Venezuela: Die ANC en EFF se sosialistiese paradys

tony-en-span-in-venezuela

Tony Yengeni het Saterdag hierdie foto van die afvaardiging saam met pres. Maduro op Twitter gedeel. Die inskrywing saam met die foto lees: “Ons belowe osn solidariteit aan die mense, die regering en die president van Venezuela. Ons veroordeel Amerikaanse imperialisme…” Foto: Verskaf.

Tony Yengeni, ‘n lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee, het ’n ANC/Cosatu-afvaardiging op ’n “feitesending” na die land van melk en heuning, Venezuela, gelei. Ace Magashule, die ANC se sekretaris-generaal, sou aanvanklik deel van die afvaardiging gewees het, maar het op die nippertjie onttrek.

Dit is natuurlik dieselfde Venezuela wat, ten spyte van ontsaglike olierykdom, kragtens berigte eersdaags deur ’n inflasiekoers van tien miljoen persent in die gesig gestaar word. Waar mense die afgelope jaar op ’n verpligte dieet is – die gemiddelde Venezolaan het blykbaar 12 kg gewig verloor sedert 2017 weens geweldige voedseltekorte. Tot dusver het meer as drie miljoen mense (in ’n land met 32 miljoen) reeds gevlug – die meeste na Colombië, self ’n land met enorme politieke probleme.

Die “werkersparadys”

Die ANC-regering is ʼn jare lange ondersteuner van die werkersparadys wat deur die regering van president Nicolas Maduro beheer word. Maar waarvoor dan die “feitesending”?

Hierdie meningstuk is geskryf voor die ANC/Cosatu se terugkeer uit die sosialistiese Venezuela, voorheen die rykste land per kapita in Suid-Amerika. Nietemin kan ons met redelike sekerheid voorspel die terugvoering gaan wees dat die Westerse media Venezuela se probleme buite konteks opblaas, dat sanksies van die VSA teen die ongewilde Maduro-bewind die rede vir Venezuela se probleme is, en dat dinge binnekort gaan verbeter. Ons kan ook verwag om te hoor dat betrekkinge tussen SA en Venezuela nou sterker is as ooit tevore en dat handelsbetrekkinge gaan uitbrei.

Ons moet egter onthou dat Suid-Afrika se eie aspirant-rewolusionêr, die EFF-leier Julius Malema, reeds Venezuela as ’n tipe bloudruk sien wat op Suid-Afrika toegepas moet word. Malema het in 2010, toe nog as ANC-jeugligaleier, Venezuela besoek; wat destyds ten spyte van die gewildheid van die charismatiese Hugo Chávez en hoë oliepryse, stelselmatig besig was om agteruit te gaan. Nietemin was hy beïndruk met die “herverdeling” van rykdom en die staat se oorheersende rol in die samelewing. Malema, soos die ANC, het nog nooit ’n skewe woord oor Venezuela se agteruitgang gesprak nie. Die rede is eenvoudig: ideologie. Beide ondersteun die tipe nasionalisering en sosialisme van die Venezuela-regering.

Ideologies het die ANC nie veel verander sedert sy bewindsjare beginnend in 1994 nie. Dit verklaar die broederlike liefde en betrekkinge met sosialistiese vervalle lande soos Venezuela, Kuba en selfs Noord-Korea. Die feit dat sosialisme, soos kommunisme, homself oor en oor as ʼn mislukte ideologie bewys het, is natuurlik nie ter sake nie.

Suid-Afrika kan reeds as ’n semi-sosialistiese staat beskou word. Daar is soveel as 17 miljoen mense wat staatstoelae ontvang, huise word verniet weggegee te midde van ontsaglike korrupsie, water en krag word (meestal gratis) voorsien aan “armes”, maatskappye moet rassekwotas implementeer en dele aan swart vennote afstaan en minimumlone word, ten spyte van hoë werkloosheid, jaarliks verhoog. Die staat se mislukte sosialisme is oral sigbaar: van ’n gebrek aan voldoende elektrisiteitsvoorsiening, tot swak onderwys, swak gesondheidsdienste, verhoogde misdaad, gebrek aan onderhoud aan infrastruktuur, ensovoorts.

