Verdienstelike burgerskap of onverdiende regte

flip-buys-2017-11-02

Flip Buys is die voorsitter van die Solidariteit Beweging. Foto: René Roux.

Die idee van “burgerskap” was vanaf die antieke Griekse- en Romeinse republieke ʼn voorreg wat deur pligte verdien moes word. Burgerskap was vir eeue beperk tot mans wat dit deur militêre diensplig verdien het. In die praktyk was burgerskap net vir ʼn minderheid inwoners beskore wat dit as gevolg van hulle bydrae tot die samelewing gekry het.

Die siening dat burgerskap “verdien” moes word, is eers finaal in die twintigste eeu laat vaar toe Switserland in 1971 die koppeling tussen stemreg en militêre diensplig afgeskaf het. Dit was ook die regte stap, omdat daar meer maniere as net verdediging is waardeur mense ʼn diens aan hulle medemens kan lewer.

Verdienste na regte

Die probleem is dat die idee van “verdienstelike burgerskap” toe nie net afgeskaf is nie, maar vervang is met onverdiende “regte” op bykans alles vir almal. In feitlik alle Westerse state is enige inwoner vandag geregtig op die volle voordele van die welsynstelsel, ongeag of hulle daartoe bygedra het of dit op enige manier verdien. Die gevolg is dat al minder mense in hierdie state tot hulle lande wil bydra, en al meer die onverdiende regte wil geniet.

Linksgesindes in hierdie lande het die regte- en welsynstelsel van hulle lande ook uitgebrei na die burgers van veral arm nie-Westerse lande wat daarheen migreer het.

Volk na bevolking
Dit het saamgeval met die kulturele ontbinding van Westerse volke, wat hulself vanaf “volk” na “bevolking” herdefinieer het. Dit het na ʼn klein stappie gelyk, maar het groot gevolge. ʼn Volk is ʼn kultuurgemeenskap, ʼn bevolking is almal wat binne die grense van ʼn land bly. Die een het ʼn samebindende kultuur en die instellings wat daaruit spruit, en daar is gevolglik ʼn samebindende eenheid in die land. ʼn Bevolking is ʼn versameling van kulture, wat gewoonlik nie dieselfde verbintenis het aan instellings soos die markekonomie, vroueregte, demokrasie en skeiding tussen staat en kerk nie.

Talle Europese lande se vervanging van samebindende kulturele identiteit met ʼn verdelende ideologie van sekulêre liberalisme, voorspel groot uitdagings vorentoe. Dit laat mettertyd ʼn spanning in die land opbou, omdat die eenstemmigheid oor nasionale waardes en die grondslae van die samelewing nie meer vanselfsprekend is nie. Liberale Westerlinge verstaan nie die onderliggende meerderwaardigheid wat hulle “multikulturele” siening veronderstel nie, omdat hulle aanvaar dat hulle ideologie so universeel is dat almal daaraan sal voldoen en die nuwe aankomelinge ook hul eie identiteit sal aflê.

Geboortekoerse

Die verlaagde geboortekoerse in Westerse state het daartoe gelei dat die krimpende werkende bevolking al minder in staat is om vir die duur welsynstelsels te betaal. Die toename in die skuldlas van Westerse welsynstate spruit dus daaruit dat die aantal belastingbetalers afneem, en die belastingontvangers toeneem. Dit het Charlie Munger, ondervoorsitter van die wêreld se grootste beleggingsmaatskappy, Berkshire Hathaway, laat opmerk dat ʼn welsynstaat en oop grense nie versoenbaar is nie, en dat dit die noodsaaklike kulturele eenheid in ʼn land in gedrang sal bring.

Dis moeilik om uit hierdie knyptang van dalende staatsinkomste en stygende -uitgawes te ontsnap, want die meerderheid mense wat voordele uit die staatskas kry stem partye aan bewind wat hierdie herverdeling steun. Die finansiële volhoubaarheid van hierdie ryk lande kom al meer in gedrang. Desnieteenstaande is linkse drukgroepe steeds besig om nog groter herverdeling te ondersteun. Hierdie keer bedoel hulle met herverdeling nie net vanaf die ryk- na arm burgers in hul eie lande nie, maar vanaf ryk lande na arm lande in die wêreld.

Herverdeling

Hierdie siening van globale herverdeling het tydens die Covid-19-pandemie verder momentum gekry, toe talle stemme opgegaan het dat dit onregverdig is as ryker lande en -mense beter mediese behandeling as diegene in arm lande kry. Dit sal natuurlik wonderlik wees as dit moontlik was om alles vir almal verniet te gee. In praktyk het sulke idealisme nog altyd op die harde rotse van ekonomiese werklikhede gestrand.

Regte word pligte

Die geskiedenis bewys dat niks verniet is nie, die vraag is net wie daarvoor betaal. Die een se “reg” op ʼn huis, word ʼn ander se plig om te betaal. In Suid-Afrika het die regering ook duur en onbekostigbare planne vir die “reg” op behuising, mediese sorg, staatspensioen en onderwysdienste.

Daarom het dit wêreldwyd tyd geword om weer te kyk na “verdienstelike burgerskap”, omdat onverdiende “regte” tot politieke verdrukking en armoede lei, soos bewys deur die geskiedenis van sosialisme. Die Bybel sê ons moet die “verdienstelike” armes, soos ouer mense en diegene wat nie kan werk nie, help. Die res moet gehelp word om hulself te help.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Flip Buys

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Maria

Dit sal inderdaad sin maak as slegs die oues en gestremdes die enigstes is wat befonds word. Kindertoelae het in ‘n tragedie ontaard

Heinrich

Snaaks hoe Europese lande hulle lande weggegee het vir ‘vlugtelinge’ wat basies die land oorgeneem het en geëis het dat die land hulle land van herkoms word, en almal het maar net saamgespeel en hulle land so weg gegee. Dieselfde gebeur binne ‘n land waar die ‘woke’ klomp op sekere regte aandring en ‘n absurde realiteit probeer skep. Maar hier is ek seker net ‘n gesig wat met my witheid ‘n belediging vir enige iets anderskleuring / andser geslag / ander geloof / woke ens is…