Venezuela en sy twee presidente

venezuela-protesaksie-02

Foto: AFP Foto/Juan Barreto/Flickr.com

Venezuela het nou al vir meer as ʼn week twee presidente. Daar is die “amptelike” president Nicholas Maduro, wat onlangs ingehuldig is vir sy tweede termyn van ses jaar. Maduro is ʼn sosialis en staan aan die hoof van die sogenaamde “Bolivarse revolusie” (ʼn verwysing na die bevryder van Suid-Amerika, Simon Bolivar), wat deur sy voorganger Hugo Chávez gevestig is en niks anders is as staatsgedrewe sosialisme nie.

Die ander een is Juan Guaidó, president van die nasionale vergadering (parlement), wat homself op 23 Januarie tot president van die land verkies het, met die steun van die parlement, wat deur die opposisie beheer word. Dit het gevolg ná die inhuldiging van Maduro wat, volgens die opposisie, onwettig is omdat die verkiesing van verlede jaar nie vry en regverdig was nie: talle opposisiekandidate is in hegtenis geneem, ander is verbied om as kandidate te staan en die veiligheidsmagte het opposisiebyeenkomste op groot skaal onderdruk. Boonop is die regering korrup: ʼn klein elite-groep deel die laaste bates onder mekaar en die bevolking kry swaar weens wanbestuur.

Dit is nie die eerste konfrontasie tussen regering en opposisie nie. Reeds in Chávez se tyd was daar grootskaalse betogings teen die bewind. Maduro se eerste verkiesing ses jaar gelede was reeds na alle aanduidings bekook, en hy het dit net naelskraap gewen. Die laaste presidentsverkiesing van Mei 2018 was so sterk deur die regering gemanipuleer, dat die opposisie dit geboikot het om nie geloofwaardigheid daaraan te verleen nie.

Die nasionale vergadering was altyd die teenwig teen die president en in 2017 het die opposisie die meerderheid daar gewen. Pres. Maduro het egter die parlement se magte op groot skaal ingekort en dit effektiewelik vervang met ʼn “raadgewende kongres”, saamgestel net uit lede van sy eie Verenigde Sosialistiese Party. Die eintlike parlement het egter voortgegaan om te vergader en wette te maak, al is dit deur die regering geïgnoreer.

Intussen neem proteste teen Maduro en sy sosialistiese bewind ook toe soos wat die ekonomiese omstandighede van kwaad na erger gaan. Eintlik is Venezuela ʼn ryk land met reuse-oliereserwes, vrugbare landbougrond, ʼn uitgestrekte kuslyn, natuurskoon en ʼn groot toerismepotensiaal. Sy afhanklikheid van olieverkope maak die land egter besonder kwesbaar vir sanksies – die VSA is juis een van die hoofaankopers van Venezuela se olie en het nou sanksies begin instel.

Dink aan Zimbabwe en jy kry ʼn idee van hoe Venezuela tans is: hiperinflasie van 1 300 000% verlede jaar, leë winkelrakke, ’n infrastruktuur wat besig is om inmekaar te sak, veiligheidsmagte wat na willekeur en hardhandig optree, ʼn president wat verkiesings in sy guns manipuleer, howe wat eintlik net ʼn verlengstuk van die regerende party is, ʼn middelklas wat sterk belas word en die land verlaat as hulle kan, hoë skuldvlakke en ʼn regering wat die weermag (veral die offisierskorps) deur groot salarisse en die armes deur welsynstoelae aan sy kant hou. Vir laasgenoemde is daar egter intussen geen geld meer nie en ook die armes kom in opstand. Net die veiligheidsmagte ondersteun nog die bewind, maar dalk nie meer vir baie lank nie. In die laer range is daar toenemende ontevredenheid met die swak ekonomiese toestande.

Indien die weermag na die opposisie se kant swaai, sal Maduro se bewind val. As die weermag skeur, kan die land in ʼn burgeroorlog gedompel word. ʼn Dialoog en ʼn nuwe verkiesing, wat internasionale organisasies bepleit, blyk onwaarskynlik, want geen kant aanvaar die ander een se legitimiteit nie.

