Verkiesing vir die Europese Parlement: tendense wat die kaarte deurmekaar krap

’n EU-vlag voor die Europese parlementsgebou in Straatsburg, Frankryk. (Foto: Jean-Francois Badias, AP)

Soos wat reeds verwag is, het die verkiesing tot die Europese parlement die bestaande politieke orde verder deurmekaargekrap. Elke lidland stuur verteenwoordigers proporsioneel volgens sy bevolkingsgrootte na die Europese parlement wat uit 751 verteenwoordigers bestaan. Aangesien daar in 27 state – wat wesenlik van mekaar verskil – gekies word, is daar talle uiteenlopende uitslae. In party state was dit die gewone, in ander was daar aardskuddende verskuiwings.

Daar was wel ’n paar duidelike tendense:

  • Die sentrum-regse en sentrum-linkse hoofstroompartye, wat saamgegroepeer is in die alliansies Europese Volksparty (EVP) en die Progressiewe Alliansie van Sosialiste en Sosiaal-Demokrate, onderskeidelik, het bykans orals verloor. Die EVP bly egter nog steeds die grootste alliansie met 179 setels (-41) en die Progressiewe Alliansie die tweede grootste met 150 setels (-40). Die twee alliansies span gewoonlik saam om hul kandidate vir die belangrikste poste verkies te kry, maar het self saam nie meer ’n volstrekte meerderheid nie. Die tendens was egter nie orals dieselfde nie. Terwyl die Progressiewe Alliansie in meeste lande verloor het, het hulle in sekere lande soos Nederland en Spanje gewen. Die EVP bestaan ook uit eenlopende partye wat mekaar dikwels nie vind nie. Byvoorbeeld: Die Oostenrykse Nuwe Volksparty en die Hongaarse Fidesz, wat al twee sterk staan teen onwettige immigrasie en Islamisering is ook deel van die EVP en het ook in hul onderskeie lande besonder goed gevaar, terwyl die Duitse Christen-Demokrate of die Franse Republikeine steun verloor het.
  • Die Liberale Alliansie het 107 setels gekry (+40). Hul verhoogde steun was veral te danke aan die nuwe aansluiting van Frankryk se regeringsparty, La République En Marche, van Emanuel Macron, wat met die laaste verkiesing nog nie bestaan het nie. Ook hierdie alliansie is uiteenlopend, byvoorbeeld is die regs-liberale ANO van die Tsjeggiese Republiek, wat dikwels by die regse populistiese partye gereken word, net so deel as die links-liberale en globalistiese Liberale Demokrate van Brittanje.
  • Die Groenes was die wenner aan die linkerkant en het nou 70 setels (+20). Veral die Duitse Groenes het geweldig goed gevaar en hul steun verdubbel. Dit hang baie saam met die groot mediaprominensie vir klimaatverandering en ondersteunende beriggewing oor die proteste van skoliere. Ook was daar voor die tyd gedurig gewaarsku teen die “regse gevaar” en die Groenes, wat liefs Europa een staat wil maak en die hele wêreld wil nooi om soontoe te trek, is as die beste verweer teen nasionaliste gesien.
  • Die verlinkse blok het taamlik verloor en kry net 38 setels (-14). In meeste Europese lande is dit hul klein kommunistiese partye, net die Griekse Syriza is tans die regerende party.
  • Aan die regterkant is daar tans 3 alliansies: Konserwatiewes en Hervormers met 58 setels, Vryheid en direkte Demokrasie met 56 setels en die nuutgestigte Europa van Vryheid en Nasies met 58 setels. Veral laasgenoemde het sterk na vore gekom te danke aan die groot sukses van die Franse Rassemblement National van Marine le Pen, die Italiaanse Lega van Matteo Salvini en die nuutgestigte Britse Brexitparty van Nigel Farage. Ook hier was die beeld egter nie eweredig nie: die AfD in Duitsland het net matig gegroei en die Nederlandse Party van de Vrijheid het selfs duidelike verliese getoon. Aan die regterkant sal nog heelwat herskommelinge plaasvind en dalk een of twee alliansies gevorm word. Wanneer Brittanje egter die EU verlaat, gaan die Alliansie van Vryheid en Nasies ’n wesenlike deel deur die Brexit-party verloor. ʼn Interessante vraag is egter of die Hongaarse Fidesz, wat ontuis in die EVP-alliansie is, ook by een van die regse alliansies sal aansluit. ’n Hele paar nuwe partye het tans nog nie hul keuse vir ’n alliansie gemaak nie.

