Verkiesing van uiterstes, wantroue en oordrewe beloftes

Die Parlement in Londen. (Foto: Matt Dunham, AP)

Op 12 Desember sal Britse kiesers in 650 kiesafdelings in Engeland, Wallis, Skotland en Noord-Ierland na die stembus gaan om te bepaal watter party vir die volgende paar jaar die Verenigde Koninkryk sal regeer.

Die veldtog in aanloop tot die verkiesing word gekenmerk deur politieke uiterstes, wantroue in kandidate, oordrewe en onuitvoerbare beloftes deur partye en die omstrede uitsprake van kandidate wat vir die meeste partye die een verleentheid ná die ander skep.

Die groot vraag wat egter op 12 Desember die uitslag van die verkiesing gaan bepaal, is watter leier en watter party vertrou kan word om die Brexit-vraagstuk vinnig en effektief op te los en om Brittanje dan in ’n nuwe, onsekere fase goed te regeer sodat kwessies soos gebrekkige gesondheidsorg, swak ekonomiese groei, maatskaplike dienste en ander sake wat mense se lewens daagliks raak, hanteer kan word.

Verlede week het die meeste politieke partye hul verkiesingsmanifeste bekendgestel en dit spreek van uiterstes. Die Konserwatiewe Party se fokus is duidelik: Handel Brexit vinnig af en ontsluit dan Brittanje se potensiaal met lae belasting en sterk nuwe handelsooreenkomste. Die grootste opposisieparty, die Arbeidersparty se verkiesingslagspreuk is by die Obama-veldtog van 2008 geleen, naamlik: Dit is tyd vir ware verandering. Die Arbeidersparty belowe om ’n nuwe Brexit-ooreenkoms met die Europese Unie te onderhandel en dan ’n referendum net oor die ooreenkoms te hou. Meer opspraakwekkend egter is die radikale ekonomiese beleid wat die Arbeidersparty voorstel. Die party wil ’n vierdagwerkweek instel, infrastruktuur soos die land se kommunikasienetwerk nasionaliseer en belasting verhoog.

Die Liberaal-Demokrate het ook verlede week hul manifes bekendgestel en hul boodskap is hard en duidelik: Stop Brexit. Die party probeer hard om al die kiesers wat teen Brexit gekant is, agter hulle te verenig. Die Skotse Nasionale Party, wat ook sterk teen Brexit gekant is, beloof weer aan Skotse kiesers ’n tweede onafhanklikheidsreferendum. Die Brexit-party se belofte is eenvoudig en dit is dat hulle ’n skoon breuk met die Europese Unie wil maak.

Brittanje se eerste minister, Boris Johnson. (Foto: Tolga Akmen, AP)

Die nuutste peilings wys dat die Konserwatiewe Party gemaklik voorloop met ’n gemiddeld van ongeveer 10% voor die Arbeiders. Terwyl kiesers nie mal is oor die grootste partye se leiers nie, is Boris Johnson in ’n heelwat beter posisie as Jeremy Corbin. Die linkse Corbin geniet die steun van net 23% van Britte, terwyl 62% niks van hom hou nie.

In ’n kiesafdelingstelsel is dit egter altyd moeilik om die verkiesingsuitslag te voorspel. Onlangs in Kanada het die Konserwatiewe Party meer stemme as die Liberale Party gewen, maar die Liberales het meer setels gewen en kon die nuwe regering vorm.

In ’n tyd van groot onsekerheid gaan Britte waarskynlik op 12 Desember hulself vra wie die minste risiko vir die land se stabiliteit inhou. Tans lyk dit asof Johnson en die Konserwatiewes ’n goeie kans het om ’n meerderheid in die parlement te kry of om minstens die meeste setels te wen.

Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.