In Julie 2018 het Venezuela se buitelandse minister, Jorge Arreaza, Suid-Afrika besoek en is entoesiasties ontvang ten spyte van die ineenstorting van Venezuela se ekonomie. Sy plan was om ʼn ideologiese ekonomiese netwerk te bou tussen Latyns-Amerika, die Karibiese eilande en Afrika en om deur vryhandel die Weste se ekonomiese houvas op die wêreldekonomie te verbreek. Iets soortgelyks soos wat die Brics-lande jare lank reeds sonder veel sukses beoog. Van Arreaza se plan het dadels gekom.

Chávez se nalatenskap

In Venezuela het Chávez die land se olierykdom gebruik om armoede en ongelykhede te probeer beëindig toe hy in 1999 aan bewind gekom het. Hy het eenvoudig alles voor die voet genasionaliseer – die oliesektor (Venezuela het die grootste oliereserwes in die wêreld), die sementbedryf, banke, staalaanlegte, rys-prosesseringsaanlegte en selfs supermarkte. Landbougrond is ook onteien en genasionaliseer. Sosiale besteding het geweldig toegeneem en armoede het met 20% verminder, hoewel produksievlakke vinnig verswak het. Hy het in die proses die middelklas vervreem en van duisende werkers met ondervinding ontslae geraak in die staatsbeheerde PDVSA-oliemaatskappy. Regeringskuld het egter toegeneem en produksievermoë van olie het stelselmatig verminder. Toe Chávez afsterf in 2013, het hy sy troonopvolger, Maduro, met die gebakte pere gelaat, en die olieprys het terselfdertyd soos ’n klip geval. Dit het die doodsklok vir Chávez se Boliviaanse rewolusie ingelui.

Olieproduksie het van drie miljoen vate per dag (in 2002) afgeneem tot ongeveer een miljoen vate per dag in 2018. Aangesien olie ongeveer 95% van Venezuela se uitvoere behels, het Venezuela se ekonomie begin krimp. Soveel so dat die ekonomie sedert 2016 met ongeveer 16% per jaar krimp en in totaal met ongeveer 60% gekrimp het sedert 2014.

Chávez het sy gewildheid onder die werkersklas gebruik om die president se magte uit te brei, die hooggeregshof te beheer, persvryheid af te skaf en protesoptogte verbied. Maduro het hierdie mag geërf. Soos in Suid-Afrika is miljoene mense van toelaes deur die staat afhanklik (wat koepons vir kos insluit). Ongelukkig produseer die land nie genoeg voedsel nie en word produkte soos medisyne en kos meestal ingevoer. Sonder genoeg buitelandse valuta moes die Maduro-regering eenvoudig meer geld druk en het die Bolivar binne weke niks werd geword nie. Invoere het basies opgedroog.

Die VSA tree toe

Op die koop toe het Maduro se grootste teenstander, Juan Guaidó, in Januarie vanjaar homself as wettige president van Venezuela verklaar. Dit volg op ’n bekookte presidensiële verkiesing in 2018 wat Maduro maklik “gewen” het. Geen opposisieleier het dié uitslag erken nie. Guaidó, as speaker van die parlement, word egter nou deur verskeie lande, onder meer die VSA, Kanada, en die meeste EU- en Suid-Amerikaanse lande as die wettige president erken. Daarteenoor erken China, Rusland, Turkye, Iran, Sirië en Suid-Afrika steeds Maduro as president.

Daar is sterk sprake dat die VSA ’n militêre aanslag beplan teen die anti-Amerikaanse regering van Maduro, aangesien die VSA voorheen hul groot beleggings in die Venezuela-oliesektor verloor het ná nasionalisering. Die oorlogsugtiges in die VSA, die sogenaamde neocons, slyp reeds hul tande vir een of ander vorm van militêre optrede. Hoewel Maduro ongewild is, is daar steeds ’n sterk magsbasis van die rewolusionêres, oftewel Chavistas, wat enige buitelandse inmenging of ekonomiese oorheersing van die kapitaliste sal beveg.

Dit is nie op hierdie stadium in president Donald Trump se belang om Venezuela aan te val nie. Trump se buitelandse beleid is eerder een van politieke en ekonomiese druk op Islamitiese en ultralinkse muishondlande soos Venezuela, Kuba, Noord-Korea en Iran. Dit is egter nie onmoontlik dat die neocons Trump later wel gaan oortuig om tot militêre optrede oor te gaan nie. Dit is immers verkiesingsjaar in 2020 en Trump sal graag kiesers se aandag wil aflei van verbreekte beloftes oor die bou van ’n grensmuur met Meksiko. Dan is daar ook nog die groeiende gewildheid van (ironies genoeg) sosialisme binne-in die Demokratiese Party.