Die regering is magsdronk van hul ideologie van staatsbeheerde sosialisme, en (nes in Suid-Afrika) het daar mettertyd ʼn netwerk van korrupte leiers ontstaan wat nie hul mag en onwettige inkomste sal prysgee nie. Maduro weet ook dat hy ʼn vry en regverdige verkiesing waarskynlik sal verloor, veral teen ʼn verenigde opposisie.

Tans is die geveg oor diplomatieke erkenning aan die gang. Guaidó kon, kort ná sy aankondiging dat hy homself as oorgangspresident uitroep, die erkenning van die VSA verseker. Ook Kanada, die belangrikste lande van die Europese Unie soos Frankryk, Duitsland, Italië en Spanje is aan sy kant en ook die meeste lande in Suid-Amerika soos, onder meer Brasilië, Colombië, Peru en Argentinië. Dit is veral Westerse lande of bondgenote van die VSA wat die opposisie steun. China en Rusland, maar ook Meksiko, Bolivië en Kuba steun mnr. Maduro openlik.

Suid-Afrika is ook aan Maduro se kant, maar het hom tot dusver min in die konflik ingemeng. Die meeste state het nog nie kant gekies nie en kyk hoe dinge verder ontwikkel. Vir veral die outoritêre lande soos Rusland en China, sou dit ʼn gevaarlike presedent skep as Guaidó se opstand suksesvol is. Dit kan volke wat deur hulle regerings onderdruk word, aanmoedig om die reg in eie hande te neem as verkiesings nie vry en regverdig is nie en as die land swak bestuur word.

Dit kom eintlik neer op die oorbekende vraag: Behoort die regering aan die bevolking, of behoort die bevolking aan die regering?

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk as navorser, argivaris en toergids vir die Orania Beweging in Orania, is ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling en skryf is veral politiek, geskiedenis, reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Dries du Toit ·

Die ANC regering ondersteun Maduru. Dit se als. Ons is in groot moeilikheid. Ons sal ons moet regmaak vir die komende verkiesing en regtig hard bid en werk om soveel as moontlik sterk opposisie te verwesenlik

DewaldS ·

Die retoriek ‘Gadaffi must go’ word toe mos ‘Yanukovych must go’ en ‘Assad must go’ en nou ‘Maduro must go’. Mens moet jouself nogal aspris oningelig hou om nie te sien waar die retoriek telkens vandaan kom nie. En dat olie en sterre-en-strepe-en-arende nie altyd ook betrokke is nie…

Charles ·

Weereens ‘n uitstekende rubriek, baie dankie!

LANK LEWE KAPITALISME, WAT AL MILJOENE UIT DIE GREEP VAN UITERSTE ARMOEDE EN WANHOOP GERED HET!!! en Lank lewe die VSA!!! #maga

Jerry ·

Die ANC het die revolusionere kaders en massas so gekondisioneer dat daar nie omdraaikans is oppad na n sosialistiese staat nie. Die ANC elite is almal reeds biljoene sterk terwyl die res kripeer en van belastingbetalers se staats “grants” afhanklik is. Sodra die ekonomie weer optel gaan daar weer geplunder word om die klimaat te skep vir verdere verandering en nog n stap nader aan nasionalisering. Selfs al bars die ANC se misleidingsbabbel om sy beeld te poets vir die verkiesing en buitelandse investering, gaan die ANC homself nie kan stop nie. Venezuela en Zimbabwe is goeie voorbeelde van waar die ANC ook gaan opeindig. Hoe meer buitelandse druk, hoe arroganter en vinniger gaan die ANC elite na nasionalisering toe beweeg. Die regbank is glad ook nie meer so onafhanklik as wat dit op die oog af lyk nie. Hulle het net soos CR n ander mombakkies opgesit wat enige tyd afgehaal kan word. Die ANC elite is reeds skatryk en “untouchable” en kan net skatryk en “untouchable” bly deur te nasionaliseer en alles te besit en te beheer. Die denkwyse is of alles of niks! Zimbabwe en Venezuela se “regimes” is geldgierig en gewetenloos. Die ANC regime is geldgierig, gewetenloos en wraakgierig. Al wat die ANC gaan stop is die massas, die massas van vier geslagte na nasionalisering!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.