Vergelding of versoening – ’n selektiewe omgaan met die verlede  

Argieffoto

Hoe sinies het mense nie geraak oor die Suid-Afrika in die tweede helfte van 2019 nie? Die ekonomie druk en knyp al meer, die realiteite van ʼn grondwetwysiging en onteiening sonder vergoeding word al hoe groter. Ons pensioenskemas is onder druk. Ons hoor ons sal meer moet betaal vir ʼn futiele Nasionale Gesondheidsversekering. Die korrupsieskandale word al hoe meer gereeld met min, indien enige, vervolging. Xenofobiese aanvalle kom meer dikwels voor en diensleweringproteste lei tot die vernietiging van infrastruktuur.

Pas is die uitspraak gelewer oor die ou oranje-blanje-blou wat die openbare vertoon van die vlag as haatsmisdaad verklaar. Die president verklaar stellig in die parlement dat diegene wat gekant is teen die Nasionale Gesondheidsversekering, dan teen transformasie gekant is.

Hier is egter iets anders aan die gebeur wat kommer moet wek.

Asof dit nie reeds genoeg is dat duisende wit staatsdiensamptenare ná 1994 uit diens gestel is in die staatsdiens nie; asof dit nie genoeg is dat klein wit besighede gestraf word as gevolg van tender- en aankoopprosedures wat swart besighede bevoordeel nie; asof dit nie genoeg is dat honderde duisende wit Suid-Afrikaners hul kundigheid in die buiteland aanwend nie; asof dit nie genoeg is dat wit matrikulante nie beurse toegestaan word vir verdere studie nie, of as gevolg van diskriminerende maatreëls nie toegang kry tot sekere fakulteite nie; asof dit nie genoeg is dat top- wit sportmanne en -vroue as gevolg van hul velkleur en nie prestasie nie, uit nasionale sportspanne gelaat word; asof dit nie genoeg is dat groot maatskappye aandele-opsies slegs aan swart begunstigdes toeken nie, word al hoe meer blaam en skuld op “witwees” geplaas.

Die feit dat plaasmoorde en plaasaanvalle telkens met ʼn skoueroptrek afgemaak word deur die regering, is nie meer aanvaarbaar nie. Voeg hierby dat wit rassisme die grootste sonde denkbaar is en swart rassisme met fluweelhandskoene hanteer word…

Vergelyk gerus die haas waarmee die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie op die onderwyseres en die skool in Schweizer-Reneke toegesak het aan die begin van die jaar. Nog steeds geen woord ná hulle ondersoek ter plaatse nie. Wat het geword van Ashwin Willemse se SuperSport-debakel in Junie 2018? Die Mensregtekommissie sou reeds ʼn openbare verhoor vroeër vanjaar gehad het in die geval, maar dit is uitgestel. Geen woord verder nie. Maar laat iemand net die ou Suid-Afrikaanse vlag swaai en die SAMRK is voor in die koor met dreigende optrede. Net so met die Eben Etsebeth-geval. Die SAMRK jaag uitasem Langebaan toe en gee ruim geleentheid vir aktiviste om hul mond uit te spoel. Dieselfde SAMRK is egter maar stil oor die Xenofobiese aanvalle wat ʼn pad van verwoesting, plundery, dood en vernietiging van eiendom gelaat het. Alles ʼn uiterste vorm van haatspraak, maar skynbaar is ander maatstawwe hier van toepassing.

Enkele jare gelede in Augustus 2011, is dr. Alan Boesak in Die Burger aangehaal dat “wittes, selfs diegene wat ná apartheid gebore is, vandag steeds voordeel trek uit die gesamentlike bevoorregting uit al drie fases van Suid-Afrika se geskiedenis – slawerny, kolonialisme en apartheid.” Mense moet verstaan Boesak het gesê: “Sonder maatskaplike geregtigheid sal versoening nooit gebeur nie.”

Maatskaplike geregtigheid deur sy toepassing in 2019 het die versuikerde woord geword vir vergelding. Dit is wat ons tans beleef met die aanslag van onteiening van grond sonder vergoeding, die uitsprake oor die ou vlag, die vervolging van wit rassisme en beweerde wit rassisme, regstellende aksie en kwotas. Straf, wraakneming, afrekening vir die sondes van apartheid. Dit is opmerklik hoe sekere kommentators in die geskrewe en elektroniese media uitasem die mond uitspoel oor wit mense wat maar net nie anders kan as om rassiste en apartheid-apologete te wees nie. Die uitspraak oor die vlag was skaars gelewer, toe die EFF eis dat die Afrikaanse gedeelte van die nasionale lied ook verwyder moet word.

Universiteite soos Unisa en die Universiteit Stellenbosch is tans in die proses om naamsveranderinge aan geboue aan te bring. Dit is nie meer net politieke korrektheid nie. Dorpsname in Mpumalanga en Limpopo is op groot skaal verander, maar dit het niks aan dienslewering verander nie. Inteendeel, dit het nog meer agteruitgegaan. Dieselfde geld vir die universiteitsgeboue en lokale. Dit verbeter nie akademiese uitsette nie, maar plaas universiteite in die dampkring van transformasie – ten alle koste.

Dr. Danny Titus skryf op 27 Augustus in ʼn artikel in Netwerk24 met verwysing na wydverspreide korrupsie en maak dan die waarneming: “Dit is in hierdie dieptes waar Suid-Afrika se menseregte tans is. Korrupsie vind plaas in die aangesig van menseregte en ons veelgeroemde Grondwet.”

