Verduidelik apartheid aan nuwe geslag

flip-buys-2017-11

Flip Buys, die voorsitter van die Solidariteit Beweging. Foto: René Roux.

Apartheid moenie verdedig word nie, maar dit moet verduidelik word. Ons skuld ’n perspektief op die verlede aan die nuwe geslag, omdat hulle nog lank aan die ontvangkant van ʼn rasgebaseerde regeringsbeleid gaan wees.

Jongmense word vandag kwalik geneem vir dinge wat gebeur het voor hulle gebore is, terwyl baie politici nie verantwoordelikheid wil neem vir wat hulle vandag doen nie. Ondanks ’n Grondwet gebaseer op gelykheid, het die ANC stelselmatig ’n omvattende netwerk van rasgebaseerde wette en beleidsrigtings ingestel. Dít word geregverdig deur die sentrale uitgangspunt dat apartheid verantwoordelik was vir al die ongelykhede en armoede in die land, en dat omvattende regstellende aksie-maatreëls nodig is om dit om te keer.

Nooit weer nie

Die sentrale vraag in die Suid-Afrikaanse politiek van die vorige eeu was hoe om die swart mense se reg op vryheid te verwesenlik sonder dat die Afrikaner in dié proses sy vryheid verloor. “Aparte vryhede” was die antwoord op hierdie vraag vir die oorspronklike aanhangers van apartheid. Dit is tragies ironies dat ’n beleid wat sogenaamd tot vryheid vir swart mense moes lei, dié simbool van onvryheid geraak het.

Die Unie van Suid-Afrika het in 1910 ontstaan uit die gedwonge samevoeging van Britse kolonies ná die Anglo-Boereoorlog. Suid-Afrika was veel eerder ’n landstreek soos Oos-Afrika met ’n uiteenlopende bevolking, as ’n normale land soos Swaziland of Lesotho met grootliks een volk. Die uitwissing van 15% van die Boerebevolking tydens die oorlog het ’n belangrike rol gespeel in ’n soort “nooit weer nie”-sekuriteitsindroom wat vir dekades lank ’n groot invloed op die Afrikaner se politieke gedrag sou hê.

Die helfte was arm en swak geskoold, en het gesukkel om hulself te vestig op politieke, ekonomiese en kulturele gebied. Die wanhopige oorlewingstryd waarin die Afrikaner vir die eerste dekades ná die oorlog gewikkel was, het min ruimte gelaat vir ander groepe se uitdagings en strewes. Soos elders ter wêreld, is gevoel dat swart mense onderontwikkeld was, en is nog nie “mondig” geag om aan die blanke politieke stelsel deel te neem nie. In hierdie eerste fase van apartheid het regeringsleiers hulself as die “voogde” van “onmondige” swart mense gesien wat gelei en ontwikkel moes word tot “volwassenheid” en uiteindelike onafhanklike vryheid. Hierdie rassistiese sienings het algemeen in die hele Westerse koloniale era voorgekom, en het eers ná die Tweede Wêreldoorlog begin verander.

Vryheidsvegters

Afrikaners het hulself ná die oorlog gesien as die eerste vryheidsvegters van Afrika en die Unie van 1910 as die eerste stap in die voortsetting van ’n nuwe stryd teen Britse oorheersing wat sou duur tot Republiekwording in 1961. Die Rebellie van 1914 was die eerste poging van Afrikanerleiers om weer die landstreek Suid-Afrika te ontbondel en sy vryheid in die eertydse Boererepublieke te herstel. Die stryd tussen Boer en Brit was prioriteit, en swart mense se politieke strewes het tot ná Republiekwording tweede viool gespeel. As ’n klein volkie in ’n groot vasteland moes die Afrikaner veg vir dit wat groot kulture as vanselfsprekend aanvaar, soos die reg om sy taal in die openbaar te gebruik. Die voortdurende vrees vir sy veiligheid en “verswelging” deur groter getalle het ’n belangrike rol gespeel in die instelling van statutêre apartheid.

SA-bevolking

Grafika: Verskaf.

Dekolonisering

Ná die Tweede Wêreldoorlog het die opkoms van menseregte gelei tot druk vir die dekolonisering van Afrika. Die talle dekolonisasiemislukkings ná onafhanklikheid van Europese moondhede het die rassevooroordele van baie wit mense versterk. Die platval van soveel “nuwe” state het hulle laat glo dat swart mense nie ’n moderne land kan bestuur sonder ’n lang opleidingsproses nie. Dit het gelei tot die tweede fase van apartheid, naamlik afsonderlike ontwikkeling. Afrikaners het Suid-Afrika nie as ’n eenheidstaat gesien waar hulle vir almal verantwoordelik was nie, maar as ’n kunsmatige samevoeging van Britse kolonies wat desnoods weer ontbondel kon word.

