Spanje het die naweek weer verkiesing gehou, die tweede keer vanjaar (die laaste een was in April).
Dit het gebeur omdat die land deur ’n minderheidsregering van die Sosialiste regeer word, wat dit sedert die laaste verkiesing nie kon regkry om ’n koalisieregering te vorm nie. Die uitslag van die huidige verkiesing verander egter niks aan dié onbesliste toedrag van sake nie: na alle aanduidings sal nóg die linkerkant nóg die regterkant ’n meerderheid hê nie, omdat daar talle streekpartye is wat nie deel van een van die twee blokke vorm nie.
Die linkse blok as geheel het steun verloor, maar die Sosialiste bly die grootste party in geheel, met 120 setels, drie minder as die vorige keer. Die verlinkse Unidas Podemos (Saam kan ons, UP), koalisievennoot van die Sosialiste, het heelwat steun verloor en van 42 na 35 setels terug gesak. Die Groenes het die eerste keer in Spanje parlement toe gegaan, maar net met drie setels, sodat die linkse blok met 158 setels geen volstrekte meerderheid (176 setels) bereik het nie.
Die regse blok het steun gewen. Die konserwatiewe Volksparty (Partido Popular, PP), wat weens ’n korrupsieskandaal die vorige keer hard gestraf is, het weer redelik herstel na 88 setels toe (+12), maar nie genoeg om aanspraak op die regering te maak nie. Die groot oorwinnaar is die regs-nasionalistiese Vox (die stem), ’n taamlik nuwe verskynsel, wat reeds met die vorige verkiesing ’n opskudding veroorsaak het as eerste verregse party in Spanje se parlement sedert die einde van die Franco-bewind.
Vox het sy steun meer as verdubbel na 52 setels toe. Die groei van PP en Vox word egter effens ongedaan gemaak deur die geweldige verlies van die regs-liberale Ciudanos (die Burgers), die derde vennoot van die regsblok. Hulle het van 57 na 10 setels geval. Waarskynlik het baie van hul ondersteuners na die ander twee partye toe beweeg. Die regse blok as geheel het 150 setels en is nog verder as die linkse blok van ’n volstrekte meerderheid af.
Anders as in meeste Europese lande speel streekpartye in Spanje ’n belangrike rol en is dikwels diegene wat die weegskaal laat swaai, gewoonlik na links. Alhoewel elkeen van hulle klein is, verteenwoordig hulle saam ’n aansienlike getal setels.
Die bekendste is die Katalaanse Nasionaliste, wat 23 setels gekry het, maar tussen drie partye verdeel is (gematigd, links en verlinks), en die Baske, maar ook ander streke wat nie wil afskei nie. Die probleem is dat sedert die spanning oor die afskeiding van Katalonië, die onderdrukking daarvan en gewelddadige verset daarteen, geen van die nasionale partye dit kan waag om met die Katalaanse partye saam te werk nie, want dit word as verraad gesien. Die groot steun vir Vox hang juis daarmee saam dat hulle die mees uitgesproke teen afskeiding is. Ook die Sosialiste het enige samewerking met die Katalaanse separatiste uitgesluit.
Spanje maak met effense vertraging dit deur wat intussen feitlik elke Europese land polities deurmaak: ’n beweging van twee groot partye sentrum-links en sentrum-regs na ’n versplintering met verlinkses, verregses, groenes en spesifieke belangepartye, wat regeringsvorming toenemend bemoeilik. Veral Vox se groei is merkwaardig. Spanje was een van die laaste lande waar ’n regs-nasionalistiese party die parlement betree het, eers ’n halwe jaar gelede, en Vox is nou skielik die derde grootste party. Behalwe vir hulle uitgesproke intree vir Spanje se eenheid en teen afskeiding, is ook hulle sterk standpunt teen immigrasie ’n rede vir hulle sterk groei.
Interessant dat Spanje toe ook maar ‘n imperialistiese land is waar die meerderheid se onderdrukking van die minderheid die norm is. Verbasend dat geen volk in die wêreld die selfbeskikking van minderhede wil aanvaar nie. Wat maar net weer vir ons sê dat as Europa dit nie wil toelaat nie, wat is ons kans hier in SA.
gaan kyk net hoe lyk Europa: GEEN beurtkrag, GEEN vuil swak staatshospitale, GEEN patetiese dienslewering, GEEN kaderontplooiing, en en en
So waarom wil die mense afskei? Die Baske en die Katalane moet net 1 dag kom kyk wat in SA aangaan. by hulle terugkeer in Spanje sal al hulle drome van afskeiding dan finaal weg wees.