Verdien Lesufi ’n slaagpunt?

lesufi-deur-ana-2019-03-11

Panyaza Lesufi, die Gautengse LUR vir onderwys. Foto: ANA.

Die Gautengse LUR van onderwys, Andrek Panyasa Lesufi, is ’n interessante man. ’n Groot deel van veral die swart bevolking dink die wêreld van hom. Hy is ’n LUR wat “op sy pos” is, en word gesien en gehoor waar daar ook al moeilikheid in die Gautengse skoolstelsel is. Hy is gereeld in die media en hou een maal per week ’n mediakonferensie – gewoonlik op ’n Sondagmiddag by sy huis. Hy is selfs genoem as ’n opvolger van die huidige minister van basiese onderwys, Angie Motshekga. ’n Ander deel van veral die wit (en Afrikaanse bevolking) is van mening dat hy ’n oorlog teen Afrikaans as onderrigtaal in skole voer – en sommer op die koop toe antiwit sentimente het.

Lesufi het ’n luisterryke struggle-geskiedenis, veral vir iemand wat nou maar 51 is. Volgens sy amptelike profiel was hy in 1985 (op 17-jarige ouderdom) in aanhouding as apartheidsaktivis. Hy het in 1995 (nogal ná die eerste demokratiese verkiesing van 1994) weer in ’n Durbanse tronk beland – skynbaar omdat hy “hoër onderwys se transformasie-agenda gedryf het”. Wat sy oortreding was, word nie geopenbaar nie. Dit word ook nie gesê waarin en óf hy ’n eerste graad aan die destydse Universiteit van Natal behaal het nie. Hy het wel ’n MBA (maar ons weet nie van watter universiteit nie). Hy het reeds diep spore in die ANC in Gauteng getrap en is adjunkvoorsitter van die organisasie in Gauteng.

Maar wat is Lesufi se prestasielys in onderwys as LUR in Gauteng? Een van die dinge waarop hy (tereg) baie klem lê, is dat elke kind in Gauteng toegang tot gehalteonderrig moet hê. Aan die begin van elke jaar sukkel Gauteng egter met tienduisende leerders wat nie geplaas kan word nie, omdat skole oorvol is. Daarom het Lesufi in 2014 belowe dat hy 1 000 (een duisend) nuwe skole in die volgende klompie jare gaan bou. ’n Mens moet aanvaar dat hy die begroting om hierdie massiewe taak te verrig, beskikbaar gehad het. Daar stroom na beraming jaarliks tussen 50 000 en 70 000 nuwe leerlinge uit naburige provinsies na Gauteng, en daarom moet ten minste 50 nuwe skole per jaar gebou word.

Hoeveel skole is daar op Lesufi se “wagbeurt” (soos hy graag self sê) die afgelope vyf jaar in Gauteng gebou? Volgens die Gautengse Departement van Onderwys self is daar in 2014/15 dertien skole gebou, in 2015/16 sestien, in 2016/17 agt, in 2017/18 ’n skrapse ses en net vier in 2019. Van die totaal van 1 000 wat hy belowe het, het hy slegs 47 gebou – 4,7% van wat hy beloof het.

Maar dalk is hierdie skole ten minste modelskole, goed toegerus en toppresterend? Helaas nie. Die media dra die afgelope paar jaar telkens stories van nuwe skole wat swak toegerus is, of waar rekenaars gesteel word omdat daar nie voldoende sekuriteit is nie. In ander nuwe skole word rekenaars in kaste toegesluit omdat daar nie internettoegang is nie. ’n Hoërskool in Olievenhoutbosch het ’n splinternuwe sentrum vir verbruikerswetenskappe, met blink stowe en yskaste, maar nie genoeg kooktoerusting om die vak behoorlik aan te bied nie. ’n Laerskool in Tembisa moes hul laboratorium en rekenaarsentrum in klaskamers omskep, omdat die skool aanvanklik met te min klaskamers gebou is. Hulle het dus net ’n biblioteek, wat boonop karig toegerus is, met net enkele boeke wat nie relevant is tot laerskoolleerlinge nie. Postevoorsiening van die departement vir al die skole is te min en klasse het tussen 50 en 80 leerlinge elk.

’n Ander probleem wat Lesufi veroorsaak, is dat hy dikwels die grense van sy verantwoordelikhede as politieke hoof van die departement oorsteek en sommer self bestuurshoof speel – en dan uitsprake maak oor alles en nog wat. Daarmee neem hy die pligte van die onderwyshoof van die provinsie by die aangestelde amptenaar oor. Daarby skiet hy ook dikwels uit die heup – dink maar waar hy adresse van onderwysers (wat later onskuldig aan rassisme blyk te gewees het) op sosiale media versprei het.

Moet Lesufi ’n slaagpunt hiervoor kry? Oordeel maar self. Toegegee, sy mediaprofiel is indrukwekkend, en hy lyk en klink asof hy “iets doen”… maar die feite bewys die teendeel.

