heelwat van ons wat al verby die kop-teen-die-muur stamp emosie beweeg het. Ons het daai emosie beleef toe ons probeer het om ‘n rasionele diskoers te voer oor wat Suid-Afrika se kanse is om dit wat Noord van hier gebeur het, vry te spring binne ‘n eenparty-staat met ‘n meerderheidsregering. Toe is ons as verkrampte rassiste uitgebeeld en niemand wou ons standpunt (gesteun deur feitelike gebeure in elke moontlike vergelykbare land) aanhoor nie.

Nou het al daai boemerangs wat so kwistig deur die media uitgegooi is gedraai. Dis nou die boemerangs van ‘wit-skuld’ en ‘swart-entitlement’ en ‘slegs-witmense-kan-rassiste-wees’ en ‘die vorige bedeling was net sleg’ en sit daarby die ongelooflike media-dekking wat die kleinste sonde van ‘n witmens kry en hoe dit dan eintlik ‘gelyk’-gestel word aan die mees barbaarse moorde deur ander rasse.. Die media (ja – die wit media) in Suid-Afrika is skuldig aan die klimaat wat geskep is – oor baie jare se tyd. Die klimaat waarbinne volksmoorde normaalweg gebeur. En dieselfde media se mense skrik nou wakker oor die gevolge van hulle dade. En hulle gaan nou die gevolge in detail beskryf en hoop die dom witmense koop nog steed hulle koerante en ander publikasies.

Maar, ja, Dr Scholtz. Ek haal my hoed af vir jou dat jy nou eenmaal ‘n rubriek kon skryf waar jy nie die ‘demokrasie-is-die-oplossing-vir-alles’ narratief wat jy gewoonlik aanhang, net klakkeloos herhaal nie.

Leopold Scholtz ·

Beste Dewald, jy is heeltemal reg: ‘n Diktatuur is baie beter as ‘n demokrasie. Kyk net hoe fantasties was Adolf Hitler, Josef Stalin en daardie groot held Robert Mugabe. Groetnis.

Gerhard ·

Dit is iets wat ek al 20 jaar gelede besef het en my mede Afrikaner klaarblyklik nou eers? Miskien is dit omdat die Nuwe Suid-Afrika die Afrikaner-Elite en ouer garde nou eers tref. Dit is wat gebeur as jy die wereld sleg deur jou eie omstandighede raaksien en nie kyk na wat gebeur met die ou langs jou nie. Die rede waarom dit belangrik is om dit te doen is sodat jy kan sien wat die toekoms vir jou inhou as jou omstandighede verander en jy in daai ou se skoen beland, of ingeval jou nasate in so opeindig.

Boerseun ·

As enige van dit jou verbaas moet jy die vout by jouself soek.

Daan ·

Wel, daar is n wereld wye veldtog teen die blanke protestant. In Amerika , wanneer n anders kleurige dood gaan weens a blanke optrede brand hulle die plek af en dis riots. Wanneer blankes aan die ontvang kant is soos in SA is dit nie eintlik nuus waardig nie. In Amerika sal ‘n swart professors blanke mense beskuldig van white privilege en meer en nie veel gebeur nie, eintlik niks. Dis die blanke protestant wat nie welkom is in die nywe wereld orde nie. Dis hulle wat teen aborsies is , gay huwelike. As jy iets se , dan is jy intollerant. Ongelukkig gaan die united nations niks doen aan blanke plaas moorde nie, hulle is wolf wat skaapwagter is. Die media en vermaak word gebruik om blanke protestante waardes af te breek, kyk maar na die sitcoms op die tv. Wat was die waardes 30 jaar terug teen oor nou. As jy dit vergelyk sal jy geskok wees.In Amerika is die onderwysers 30 jaar terug gevra wat die probleme is in die skole. Dit was kinders wat nie in rye loop nie, kinders wat uit hulle beurt praat en spoeg. Vandag is dit swanger skappe, dwelms en bendes in die skole. Hoe het dit gebeur ? Europe soos SA is op gebou deur blanke protestante en daardie invloed is besig om weg te kwyn deur ander gelowe en niemand mag iets se nie, want dan is jy intolerant. Ongelukkik is SA aan die geweldadige ontvangkant daarvan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.