Reeds met talle nasionale verkiesings was dit duidelik dat die sentrum-regse en sentrum-linkse partye dikwels steun verloor. Al hoe meer kiesers voel dat die hoofstroompartye hulle nie meer verteenwoordig nie, dat die Europese Unie se besluitnemingsprosesse baie stadig en oneffektief is, en dat die parlement hulle met nietighede besig hou en nie genoeg aandag skenk aan die kernvraagstukke, soos klimaatverandering (aan die kant van die Groenes) en migrasie (aan die kant van die regse partye).

Daar bestaan ook ongemak met die idee van ’n al hoe groter, al hoe nouer Europese Unie wat al hoe meer in state se sake inmeng. Nogtans het die partye wat almal “meer Europa” op hul vaandels geskryf het, nog steeds ’n meerderheid en sal die stryd oor die tempo en rigting van die EU verwoed voortgesit word. Indien daar geen kompromisse gevind kan word nie, sal die Brexit ʼn voorbeeld ook vir ander lande kan word.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Maartin ·

Dankie, nou verstaan ek ook wat daar aangaan. Die regses moet ook die groen agenda aanneem, daar is tog geen rede waarim dit ‘n linkse saak is nie. Bewaring van kultuur is tog ook bewaring.

Therese van Schalkwyk ·

‘n Deurmekaarspul skitterend uiteengesit.
Dit verbaas geensins dat vele Europeërs ‘claustrophobia’ kry in die lomp, logge EU.
751 siele moet 27 LANDE se allerbelangrikste sake bestuur.
Angssweet by die blote gedagte!

Groenes wêreldwyd het myns insiens die kluts totaal kwyt geraak.
Soos Maartin (hierbo) tereg impliseer, het groen partye die morele/bewaring hoë grond verkeerdelik vir hulself toegeëien, terwyl ander partye net so begaan is oor die omgewing en klimaat, maar nie ten álle koste, onmiddellik nie. Mense, selfs groenes, moet immers leef, werk en kos hê!
Eers wanneer ‘groen’ individue persóónlike opofferings maak en minder luuks leef, sal hul ernstig opgeneem kan word. Tot dusver word vingers slegs na regerings gewys, terwyl opgesweepte omgewingsaktiviste in mammie se oorgroot 4×4 aangery word skool toe.

Sebastiaan ·

Jy som dit eintlik treffend op. Iewers het ek gelees die mense wat groen stem is soos diegene in die tyd van Martin Luther wat aflaatbriewe gekoop het: deur groen te stem is jou gewete gesus en jy kan voortgaan met jou rykmansleefstyl. Inderdaad het Groenes dikwels geen benul van wetenskap of van die dwangbuis van die ekonomie. Meeste Groenkiesers is of jeugdiges wat nog studeer, of mense wat vir die staat werk, dus weet hulle nie waar geld vandaan kom en is voor in die koor om te skreeu vir meer regulering en meer belasting en “die staat moet dit en dat doen”. Jammer die ander partye volg hulle nou na.
Die regses moet inderdaad ook aandag aan omgewingskwessies gee, en die behoud van die omgewing behoort net so deel van hulle agenda te wees soos die behoud van kultuur en beskawing. Maar anders as die groenes behoort konserwatiewes die klem op eie verantwoordelikheid en lokalisme te le: eerder duisende plaaslike inisiatiewe as een groot EU-of VN-regulasie. Dan behoort hulle ook daarop te wys dat daar behalwe vir klimaatverandering eintlik belangriker en meer voor die hand liggende omgewingsvraagstukke is: beskerming van die wildlewe, van die reenwoud, herwining van vullis, bewaring van die oseane, ens. Die Groenes wil gewoonlik eerste die hele wereld red en dan by hulleself begin. Dit is gemaklik, want dan kan jy betoog en van ander iets eis.

Therese ·

Ons is beslis “kindred spirits” wat hierdie onderwerp betref, à la “Anne of Green Gables”. Heel toevallig, ‘Green’ Gables! Die boek van L.M. Montgomery bly ‘n groot gunsteling.

Die mensdom sal in een of ander stadium die boodskap móét kry dat geld, m.a.w. die betaal van koolstofbelasting, nie die aarde gaan red nie. Dis nie só maklik nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.