Verkiesingsbedrog: Tog seker nie in Amerika nie?

Deur dr. Eugene Brink

Dr. Eugene Brink.

Terwyl ek hier skryf, duur die drama en nadraai van die Amerikaanse verkiesing op 3 November nog voort. President Donald Trump en talle Republikeine is vasbeslote om voort te veg en die toenemende bewerings van verkiesingsbedrog op plekke soos Michigan en Pennsilvanië te onthul, terwyl die hoofstroommedia Joe Biden as Amerika se 46ste president omhels.

Dit is interessant om party van die reaksies op bewerings van verkiesingsbedrog te sien. Mense met of sonder veel kennis van die Amerikaanse politiek oor die algemeen of selfs oor die onlangse verkiesing, het gou ingespring om Trump as ’n swak verloorder uit te maak, maar laat na om te besin oor hoe die Amerikaanse kiesstelsel ooit skeefgetrek kan word of kan misluk. Onder hulle tel van dieselfde mense wat neerhalend was oor Russiese inmenging in die 2016-verkiesing – ’n teorie wat geheel en al verwerp is.

‘’n Baie ou tradisie’

(Foto: AP Photo/Andrew Harnik)

Die werklikheid is dat die Amerikaanse kiesstelsel, soos enige ander stelsel, nie peutervry is nie, en selfs sommige mense aan die Demokratiese kant, gee dit toe. Die deelstate het elk sy eie telproses, en dit bied oorgenoeg ruimte vir gevestigde belange om die botoon te voer. Die gewese goewerneur van Illinois, Rod Blagojevich, ’n onberispelike lid van die Demokratiese binnekring voordat hy in onguns geraak het, het aan Newsmax gesê verkiesingsbedrog in Demokraties beheerde stede is ‘n “baie ou tradisie”. Hy sê: “As gewese lid van Chicago se Demokratiese politieke establishment weet ek hoe hulle te werk gaan.”

Sy uitlatings stem ooreen met wat op sekere plekke gebeur het en toon dat dit nie net tot hierdie verkiesing beperk is nie. Volgens hom hou Demokraties beheerde stemkantore op om stemme te tel wanneer hul kandidaat agter raak, en in die middel van die nag “begin die stelery”. Trump was gerieflik voor in Georgia, Michigan en Pennsilvanië toe die stemtellery tot stilstand gekom en gesloer het.

“Ons het dit in hierdie verkiesing in groot getalle gesien, in ongekende getalle. Hulle wou Donald Trump net tot elke prys uitskakel,” sê hy.

Die Amerikaanse president Donald Trump. (Foto: AP Photo/Alex Brandon)

Ondanks ’n hofbevel (hoekom was dit in die eerste plek nodig?) is Republikeinse waarnemers op plekke soos Pennsilvanië nie naby die telproses toegelaat nie. Geloofwaardige data toon dat dooie mense se stemme in daardie deelstaat getel is. In Nevada het ’n alarmmaker in ’n beëdigde verklaring gesweer dat hy onwettige prosessering van stembriewe gesien het en aangesê is om posstemme te tel wat nie die vereiste handtekeninge gehad het om aanvaar te word nie. Caroline Wilson, distriksklerk vir die distrik Shiawassee in Sentraal-Michigan, is betrap toe sy “per abuis” ’n nul by Biden se totaal gevoeg het om 15 371 stemme na 153 710 te verander. ’n Reggestelde “rekenaarglips” in Michigan het later ’n hele distrik van Biden na Trump laat skuif.

Bewerings van verkiesingskullery en bedrog is dwarsdeur die Amerikaanse geskiedenis deur verskillende groepe en individue gemaak. Professor Adam IP Smith van die Universiteit van Oxford sê Afro-Amerikaners het in die 1950’s en 1960’s beswaar gemaak dat die politieke stelsel en verkiesings teen hulle beknoei is – ’n heel geloofwaardige bewering destyds. Hy meld ook die feit dat die verloorparty in 1860 so sterk gekant was teen aanvaarding van die verkiesingsuitslag dat hulle verkies het om af te stig en die Konfederasie te vorm – ’n baie sterker vorm van teenkanting as om ondersoeke te laat instel en die hooggeregshof te betrek.

Die politieke wetenskaplike Lorraine Minnite laat haar ook uit oor die voortdurende kwessie van verkiesingsbedrog: “Debatte oor verkiesingsbedrog is niks nuuts nie. Dit is al langer as ’n eeu ’n algemene onderwerp van gesprekvoering oor verkiesings en demokrasie in die Verenigde State. Die afgelope aantal jare het kwessies van bedrog en verkiesingsintegriteit egter toenemend na vore gekom in openbare beleidsgesprekke oor die gesondheid van Amerika se demokrasie.” Sy meld nadruklik die beduidende teenkanting teen posstemme en die verslapping van riglyne vir afwesige kiesers – twee kwessies wat by die uitslag van hierdie verkiesing van groot belang is.

Foto:. (AP Photo/Brynn Anderson)

Een van haar verskeie gevallestudies het my aandag getrek. Die burgemeestersvoorverkiesing in Miami in 1997 was baie taai en is terselfdertyd ontsier deur omvangryke bedrog en het tot ’n hofsaak gelei. Die rondgaande hof vir die 11de geregtelike rondgang van Florida het in sy beslissing gewag gemaak van ’n “patroon van bedrieglike, opsetlike en misdadige optrede” deur die grootskaalse misbruik van wetgewing oor afwesige kiesers. ’n Deskundige dokumentondersoeker het getuig dat 225 stembriewe vir afwesige kiesers vervalste handtekeninge gehad het en dat daar in 140 gevalle nie aan die getuievereistes voldoen is nie. Verder is stembriewe vir afwesige kiesers uit posbusse gesteel. Bewerings van verkiesingsbedrog in 2000 in St. Louis, Missouri, het uiteindelik tot ’n FBI-ondersoek gelei.

