Vergeet die verlede op eie risiko

Die debat oor Afrikaans by die Universiteit van Stellenbosch het vanjaar heelwat aandag geniet. Tereg ook. Dit gaan immers oor die hede én toekoms. Tog kan die vervlegte geskiedenis van die US en Afrikaans nie geïgnoreer word nie. Dit het ons vanjaar weer herinner aan die positiewe van ons geskiedenis. Ook aan die emosie wat opgewek kan word as gekarring word aan ‘n etniese groep se erfenis.

Die Eikestad se akkerbome kan nie sommer afgekap of verwaarloos word sonder om emosie op te wek nie. Eweneens maak jy nie sommer van Afrikaans ‘n stiefkind sonder regte aan die Universiteit van Stellenbosch nie. Jy gaan reaksie kry.

Van die (verwagte) heilige verontwaardiging teen hierdie pogings om Afrikaans minder as sy volle staanplek te gun, het ons die afgelope jaar talle goeie voorbeelde gesien.

Juis omdat dr. Marie Heese en ander sulke goeie kontemporêre argumente gemaak het, het die historiese argumente dalk minder aandag gekry. Verstaanbaar, maar dit beteken nie daar is nie ‘n sterk emosioneel-historiese argument te maak nie.

Hierdie historiese argument ten gunste van Afrikaans op Stellenbosch is gegrond op feite wat nie weggewens kan word omdat dit kamstig irrelevant is nie. Die US gaan oor veel meer as die (onregverdige) bevoorregting van Afrikaners in die verlede – soos wat kwaadwilliges so graag aanvoer.

Ondersoek jy die onstaan van die universiteit, sy vestiging en uitbou tot een van nie net die mooiste kampusse in die wêreld nie, maar ook ‘n (meestal) uitnemende universiteit, kan jy ‘n boek vol voorbeelde noem oor hoe Afrikaans en die US saam gegroei het. Dis ‘n mooi verhaal.

Midde-in het studente en dosente gestaan wat met hul kaal hande die Ou Hoofgebou help bou het; ‘n eerste rugbyveld is deur studente uit ‘n klipperige stuk grond geskep; en meer nog: Afrikaans as selfstandige taal is, saam met Afrikaanspreklendes van elders, uitgebou deur onder meer die skep van Afrikaanse sportterme, ‘n eie Afrikaanse joernalistiek en letterkunde.

Tyd, geld en harte is vir ‘n opboutaak gegee waarvan die vrugte steeds gepluk word.

Nog ‘n konkrete voorbeeld van hierdie verhaal van selfopheffing is die Neelsie, die studentesentrum in die hart van die kampus. Gebou met geld wat die Nasionale Party-regering sonder verdienste op wit studente laat reën het? Moenie glo nie.

In 1920 is deur die studente besluit om geld vir ‘n Voortrekkergedenksaal in te samel. Dit het hulle onder meer gedoen deur musiekkonserte en toneelopvoerings.

Na die dood in 1932 van C.J. Langenhoven, met wie die studente ‘n besondere band gehad het, word die beoogde saal se naam verander na Langenhoven-gedenksaal. En vier dekades later word die Langenhoven-gedenksentrum ingewy – vandag, na allerlei funksionele veranderinge aan die oorspronklike gebou, die Neelsie.

Darem het die sentrum so half sy naam behou, anders as die B.J. Vorster-gebou, wat in die naam van politieke dienstigheid hernoem moes word om John Vorster se spore op Stellenbosch uit te wis – dit terwyl die herinnering aan Cecil John Rhodes en ander imperialiste elders ongeskonde gelaat word. Maar dit net terloops.

Punt is: die Neelsie is ‘n monument aan dalk die gewildste Afrikaanse skrywer ooit, ja, maar ook aan gewone Afrikanerstudente wat hand uit die mou gesteek het en gewerk het. Hulle het nie net bakhand gestaan nie, maar vanuit baie beskeie ekonomiese agtergronde iets vir hulself en hul medemens gedoen.

Natuurlik het die staat later die leeue-aandeel tot die bou van die sentrum bygedra, maar daar is iets aan hierdie en ander bakens op die Matie-kampus: dit kom ook van binne, want in die begindekades van die US was daar nie groot tjeks uit Skandinawië of Amerika of selfs van Anglo-American nie. (Die oorspronklike Carnegiebiblioteek was ‘n uitsondering.)