Die Britte het onafhanklikheid aan Botswana, Lesotho en Swaziland verleen. Afsonderlike ontwikkeling is as ’n voortsetting van hierdie dekolonisasie gesien, met die plan om tradisionele swart gebiede in Suid-Afrika ook tot onafhanklikheid te ontwikkel.

Afrikaners het hul vryheidstrewe net so toegepas op swart volke, en trots gevoel dat hulle die swartes kon help om hul eie state, skole en universiteite te verkry. Met ander getalleverhoudings as vandag, is stedelike swart mense as “tydelik” gesien, sonder die volle burgerregte wat wit inwoners gehad het. Die ANC se kommunistiese beleid van die sestigerjare het vir Afrikaners na ’n herhaling van die Afrika-mislukkings gelyk, en hulle het geglo dat die ontbondeling van Suid-Afrika op die Wes-Europese model van aparte volkstate die enigste werkbare alternatief was. Die langtermynbevolkingsneigings (sien diagram) en vinnige swart verstedeliking as gevolg van die grootskaalse gebruik van swart arbeid, was die grootste redes hoekom die plan van “onafhanklike lande vir elke volk” nie gewerk het nie.

Koue Oorlog

Afrika het ’n belangrike slagveld in die koue oorlog tussen die Weste en kommunisme geword, wat die polarisasie tussen die Nasionale Party (NP) en die African National Congress (ANC) vererger het. Die konflik het nou ’n nuwe ideologiese en internasionale dimensie bygekry, wat die beweegruimte van die onderskeie kampe aan bande gelê het.

Die geweldige ingewikkeldheid van ’n probleem met rasse-, nasionalistiese-, ideologiese-, etniese-, en kulturele kante het baie internasionale waarnemers laat glo dat die Suid-Afrikaanse kwessie onoplosbaar is. Die ANC se verbintenis met die Sowjetblok het die NP-regering letterlik en figuurlik rooi laat sien, omdat kommunisme destyds ’n wêreldmag was.

Mnr. PW Botha se bewindsaanvaarding in 1981 het die derde fase van afsonderlike ontwikkeling ingelui. ’n Sterk Sowjet-militêre teenwoordigheid in Suider-Afrika het geloofwaardigheid aan die NP se standpunt gegee, en Amerikaanse veiligheidsdienste se sienings het gaandeweg neerslag in Suid-Afrikaanse beleidsbepaling begin vind. Die konflik is al minder vertolk as botsende strewes na selfbeskikking wat deur afsonderlike state opgelos moes word.

Verdrukking

Daar is al meer gepraat van ’n Sowjet-gesteunde kommunistiese aanslag wat deur Amerikaans-ontwikkelde antirewolusionêre strategieë beveg moes word. VSA-doktrines het NP-beleid geword, en geldige swart strewes is as deel van die “aanslag” gesien wat beveg moes word. Terselfdertyd is met ’n hervormingsproses begin om deur die uitfasering van apartheidsmaatreëls die “teelaarde vir rewolusionêre agitators” te verklein. Daar is ook ’n grootskaalse beleid van maatskaplike opheffing van swart mense gevolg, en pogings is aangewend om “gematigde” swart mense in die bedeling te betrek deur ’n proses van onderhandeling.

Die ANC het hierdie proses geboikot, en met hul “People’s War” probeer om die bewind met rewolusionêre geweld omver te werp en ’n kommunistiese bestel hier te vestig. Die destydse regering het in 1985 met ’n verdrukkende noodtoestand begin om die atmosfeer in die land te bestendig en vreedsame omstandighede vir ’n onderhandelde skikking te bewerkstellig. Hulle het ook aangebied om mnr. Mandela vry te laat as hy geweld en kommunisme sou afsweer.

Menseregte

Ná die val van kommunisme as ’n wêreldmag het die Suid-Afrikaanse probleem weer vinnig ’n menseregtekwessie geword, en was daar groot druk op die destydse regering om ’n algemene demokrasie in te stel. Dit was net nie volhoubaar vir ’n minderheid om blywend oor ’n meerderheid te regeer nie. Die NP-regering het die ANC ontban, mnr. Mandela vrygelaat, en met die Kodesa-onderhandelingsproses begin wat op die tussentydse Grondwet en demokratiese verkiesing in 1994 uitgeloop het.

