Verkiesing in Kanada: meer van dieselfde

Justin Trudeau. Foto: (Sean Kilpatrick/The Canadian Press via AP)

Eerste minister Justin Trudeau van die Liberale Party het die onlangse algemene verkiesing in Kanada net-net gewen.

Dit was eintlik ʼn Pyrrhus-oorwinning, wat beteken dat dit tegnies wel ʼn oorwinning was, maar dat die verliese gely en moeite wat gedoen is dit nie noodwendig geregverdig het nie.

Trudeau regeer sedert 2019 met ʼn minderheidsregering nadat hy in 2015 met groot fanfare aan bewind gekom het. Hy het gehoop om die onbevredigende toestand van ʼn minderheidsregering deur ʼn vervroegde verkiesing te beëindig en weer met ʼn volstrekte meerderheid te regeer. Trudeau het gereken dat sy streng Covid-19-beleid tot groeiende gewildheid sou bydra en wou ʼn mandaat hê om daarmee voort te gaan. Dit was egter ʼn dobbelspel en hy kon net sowel die verkiesing verloor het. Eintlik is dit nou weer alles soos wat dit was, behalwe dat daar honderde miljoene dollars op ʼn verkiesingsveldtog gespandeer is.

Die hoofopposisieparty, die Konserwatiewes, het die meerderheid stemme agter hulle verenig, maar weens die Britse tipe kiesafdelingstelsel kon Trudeau se Liberale Party die meeste setels wen. Die Liberale Party het 32% van die stemme gekry met 158 setels, feitlik dieselfde as met die verkiesing in 2019. Die Konserwatiewes met hulle leier Erin O’Toole het 34% en 119 setels gekry, ook feitlik onveranderd.

Die streeksparty van die Franssprekende Kanadese, die Bloc Quebecois, het effens gewen en 8% en 34 setels gekry. Hulle konsentrasie in die provinsie Quebec help hulle om meer setels te wen as hulle, volgens hulle, landswye steun sou toekom. Die linkse Nuwe Demokratiese Party (NDP) met hulle leier Jagmeet Singh het 18% en 25 setels gekry, slegs een meer as tydens die vorige verkiesing. Die Groenparty het teleurstellend gevaar met 2% en twee setels (-1), maar hulle hooftema, klimaatsverandering, is reeds deur die ander partye ad nauseam gebruik. Ook ʼn regse afsplitsing van die Konserwatiewes, die Volksparty, het met 5% en geen setel nié hulle doelwit bereik nie.

Trudeau sal nou voortgaan met ʼn minderheidsregering, informeel gesteun deur die NDP. Sy glans as “nuwe ster op die progressiewe hemel” het lankal verdof weens allerhande kleiner skandale van sy regering en verleenthede van homself. Nogtans was dit nie genoeg om die opposisie te bevoordeel nie.

Die vraagstukke was, soos deesdae oral in die Westerse wêreld, klimaatsverandering en Covid-19, maar daar kan gevra word of dit regtig die sorge van die mense is, en of dit vraagstukke is wat uit proporsie opgeblaas word. O’Toole, die Konserwatiewes se nuwe leier, kon daarin slaag om landswyd bekend te raak. Hy het sy party meer na die middel geskuif en was oor die algemeen suksesvol omdat hy uit die underdog-posisie (die Konserwatiewes was vir lank agter in die peilings) later kop-aan-kop met die premier geloop het. Sy momentum was egter nie genoeg om te wen nie, en die Konserwatiewes het die nadeel dat hulle kiesers meer in die westelike, yler bevolkte dele gekonsentreerd is. Die meeste kiesers sit in die groot voorstede van veral die grootste stad Toronto, waar die verkiesing beslis word. Meer nog as in die geval van die VSA hang die hele land se uitslag van enkele kiesafdelings af wat dikwels tussen die twee grootste partye wissel.

Weens die Westminster-kiesstelsel, wat groot partye bevoordeel, is Kanada soos ʼn spieëlbeeld van Brittanje met effektiewelik ʼn tweepartystelsel en is koalisieregerings iets ongehoords. Die politieke polarisasie is minder as in die magtige buurland, die VSA, en Kanada is baie yler bevolk, met slegs 35 miljoen mense op bykans 1 miljoen vierkante kilometer. Boonop is die bevolking baie sterk in die suid-ooste gekonsentreerd. Alhoewel Kanada nog steeds ʼn oorweldigende wit meerderheid het, groei die aandeel van mense uit nie-Westerse lande vinnig. Trudeau het ook ʼn pro-vlugtelingsbeleid, alhoewel Kanada se relatiewe isolasie verhoed dat massas vlugtelinge kan instroom, soos in die geval van Europa.

Trudeau is ook andersins die tipiese links-liberale leier, wat daartoe lei dat hy die media se gunsteling is. Sy suksesse is egter power en vir die dringende vraagstuk – die ekonomiese herstel na die Covid-19-pandemie – het hy ook geen ander antwoorde nie, behalwe om skuld te maak en geld te versprei.

 

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
VaalDonkie

Fidel Castro sou seker baie trots wees op sy seun. Kyk maar na foto’s van Castro. Hy lyk nes Justin Trudeau. En Trudeau se ma was liefie-liefie met Castro.

annie

… en vergeet nie van pappie nie, hy was die net so ‘n riskante voordanser voor boetie se aankoms op die verhoog… klaar gewoond aan die show. Inderwaarheid volg Biden die voorbeeld van Kanada vir die immer gewilde styl uit die Middeleeue van die landheer wat te perd deur die dorpie ry en goue gulde strooi vir die arm burgers om dit dankbaar op te raap… tot volgende keer. Maar die immigrante word meer en meer. Een van diesulkes sê reeds sulke wit leiers probeer bruin-wittes wees om te beheer.