Verbreek die stilte oor vroueslaners

(Argieffoto: Pixabay)

Geweld teen vroue is ’n skandvlek op ons samelewing. Dit word bevestig deur die feit dat 21% van vroue wat in verhoudings is, al voorheen fisiek deur ’n eggenoot, lewensmaat of kêrel aangerand is. Boonop word 50% van alle aanrandings op vroue gepleeg deur mense naby aan dié vroue. Indien ons nie iets aan hierdie onreg teenoor vroue doen nie, is dit ’n aanklag teen elkeen van ons se gewete.

Toe ek so vyf jaar oud was, het my pa vir my gesê ons Kriels het baie foute, maar om ’n vrou te slaan is nie een daarvan nie.

“As jy ’n vrou slaan, sal jou hande afval,” het hy gewaarsku. Ongelukkig val die hande van mans wat vroue slaan, nie regtig af nie – en daarom is dit belangrik dat ons as samelewing alles moontlik moet doen om te sorg dat vroueslaners ten minste hul hande tuishou.

Om geweld teen vroue te bekamp, moet ons drie vereistes nakom wat ten nouste met mekaar verbind is. Eerstens moet vroue aangemoedig word om die stilte te verbreek oor geweld wat teenoor hulle gepleeg word en om dit in die openbaar te onthul. Dit sal egter slegs kan gebeur indien aan daar aan die tweede vereiste voldoen word: Die samelewing moet dié vroue wat die stilte oor geweld teenoor hulle verbreek, in elke moontlike opsig ondersteun. Derdens moet die strafregstelsel verseker dat geregtigheid geskied en vroueslaners aan die pen ry.

Ongelukkig moet ek tot groot skaamte sê dat die samelewing en die staat tans daarin misluk om geweld teen vroue te beveg. Dit is ’n té maklike – maar ook onredelike – uitweg om mishandelde vroue daarvoor te verkwalik dat hulle nie die stilte verbreek oor die geweld wat teenoor hulle gepleeg word nie. In baie gevalle is hierdie vroue grootliks van hul mans se inkomste afhanklik en is die magsverhouding van so ’n aard dat vroue moeilik uit hul situasie kan ontsnap. In ander gevalle probeer ma’s hul kinders beskerm deur die geweld self te verdra sodat die gesin nie skipbreuk ly nie.

Uiteindelik kan dit egter nooit in enige vrou óf haar kinders se langtermynbelang wees om ’n vroueslaner se gedrag te verdra nie. Vroue wat mishandel word, sal dus deur hul familie, vriende, die samelewing en die strafregstelsel gehelp moet word om uit gewelddadige verhoudings te ontsnap.

AfriForum ondersteun tans talle vroue wat slagoffers van geweld en selfs verkragting was of steeds is. Dié vroue het die moed gehad om die stilte te verbreek – in baie gevalle tot hul eie korttermynnadeel omdat die strafregstelsel en die samelewing hulle versaak. Adv. Gerrie Nel en sy span by AfriForum se privaat vervolgingseenheid moes al in talle gevalle ingryp waar óf die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) óf die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) hul plig versuim het om geweldenaars teen vroue aan die pen te laat ry. Gelukkig het AfriForum se druk al in verskeie gevalle daartoe gelei dat die staat vroueslaners met sukses vervolg het. Ongelukkig is daar talle gevalle waar geregtigheid nog moet geskied.

Wat die samelewing betref, is dit tragies dat sekere mans se prominente posisie in die samelewing soms veroorsaak dat die samelewing huiwerig is om hulle tot verantwoording te roep. Dit kan tog nie geduld word nie en dit is iets wat my diep grief.

Waarskynlik is die prominentste geval van beweerde huishoudelike geweld teen ’n vrou waarby adv. Nel en sy span by AfriForum se privaat vervolgingseenheid tans betrokke is, dié van Alexis Bizos, seun van wyle adv. George Bizos. Hy word daarvan aangekla dat hy na bewering in 2015 tydens ’n voorval van huishoudelike geweld ses van sy vrou, Monique van Oosterhout, se ribbes gebreek het. ’n Mediese dokter het haar beserings bevestig.

Die NVG het aanvanklik geweier om Bizos te vervolg. Nadat AfriForum in 2018 aangekondig het dat dit ’n nolle prosequi-sertifikaat aangevra het om Bizos te vervolg, het die NVG in ’n handomkeerbeslissing aangekondig dat dit Bizos wél gaan vervolg. Bizos is daarna uitgenooi om vertoë aan die NVG te rig voordat die vervolging ingestel sou word. Ná ontvangs van Bizos se vertoë het die NVG waarskynlik voor politieke druk geswig en weer eens besluit om Van Oosterhout in die steek te laat en Bizos nie te vervolg nie. Daarna het AfriForum besluit om Bizos privaat te vervolg. Adv. Nel sal daarom van 12 tot 14 Oktober vanjaar as aanklaer teen Bizos optree.