Die Maties het in die stryd om Afrikaans formeel tot sy reg te laat kom, nie op hulle laat wag nie. Reeds in 1916 – agt jaar voordat Afrikaans Hollands as amptelike landstaal vervang het – word Afrikaans die studenteraad se amptelike taal.

In 1918 vra hulle die universiteitsraad vir ‘n leerstoel in Afrikaans en moedig die SR studente aan om dosente wat weier om Afrikaans in die klas te gebruik by die universiteitsraad aan te gee. In dieselfde trant het die studente geveg vir Afrikaans in die kerk – en gewen.

Op die gebied van sang en musiek het hulle ‘n kultuur help skep wat bo die oppervlakkige uitgestyg het – al was deursnee-Maties ook maar eksponente van middelmatigheid. Hulle was, soos alle studentegemeenskappe, vol luies, mense wat hul taal verkrag het, eerder ‘n swak Hollywoodrolprent verkies het as ‘n opvoering, en so meer.

Stellenbosse selfwerksaamheid was ook nie uniek nie. By ander Afrikaanse kampusse het mens dieselfde entoesiasme gekry.

Kom ons noem dit maar by sy naam: dit was Afrikanernasionalisme aan’t werk. En ons weet dié denke het verstol en uitgeloop op ‘n bedeling wat verkeerd en onvolhoubaar was.

Kyk jy na die geskiedenis van die Stellenbosse studente, is daar ook ‘n belangrike keersy te sien, naamlik die kiem van verset teen ongeregtigheid en ongenuanseerde nasionalisme.

Ja, die name van Hendrik Verwoerd, John Vorster en ‘n string ander later prominente politici tref jy aan op die blaaie van ou studentepublikasies en notules, maar daar was ook altyd verset.

So is Frans (F. A.) Venter letterlik van die kampus verjaag omdat hy ‘n Sap was en berigte vir die Suiderstem geskryf het.

Meestal was die Maties egter nasionaliste en Nasionaliste. Hoe hard het ‘n Jan van Eck nie gesukkel om in die 1970’s ‘n paar Maties se koppe na die ou PFP te swaai nie!

Intussen het die landspolitiek fundamenteel verander. Selfs die 1960’s was lankal nie meer die 1920’s of 1940’nie. Kritiese stemme het toenemend teen apartheid gegroei. En nou lê selfs 1994 reeds ver in die verlede.

Daarom kan ons natuurlik nie die styl of inhoud van destyds (die 1920’s of 1980’s) handhaaf nie. Niemand wat Afrikaans se belang op die hart dra stel dit voor nie.

Maar daar word tog met waardering gekyk na wat tot stand gebring is. Ook sal eerlike waarnemers let op die kritiese stem waarop Maties trots was.

Om die Universiteit van Stellenbosch as Afrikanerinstelling af te maak en te eis dat dit omskep moet word tot ‘n Engelse universiteit met ‘n kleiner wordende Afrikaanse komponent is nie net immoreel teenoor die (wit, bruin, swart) Afrikaanse studente van die huidige geslag nie, maar ook ‘n ontkenning van die positiewe waarop ons juis moet bou.

Daarom kan nie suiwer tegnokraties of in terme van huidige politieke korrektheid na die US se toekoms gekyk word nie. Kyk ‘n slag terug. Die US is veel meer as ‘n fabriek.

Wil jy egter ‘n streep deur die geskiedenis trek, moet jy eerlik wees en die stootskrapers instoot – ook die kuturele stootskrapers wat vandag so gedy.

Daar sal maar min oorbly wat nie regstreeks terugherlei kan word na die eerlike werk van dosente, studente en ondersteuners oor ‘n tydperk van meer as ‘n 100 jaar nie. En dit geld talle ander Afrikanerinstellings.

Daarom: ons kan nie in die verlde leef nie, maar ons mag dit ook nie vergeet nie. Dit gee inspirasie vir vandag en môre.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Johannes Froneman

Meer oor die skrywer: Johannes Froneman

Prof. Johannes Froneman is hoogleraar in kommunikasiestudies aan die Noordwes-universiteit (Potchefstroom), en verteenwoordig die Demokratiese Alliansie in die Tlokwe-stadsraad, Potchefstroom.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae