Vennootskappe werk in grondhervorming

Argieffoto (Foto: Michal Jarmoluk/Pixabay)

Die vennootskapgedrewe model vir grondhervorming (die Karaan-plan) is sedert die bekendstelling daarvan in 2013 steeds die suksesvolste plan om ’n klas winsgewende swart boere te skep en word ook wyd elders in Afrika toegepas.

Dit is die nalatenskap van wyle prof. Mohammad Karaan, voormalige dekaan van die fakulteit landbouwetenskappe en waarnemende viserektor aan die Universiteit Stellenbosch. Hy was ook ’n lid van die Nasionale Beplanningskommissie en mede-outeur van Hoofstuk 6 van die Nasionale Ontwikkelingsplan waarin die raamwerk van die vennootskapgedrewe model vir grondhervorming vervat is.

In Maart 2013 is daar in onderhandelinge tussen AgriSA en die Nasionale Beplanningskommissie in Stellenbosch op ’n vertolking- en implementeringsplan vir die Hoofstuk 6-model ooreengekom, wat as die Karaan-plan bekend geword het.

Nieteenstaande fel kritiek teen die Karaan-plan vanuit sommige van AgriSA se grootste filiale is daar in Desember 2013 ’n mandaat gegee dat AgriSA saam met TLU SA, Afasa, Landbank, die premierskantoor in Mpumalanga, die departement van grondhervorming en landelike ontwikkeling en verskeie landbou-ondernemings by ’n implementeringsprojek in Mpumalanga betrokke kan raak.

Die implementeringsprojek waarmee al die deelnemers ooreengekom het, was ’n sitrusplaas naby Burgersfort waarin Bosveld Sitrus die belegger was. Al het die res van die proses byna volmaak verloop, het die projek misluk omdat die departement, (dus, die staat), nooit sy finansiële verpligting nagekom het nie en ten spyte van herhaaldelike ondernemings, beloftes en verbintenisse nooit eens verduidelik het waarom die begrote geld nie uitbetaal is nie.

Die reaksie van belanghebbendes was uiteenlopend: in AgriSA se algemene raad was dit een van die vernaamste redes waarom groot filiale die Karaan-plan die rug toegekeer het. Prof. Karaan self het gesnap dat senior amptenare in die departement – ten spyte van die eenparige aanvaarding daarvan by die ANC se Mangaung-beleidskonferensie in 2012 – nie wil hê dat die plan geïmplementeer moet word nie, want dit verskraal die geleenthede vir nepotisme en selfverryking. Hy het in die raamwerk van die Europese Unie en sy agentskappe, en veral in Duitsland, alternatiewe befondsingsbronne gaan soek. Agri Limpopo, WRSA, Agbiz, Afasa en ’n aantal koöperasies het ’n implementeringskomitee geskep en voldoeningsvereistes ontwikkel, projekanalises gedoen en buite die staat se rol as remskoen begin om projekte te implementeer.

Van die eerste 106 projekte het drie tussen 2015 en 2018 (binne drie jaar) misluk en al drie het nie aan die ooreengekome vereistes voldoen nie. Maar die Witzenberg PALS-projek in Ceres, die Hoedspruit- en Onderberg-vennootskappe tussen Bosveld Sitrus (Komati Fruits) en grondeisergemeenskappe en 86 vennootskapprojekte van Humansdorp Koöperasie het bo alle twyfel bewys dat daar meer in die Karaan-plan steek as net nog ’n grondhervormingsteorie.

Uit die eerste paar projekte het deelnemende boere belangrike en dikwels duur lesse geleer, soos die volgende:

Dit is makliker om met begunstigdes in die grondherverdelingsprogram in ’n boerderyvennootskap te tree as om met begunstigdes in die grondeiseprogram saam te werk. By herverdeling werk jy met individuele gesinne wat ernstig is om van die sakeonderneming ’n sukses te maak, maar by grondeise werk jy meestal met gemeenskappe wat min belange of selfs waardes deel, en interne politiek veroorsaak agterdog in kommunale eiendomsverenigings en maak van hulle moeilike vennote.

Tog besit hierdie verenigings meestal die grond, en ’n titelakte is meer beleggingsvriendelik as die huurkontrakte waaraan begunstigdes in die herverdelingsprogram uitgelewer is met al die gepaardgaande grille en giere van staatsamptenare wat maklik die huurder uitskop om vir ’n MK-veteraan plek te maak.

Wanneer die staat betrokke raak, is alles stadig en minder doeltreffend, omkoopgeld word ’n groot uitgawe en die kanse op sukses val eksponensieel.

Die banke is nog nie daar nie. Hulle sal betrokke raak wanneer so ’n vennootskap reeds ’n sukses is.