Onder Afrikaanstaliges is Lesufi natuurlik meer berug, veral oor sy houding oor Afrikaans in Gauteng se openbare skole. Hy en sy verdedigers (soos Adriaan Basson van News24) hou vol dat hy niks teen Afrikaans as onderrigtaal in skole het nie, hy is net ernstig oor integrasie in skole. Maar in Mei 2019 (op nasionale TV) is hierdie mite aan flarde geskiet toe hy hom klaarblyklik vir ’n vraag oor die elektroniese rekenaarstelsel vir nuwe toelatings vervies het. Die strekking van sy opmerking was iets soos, “Waarom veg mense vir Afrikaanse onderrig, daar is tog nie meer Afrikaanse universiteite in Suid-Afrika nie? Ek beskerm eintlik hierdie leerders sodat hulle nie in ’n taal leer waarin hulle nie verder kan studeer nie”. Afgesien daarvan dat dit feitelik verkeerd is (NWU-Potchefstroom en Stellenbosch bied nog Afrikaanse onderrig aan), is dit neerbuigend en arrogant verby. Hy kon net sowel gesê het: Ek, die grote Lesufi, beskerm hierdie klomp Dutchmen teen hulself! Ek help hulle om nie in hierdie agterlike taal te studeer nie.

Dit is natuurlik ook ’n selfdienende argument: Lesufi se ander ANC-kollegas en -gesindes maak seker dat Afrikaans op universiteit vernietig word, en hy voltooi die sirkel deur seker te maak dat daar nie meer vir Afrikaans ’n aanvraag sal wees nie!

’n Gunstelinggesegde van Lesufi is dat daar onder sy leierskap nie (meer) skole vir “klein basies” sal wees nie. Afrikaanse skole is dus eintlik maar wit skole en sit apartheid voort. Daar is twee foute met hierdie argument:

  • Daar is nie meer ’n enkele openbare skool in Gauteng (of in die res van die land) waar Afrikaans as onderrigtaal gebruik word, waar daar net wit leerders is nie. Dit het Lesufi self uitgevind na die Overvaal-insident in 2018, toe ’n voormalige swart leerder van Hoërskool Overvaal vir die skool in die bresse getree het. Daar is dus nie meer skole vir die sogenaamde “klein basies” nie…
  • Tweedens word Afrikaans deur meer bruines as wittes gepraat, en kan dit nie meer as ’n blote “witmanstaal” of apartheidsmeganisme afgemaak word nie. Aan die begin van 2018 het selfs The Citizen ’n artikel gepubliseer: “It is a ‘war on Afrikaans education’ in Gauteng… the government appears hell-bent on weeding out Afrikaans as a language of instruction in schools in the province”. Hier het dit gegaan oor 119 dubbelmediumskole in Gauteng wat na Engels-alleen oorgeskakel is; hieronder was daar 43 skole in bruin en hoofsaaklik Afrikaanse gebiede. Dit het groot ontsteltenis in die bruin Afrikaanse gemeenskap veroorsaak, omdat dit Afrikaanssprekendes die grondwetlike reg op moedertaalonderrig ontneem (soos in Eldoradopark bewys is).

In Junie 2019 merk Lesufi in ’n video-onderhoud op dat ’n skool drie tale en drie klasstrome kan hê: een in Afrikaans, een in Engels, en een in Sesotho. Maar ná klas moet die leerders “geïntegreerd” met mekaar gaan speel. As Lesufi gedink het dat hy Afrikaanssprekendes skaakmat met hierdie uitspraak gesit het, het hierdie kommentator nuus vir hom. As hy ernstig is met sy voorstel, en as hy die begrotings daarvoor kan kry, en genoeg poste kan voorsien, en as hy wys dat dit vir hom werklik oor veeltaligheid en nierassigheid gaan, sal die meerderheid Afrikaanssprekende ouers hom steun. Baie ouers, ook dié wat moedertaalonderrig as grondwetlike reg opeis, sien die voordele van veelrassige skole raak. Die probleem is egter dat met sy beleid en praktyk om dubbelmedium skole Engels-alleen te maak en meertaligheid só vernietig, het hy sy eie voorstel reeds verdag gemaak. As hy nie eens twee tale in ’n skool kan toelaat nie, wat nog van drie? En in Afrikaans enkelmediumskole is die voorsiening van onderwysers reeds baie karig. Waar gaan hy die begroting kry om drie tale in ’n skool aan te bied? Of weet hy nie eens dat meer tale meer onderwysers vereis nie? Sy voorstel van drie tale in ’n skool dui dus eintlik op sy skynheiligheid oor Afrikaans, asook sy onkunde oor praktiese onderwysoplossings wat, soos die Grondwet vereis, kinders eerste stel.

Lesufi se optrede en styl is daarom op twee maniere gevaarlik:

Hy is gevaarlik vir die ANC (nasionaal en in Gauteng) deurdat hy verwagtings skep waaraan hy nie (kan) voldoen nie, en hy maak beloftes wat hy nie hou nie (soos die 1 000 skole). Dit gaan hom en die ANC die een of ander tyd inhaal. ’n Goeie mediaprofiel gaan hom net tot op ’n punt help. Hy gaan die ANC nie help om Gauteng te behou nie.