Stembedrog en verkiesingsknoeiery is nie tot Demokrate beperk nie. Deur verskeie skemas en slim planne doen die Republikeine sekerlik dieselfde – of hulle het dit in die verlede gedoen. Dit is ewenwel ’n feit dat dit in verskeie stadiums in die geskiedenis van die VSA voorgekom het en in ’n sekere mate eweseer in 2020 kon gebeur het.

Kiesstelsel in die beskuldigdebank

Wanneer ’n party of kandidaat ’n oorweldigende oorwinning behaal, is sulke onreëlmatighede nie so opmerklik soos in ’n verkiesing soos wat ons pas gesien het nie. Niemand betwis die uitslag in donkerblou Massachusetts en Kalifornië of in helderrooi Alabama en Nebraska nie. Ook nie in ’n perserige Texas of Florida nie. Daar moet egter moeilike vrae gestel word oor slagveldstate soos Pennsilvanië, Michigan, Georgia en selfs Wisconsin.

Joe Biden. (Foto: AP Photo/Carolyn Kaster)

As Twitter berigte kon verbied wat ’n donker wolk oor Joe en Hunter Biden se eerlikheid laat hang, en as die hoofstroommedia hulle grofgeskut teen Trump aanwend terwyl hulle Biden sagkens hanteer, dan moet die kollig sekerlik op die kiesstelsel self gerig word. Al Gore is ’n regstwis van 37 dae gegun ná die verkiesing van 2000, en Trump en die Republikeine is volkome daarop geregtig om ’n regsgeding aanhangig te maak en die stryd voort te sit op grond van ’n aantal geloofwaardige bewerings. Al sou hulle nie sukses behaal nie, kan hulle nogtans tevrede wees met wat hulle in hierdie verkiesing vermag het. Bowendien, as enige onreëlmatighede blootgelê word, kan dit tot toekomstige verkiesingshervorming bydra indien dit nie oplaas die uitslag van hierdie verkiesing verander nie.

Ek sê nie daar is beslis wydverspreide verkiesingsbedrog nie, maar sommige van die voorlopige bewerings en inligting regverdig beslis verdere ondersoek omdat dit ernstige twyfel laat ontstaan oor die aard van die verkiesingsproses en dalk selfs die uitslag. Dit ondermyn vertroue in instellings. As Trump in hierdie omstandighede bloot die aftog sou blaas voordat sommige van hierdie beweerde onreëlmatighede deeglik ondersoek is, sal dit ’n ondiens wees aan 70,6 miljoen kiesers wat hul stemme op hom en sy party uitgebring het.

Saam met ander belangrike wetgewende en beleidskwessies moet die sekerheid en hervorming van die verkiesingstelsel in die toekoms deegliker onder die loep kom.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is ʼn entrepreneur, sake-konsultant en onafhanklike politieke kommentator.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Human ·

As Trump gewen het sou jy dan vrae en veronderstellings gehad oor verkiesingsbedrog of werk dit net een kant toe, omdat die naratief jou denkwyse pas. In die GOP state wat Biden gewen het is GOP Goeweneurs en amptenare in beheer.

Vrijburger ·

Ek stem saam met jou evaluering dat GOP goewerneurs en amptenare eties en eerlik opgetree het in GOP state waar Biden gewen het. Maar ook wat jy by implikasie van Blou goewerneuers en amptenare in beheer se.

Human ·

Daar is geen implikasie nie, maar nou ja desperate mense maak desperate afleidings. Trump is ‘n swak verloorder, dis hoekom hy nou wegkruip in die Withuis, moet hom nie na-aap met jou veralgemenings. Wees ‘n man en vat julle pak sonder om wilde bewerings en uitsprake te maak.

Androclus ·

Verkiesingsbedrog: Tog seker nie in Amerika nie?
Ja dis moontlik hulle sien dit gebeur dan hier in SA.

Adam Adriaan ·

Trey Trainor is die Hoof Kommissaris van die Federale Verkiesing Kommissie in Amerika. Hy sê daar was verkiesing bedrog. Hou maar die nuus dop. Hier kom ‘n ding wat baie mense op hulle neuse gaan laat kyk. Daar is baie bewyse wat nie in die media genoem word nie, wat ‘n opskudding gaan veroorsaak, sodra dit aan die lig kom.

Mad Mike die Rhodesiër ·

Ja nee, selfs die sterkste regering kan bedrog versteek…

Therese ·

Die Demokraat Rod Blagojevich se beskrywing van sy party se konkelwerk spreek boekdele.
In 2016 het Donald Trump die sogenaamde Demokrate onverhoeds betrap.
In 2020 was hulle reg vir hom met ‘n oormag posstemme gerugsteun deur Covid19.
“By any means necessary” en “whatever it takes” is van die slagspreuke wat die Demokrate gebruik het.
Die “stelery in die nag” soos beskryf deur Blagojevich het voor die oë van miljoene (verdwaasde) televisiekykers afgespeel. (700 000 voorsprong binne ‘n oogwink uitgewis in Pennsylvania. )
Die blatantheid daarvan is verbysterend.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.