Ek het die grootste respek vir Van Oosterhout se besluit om die stilte te verbreek oor die geweld waaraan sy na bewering onderwerp is en dat sy deurgedruk het toe die SAPD en NVG haar in die steek gelaat het. Waar die NVG haar versaak het, het adv. Nel en sy span ingetree.

Wat die gemeenskap se ondersteuning van Van Oosterhout betref, is daar nie net versuim om haar te ondersteun nie. Haar pogings om die beweerde geweld teen haar te beveg, word tans ongelukkig aktief ondermyn. Pleks daarvan om haar te ondersteun, het verskeie prominente figure probeer om AfriForum te oortuig om Bizos nie te vervolg nie. Erger nog: Een van Suid-Afrika se grootste regsfirmas, Webber Wentzel, het dit wys geag om die vermeende vroueslaner Alexis Bizos op ’n pro bonogrondslag te verdedig. Natuurlik het Bizos die reg op regsverteenwoordiging, maar hoe op aarde kan ’n gerespekteerde regsfirma dit as gepas beskou om – te midde van ’n vlaag van geweld teen vroue – ’n vermeende vroueslaner gratis te verteenwoordig? Boonop ondersteun Webber Wentzel nou ook vir Bizos gratis in ’n lastersaak om AfriForum en Van Oosterhout se monde oor die beweerde aanranding te probeer snoer.

AfriForum sal uit beginsel nie sy mond laat snoer nie en sal dié saak enduit beveg. Ons kan maar net hoop dat – ter wille van ander slagoffers van geweld teen vroue – almal saam met ons tot die stryd teen geweld teen vroue sal toetree. Dit is ons elkeen se plig.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Kallie Kriel

Kallie Kriel is die Uitvoerende Hoof van AfriForum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Bite Me ·

Ek het as kind in ‘n huis groot geword waar my pa my ma geslaan het… Naweek in en naweek uit. Sy het altyd merke gehad wat sy moes wegsteek as sy moet werk toe gaan. Niemand het ooit iets gedoen om haar te help nie – nie eers haar eie broers nie. Daai tyd was ek bang en weerloos. Nie meer nie!

Ek hoop dat geregtigheid vir Van Oosterhout sal geskied.

Snowball ·

Uiteindelik genees die fisiese letsels van mishandelde vrouens en kinders, (as hulle betyds kan wegkom) maar die geestelike en emosionele skade dra hulle vir altyd. Ek glo die psige van ‘n kind wat sien hoe ‘n man ‘n vrou mishandel is vir altyd aangetas. Veral as die vrou sy/haar Ma is. Seuns verval dikwels in dieselfde Bose kringloop van geweld en dogters leef met daardie aangetaste selfbeeld wat vorm wanneer hulle gewoond gemaak word dat ‘n vrou ‘n man se slaansak is.
Gewoonlik is die soort wat vrouslaan te lafhartig om ‘n man aan te vat en is uiteindelik net ‘n boelie en ‘n uitvaagsel wat deur tronkstraf in die bek geruk moet word. Ongelukkig kom te veel nog steeds daarmee weg in SA, want ten spyte van wat die useless regering sê, word te min gedoen teen geslagsgebaseerde geweld. Dalk het dit te doen met sekere kulture wat glo ‘n vrou is ‘n besitting – die polisie en regstelsel is ook skuldig wanneer hulle hierdie slagoffers in die steek laat.

annie ·

Ongelukkig moet Afrikanermans maar ook hand in eie boesem steek… Die magteloosheid wat toegesak het na die probleme wat die politieke ommeswaai tot gevolg gehad het, was ‘n ‘skop die hond’-mentaliteit by sommige swernote vir daai lekker ‘wen-verloor’-gevoel.

VaalDonkie ·

Dis nie die politiek nie. Dis die weermag. Daar is studies daaroor gedoen. Die “geslagsgeweld” statistieke het gewys elke jaar word die vroueslaners gemiddeld ouer. En dis toe bevind die manne wat grens toe was was die groot sondebokke. Moenie vir my vra hoekom nie, maar dit was die korrelasie.

Riana ·

Een: Wat is die sistemiese oorsaak van dit? Slaan patriale geloof dit in mans in want hulle is God se nommer 1? Kultuur ook n groot sondebok.
Twee: Wat van die daaglikse verpestering deur menigte mans wat subtiel ook verkrag en vat en geen nee vir n antwoord vat nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.