Hy is ook ’n gevaar vir goeie intergroepverhoudinge. As dit vir pres. Cyril Ramaphosa ’n prioriteit is om ’n president vir alle Suid-Afrikaners te wees, is Lesufi se houding en uitsprake ’n onoorkombare struikelblok. Hy het die twyfelagtige eer om die één persoon te wees wat gematigde Afrikaanssprekendes van alle rasse die meeste te polariseer en van die ANC en die regering te vervreem, en hulle agterdogtig oor hul verbintenis tot veeltaligheid en moedertaalonderrig te maak. En as mens The Citizen se bogenoemde berig as maatstaf neem, besef selfs Engelssprekendes dit.

Ramaphosa moet dus versigtig wees om opgewonde oor Lesufi te raak – of blind te wees vir sy tekortkominge. Hy is nie die goeie LUR vir onderwys wat hy homself in die media maak nie. Hy het sommige van sy pligte gruwelik versuim en is ’n las vir die ANC wat die organisasie op die medium termyn duur te staan gaan kom. En hy staan lynreg in Ramaphosa se pad om versoening tussen alle Suid-Afrikaners – spesifiek met miljoene Afrikaanssprekendes – te bewerkstelling.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

John ·

Daar is baie maniere en rigtings waar ‘n slaagpunt aan te dui is. Skerpskutters word beoordeel volgens hul vermoè om hul naaste se vyand uit te knikker. Kyk bv ook hoe goed slaag die kaders dmv van hul verkeerde aksies daarin om regmerke met hoè %-slaagsyfers te kry… en die bekers telkemale te ontvang; weer met die trappies op na die verhoog met ‘n soentjie op elke wang… en die volk juig en sit hul x’e weer agter dieselfde gesigte. En daarna weer die groot makietie, soos vanaand.

Thinus ·

Dis nog een van die onbevoegde en dom mense wat die regering aanstel bloot net omdat hy ‘n kader is. Hy hoort nie daar nie.

Andreas ·

Dr Eloff, ek is glad nie so seker dat Cyril Ramaphosa dit erns het met versoening tussen Suid-Afrikaners nie, gegewe sy uitsprake, of dan liewer gebrek aan uitsprake oor plaasveiligheid, hy weier om hom daaroor uit te laat en hy roer nie ‘n vinger om rassespanning te verlig nie, hy in effek staan agter die deur en blaas dit aan. Hy self het dan die onderwysminister aangestel, wel wetende wat haar sentimente teenoor Afrikaans en Lesufi is, dit is dan nou met Lesufi se heraanstelling as LUR bewys.

Kom ons kyk in sy staatsrede vanaand of hy verligting gaan bring.

Petrus ·

Ramaphosa moet veg vir oorlewing binne sy eie party. Afrikaners se welstand is laaste op sy lysie.

Pierre Blignaut ·

Hoe ironies. Volgens Lesufi kan daar aparte klasse wees solank kinders kan saam speel. Hy homself het sy mond goed uitgespoel by skole waar kinders apart hanteer was bv Curro Roodeplaat, kleuterskool insident. Alles wat hy kwytraak net n rookskerm. Skole sal dieselfde pad as universiteite stap.

DP ·

Die probleem wat Lesufi skep is dat skole oorvol geprop word met tot 42 kinders in die klaskamers. Verder is daar heelwat onderwysers per dag afwesig en die kinders van afwesige onderwysers word ook nog opgedeel en gestuur na die onderwysers wat teenwoordig is. Dit beteken dat dit nie ongewoon is vir die onderwysers om met tot 50 leerlinge in ñ klas te sit nie. Met die hedendaagse swak dissipline kan jy jou net indink hoe moeilik dit is vir die onderwyser moet wees om klas te gee onder die omstandighede. Daarom is dit geen wonder dat soveel onderwysers afwesig is nie, aangesien hulle taak bemoeilik word deur die oorvol skole. Verder is die skole nie gebou om hierdie leerder getalle te akkommodeer nie. Dit neem baie van hierdie oorvol skole se leerlinge gemiddeld 10 minute om te wissel tussen periodes, wat beteken dat daar net 20 minute onderrigtyd is per periode met meer as 40 kinders in ñ klas. Dit is nie moeilik om dan te verstaan hoekom ons skoolstelsel misluk nie.

Gert ·

Die storie van die drie tale is mos maar net kullery, soos hulle gedoen het by al die universiteite wat van Afrikaans na Engels gegaan het. Eers belowe jy dat Afrikaans vir altyd sal bly, maar dat jy net vir “inklusiwiteit” ook Engels wil aanbied. Dan, sodra die Engels daar is, word aangevoer baie lektore kan nie Afrikaans verstaan nie, en dat dit nie “prakties haalbaar” is om die klasse in twee tale aan te bied nie. Dan skaf hulle Afrikaans af.
Die ergste is dat almal elke keer weer val vir dit.

Kobus ·

Indien die ANC en hul vriende aan bewind bly sal hulle teen 2025 begin om Afrikaanse onderrig by agt provinsies uit te faseer. Net die WesKaap sal Afrikaans behou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.