Ten minste hoef Trump hom nie meer te bekommer dat die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) tot Venezuela se hulp gaan kom indien die VSA Venezuela sou binneval nie. Waarlik, in Julie 2018 het die SA Ambassadeur in Venezuela, ene Joseph Nkosi, beloof om die SANW in te stuur. Suid-Afrika se buitelandse ministerie (Dirco) moes later walgooi vir Nkosi se amperse oorlogsverklaring.

Onteiening en nasionalisering

Dit is egter die ooreenkomste rakende onteiening en nasionalisering wat gevaarligte laat flikker oor die ANC se besoek aan Venezuela. Anthea Jeffery van die Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIVR) het hierdie ooreenkomste ontleed: Eers het Chávez se regering “onbenutte” grond van groot grondeienaars (latifundios) geteiken. Onproduktiewe grond is beskou as grond wat minder as een bees per hektaar kon dra. Daar is aangedui dat armes slegs 6% van die grond besit en die rykste 5% van die bevolking 75% (dié syfers word betwis). Soos in Suid-Afrika is daar ook ’n rassekonnotasie hierby ingebou. Die “armes” moes dus die groot plase bewerk en eienaarskap verkry. Later is grond wat groter as 50 ha is geteiken vir onteiening.

Grondgryp is aangemoedig en produktiwiteit op plase het oornag geval. Só het net 40% van vorige jare se mielie-oes gerealiseer en net 39% van die rysoes. Ditto met al die ander vernaamste landbouprodukte. Die latifundios het later tou opgegooi toe grondgrype ondraaglik geword het en hulle geen regeringsbeskerming ontvang het nie. Uiteraard is die grond nooit aan die kleinboere oorgedra nie, maar het staatsgrond geword, terwyl Chavistas, eerder as opposisie-ondersteuners, grond ontvang het.

Maduro het in reaksie ’n verpligte prysverlaging van landbouprodukte aangekondig. Boere moes produkte verkoop teen pryse laer as die produksieprys. Dit het veroorsaak dat voedselproduksie amper heeltemal tot stilstand gekom het.

Daar het reeds blykbaar duisende van honger en maklik geneesbare siektes omgekom. Maduro se antwoord op duisende wat daagliks moet toustaan vir karige stukkies kos in die staat se supermarkte, is om self ’n hoenderboerdery by hul huise te begin. Aangesien die meeste mense in woonstelle bly, is dit absurd. Die voormalige middelklas moet in die oorbevolkte stede soos rotte in asblikke rondkrap vir iets om te eet. Meer as 80% van die bevolking leef nou in armoede. Die enigste hoop vir Venezuela is die val van die Chavistas aldaar.

Die slegte nuus vir Suid-Afrika is: beide die ANC en die EFF dink hierdie model is werkbaar vir Suid-Afrika.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Nico Stegmann

Nico Stegman is ’n onafhanklike skrywer met 25 jaar ondervinding in navorsing en analise oor diplomatieke en internasionale aangeleenthede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

fred ·

het daardie sosialistiese diktator al ooit 1Rand aan ZA gegee of geïnvesteer? Die meeste geld wat ZA kry kom van demokratiese ,nie-sosialistiese lande…stop dit en die ANC en hulle kommunistiese handlangers sal ook honger gaan ly soos die mense van Venuzuela.

Hans ·

Wie is Yengeni …….. o-ja dis die tronkvoël wat drur ons agbare minister Sisulu so ge-ulu-lu was toe hy toegesluit was.

Ruben ·

Die Vsa het hulle seker boeglam geskrik toe hulle hoor dat die Sanw vir Venezuela sal wil gaan help as daar n oorlog kom

Tong innie kies ·

Daar is verskeie Amerikaanse generaals in die hospitaal opgeneem na die hulp aanbod. Hulle het so gelag hulle het aan hulle kos verstik.

Dries du Toit ·

Belaglike klomp politici . Een meer onosel as die ander

Nel ·

Dis soos Henry Ford gesê het, dink is die hardste werk en waarskynlik hoekom so min mense dit doen.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.