Verkiesing in Hongarye

Peter Marki-Zay (links) en Viktor Orban (Foto: PETER KOHALMI en John THYS/various sources/AFP)

Die parlementsverkiesing in Hongarye die afgelope Sondag was ʼn resies tussen twee leiers en twee partye, oftewel alliansies.

Viktor Orban van die Partei Fidesz (Bond van Hongaarse Demokrate), is ʼn veteraanpolitikus en sedert 2010 die eerste minister van Hongarye. Hy is bekend vir sy onbeskaamde konserwatiewe standpunte en skroom ook nie om feitlik alleen teen die magtige EU-leiers, wat die linkse, globalistiese agenda bevorder, te staan nie. Dit maak dat Hongarye, ʼn klein land met slegs 10 miljoen inwoners, een van die min bakens van hoop vir konserwatiewes wêreldwyd is, wat een na die ander die ideologiese stryd verloor.

Peter Marki-Zay is as kandidaat van ʼn breë opposisie-alliansie, Verenig vir Hongarye, bestaande uit ses party van verlinks tot verregs, die teenstander van Orban. Hy het eers verlede jaar die nasionale politiek betree en is onverwags tot leier van die opposisie en eersteministerskandidaat verkies. Sy saamgeflansde alliansie het eintlik geen gemeenskaplikhede nie, behalwe die afkeur vir Orban. Al is Marki-Zay konserwatief, wat in lyn met die meerderheid Hongare se siening is, is die meerderheid partye van die alliansie linksgesind.

Tot dusver was die opposisie sterk verdeel, wat daartoe bygedra het dat Fidesz met die vorige verkiesings ʼn tweederde-meerderheid op hom kon verenig. Nou was die verwagting gewees dat die opposisie ʼn goeie kans staan om Fidesz te verslaan. In die aanloop tot die verkiesing was daar enorme steun vir die opposisie vanaf leiers van die Europese Unie, asook van verskeie nie-regeringsorganisasies. Vir die globaliste is Orban, met sy onbeskaamde konserwatisme en patriotisme, ʼn doring in die vlees en hulle sou graag iemand soos Marki-Zay wou hê wat makliker beïnvloed kan word om hulle agenda uit te voer.

Die opposisie het gereken dat die kiesers moeg raak vir Orban en beweer dat hy outokraties en korrup regeer. In die aanloop was die verwagting dat dit ʼn kop-aan-kop-stryd gaan wees. Intussen het die uitslag egter weer ʼn groot oorwinning vir Orban besorg: 53% het vir Fidesz en sy alliansievennoot KDNP gestem, slegs 35% vir die verenigde opposisie en 6% vir die nuwe, verregse party – Ons Heimat. Omdat die kiesstelsel die oortollige stemme van die wenner in ʼn kiesafdeling aan sy party toedeel, was Fidesz se oorwinning nog groter en het die party net-net ʼn tweederde-meerderheid, met 135 uit 199 setels, behaal. Die opposisieblok het 56 setels gekry en Ons Heimat 7 setels. Daar is ook vir die eerste keer ʼn verteenwoordiger van die Duitssprekende minderheid tot die parlement verkies.

 

Saammet die verkiesing, het ook ʼn referendum oor etiese kwessies plaasgevind. Orban is wyd deur die EU-leiers en internasionale media gekritiseer omdat hy bepaal het dat minderjariges nie aan werwing vir homoseksualiteit en geslagsverandering blootgestel moet word nie. Om te bewys dat sy land se mense sy siening steun, is ʼn referendum met vier vrae rondom die onderwerp geroep. 95% van die geldige stemme was teen die gender-agenda, maar omdat die deelname minder as 50% was, is dit ongeldig verklaar.

 

Die oorlog in die Oekraïne het natuurlik ook ʼn rol gespeel in die verkiesing, maar anders as verwag: die opposisie het gehoop dat Orban se gewaande verbondenheid met Rusland se president, Wladimir Poetin, teen hom sal tel. Orban het egter onomwonde die aanval op Oekraïne veroordeel en die land neem ook groot getalle vlugtelinge vanuit die buurland in. Orban se slagspreuk “vrede en stabiliteit” het tot die kiesers gespreek: in tye van oorlog en onsekerheid soek hulle ʼn betroubare leier wat hom reeds as vasberade bewys het en wat sy klein land uit die oorlog wil uithou. Verder het die eerste minister se gesinsvriendelike beleid en sy sukses met ekonomiese ontwikkeling baie bygedra tot sy gewildheid en oorwinning.

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

MT ·

Ek is verheug dat MM hierdie goeie nuus dra.

Dit is opmerklik dat die voltydse komediant van Oekraiene geen ooghare vir Viktor Orban het nie, terwyl hierdie behoudende leier die korrekte benadering tot Poetin volg: hoe alle gesprekskanale met hom oop!

Mag Hongarye van krag tot krag gaan!

Treurwilger ·

Veels geluk, Viktor Orban en Hongarye!
Wat ‘n helder standvastige ster in ‘n dowwe dekadente westerse wêreld wat letterlik nie meer weet of hulle “Arthur or Martha” is nie.
Verwag die gebruiklike klagtes dat die verkiesing gekook is, linkses erken slegs demokrasie as húlle kant wen.

Andre ·

“Verwag die gebruiklike klagtes dat die verkiesing gekook is, linkses erken slegs demokrasie as húlle kant wen.” Hoekom verbeel ek my dat dit in die VSA andersom gewerk het met die 2020 verkiesing ?

Anna-marie ·

Die Boelies van Brussels ( Europese Unie) gaan nou begin om befondsing te sny aan Hongarye oor beweerde korrupsie.

Marthinus W ·

In my familie is daar lede wat in Mike Hoare se 5 Kommando in die Kongo geveg het. n Hongaar wat daar geveg het is SA toe, en my ouers het baie by hulle gaan kuier in Turffontein. Hy het altyd stories oor die 2deWO vertel, hoe skaars vleis was, en hoe jy nooit n dooie perd gesien het nie (dis vinnig verwyder vir kos); sy vrou het lekker Hongaarse geregte gemaak, en hulle musiek is ook wonderlik.

In Engeland en sekere Europese lande is die mense besig om kulturele selfmoord te pleeg: hulle verwyder Jane Austen uit biblioteke, verwyder Shakespeare en ander verteenwoordigers van die Westerse, Christelike kultuur. As hulle so aangaan, gaan net Hongarye (en Rusland) oorbly as hul oorspronklike self.

Anna-marie ·

Dit is wat die globaliste wil hê. ‘n nuwe Een Wereld Orde waar niemand meer sy eie tradisie of kultuur mag hê nie. Dit is hoekom Amerika so druk vir “regime change” oral in die wêreld. Rusland het nou aan die beurt gekom. Wie sit agter hierdie NWO beweging/buldozer? Die grootkoppe weet ek is: S0R0S, Klaus Schwab, Dems van VSA (Clinton groep), Davos groep, EU. Volgens Klaus Schwab gaan niemand iets besit nie en tog gelukkig wees.

Andre ·

Nou ja, laat ek probeer om kritiek te lewer wat nie weer deur die sensors onderskep word nie.
Miskien moet Sebastiaan en van die lesers wat so opgewonde raak oor sy skrywe bietjie wyer lees oor wat in Hongarye gebeur het. Daar is baie kommentaar van baie gerespekteerde media reg oor die wêreld wat heeltemal ‘n ander prentjie skets as wat Sebastiaan hier aanbied.
Die punt is dat daar definitief drasties ander weergawes is van wat daar gebeur het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.