Dit is binne die konteks waarin die motief van die uitspraak oor die ou vlag bevraagteken moet word. Is dit nie maar net nog ʼn manier om wit mense by te kom en te etiketteer nie? Seer sekerlik het ons groter prioriteite wat vandag mense se lewens direk raak, as ʼn vlag wat slegs deur individue geswaai en in die openbaar vertoon is.

Daarom kan mens sinies vra: Waarom dan net dié vlag? Waarom word die geldeenheid wat uit apartheid oorgeneem is en wat in 1961 met desimalisering die rand en sent geword het, nie ook aan dieselfde maatstaf onderwerp nie? Die antwoord hierop is maklik, die ou landsvlag verryk niemand nie, dit lei nie tot korrupsie nie, dit help staatskaping niks nie. Die oog word gerieflikheidhalwe gesluit op die besondere erflating van apartheid en duidelik aan ander maatstawwe onderwerp. Daar word dus daar baie selektief met die verlede omgegaan.

Vergelding of versoening of algemene versaking van verantwoordelikhede? Die ANC-leierskap het etlike jare terug toegegee dat hulle die bal laat val het met die Mandela-projek van versoening. Daar het in die laaste paar jaar ʼn algemene versaking van verantwoordelikhede gevolg. Niemand wil verantwoordelikheid neem vir gebrekkige dienslewering, korrupsie en staatskaping nie. Vingers word telkens gewys na makliker teikens – wit monopoliekapitaal, wit bevoorregting, apartheid, wit mense, Afrikaners en kolonialisme. Hieroor word daar daagliks berig. Daarom het dit so maklik geword om die teikens wat reeds deur openbare mening skuldig bevind is, ook aan vergelding bloot te stel.

As Suid-Afrikaners nie met mekaar in gesprek gaan tree en dit deurlopend gaan doen nie, gaan ons groter rampspoed beleef. Hiermee kan en behoort ons as Afrikaners die leiding te neem. Dit baat niemand as Suid-Afrikaners verwyderd van mekaar leef, deur wantroue, agterdog en aangeblaasde haat nie. In die verlede kon Suid-Afrikaners telkens as daar konflik was, mekaar weer vind deur dialoog.

Die kloof in verhoudinge word egter daagliks al groter en die selektiewe omgaan met die verlede bring net meer en groter verdeeldheid.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jan Bosman

Jan Bosman is Hoofsekretaris van die Afrikanerbond.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Arak ·

Ek weet nie waaroor die skrywer geskok is oor die gebeure nie; dit was reeds deur vele voor ‘94 voorspel aan hom en sy mede “Super Afrikaners”. Ek dink niemand in die wêreld het al ooit die bal so laat val soos die broeders van die broederbond nie.

Judge Dredd ·

Daar word altyd gepraat van versoening.
Daar word nooit gese presies met WAT versoen moet word.

Die versoenings projek het gefaal.

Daar is ten minste 2 verskillende nasies/mense in Suid Afrika waar die verskille/kulture so anders is dat dit onmoontlik is om te versoen.

Expat ·

Hulle gaan jou geldjies met hulle skuld versoen. Eenvoudig!

Therese van Schalkwyk ·

“Vergelding of versoening” …
Lees weer Ace Magashule se Walter Sisulu-huldigingstoespraak op 18 Mei waarin hy o.a. sê: “We are surely coming for what is ours”, dan is daardie vraag beantwoord.

aj ·

Die ANC was nie eerlik met die vredeskikking van CODESA in 1994 nie.

Soos Dingaan vir Piet Retief in ‘n hinderlaag gelok het met sy belofte van grond en vrede … so het Mandela die Witmense in ‘n hinderlaag gelok met diebelofte van ‘n sg. ‘reenboognasie’ … beide die hinderlae is met uiteindelike ‘moord’ – as uitkomste, beplan.

Die ‘partytjie’ is nou op die stadium waar die ‘versteekte assegaaie’ uitgehaal word om die doodsteek toe te dien.

Vryburger ·

Die AB moet teruggaan na sy wortels en die Afrikaner help om weer ekonomies op sy voete te kom, al is dit nie in SA nie. Dis nie vergelding of versoening nie, net oorlewing.

koos ·

Die kloof waarvan Jan nou skryf gaan nog groter en dieper word. Die selektiewe omgaan met die verlede gaan ook erger raak. Niks wat geskryf en voorgehou word vind inslag nie. U was gewaarsku om nie met verraad voort te gaan nie, daardie waarskuwing bring nou verdeeldheid want almal sien die resultate raak en weet dat min of niks gedoen kan word om dit te verander nie. Bly egter op die knieg en vertrou op uitkoms.

lewies ·

Nahum ontvang sy profesie in ‘n tyd waar omstandighede die volgende kenmerke gehad het: “Mag, magsvertoon en magsmisbruik is geen vreemde verskynsels in ons wêreld nie. Magsmisbruik gaan meestal met geweld gepaard. Hoe meer geweld toegepas word, hoe meer ongevoelig en arrogant raak die mense wat dit afdwing. Hulle glo naderhand dat dit reg is om só op te tree en dat hulle aan niemand verantwoording verskuldig is nie. Daarenteen verloor die mense wat gewelddadig behandel word dikwels alle hoop en raak apaties, omdat hulle glo dat daar vir hulle geen uitkoms is nie. Die gevolg daarvan is ’n geweldskringloop waaraan niemand blykbaar iets kan doen nie of oënskynlik van kan ontsnap nie. In presies so ’n situasie ontvang Nahum sy profesie. Wil Vosloo, Fika J van Rensburg, et.al., Die Bybel in Praktyk, (Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy 1993.)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.