Die onderliggende aanname was dat meerderheidsregering vir minderheidsbeskerming verruil is. Dis egter ’n groot vraag of die Grondwet en die politieke bestel genoegsame beskerming vir minderhede bied. Anders gestel, die ANC gebruik sy meerderheidsmag om die minderheidsbeskerming wat die Grondwet wel bied, te dwarsboom.

Die idealistiese beleid van “vryheid vir almal” het uiteindelik uitgeloop op ’n verdrukkende stelsel wat wêreldwyd veroordeel is.

Vandag word die nuwe geslag konfronteer met die verdelende geskiedenis van die verlede. Die uitdaging is om ons voorouers se beleid in die konteks van hul tyd te beoordeel. Dis egter nie maklik nie, want soos George Orwell gesê het: “Elke geslag dink hy is slimmer as die vorige geslagte, en wyser as die volgende geslag.”

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Flip Buys

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

23 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jerry

Bewerkstellig versoening deur die hand van vriendskap wat CR uitsteek te vat en tree dan ook daarvolgens versoenend op. Die dag wat die huidige Afrikaner organisasies dit doen, sal nie net die Afrikaner jeug nie, maar alle Afrikaners nie verder kwalik geneem word vir apartheid nie. Dan sal transformasie en reverse discrimination uitgedien raak en meeste Suid Afrikaners sal n stukkie grond he met titel aktes en erf met n huisie met eiendomsreg. Die Afrikanerjeug wat dan nie langer verkwalik word vir apartheid nie, kan dan in vrede en harmonie, diep spore trap en werk skep vir die res.

jaco

kom ons vra die ANC om SA se grondwet as volg verander: 1. rassisme word omskryf as slegs wit mense wat lelik is met swart mense. Strawwe daarvoor word ook duidelik uiteengesit. 2. wit mense verloor stemreg en stem net vir ‘n Wes-Kaapse tuislandregering 3. alle wit mense word gedwonge wes-kaap toe verskuif. 4. wit mense met dubbele burgerskap moet hulle SA burgerskap afsê en moet dadelik terugkeer na lande waar hulle nog burgerskap het 5. die wes-kaap verander na ‘n tuisland met beperkte selfregering, baie soos Hong Kong en die Palestian Authority 6. Buitelandse beleggings word daar toegelaat, op… Lees meer »

Eish

Ons het met ander woorde die hele situasie verkeerd bestuur. ” Voogde, onderontwikkeld, nie mondig geag, hierdie rassistiese siening het algemeen in die Westerse wêreld. ..”
Maw alger spring in die vuur en ons volg…

Diep is die see en diep is die hel, maar trots lê nog dieper as dit.
Dit is soos gif, rondom die fondasie van die siel lê.
As dit in sy motiewe geopenbaar word, en die oorsprong van gedagtes neerplot,
sal dit selfs onskuldig mog voorkom, maar vernietiging verseker.

Alles net omdat ons nie die Woord wat ons verkondig het, kon leef nie.

Peet Roodt

Die meeste van die ouer garde wat uit die “apartheidstyd” kom verstaan waarskynlik beter waarna Mnr Buys verwys. Solank Afriforum voorgee dat dit die spreekbuis van blanke Afrikaners is en voortgaan om uitsprake te lewer soos wat Kallie Kriel onlangs gedoen het, gaan die versoening nooit plaasvind nie. Somtyds kry ek die indruk dat sulke uitsprake steeds probeer om slegte dinge uit die verlede te verdedig en ook die persepsie te skep dat daar dalk weer teruggegaan kan word na daardie tyd. Ons weet almal dit is nie moontlik nie.

Oupa Afrikaner Vlakvark van Geregtigheidsfontein

Geagte Flip, as ‘n oupa en senior burger kreool Afrikaner in hart, siel, murg en been, gebore 1948, kan ek prontuit instaan vir die korrektheid van hierdie artikel. Dankie vir jou waagmoed en eerlikheid. Apartheid MOES beslis in ons as senior burger Afrikaners se lewensduur vir die nageslagte deur skriftelike dokumentasie en publikasie verduidelik word en nie deur die nageslagte self tweedehands met nabetragting gepen word nie. Ėén voorstel: Publiseer hierdie artikel IN ENGELS prominent op Solidariteit en AfriForum se webwerwe asook wêreldwyd in die media en rig dit ook aan elke ambassade, belangrike buitelandse besluitnemers en joernaliste. Sterkte en… Lees meer »