Om ’n projek deur die Nywerheidsontwikkelingskorporasie of die Landbank te finansier (toe die Landbank nog op daardie gebied ’n teenwoordigheid gehad het) beteken dit dat jy in gelyke vennootskappe minder as 50%-aandeelhouding en voordeel moet aanvaar, maar meer as 50%-verantwoordelikheid, -aanspreeklikheid en -risiko moet dra. Die blinde ideologiese drif in hierdie instellings is verbysterend en verlammend, en ek het meermale by VN- en EU-agentskappe se vergaderings groot binnepret gehad as ons diplomate begin stamel en struikel om die logika daaragter, die swak prestasies en “onbedoelde gevolge” te verduidelik.

Die staat is ’n uiters onbetroubare vennoot en ’n ondoeltreffende bankier of finansierder, het ’n korrupte invloed op die grondhervormingsproses en moet so lank as moontlik buite die implementeringsplanne gehou word. Vanuit ’n kommersiële landbouhoek gesien, is die voordeligste dimensies uit die Karaan-plan die volgende:

  • Dit hou die markwaarde van plase in grondhervorming in stand, wat vir die landboufinansieringstelsel in Suid-Afrika, vir beleggersekerheid en vir die groei en kompeterendheid van die sektor belangrik is.
  • Vennote kan mekaar kies en word nie op mekaar afgedwing nie. Dit haal kaderontplooiing, nepotisme en politieke inmenging uit die prentjie en skep die geleentheid vir boere om met bure, werkers en gesinne uit die plaaslike gemeenskap in vennootskap te tree.
  • Dit skep ’n geleentheid om transformasie te vertolk en te implementeer as die deling van die groei in die landbousektor en nie ’n verarming deur verdeling van die bestaande bates of sakeondernemingswaardes nie. Deur te hou wat hy het, kan ’n boer vanaf daardie basis die verbreding van sy sakebelange in landbou met begunstigdes in grondhervorming tot hul al twee se voordeel deel.
  • Dit bring sekerheid en stabiliteit wat broodnodig is vir die groei van die sektor.

In ’n omgewing soos Limpopo, Noordwes, Mpumalanga, KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap waar oorheersende persentasies van kommersiële plase óf geëis word óf vir herverdeling geteiken word, word individuele boere se uitbreipotensiaal en beleggingsaptyt ernstig deur die aggressiewe jargon van grondhervorming en onteiening sonder vergoeding gekniehalter. Die hele plattelandse ekonomie ly daaronder. Die Karaan-plan bied ’n geleentheid vir boere wat hulself in ’n see van grondhervormings- en beleggingsonsekerhede bevind, om op hul eie plase te konsolideer en op buurplase saam met hul vennote te groei.

Die ervaring het geleer dat dit meer as een generasie neem vir ’n familieboerdery om winsgewend te word. Vir begunstigdes van grondhervorming neem dit nog langer, want hulle besit meestal nie die grond waarop hulle boer nie en het nie toegang tot finansiering nie. Die vennootskapplan plaas so ’n nuwe toetreder tot landbou van die eerste dag af nader aan die hoofstroom van winsgewende waardekettings omdat hy op die rug van ’n vennoot wat reeds daar is, ry.

Dit is waarom hierdie benadering, ten spyte van die wind van voor uit die departement en georganiseerde landbou, steeds die suksesvolste model vir grondhervorming is. Dit word baie algemeen deur Agri All Africa gebruik om Suid-Afrikaanse boere elders in Afrika in vennootskappe met plaaslike kleinskaalboere te vestig.

Die tyd was nog nooit so ryp vir die staat (en veral die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling) en vir georganiseerde landbou om die Karaan-plan te heroorweeg nie.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Theo de Jager

Meer oor die skrywer: Theo de Jager

Theo de Jager is die direksievoorsitter van Saai.

Deel van: Landbou, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
annie

Die vennootskappe het dus ook nie gewerk nie, word bevind. Die voorgestelde Karaan-model is dus net ‘n teorie wat nog ongetoets is en duidelik nog nie byval gevind het nie. Miskien moet eers beraam word hoeveel mense op plaasgrond aanspraak gaan maak as die vrye uitdeel mode word. Hoe blus mens ‘n erge vuur wannneer ‘n bom bars? Kry ook eers daai antwoord.

Andrew

Die is goed en wel as jy Westvalia, ZZ2, Bosveld sitrus en dies meer is met die kapitale krag om die soort van projekte aan te pak. Die soort van samewerking sink n klein/medium skaal boer. Dit weer vernietig boere gemeenkappe want die groot maatkappye wat nou al die klein boere uitgekoop het moet sy indiensneming op bee vlak doen. Karaan Beef se monopolie is presies op die wyse bekom, koop eenvoudig die kompetiese uit. Maar goed, Prof Karaan was deel van die skrywers van die ontwikkelings plan so geen lyn tussen privaat en staat hier nie nee.

Werner

Hoe onosel wil ons wees help hulle sodat as hulle jou klaar gebruik het dan smyt hulle jou eenkant.